DANIËL 7:9-18
DANIËL 7:9-18 Afrikaans 1983 (AFR83)
“Terwyl ek kyk, is daar trone reggesit, en Hy wat ewig lewe, het op sy troon gaan sit. Sy klere was so wit soos sneeu, sy hare soos skoon wol. Sy troon was van vuurvlamme met wiele van vuur. Vuur het uit die troon gestroom en verder gevloei. Duisende der duisende het Hom gedien, miljoene het daar voor Hom kom staan. Die hofsitting het begin, en die boeke met die aanklagte is oopgemaak. “Terwyl ek kyk, is die een dier oor die verwaande gepraat van die horinkie doodgemaak en is sy liggaam vernietig deur dit in die vuur te gooi. Ook die ander diere se heerskappy is van hulle weggeneem, maar hulle lewens is nog 'n tyd lank gespaar. “My nagtelike visioen het voortgeduur: daar het in die wolke iemand aangekom, iemand soos 'n menslike wese. Hy het na Hom toe gegaan wat ewig lewe en is voor Hom gebring. “Aan dié menslike wese is die heerskappy en eer en koningskap gegee sodat al die volke, nasies en taalgroepe hom sou dien. Sy heerskappy is 'n ewige heerskappy, dit sal nie tot niet gaan nie; sy koningskap sal nie ophou nie. “Ek, Daniël, het beangs geraak hieroor; die visioen wat ek gesien het, het my laat skrik. Ek het na een van dié wat daar gestaan het, gegaan en hom gevra wat dit alles beteken. Hy het dit toe vir my soos volg uitgelê: Die vier groot diere staan vir vier koninkryke wat op die aarde sal ontstaan. Maar die heiliges van die Allerhoogste sal die koninklike heerskappy ontvang en dit vir altyd besit.
DANIËL 7:9-18 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Terwyl ek staan en kyk, is daar trone neergesit. Hy wat ewig lewe, het daarop gaan sit. Sy klere was wit soos sneeu. Die hare op sy kop was soos suiwer wol. Sy troon het vuurvlamme gehad en wiele van brandende vuur. ’n Rivier van vuur het van Hom af weggevloei. Duisende der duisende het Hom gedien en tienduisende is tot sy diens. Die verhoor het toe begin en die boeke is oopgemaak. Ek het bly kyk, want ek het gehoor hoe die klein horinkie onophoudelik bly spog. Ek het bly kyk totdat die vierde dier doodgemaak is. Sy liggaam is vernietig en hy is oorgegee om met vuur verbrand te word. Die gesag van die ander drie diere is ook van hulle weggevat. Hulle kon nog langer lewe, maar net vir ’n bepaalde tyd. In my visioen daardie nag het ek iemand in die wolke in die lug gesien kom, iemand wat soos ’n mens lyk. Hy het na Hom wat ewig lewe gegaan en is voor Hom gebring. Om te heers, het hy ontvang: gesag, eer en mag. Al die volke, nasies en tale sou hom dien. Sy heerskappy is vir altyd. Dit sal nooit verdwyn nie. Sy koninkryk sal nie ophou nie. Ek, Daniël, was ontsteld oor alles wat ek gesien het. Die dinge wat ek gesien het, het my banggemaak. Ek het toe nadergegaan na een van dié wat daar gestaan het. Ek het hom uitgevra oor al hierdie dinge. Hy het gesê hy sal dit vir my verduidelik: “Die vier groot diere is vier konings wat oor die aarde regeer. Die heilige mense van die Allerhoogste sal egter uiteindelik die koninkryk ontvang. Hulle sal regeer vir altyd en ewig.”
