2 SAMUEL 6:12-17
2 SAMUEL 6:12-17 Bybel vir almal (ABA)
Koning Dawid het gehoor dat die Here dit goed laat gaan met die huisgesin van Obed-Edom en met alles wat hy het, omdat die kis van God by hom is. Dawid het toe gegaan en hy het die kis van God uit die huis van Obed-Edom geneem en hy het dit na die Dawidstad gebring. Dawid was baie bly. Die manne wat die kis gedra het, het ses tree geloop, en daarna het Dawid 'n bul en 'n vet jong bees ge-offer. Hy het dit elke maal gedoen wanneer hulle ses tree geloop het. Dawid het wild gedans voor die Here. Hy het 'n linne- skouer-kleed aangehad. Dawid en al die leiers van Israel het die kis van God gebring. Hulle het geskree en hulle het ramshorings geblaas. Toe die kis van die Here in die Dawidstad kom, het Mikal dogter van Saul by die venster uitgekyk en sy het gesien hoe spring en dans koning Dawid voor die Here. Sy het Dawid nie meer gerespekteer nie. Dawid het 'n tent laat opslaan vir die kis van die Here. Hulle het toe die kis gebring en hulle het dit neergesit op sy plek in die tent. Dawid het brand-offers en ete-offers vir die Here gebring.
2 SAMUEL 6:12-17 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
En toe aan koning Dawid meegedeel is: Die HERE het die huis van Obed-Edom en alles wat aan hom behoort, geseën ter wille van die ark van God, het Dawid gegaan en die ark van God met vreugde uit die huis van Obed-Edom na die stad van Dawid gebring. En toe die draers van die ark van die HERE ses treë geloop het, het hy 'n bees en 'n vetgemaakte kalf geoffer. Daarby het Dawid met alle mag gedans voor die aangesig van die HERE; en Dawid was omgord met 'n linneskouerkleed. So het Dawid en die hele huis van Israel dan die ark van die HERE met gejuig en basuingeklank opgehaal. Toe die ark van die HERE die stad van Dawid inkom, kyk Migal, die dogter van Saul, juis deur die venster en sien koning Dawid huppel en dans voor die aangesig van die HERE; en sy het hom in haar hart verag. Nadat hulle dan die ark van die HERE ingebring en dit op sy plek neergesit het binne-in die tent wat Dawid daarvoor opgeslaan het, het Dawid brandoffers en dankoffers gebring voor die aangesig van die HERE.
2 SAMUEL 6:12-17 Afrikaans 1983 (AFR83)
Daar is toe aan Dawid vertel: “Die Here het die gesin van Obed-Edom voorspoedig gemaak en al sy besittings vermeerder ter wille van die ark van God.” Dawid het toe gegaan en die ark van God met feesvreugde uit die huis van Obed-Edom na die Dawidstad toe laat bring. Elke keer wanneer die draers van die ark van die Here ses tree gestap het, het hy 'n bul en 'n vetgemaakte kalf geoffer. Met volle oorgawe het Dawid voor die Here gedans met net 'n linneskouerkleed aan. Hy en die hele Israel het die ark van die Here met gejuig en onder die geklank van die ramshoring ingebring. Terwyl die ark die Dawidstad ingekom het, het Saul se dogter Mikal deur die venster afgekyk. Sy het koning Dawid gesien terwyl hy spring en dans voor die Here en sy het hom in stilte verag. Hulle het die ark van die Here ingebring en dit op sy bestemde plek neergesit in die tent wat Dawid daarvoor opgeslaan het. Dawid het brandoffers en maaltydoffers vir die Here geoffer.
