2 TIMOTEUS 2:3-13
2 TIMOTEUS 2:3-13 Bybel vir almal (ABA)
Jy moet soos 'n goeie soldaat van Christus Jesus ook swaarkry saam met die ander gelowiges. 'n Soldaat wat besig is om sy werk te doen en wat wil hê dat sy offisier tevrede moet wees met hom, moenie ook ander werk wil doen nie. Dit is soos wanneer iemand deelneem aan 'n atletiekbyeenkoms. Hy moet gehoorsaam wees aan al die reëls, anders kan hy nie wen nie. Die boer wat hard gewerk het, moet die eerste persoon wees wat mag eet van die koring of die vrugte. Jy moet goed dink oor wat ek vir jou sê, want die Here sal jou help om dit alles goed te verstaan. Jy moet altyd aan Jesus Christus dink. Hy was van die nageslag van Dawid, en God het Hom weer laat lewe. Dit is die goeie boodskap wat ek preek. En omdat ek hierdie goeie boodskap preek, het die mense my laat swaarkry en hulle het my soos 'n skelm toegesluit in die tronk. Maar hulle kan nie die boodskap van God in die tronk toesluit en dit keer nie. Daarom is ek tevrede en hou ek aan om te doen wat ek moet doen. God het mense gekies, en ek doen dit vir daardie mense. Ek wil hê dat Christus Jesus ook vir hulle moet red en dat hulle vir altyd by God kan wees, God wat Koning is. Wat ek nou wil sê, is waar: Christus het gesterf, en ons het saam met Hom gesterf. God het vir Christus weer laat lewe, daarom sal ons ook saam met Christus lewe. As ons aanhou om in Christus te glo, dan sal ons ook saam met Hom regeer soos konings. As ons nie vir mense wil sê dat ons aan Christus behoort nie, dan sal Christus sê dat ons nie aan Hom behoort nie. As ons ontrou is, dan sal Christus nog altyd doen wat Hy belowe het, want Hy kan nie anders wees as wat Hy is nie.
2 TIMOTEUS 2:3-13 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Ly dan verdrukking soos 'n goeie krygsman van Jesus Christus. Niemand wat 'n krygsman is, wikkel hom in die werksaamhede van die lewensonderhoud nie, sodat hy die een kan behaag wat hom vir die diens gewerf het. En verder, as iemand aan 'n wedstryd deelneem, word hy nie bekroon as hy nie volgens die reëls gewedywer het nie. Die landbouer wat swaar werk, behoort eerste van die vrugte te geniet. Dink na oor wat ek sê; en mag die Here jou insig gee in alles! Onthou dat Jesus Christus, uit die geslag van Dawid, uit die dode opgewek is volgens my evangelie, waarin ek verdrukking ly tot die boeie toe soos 'n kwaaddoener; maar die woord van God is nie gebonde nie. Daarom verdra ek alles ter wille van die uitverkorenes, sodat hulle ook die verlossing wat in Christus Jesus is, kan verkry met die ewige heerlikheid. Dit is 'n betroubare woord; want as ons met Hom gesterf het, sal ons ook met Hom lewe. As ons verdra, sal ons met Hom regeer. As ons Hom verloën, sal Hy ons ook verloën. As ons ontrou is, Hy bly getrou; Hy kan Homself nie verloën nie.
2 TIMOTEUS 2:3-13 Afrikaans 1983 (AFR83)
Dra jou deel van die ontberings soos 'n goeie soldaat van Christus Jesus. 'n Soldaat in aktiewe diens wat sy bevelvoerder tevrede wil stel, bemoei hom nie met die dinge van die gewone lewe nie. 'n Atleet wat aan 'n wedstryd deelneem, kan die prys wen slegs as hy volgens die reëls meeding. Die boer wat die harde werk doen, behoort eerste 'n deel van die oes te kry. Dink na oor wat ek sê; die Here sal jou insig gee om alles te verstaan. Onthou altyd dat Jesus Christus, 'n nakomeling van Dawid, uit die dood opgewek is. Dit is die evangelie wat ek verkondig. Vir hierdie evangelie ly ek verdrukking, selfs in boeie soos 'n misdadiger, maar die woord van God kan nie geboei word nie. Daarom verdra ek alles ter wille van die uitverkorenes, sodat ook hulle die verlossing, wat daar in Christus Jesus is, en die ewige heerlikheid kan ontvang. Dit is 'n betroubare woord: As ons saam met Hom gesterf het, sal ons ook saam met Hom lewe; as ons in die geloof volhard, sal ons saam met Hom regeer; as ons Hom verloën, sal Hy ons ook verloën; as ons ontrou is – Hy bly getrou: Hy kan Homself nie verloën nie.
2 TIMOTEUS 2:3-13 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Verduur jou deel van die ontbering, soos 'n goeie soldaat van Christus Jesus. 'n Soldaat raak nie verstrik in sake van die alledaagse lewe nie, sodat hy sy bevelvoerder tevrede kan stel. Verder word 'n atleet wat aan 'n wedloop deelneem, nie bekroon as hy nie volgens die reëls meeding nie. Die landbouer wat die harde werk doen, moet eerste van die oes kry. Dink na oor wat ek sê, want die Here sal jou insig gee in al hierdie dinge. Onthou altyd dat Jesus Christus, uit die nageslag van Dawid, opgewek is uit die dood volgens my evangelie, waarvoor ek verdrukking ly – selfs in boeie, soos 'n misdadiger. Maar die woord van God is nie geboei nie! Daarom verduur ek dit alles ter wille van die uitverkorenes, sodat ook hulle die verlossing in Christus Jesus met ewige heerlikheid kan verkry. Dié uitspraak is betroubaar: As ons saam met Hom gesterf het, sal ons ook saam met Hom leef; as ons aanhou volhard, sal ons ook saam met Hom regeer; as ons Hom verloën, sal Hy ons ook verloën; as ons ontrou is, Hy bly getrou, want Hy kan Homself nie verloën nie.
