1 KONINGS 19:3-12

1 KONINGS 19:3-12 Bybel vir almal (ABA)

Elia het bang geword. Hy het gereedgemaak en gevlug, sodat Isebel hom nie kan doodmaak nie. Toe hy by die stad Berseba kom, het hy en die jongman by hom daar gerus. Daarna het hy alleen 'n hele dag lank verder in die woestyn in geloop. Hy het daar onder 'n besembos gaan sit en hy het gewens hy sterf. Hy het gesê: “Here, dit is nou genoeg. U moet my laat sterf, want ek is nie beter as my voorvaders nie.” Elia het gaan lê, en hy het onder die besembos aan die slaap geraak. Toe kom daar 'n engel en die engel raak aan hom en sê vir hom: “Jy moet opstaan en eet.” Toe Elia kyk, sien hy by sy kop 'n gaar roosterkoek en 'n kruik water. Hy het geëet en gedrink en weer gaan lê. Maar toe raak die engel weer aan hom en hy sê: “Jy moet opstaan en eet. As jy dit nie doen nie, dan sal jy nie die hele pad kan loop nie.” Elia het toe opgestaan en geëet en gedrink. En daardie kos het hom so sterk gemaak dat hy 40 dae en 40 nagte lank geloop het tot by Horeb, die berg van God. Daar het hy by 'n grot gekom en gaan slaap. Toe hoor hy die Here vra vir hom: “Elia, wat doen jy hier?” Elia het gesê: “Ek het baie hard gewerk vir die Here, die God wat oor alles regeer, maar die Israeliete het nie gedoen wat U in u verbond gesê het nie. Hulle het u altare afgebreek en hulle het u profete doodgemaak, ek het alleen oorgebly. En nou wil hulle my ook doodmaak.” Toe sê die Here: “Gaan uit en gaan staan op die berg voor My.” En toe kom die Here daar verby. Daar was 'n sterk wind, dit het die berg geskud en die rotse gebreek voor die Here. Maar die Here was nie in die wind nie. En ná die wind was daar 'n aardbewing. Maar die Here was nie in die aardbewing nie. En ná die aardbewing was daar 'n vuur. Die Here was ook nie in die vuur nie. En ná die vuur het Elia iets gehoor soos wanneer iemand baie sag praat.

1 KONINGS 19:3-12 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

Toe hy dit sien, het hy hom klaargemaak en ter wille van sy lewe weggegaan. En toe hy in Berséba in Juda aangekom het, het hy sy dienaar daar laat agterbly; maar self het hy 'n dagreis ver die woestyn ingegaan en daar onder 'n besembos gaan sit en gewens dat hy mag sterwe. En hy sê: Dit is genoeg, neem nou my siel weg, HERE, want ek is nie beter as my vaders nie. Daarop gaan hy lê en raak onder 'n besembos aan die slaap; en kyk, daar raak 'n engel hom aan en sê vir hom: Staan op, eet! Toe hy opkyk, was daar aan sy koppenent 'n broodkoek, op warm klippe gebak, en 'n kruik water. En hy het geëet en gedrink en weer gaan lê. En die engel van die HERE het weer vir die tweede maal gekom en hom aangeraak en gesê: Staan op, eet; anders is die pad vir jou te veel. Hy het toe opgestaan en geëet en gedrink en deur die krag van die voedsel veertig dae en veertig nagte lank geloop tot by die berg van God, Horeb. En hy het daar in 'n spelonk gegaan en die nag daar oorgebly. En kyk, die woord van die HERE het tot hom gekom en vir hom gesê: Wat maak jy hier, Elía? En hy antwoord: Ek het baie geywer vir die HERE, die God van die leërskare; want die kinders van Israel het u verbond verlaat, u altare afgebreek en u profete met die swaard gedood, sodat ek alleen oorgebly het, en hulle soek my lewe om dit weg te neem. En Hy sê: Gaan uit en staan op die berg voor die aangesig van die HERE. En kyk, die HERE het verbygegaan, terwyl 'n groot en sterk wind die berge skeur en die rotse verbreek voor die HERE uit; in die wind was die HERE nie. En ná die wind 'n aardbewing; in die aardbewing was die HERE nie. En ná die aardbewing 'n vuur; in die vuur was die HERE nie. En ná die vuur die gesuis van 'n sagte koelte.

