1 SAMUEL 18:6-16

1 SAMUEL 18:6-16 Bybel vir almal (ABA)

Nadat Dawid die Filistyn oorwin het, het Saul en sy manne teruggekom, en toe het daar iets gebeur. Die vroue het uit al die stede van Israel na koning Saul toe gekom. Hulle het gesing en gedans en musiek gemaak met tamboeryne en driehoeke. Hulle was vrolik, hulle het gelag en gesing en hulle het gesê: “Saul het duisende manne oorwin, maar Dawid het tienduisende oorwin.” Saul het baie kwaad geword, hy het niks daarvan gehou nie. Hy het gesê: “Hulle sê Dawid het tienduisende manne oorwin, maar ek het net duisende oorwin. As hulle so aanhou praat, dan sal hy die koning word in my plek.” Daarom het Saul van daardie dag goed gekyk of Dawid iets verkeerd doen. Die volgende oggend het 'n bose gees in Saul gekom. Saul het soos 'n profeet gepraat, en Dawid het musiek gemaak soos hy voorheen gedoen het. Saul se spies was in sy hand, en hy het die spies na Dawid gegooi, hy wou vir Dawid teen die muur vassteek met die spies. Hy het die spies twee maal gegooi, maar elke maal het Dawid weggespring. Saul het bang geword vir Dawid, want die Here was by Dawid en Hy was nie meer by Saul nie. Saul het vir Dawid weggestuur van hom. Hy het vir Dawid 'n offisier oor 1 000 manne gemaak, en Dawid het die manne gelei. Dit het oral goed gegaan met Dawid. Die Here was by hom. Saul het gesien dat dit baie goed gaan met Dawid, en hy het bang geword vir Dawid. Al die manne van Israel en Juda het lief geword vir Dawid, want hy het hulle gelei.

1 SAMUEL 18:6-16 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Met hulle aankoms, toe Dawid terugkeer van sy oorwinning oor die Filistyn, het vroue uit al die stede van Israel gekom om te sing en koning Saul met kringdanse tegemoet te gaan, met tamboeryne, vreugderoepe en driesnarige instrumente. Die dansende vroue het gesing en gesê: “Saul het sy duisende verslaan, maar Dawid sy tienduisende.” Saul het baie kwaad geword. Hierdie saak was verkeerd in sy oë. Hy het gesê: “Aan Dawid gee hulle tienduisende, maar aan my gee hulle die duisende. Hy moet nou nog net die koningskap kry. ” Van daardie dag af het Saul vir Dawid wantrouig dopgehou. Die volgende dag het 'n bose gees van God van Saul besit geneem, en hy was rasend in sy huis. Terwyl Dawid soos gewoonlik besig was om op die lier te speel, was daar 'n vegspies in Saul se hand. Toe gooi Saul die vegspies. Hy het gedink: “Ek sal Dawid teen die muur vaspen!” Maar Dawid het twee keer vir hom weggekoes. Saul het bang geword vir Dawid, want die HERE was met hom, maar van Saul het Hy gewyk. Saul het Dawid toe uit sy onmiddellike omgewing verwyder en hom aangestel as •aanvoerder van 'n leërafdeling. Dawid was op die voorpunt van die manskappe wanneer hulle uitgetrek en teruggekeer het. Dawid het oral waar hy gegaan het, sukses behaal, en die HERE was met hom. Toe Saul sien dat hy baie voorspoedig is, het hy hom gevrees. Die hele Israel en Juda was lief vir Dawid, omdat hy op die voorpunt was wanneer hulle uitgetrek en teruggekeer het.

1 SAMUEL 18:6-16 Die Boodskap (DB)

Toe die manne terugkom van die oorlog af waarin Dawid die Filistyn doodgemaak het, het die vroue uit al die dorpe van Israel uitgegaan om koning Saul te groet. Hulle het vrolike liedjies gesing, in die rondte gedans en op tamboeryne en ander musiekinstrumente gespeel. Die vroue het gesing: “Saul het duisende verslaan en Dawid tien duisende.” Daaroor het Saul baie kwaad geword. Hy het niks van die liedjie se woorde gehou nie en gedink: “Hulle prys Dawid vir tien duisende wat hy gewen het, maar mý prys hulle net vir duisende. Hulle moet hom nou nog net koning maak!” Van daardie dag af het Saul Dawid nie vertrou nie. Die volgende dag het ’n bose gees weer vir Saul beetgepak sodat hy soos ’n mal mens in die paleis tekere gegaan het. Dawid het, soos hy maar altyd gemaak het, vir hom op die lier gespeel. Saul het ’n spies in sy hand gehad. Saul gooi toe die spies na Dawid. Hy wou Dawid in die muur vasgooi met die spies. Maar Dawid het twee keer weggekoes vir die spies. Saul het toe bang geword vir Dawid. Die Here het vir Dawid gehelp, maar die Here was nie meer by Saul nie. Saul wou Dawid toe nie meer naby hom hê nie. Hy het hom die leier van ’n groep soldate gemaak. Dawid het die soldate in al hulle veldtogte gelei. Hy het oral sukses behaal, want die Here het hom gehelp. Toe Saul sien hoe goed Dawid vaar, het hy nog banger geword vir hom. Maar al die mense van Israel en Juda het van Dawid gehou omdat hy hulle in die oorlog gelei het.