2 SAMUEL 6:12-17 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Aan koning Dawid is berig gebring: “Die HERE het die huis van Obed-Edom en alles wat aan hom behoort, geseën ter wille van die ark van God.” Dawid het toe gegaan en die ark van God met vreugde uit die huis van Obed-Edom na die Stad van Dawid geneem. Wanneer die draers van die ark van die HERE ses treë gestap het, het hy 'n bul en 'n vetgemaakte kalf geoffer. Dawid self het met volle oorgawe gedans voor die HERE. Dawid het 'n efod van linne aangehad, en hy en die hele huis van Israel het met uitroepe van vreugde en die geluid van •ramshorings die ark van die HERE na die Stad van Dawid opgeneem. Toe die ark van die HERE die Stad van Dawid binnekom, het Migal, die dogter van Saul, deur die venster afgekyk en koning Dawid gesien spring en dans voor die HERE. Sy het hom in haar hart verag. Hulle het die ark van die HERE ingeneem en dit op sy plek neergesit binne-in die tent wat Dawid daarvoor opgeslaan het. Toe het Dawid •brandoffers en •maaltydoffers voor die HERE gebring.
2 SAMUEL 6:12-17 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En daar is aan koning Dawid meegedeel en gesê: Die HERE het die huis van Obed-Edom en alles wat aan hom behoort, geseën ter wille van die ark van God. Toe het Dawid gegaan en die ark van God met blydskap uit die huis van Obed-Edom na die stad van Dawid gebring. En toe die draers van die ark van die HERE ses treë geloop het, het hy beeste en vetgemaakte diere geoffer. En Dawid het met al sy krag voor die aangesig van die HERE gedans; en Dawid was omgord met 'n linneskouerkleed. Dawid en die hele huis van Israel het toe die ark van die HERE opgebring met gejuig en met geklank van die basuin. En toe die ark van die HERE in die stad van Dawid kom, het Migal Saul se dogter deur 'n venster gekyk en koning Dawid sien spring en dans voor die aangesig van die HERE; en sy het hom in haar hart verag. En hulle het die ark van die HERE ingebring en dit op sy plek neergesit, in die middel van die tabernakel wat Dawid daarvoor opgeslaan het; en Dawid het brandoffers en dankoffers voor die aangesig van die HERE gebring.
2 SAMUEL 6:12-17 Die Boodskap (DB)
Die mense het vir koning Dawid gaan vertel dat die Here goed is vir Obed-Edom se familie en dat dit so goed gaan met alles wat hy het omdat die ark van God by hom is. Dawid het toe die ark van God by Obed-Edom se huis laat haal. Dit was ’n vrolike optog: toe die mense wat die kis dra ses treë geloop het, het Dawid ’n bul en ’n vet kalf vir die Here geslag. Daarna het hy gedans so al wat hy kon. Hy het net ’n priesterrokkie aangehad. So het Dawid en al die leiers van Israel die ark van die Here Jerusalem toe gevat. Hulle was bly en het geskree en op ramshorings geblaas. Toe die ark in die Stad van Dawid inkom, het Mikal, Saul se dogter, deur die venster gekyk en gesien hoe bokspring en dans die koning daar by die ark van die Here. Sy het al haar respek vir hom verloor. Hulle het die ark ingevat en dit op ’n spesiale plek neergesit in ’n tent wat Dawid laat opslaan het. Dawid het daar by die tent offers verbrand en diere geslag vir die heilige ete.
2 SAMUEL 6:12-17 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Dis aan koning Dawid meegedeel: “Die HERE het die huis van Obed-Edom en alles wat hy besit, geseën as gevolg van die ark van God.” Dawid het toe daarheen gegaan en die ark met groot feestelikheid na die Dawidstad toe geneem. Telkens nadat die draers ses tree gegee het, het hulle gaan stilstaan sodat Dawid ’n bul en ’n vetgemaakte kalf kon offer. Dawid het met volle oorgawe voor die HERE gedans terwyl hy slegs ’n linneskouerkleed aangehad het. So het Dawid en die hele Israel die ark van die HERE met groot gejuig en geklank van die ramshoring in die stad ingebring. Terwyl die ark van die HERE die Dawidstad binnegekom het, het Mikal, die dogter van Saul, van bo uit haar venster toegekyk. Toe sy koning Dawid sien spring en dans voor die HERE het sy hom in haar hart verafsku. Hulle het die ark van die HERE neergesit in ’n tent wat Dawid spesiaal daarvoor laat opslaan het. Dawid het brandoffers en maaltydoffers vir die HERE geoffer.