1 KONINGS 19:3-12 Afrikaans 1983 (AFR83)

Elia het bang geword en ter wille van sy lewe gevlug. Toe hy by Berseba in Juda kom, het hy sy slaaf daar agtergelaat. Hy self het egter 'n dagreis ver die woestyn in gegaan. Daar het hy onder 'n besembos gaan sit en gewens hy gaan dood. Hy het gesê: “Nou is dit genoeg, Here! Neem my lewe, want ek is niks beter as my voorvaders nie.” Toe gaan hy lê en hy het daar onder die besembos aan die slaap geraak. Toe hy hom weer kom kry, skud 'n engel aan hom en sê: “Word wakker! Eet!” Toe hy opkyk, sien hy by sy kop roosterkoek wat op warm klippe gebak is, en 'n kruik water. Hy het geëet en gedrink en weer gaan lê. Die engel het 'n tweede keer aan hom geskud en gesê: “Word wakker! Eet! Anders sal die pad vir jou te lank word.” Toe staan hy op en hy eet, en deur die krag van die kos kon hy veertig dae en veertig nagte lank loop tot by Horeb, die berg van God. Hy het in 'n grot ingegaan en die nag daar deurgebring. Toe het die woord van die Here tot hom gekom en vir hom gesê: “Wat maak jy hier, Elia?” Hy antwoord toe: “Ek het my met hart en siel gewy aan u saak, Here, Almagtige God. Die Israeliete het die verbond met U verbreek. Hulle het u altare afgebreek en u profete doodgemaak. Net ek alleen het oorgebly, en hulle soek my om my ook om die lewe te bring.” Maar die Here sê vir hom: “Kom uit, en gaan staan op die berg voor My, die Here, Ek wil verbygaan.” Skielik was daar 'n baie sterk wind wat die berg stukkend geruk en die rotse gebreek het voor die Here. Maar in die wind was die Here nie. Na die wind was daar 'n aardbewing. Maar in die aardbewing was die Here nie. Na die aardbewing was daar 'n vuur. Maar in die vuur was die Here nie. En na die vuur was daar 'n fluistering in die windstilte.

1 KONINGS 19:3-12 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Hy het bang geword, gereedgemaak en uit vrees vir sy lewe padgegee. Toe hy in Berseba, wat aan Juda behoort, aankom, het hy sy dienaar daar agtergelaat. Hy self het egter die woestyn in gegaan, 'n dagreis ver. Daar aangekom, het hy onder 'n witbesembos gaan sit en gevra dat sy lewe tot 'n einde moet kom. Hy het gesê: “Dit is nou genoeg, HERE! Neem my lewe, want ek is nie beter as my voorouers nie.” Hy het gaan lê en aan die slaap geraak onder die enkele witbesembos. Skielik was daar 'n engel wat hom aanraak en vir hom sê: “Staan op, eet!” Toe hy rondkyk, is daar sowaar by sy kop 'n roosterkoek op gloeiende kole gebak en 'n fles met water. Hy het geëet en gedrink en weer gaan lê. Maar die •engel van die HERE het 'n tweede keer teruggekom, hom aangeraak en gesê: “Staan op, eet! Want die reis gaan vir jou te veeleisend wees.” Hy het toe opgestaan, geëet en gedrink. Met die krag van daardie voedsel het hy veertig dae en veertig nagte geloop, tot by Horeb, die berg van God. Daar het hy in 'n grot ingegaan en daar oornag. En kyk, die woord van die HERE het tot hom gekom. Hy het vir hom gesê: “Wat maak jy hier, Elia?” Hy het geantwoord: “Ek het my volle ywer getoon vir die HERE, die God van alle magte, want die Israeliete het u verbond verlaat, u altare het hulle afgebreek en u profete met die swaard om die lewe gebring. Ek alleen het oorgebly, en hulle soek my lewe om dit te neem. ” Maar Hy sê: “Gaan uit en staan op die berg voor die HERE. Kyk, die HERE sal weldra verbygaan.” Daar was 'n geweldige sterk wind wat die berge geskeur het, wat die rotse verbrysel het voor die HERE; in die wind was die HERE nie. Ná die wind was daar 'n aardbewing; in die aardbewing was die HERE nie. Ná die aardbewing was daar vuur; in die vuur was die HERE nie. Ná die vuur was daar 'n sagte gesuis.

1 KONINGS 19:3-12 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

En toe hy dit sien, het hy opgestaan en vir sy lewe gevlug en in Berséba gekom wat aan Juda behoort, en sy dienaar daar agtergelaat. Maar hy het self 'n dagreis die woestyn in gegaan en gekom en onder 'n jenewerboom gaan sit; en hy het vir homself gevra dat hy moes sterf; en gesê: Dit is genoeg; neem nou, o HERE, my lewe weg; want ek is nie beter as my vaders nie. En terwyl hy lê en slaap onder 'n jenewerboom, kyk, toe raak 'n engel hom en sê vir hom: Staan op en eet. En hy kyk, en kyk, daar was 'n koek wat op die kole gebak is, en 'n kruik water aan sy kop. En hy het geëet en gedrink en hom weer neergelê. En die Engel van die HERE het weer vir die tweede keer gekom en hom aangeraak en gesê: Staan op en eet; want die reis is te groot vir jou. En hy het opgestaan en geëet en gedrink en met die krag van daardie spys veertig dae en veertig nagte na Horeb, die berg van God, gegaan. En hy het daar in 'n spelonk gekom en daar vernag; en kyk, die woord van die HERE het tot hom gekom, en Hy sê vir hom: Wat maak jy hier, Elia? Toe sê hy: Ek was baie jaloers op die HERE, die God van die leërskare, want die kinders van Israel het u verbond verlaat, u altare afgebreek en u profete met die swaard gedood; en ek alleen het oorgebly; en hulle soek my lewe, om dit weg te neem. En hy sê: Gaan uit en staan op die berg voor die aangesig van die HERE. En kyk, die HERE het verbygegaan, en 'n groot en sterk wind het die berge verskeur en die rotse voor die aangesig van die HERE verpletter; maar die HERE was nie in die wind nie, en ná die wind 'n aardbewing; maar die HERE was nie in die aardbewing nie. En ná die aardbewing 'n vuur; maar die HERE was nie in die vuur nie, en ná die vuur 'n sagte stemmetjie.

