2 TESSALONISENSE 2:3-4
2 TESSALONISENSE 2:3-4 Bybel vir almal (ABA)
Maar julle moenie dat iemand vir julle verkeerd leer nie, want daar moet eers 'n paar ander dinge gebeur voordat die dag van die Here kom. Daar sal baie mense wees wat nie meer na God se wette luister nie. Hulle leier sal iemand wees wat glad nie na God se wette wil luister nie. Daarom sal God hom eendag straf. Hierdie leier sal teen alles wees wat God doen. Hy sal sê hy is belangriker as God of die gode, belangriker as enige iets wat mense aanbid. Hy sal ook in die tempel van God gaan sit en maak of hy God is.
2 TESSALONISENSE 2:3-4 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Laat niemand julle op enige manier mislei nie, want eers moet die afval kom en die mens van sonde geopenbaar word, die seun van die verderf, die teëstander wat hom verhef bo al wat God genoem word of voorwerp van aanbidding is, sodat hy in die tempel van God as God sal sit en voorgee dat hy God is.
2 TESSALONISENSE 2:3-4 Afrikaans 1983 (AFR83)
Laat niemand julle op watter manier ook al mislei nie. Die dag van die Here sal nie aanbreek voordat die laaste afvalligheid gekom het en die wettelose mens wat vir die verderf bestem is, sy verskyning gemaak het nie. Hy sal hom verset teen al wat God genoem word of wat as heilig vereer word, en hy sal hom bo hulle verhef. Hy sal selfs in die tempel van God gaan sit en voorgee dat hy God is.
2 TESSALONISENSE 2:3-4 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Laat niemand julle op enige manier op 'n dwaalspoor bring nie; want hierdie dinge kan nie gebeur voordat die afvalligheid eers plaasgevind het, en die mens van wetteloosheid geopenbaar is nie. Hy is die seun van die verderf, die een wat teenstand bied, en hom verhef oor alles wat God of voorwerp van aanbidding genoem word, sodat hy selfs in die •tempel gaan sit en hom as God voordoen.
2 TESSALONISENSE 2:3-4 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Laat niemand julle op enige manier mislei nie, want daardie dag sal nie kom as daar eers 'n afval kom en die mens van sonde geopenbaar word, die seun van die verderf; wat hom teëstaan en hom verhef bo alles wat God genoem word, of wat aanbid word; sodat hy as God in die tempel van God sit en homself wys dat hy God is.
2 TESSALONISENSE 2:3-4 Die Boodskap (DB)
Moenie dat mense julle so maklik mislei nie. Daar moet eers ’n paar dinge gebeur voordat die dag van die Here aanbreek. Eers gaan baie mense vir oulaas die Here verwerp. In daardie tyd sal ’n baie slegte figuur ook sy opwagting maak. Sy lot is egter klaar verseël. Hy is reguit op pad na die verderf toe. Hy sal dink hy is baie beter as God. Daarom sal hy weier om voor Hom te buig. Maar dis nie al nie. Hierdie goddelose figuur sal voorgee dat hy self God is. Hy sal daar in die tempel waar die mense bymekaarkom om God te aanbid, gaan sit en sê: “Ek is God!”
2 TESSALONISENSE 2:3-4 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Laat niemand julle op enige manier mislei nie. Die Dag van die Here sal nie aanbreek voordat die opstand eers gekom en die wettelose mens, die mens wat vernietiging bring, na vore getree het nie. Hy sal hom verset teen alles wat god genoem word en hom verhef bo alles wat ’n voorwerp van aanbidding is. Sy doel is om in die tempel van God te gaan sit en voor te gee dat hy self God is.