2 KORINTIËRS 1:3-5
2 KORINTIËRS 1:3-5 Bybel vir almal (ABA)
Almal moet vir God, die Vader van ons Here Jesus Christus, prys. God is die Vader wat baie goed is vir ons en Hy is die God wat altyd vir ons bemoedig. Hy bemoedig ons wanneer ons swaarkry, dit maak nie saak wat die swaarkry is nie. Dan kan ons ook ander mense bemoedig wat swaarkry, dit maak nie saak wat hulle swaarkry is nie. Ons kan dit doen omdat God vir ons bemoedig. Ja, ons kry baie maal swaar omdat ons aan Christus behoort. Maar so bemoedig God ook baie maal vir ons omdat ons aan Christus behoort.
2 KORINTIËRS 1:3-5 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
GESEËND is die God en Vader van onse Here Jesus Christus, die Vader van ontferminge en die God van alle vertroosting, wat ons troos in al ons verdrukking, sodat ons die wat in allerhande verdrukking is, kan troos deur die vertroosting waarmee ons self deur God getroos word. Want soos die lyde van Christus oorvloedig is in ons, so is ons troos ook oorvloedig deur Christus.
2 KORINTIËRS 1:3-5 Afrikaans 1983 (AFR83)
Aan God, die Vader van ons Here Jesus Christus, kom al die lof toe! Hy is die Vader wat Hom ontferm en die God wat in elke omstandigheid moed gee. In elke moeilikheid bemoedig Hy ons. Daarom kan ons ook ander bemoedig wat in allerlei moeilikhede verkeer. Ons kan hulle bemoedig met dieselfde bemoediging waarmee God ons bemoedig, want net soos daar vir ons 'n oorvloed van lyding is ter wille van Christus, is daar ook vir ons 'n oorvloed van bemoediging deur Christus.
2 KORINTIËRS 1:3-5 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Lofwaardig is die God en Vader van ons Here Jesus Christus, die Vader van barmhartigheid en God van alle bemoediging! Hy bemoedig ons in al ons verdrukkings, sodat ons hulle wat in allerhande verdrukkings verkeer, kan bemoedig met die bemoediging waarmee ons self deur God bemoedig word; want net soos Christus se lyding oorvloedig oor ons kom, so is ook ons bemoediging oorvloedig deur Christus.
2 KORINTIËRS 1:3-5 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Geseënd is God, die Vader van onse Here Jesus Christus, die Vader van ontferminge en die God van alle vertroosting; wat ons troos in al ons verdrukking, sodat ons die wat in enige verdrukking is, kan troos deur die vertroosting waarmee ons self deur God getroos word. Want soos die lyde van Christus oorvloedig is in ons, so is ook ons troos oorvloedig deur Christus.
2 KORINTIËRS 1:3-5 Die Boodskap (DB)
Aan God, die Vader van ons Here Jesus Christus, kom al die eer toe. As ons Vader oorstroom Hy ons met sy goedheid. As ons God troos Hy ons. Hy staan by ons en help ons in al ons krisisse. Daarom kan ons ander mense help en troos wanneer hulle swaarkry. Ons kan presies dieselfde troos met hulle deel as wat God met ons gedeel het. Net soos Christus vroeër gely het, ly ons nou ook. Ons kry regtig baie swaar omdat ons sy volgelinge is. Maar gelukkig oorlaai Christus ons elke dag met sy goedheid en met sy troos.
2 KORINTIËRS 1:3-5 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
God, die Vader van ons Here Jesus Christus, word geprys! Hy is die Vader van barmhartigheid en die God wat in elke opsig bemoedig. In al ons swaarkry bemoedig Hy ons. Hy doen dit sodat ons ook in staat sal wees om mense in al hulle swaarkry by te staan met dieselfde bemoediging waarmee God ons versterk het. Net soos ons ’n oorvloed ontberings ter wille van Christus deurmaak, só beleef ons ook oorvloedige bemoediging deur Christus se bemiddeling.