2 TIMOTEUS 2:3-13 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Verdra dan verharding, soos 'n goeie soldaat van Jesus Christus. Niemand wat oorlog voer, verstrik hom met die sake van hierdie lewe nie; dat hy hom kan behaag wat hom as soldaat uitverkies het. En as iemand hom ook beywer vir meesterskap, word hy tog nie gekroon nie, tensy hy wettiglik stry. Die landbouer wat arbei, moet eerste deel kry aan die vrugte. Let op wat ek sê; en die Here gee jou insig in alles. Onthou dat Jesus Christus, uit die geslag van Dawid, uit die dood opgewek is volgens my evangelie: Waarin ek benoud ly, soos 'n kwaaddoener, tot boeie toe; maar die woord van God is nie gebonde nie. Daarom verdra ek alles ter wille van die uitverkorenes, sodat hulle ook die verlossing wat in Christus Jesus is, met ewige heerlikheid kan verkry. Dit is 'n betroubare woord: Want as ons saam met Hom dood is, sal ons ook saam met Hom lewe. As ons ly, sal ons ook saam met Hom regeer; as ons Hom verloën, sal Hy ons ook verloën. As ons nie glo nie, bly hy tog getrou; hy kan homself nie verloën nie.
2 TIMOTEUS 2:3-13 Die Boodskap (DB)
Ons kan sê jy is soos ’n soldaat van Christus. ’n Soldaat van Christus sal nie omgee om saam met die ander soldate swaar te kry vir Christus nie. ’n Soldaat se werk is om te doen wat sy bevelvoerder vra. Hy moet hom nie besig hou met allerhande ander dingetjies wat niks met sy werk as soldaat te doen het nie. Laat ek nog ’n voorbeeld gee. Sê nou ’n atleet neem aan ’n resies deel. Hy sal net kan wen as hy al die reëls mooi nagekom het, anders word hy gediskwalifiseer. Of dink aan dié voorbeeld: ’n boer wat hard werk, kan darem seker eerste van die vrugte van die oes proe. Dink mooi na oor wat ek sê. Die Here sal jou help om dit alles reg te verstaan. Moet nooit van Jesus Christus vergeet nie. Koning Dawid was sy voorvader. Hy was dood en God het Hom weer lewendig gemaak. Dit is die kern van die goeie boodskap wat ek vir julle vertel. Daarvoor kry ek swaar, al moet ek soos die een of ander krimineel geboei hier in die tronk sit. Gelukkig kan niemand ooit God se boodskap met kettings vasmaak en in ’n tronk gooi nie. Daarom gee ek nie om om swaar te kry nie. Ek doen dit ter wille van die mense wat God gekies het. So kan hulle saak met God ook reg wees omdat hulle Jesus s’n is en kan hulle voel hoe wonderlik dit is om ’n Christen te wees. Dit is iets wat niemand van ons kan wegvat nie. Dit sal vir ewig duur. Ek praat die waarheid: as ons saam met Jesus gesterf het, sal ons ook saam met Hom leef. As ons nie moed verloor nie, maar vasbyt, sal ons ook eendag saam met Hom heers. As ons egter sê dat ons Hom nie wil ken nie, sal Hy dieselfde van ons sê. As ons Hom egter in die steek laat en nie so getrou is soos ons moet wees nie ... sal Hy ons sowaar nooit in die steek laat nie, want dit is net nie hoe Hy is nie.
2 TIMOTEUS 2:3-13 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Verduur saam met my lyding soos ’n goeie soldaat van Christus Jesus. Geen soldaat raak verstrengeld in die beslommernisse van hierdie lewe nie, want dan kan hy die een wat hom vir sy leër gewerf het, nie tevrede stel nie. ’n Atleet word nie gekroon as hy nie volgens die reëls deelneem nie. Hardwerkende boere is die eerste wat die vrug van hulle arbeid geniet. Dink na oor wat ek sê. Die Here sal jou help om al hierdie dinge beter te begryp. Onthou voortdurend dat Jesus Christus uit koning Dawid se nageslag gebore is en dat Hy uit die dood opgewek is. Dit is die Goeie Nuus wat ek verkondig. En omdat ek hierdie Goeie Nuus verkondig, ly ek en is ek soos ’n misdadiger in kettings geslaan. Maar die woord van God kan nie vasgeketting word nie. Ek is bereid om vir dié wat deur God gekies is, enigiets te verduur as dit vir hulle deur Christus Jesus verlossing en ewige heerlikheid sal bring. Hierdie woord is absoluut waar: As ons saam met Hom sterf, sal ons ook saam met Hom lewe. As ons verdrukking ly, sal ons saam met Hom regeer. As ons Hom ontken, sal Hy ons ook ontken. Maar as ons ontrou is – Hy bly getrou, want Hy kan Homself nie ontken nie.