DANIËL 7:9-18 Bybel vir almal (ABA)
“Ek het gesien die engele het trone neergesit, en die God wat altyd lewe, het op sy troon gaan sit. Sy klere was so wit soos sneeu en sy hare was soos skoon wol. Hy het op vuurvlamme gesit, sy troon het wiele gehad wat brand. Uit die troon het 'n rivier van vuur gevloei. Daar het duisende engele gestaan, baie duisende, hulle moes doen wat God wil hê. God, die Regter, het begin om die mense te oordeel. Die engele het die boeke oopgemaak, die boeke waarin hulle geskryf het wat elke mens gedoen het. “Ek het gesien wat gebeur omdat die horing hoogmoedig gepraat het. Ek het gesien hulle maak die dier dood en hulle verbrand hom. Daar het niks van hom oorgebly nie. Die drie ander diere kon nie aanhou doen wat hulle wil nie, maar hulle kon nog 'n kort tydjie lewe. “Ek het in die nag gedroom en gesien daar kom iemand. Hy was soos 'n mens, en hy het op die wolke gekom. Hy het gekom tot by die God wat altyd lewe. Die engele het hom na God gebring. God het hom 'n koning gemaak wat sterk en belangrik is. Al die mense sal hom dien in al die lande en in al die tale. Hy sal sterk bly en hy sal altyd koning wees. “Ek, Daniël, het groot geskrik, ek was geskok oor die dinge wat ek gesien het toe ek gedroom het. Ek het gegaan na een van die engele wat daar gestaan het, en ek het vir hom gevra wat al hierdie dinge beteken. Hy het vir my gesê wat dit beteken. Hy het gesê: ‘Hierdie vier groot diere is vier konings wat op die aarde sal regeer. Maar die gewyde mense van die Hoogste God sal konings word wat altyd sal regeer, ja, ewig en altyd.’
DANIËL 7:9-18 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Ek het bly kyk totdat trone reggesit is en 'n Oue van dae gaan sit het; sy kleed was wit soos sneeu en die hare van sy hoof soos skoon wol; sy troon was vuurvlamme, die wiele daarvan 'n brandende vuur; 'n stroom van vuur het gevloei en voor Hom uit gegaan; duisend maal duisende het Hom gedien, en tienduisend maal tienduisende het voor Hom gestaan; die gereg het gaan sit, en die boeke is geopen. Ek het toe bly kyk vanweë die stem van die groot woorde wat die horing gespreek het; ek het bly kyk totdat die dier gedood en sy liggaam vernietig en aan die verbranding deur vuur oorgegee is. Ook aan die ander diere is hulle heerskappy ontneem, en verlenging van die lewe is aan hulle gegee tot op tyd en uur. Ek het gesien in die naggesigte, en kyk, met die wolke van die hemel het Een gekom soos die Seun van 'n mens, en Hy het gekom tot by die Oue van dae, en hulle het Hom nader gebring voor Hom. En aan Hom is gegee heerskappy en eer en koningskap; en al die volke en nasies en tale het Hom vereer; sy heerskappy is 'n ewige heerskappy wat nie sal vergaan nie, en sy koninkryk een wat nie vernietig sal word nie. Die gees van my, Daniël, is in sy omhulsel verontrus, en die gesigte van my hoof het my verskrik. Ek het nader gekom na een van die wat daar gestaan het, en van hom sekerheid gevra oor dit alles; en hy het dit vir my gesê en die uitlegging van die dinge aan my bekend gemaak: Hierdie groot diere wat vier is — vier konings sal uit die aarde opstaan; en die heiliges van die Allerhoogste sal die koningskap ontvang, en hulle sal die koninkryk in besit neem tot in ewigheid, ja, tot in alle ewigheid.
DANIËL 7:9-18 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
“ Ek het gekyk totdat trone opgestel is, en 'n Oue van Dae plaasgeneem het. Sy kleed was wit soos sneeu, die hare van sy hoof soos suiwer wol. Sy troon was vuurvlamme, die wiele daarvan vlammende vuur. 'n Rivier van vuur het gevloei en voor Hom uit gestroom. Duisend maal duisende was tot sy diens, en tienduisend maal tienduisende het voor Hom gereed gestaan. Die regbank het plek ingeneem, en die •boekrolle is oopgemaak. “Ek het daarna nog bly kyk, weens die geraas van die verwaande woorde wat die horing besig was om kwyt te raak; ja, ek het bly kyk totdat die dier gedood is, sy liggaam verwoes is, en hy oorgegee is aan verbranding deur die vuur. Die oorblywende diere se heerskappy is hulle ontneem, en 'n langer lewe is vir hulle gegee, tot 'n tyd en 'n tydsduur verloop het. “Ek het in die nagtelike visioene gesien: “Kyk, met die wolke van die hemel was iemand aan die kom wat soos 'n mensekind was; tot by die Oue van Dae het hy gekom, voor Hom is hy gebring. Aan hom is heerskappy, eer en koningskap gegee – alle volke, nasies en taalgroepe dien hom. Sy heerskappy is 'n ewige heerskappy wat nie verby sal gaan nie, en sy koningskap is so dat dit nie vernietig sal word nie. “ Wat my, Daniël, betref, my gees was verontrus diep in my binneste, en die visioene in my kop het my verskrik. Ek het nader gegaan na een van dié wat gereed gestaan het, en hom die ware uitleg van al hierdie dinge gevra. Hy het met my gepraat en die uitleg daarvan aan my bekend gemaak, ‘Hierdie groot diere, vier in getal: Vier konings sal uit die aarde opstaan, maar die •heiliges van die Allerhoogste sal die koningskap ontvang, en hulle sal die koninkryk in besit neem vir ewig en altyd.’