1 KONINGS 19:3-12 Die Boodskap (DB)

Elia het baie bang geword. Hy het besluit om dadelik daar pad te gee. Hy het sy helper saamgevat en hulle is in die rigting van Berseba in Juda. Daar het hy sy helper gelos en ’n dag lank alleen verder die woestyn in gestap. Moeg en uitgeput het hy naderhand onder ’n boom gaan sit. Hy wou nie meer leef nie en het gebid: “Here, die lewe maak net nie meer sin nie. Laat my tog maar doodgaan, want ek verdien dit nie om langer te leef nie.” Elia was so moeg dat hy net daar aan die slaap geraak het. Skielik het ’n engel aan hom geskud en gesê: “Word wakker! Sit regop en eet eers iets.” Verdwaas het hy rondgekyk en naby hom ’n stuk brood en ’n kruik vol water gesien. Hy het geëet en gedrink. Daarna het hy weer gaan lê en aan die slaap geraak. Die engel het hom weer wakker gemaak. “Staan op en eet, want jy moet nog ’n ver ent stap. As jy nie nou eet nie, gaan die pad te lank word.” Elia het alles geëet en gedrink en dit het hom krag gegee om 40 dae lank na Horeb, die berg van die Here, te stap. By Horeb het Elia die eerste nag in ’n spelonk gebly. Diep in die nag het die Here met hom gepraat: “Elia, wat presies maak jy hier?” Elia het geantwoord: “Here, U is die enigste ware God. My lewe lank dien ek met groot ywer net vir U. Israel het egter die rug vir U gedraai. Hulle het die altare vernietig waar U aanbid word en al u profete vermoor. Ek is die enigste een wat oorgebly het. Maar nou wil hulle my ook doodmaak. Dis hoekom ek besluit het om te vlug.” “Gaan buitentoe,” het die Here gesê, “en gaan staan op die berg voor die Here.” Toe het ’n geweldige sterk wind gewaai wat die berge geskeur en al die rotse uitmekaargebreek het. Die Here was egter nie in die wind nie. Na die wind was daar skielik ’n groot aardbewing, maar die Here was ook nie in die aardbewing nie. Net na die aardbewing was daar ’n verskriklike vuur, maar die Here was ook nie in die vuur nie. Na die vuur was daar ’n groot stilte en iets soos ’n stem wat fluister.

1 KONINGS 19:3-12 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Elia het baie bang geword en vir sy lewe gevlug. Hy het na Berseba, ’n dorp in Juda, gegaan en sy dienaar daar agtergelaat. Hy self het die woestyn ’n dagreis ver binnegegaan. Hy het toe onder ’n besembos gaan sit en gewens dat hy liewer maar moet sterf. “Ek het nou genoeg gehad, HERE,” het hy gesê. “Neem nou maar my lewe, want ek is niks beter as my voorouers nie.” Hy het gaan lê en onder die besembos aan die slaap geraak. Maar ’n engel het hom wakker geskud en vir hom gesê: “Staan op en eet!” Hy kyk op en dáár sien hy by sy kop ’n roosterkoek wat op warm klippe gebak is en ’n kruik vol water. Hy het geëet en gedrink en weer gaan lê. Die engel het weer gekom, aan hom geskud en gesê: “Staan op en eet weer, anders sal die pad vir jou te lank wees.” Hy het toe opgestaan, geëet en gedrink. Die kos het hom genoeg krag gegee sodat hy 40 dae en 40 nagte lank tot by Horeb, die berg van God, kon loop. Daar het hy by ’n grot ingegaan en die nag daar deurgebring. HERE Maar die HERE het met hom gepraat: “Wat maak jy hier, Elia?” Elia antwoord: “Ek het U met toewyding gedien, HERE God Almagtig. Maar die Israeliete het die verbond met U verbreek, u altare afgebreek en u profete doodgemaak. Net ek alleen het oorgebly, en nou probeer hulle my ook doodmaak.” “Kom buitekant toe en gaan staan voor My by die berg,” sê die HERE vir hom. Terwyl Elia daar staan, het die HERE by hom verbygegaan en ’n geweldige rukwind het die berg uitmekaargeruk en die rotse gebreek voor die HERE. Tog was die HERE nie in die wind nie. Na die wind was daar ’n aardbewing, maar die HERE was nie in die aardbewing nie. Na die aardbewing was daar ’n vuur, maar die HERE was nie in die vuur nie. Na die vuur was daar die geluid van ’n sagte gesuis.