DANIËL 11:31-36
DANIËL 11:31-36 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Sy leër sal kom en die vesting van die tempel besoedel. Hulle sal die daaglikse offer beëindig. Hulle sal die gruwelike ding wat alles verwoes by die tempel oprig. Hy sal dié prys wat die verbond met God verwerp het. Dié wat in hulle God glo, sal egter sterk staan en doen wat reg is. “Hulle wat die volk onderrig, sal baie mense help om te verstaan. Vir dae lank sal van hulle doodgemaak word met die swaard en met vuur, gevange geneem en beroof word. Terwyl dit gebeur, sal daar wel beperkte hulp vir hulle wees. Baie wat by hulle aansluit, sal dit egter onder valse voorwendsels doen. “Sommige van hulle wat onderrig gee, sal struikel en vervolg word sodat hulle gelouter, gesuiwer en gereinig kan word vir die eindtyd. Die tyd waarop besluit is, het nog voorgelê. “Die koning sal doen net wat hy wil. Hy sal homself aanstel en dink dat hy belangriker is as al die gode. Selfs teen die God van die gode sal hy verwaande dinge kwytraak. Hy sal sukses behaal totdat die tydstip van God se verontwaardiging tot ’n einde kom soos reeds besluit is.
DANIËL 11:31-36 Bybel vir almal (ABA)
Hy sal soldate stuur, en hulle sal die tempel ontwy. Hy sal sê die priesters mag nie meer elke dag offer nie. Hy sal iets in die tempel neersit wat vir God baie kwaad maak en wat alles verwoes. Die koning sal baie vriendelik wees met die mense wat verkeerd doen teen die verbond, maar die mense wat vir God ken, sal aanhou om nie verkeerde dinge te doen nie. Die verstandige leiers van die volk sal baie mense help om te verstaan wat gebeur, maar die koning sal party van die leiers laat doodmaak en verbrand. Hy sal ook party leiers wegvat na sy land toe. Min mense sal die leiers help, en baie mense sal maak of hulle saam met die leiers werk, maar hulle sal vals wees. Party van die verstandige leiers sal swaarkry sodat hulle beter mense kan word en reg kan wees op die dag wanneer die tyd verby sal wees. God het besluit wanneer dit sal wees. “Die koning sal doen wat hy wil. Hy sal dink hy is belangriker as 'n god, en hy sal ook lelik praat van God, die enigste God. Hy sal doen wat hy wil in die tyd wanneer God kwaad is vir sy volk. God het besluit dit moet gebeur, en dit sal gebeur.
DANIËL 11:31-36 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
En deur hom sal leërs op die been gebring word en die heiligdom, die vesting, ontheilig, en hulle sal die voortdurende offer afskaf en die ontsettende gruwel opstel. En die wat goddeloos handel teen die verbond, sal hy met vleiery afvallig maak, maar die volk wat hulle God ken, sal vashou en optree. En die verstandiges onder die volk sal baie tot insig bring; maar hulle sal struikel deur swaard en vlam, deur gevangenskap en berowing, dae lank. En terwyl hulle struikel, sal hulle met 'n klein hulp ondersteun word; dan sal baie uit listigheid by hulle aansluit. En van die verstandiges sal sommige struikel, om onder hulle loutering en reiniging en suiwering aan te bring tot die tyd van die einde — want dit sal nog duur tot op die vasgestelde tyd. En die koning sal doen net wat hy wil en homself verhef en hom groot hou bo enige god, en teen die God van die gode sal hy wonderbaarlike dinge spreek; en hy sal voorspoedig wees, totdat die grimmigheid ten einde is; want wat vas besluit is, sal uitgevoer word.
DANIËL 11:31-36 Afrikaans 1983 (AFR83)
Van die koning se troepe sal die heiligdom en die vesting ontheilig. Hulle sal die daaglikse offer afskaf en 'n ding oprig wat 'n gruwel is vir God en wat verwoesting aanrig. Die koning sal dié wat aan die verbond ontrou is, deur vleiery verlei tot afvalligheid, maar die mense wat hulle God ken, sal vasstaan. Verstandige leiers van die volk sal leiding gee aan baie mense, maar 'n tyd lank sal hulle doodgemaak, verbrand, gevange geneem en geplunder word. Wanneer dit hulle tref, sal hulle 'n bietjie hulp ontvang, en baie sal vir die skyn by hulle aansluit. Dan sal die vervolging party van die verstandige leiers tref sodat die volk gelouter, gesuiwer en gereinig kan word tot die eindtyd toe, want die einde is klaar bepaal. “Die koning van die noorde sal maak soos hy wil en sal hom verhef en hom groter hou as enige god. Selfs teen die ware God sal hy ongehoorde dinge sê. Hy sal daarmee aanhou totdat die tyd van God se toorn oor sy volk verby is, want wat besluit is, sal gebeur.