DANIËL 7:9-18 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Ek het gekyk totdat die trone neergewerp is, en die Oue van dae het gesit, wie se kleed wit was soos sneeu en die hare van sy hoof soos die suiwer wol; sy troon was soos die vurige vlam en sy wiele soos brandende vuur. 'n Vuurstroom het uitgekom en voor hom uit uitgegaan: duisend duisende het hom gedien, en tien duisend maal tien duisend het voor hom gestaan; die oordeel is vasgestel, en die boeke is oopgemaak. Ek het toe gesien vanweë die stem van die groot woorde wat die horing gespreek het: Ek het gesien totdat die dier gedood en sy liggaam vernietig en aan die brandende vlam gegee is. Wat die res van die diere betref, hulle heerskappy is weggeneem, maar hulle lewe is verleng vir 'n tyd en tyd. Ek het in die naggesigte gesien, en kyk, een soos die Seun van die mens het gekom met die wolke van die hemel en na die Oue van dae gekom, en hulle het Hom voor Hom nader gebring. En daar is aan hom heerskappy en heerlikheid en 'n koninkryk gegee, sodat alle volke, nasies en tale Hom sou dien; sy heerskappy is 'n ewige heerskappy wat nie sal verbygaan nie, en sy koninkryk wat nie vernietig sal word nie. Ek, Daniël, was bedroef in my gees in die middel van my liggaam, en die gesigte van my hoof het my verskrik. Ek het nader gekom na een van die wat daar gestaan het, en hom die waarheid van dit alles gevra. So het hy my vertel en my die uitlegging van die dinge laat weet. Hierdie groot diere, wat vier is, is vier konings wat uit die aarde sal opstaan. Maar die heiliges van die Allerhoogste sal die koningskap neem en die koninkryk in besit neem vir ewig, ja tot in ewigheid.
DANIËL 7:9-18 Die Boodskap (DB)
“Ek het ook gesien hoe daar trone reggesit word. Die Een wat vir ewig lewe, het op een van die trone gaan sit om as regter op te tree. Sy klere was so wit soos sneeu en sy hare so wit soos suiwer wol. Sy troon het vier vlammende wiele gehad en was omring deur vuur. Die vuur het soos ’n rivier uit die troon uit gestroom. Miljoene engele het Hom bedien en daar het miljoene der miljoene mense voor sy troon gestaan. Toe het die hofsitting begin en die boeke is oopgemaak waarin al die aanklagte opgeteken is. “Die klein horinkie was nog steeds besig om allerhande grootpraterige goed te sê. En toe ek weer kyk, sien ek hoe die vierde dier doodgemaak word en sy liggaam in die vuur verbrand word. Ook die ander drie diere se krag is van hulle af weggevat, maar hulle lewe is vir nog ’n klein rukkie gespaar. “My visioen het voortgegaan. Daar in die wolke het ek iemand sien aankom. Hy het soos ’n mens gelyk. Hy het na die Een toe gegaan wat vir altyd lewe. Hierdie mens is geroep om by sy troon te gaan staan. Aan hierdie mens is al die mag en die eer en die koningskap gegee, sodat al die volke, nasies en tale van die wêreld hom sou dien. Daar sal nooit ’n einde aan sy heerskappy wees nie. Sy koninkryk sal nooit vernietig word nie.” “Hierdie visioen het my verskriklik ontstel; dit het my baie bang gemaak. Ek het toe na een van dié wat langs God se troon gestaan het, gegaan en vir hom gevra wat dit alles beteken. Hy het dit toe so vir my verduidelik: die vier groot diere is die vier groot wêreldmagte wat op die aarde sal heers. Maar op die ou end sal die mense wat aan die Allerhoogste behoort, as konings heers en hulle sal vir ewig regeer.