DANIËL 11:31-36 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Strydmagte deur hom byeengebring, sal opstaan en die heiligdom, die vesting, ontheilig, die gereelde offer afskaf en die verfoeilike afgodsbeeld wat verwoesting veroorsaak, oprig. Dié wat skuldig staan teenoor die verbond, sal hy met slinkse woorde afvallig maak; maar die volk wat hulle God ken, sal sterk weerstand bied. Die verstandiges onder die volk sal baie tot insig bring, maar hulle sal struikel deur die swaard en vlamme, deur gevangenskap en plundering, vir 'n tyd lank. Terwyl hulle struikel, sal hulle 'n klein bietjie hulp ontvang, maar baie sal slinks by hulle aansluit. Sommige van die verstandiges sal struikel. Dit is om hulle te louter, uit te sif en te suiwer tot die eindtyd; want dit sal steeds op die vasgestelde tyd wees. “ ‘ Die koning sal doen wat hy wil. Hy sal homself verhef en hom groot waan teen elke god; en teen die God van die gode sal hy verstommende dinge kwytraak. Hy sal voorspoedig wees totdat die vervloeking tot 'n einde kom, want dit is vooruitbepaal; dit sal uitgevoer word.
DANIËL 11:31-36 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En wapens sal aan sy kant staan, en hulle sal die heiligdom van sterkte ontheilig en die daaglikse offer wegneem, en hulle sal die gruwel plaas wat verwoesting maak. En die wat goddeloos handel teen die verbond, sal hy deur vleiery verderf; maar die volk wat hulle God ken, sal sterk wees en dade doen. En die verstandiges onder die volke sal baie onderrig, maar hulle sal baie dae lank val deur die swaard en deur vlam, deur gevangenskap en deur buit. En as hulle val, sal hulle met 'n bietjie hulp gehol word, maar baie sal hulle met vleiery aanhang. En sommige van die verstandiges sal val om hulle op die proef te stel en te reinig en hulle wit te maak tot die tyd van die einde toe, want dit is nog vir 'n vasgestelde tyd. En die koning moet doen volgens sy wil; en hy sal homself verhef en hom groot maak bo elke god en wonders teen die God van die gode spreek en voorspoedig wees totdat die grimmigheid voleindig is; want wat vasgestel is, sal gebeur.
DANIËL 11:31-36 Die Boodskap (DB)
Van sy soldate sal in die tempel ingaan en God se heilige Naam skend. Hulle sal die mense verbied om hulle godsdiens te beoefen en ’n gruwelike afgodsbeeld op die altaar in die tempel neersit, ’n ding wat tot opstand lei. Hy sal dié wat reeds die rug vir God gedraai het, met vleitaal aan sy kant kry, maar die mense wat God dien, sal sterk staan teen hom. Van die verstandige leiers sal aan die volk die regte leiding gee. Maar ook hulle sal vir ’n tyd lank doodgemaak, verbrand, beroof en in die tronk gegooi word. Tydens daardie vervolging sal hulle darem ’n bietjie hulp van baie mense kry. Ongelukkig sal sommige mense wat hulle kom help, se motiewe nie heeltemal suiwer wees nie. Party van die goeie leiers sal doodgemaak word. Dit alles sal die volk net sterker en meer vasberade maak om voluit vir God te leef. Hierdie vervolging sal aanhou tot die tyd kom wat God bepaal het. “Die koning van die noorde sal doen net wat hy wil. Hy sal oor homself spog en sê dat hy groter is as enige god. So vol is hy van homself dat hy hom selfs met die allerhoogste God sal vergelyk. Hy sal hiermee aanhou totdat God se woede teen sy volk bedaar het. Want God het alles fyn beplan en dit sal gebeur soos Hy wil.