DEUTERONOMIUM 31:9-13 - Vergelyk alle weergawes | YouVersion
DEUTERONOMIUM 31:9-13 AFR83 (Afrikaans 1983)
Moses het toe hierdie wet opgeskryf en dit gegee aan die Levitiese priesters wat die verbondsark van die Here dra, en ook aan al die leiers van Israel. Toe het Moses hulle beveel: “Aan die einde van elke sewende jaar, op die vasgestelde tyd, die jaar waarin julle skuld moet afskryf, op die huttefees, wanneer die hele Israel in die teenwoordigheid van die Here julle God moet verskyn op die plek wat Hy sal kies, moet julle hierdie wet lees in die teenwoordigheid van die hele Israel waar hulle dit kan hoor. Julle moet die volk bymekaarroep: mans, vrouens en kinders, en ook die vreemdeling wat in julle stede by julle woon, sodat hulle kan luister en die wet kan leer, sodat hulle die Here julle God kan dien en gehoorsaam, sodat hulle kan leef volgens alles wat in hierdie wet staan. So sal hulle kinders wat nie hierdie wet ken nie, dit kan hoor en leer en sal hulle die Here julle God kan dien so lank as julle lewe in die land waarheen julle deur die Jordaan trek om dit in besit te gaan neem.”
DEUTERONOMIUM 31:9-13 AFR53 (Afrikaans 1933/1953)
EN Moses het hierdie wet opgeskrywe en dit gegee aan die priesters, die seuns van Levi, wat die verbondsark van die HERE gedra het, en aan al die oudstes van Israel. En Moses het aan hulle bevel gegee en gesê: Aan die einde van sewe jaar, op die bepaalde tyd van die jaar van kwytskelding, op die huttefees, as die hele Israel kom om te verskyn voor die aangesig van die HERE jou God op die plek wat Hy sal uitkies, moet jy hierdie wet voor die hele Israel, voor hulle ore lees. Laat die volk byeenkom, die manne en die vroue en die kinders en jou vreemdeling wat in jou poorte is, dat hulle kan hoor en dat hulle kan leer om die HERE julle God te vrees en sorgvuldig al die woorde van hierdie wet te hou. En hulle kinders wat dit nie ken nie, moet hoor en leer om die HERE julle God te vrees al die dae wat julle lewe in die land waarheen julle deur die Jordaan trek om dit in besit te neem.
DEUTERONOMIUM 31:9-13 NLV (Nuwe Lewende Vertaling)
Moses het toe hierdie gebooie neergeskryf en dit vir die priesters wat die ark van die verbond dra en vir die leiers van Israel gegee. Moses het hulle toe soos volg beveel: “Aan die einde van elke sewende jaar, die jaar van die kwytskelding, gedurende die Huttefees, moet jy hierdie gebooie vir die hele volk van Israel lees. Doen dit wanneer hulle in die teenwoordigheid van die HERE julle God byeengekom het op die plek wat Hy sal kies. Roep almal bymekaar, mans, vroue en kinders en ook die vreemdelinge wat in julle dorpe woon, sodat hulle kan luister en leer om ontsag te hê vir die HERE julle God en om sorgvuldig gehoorsaam te wees aan al die bepalings van hierdie gebooie. Doen dit sodat jou kinders wat hierdie gebooie nie ken nie, sal hoor en sal leer om ontsag te hê vir die HERE julle God. Doen dit so lank as wat julle in die land bly, hierdie land wat julle in besit gaan neem wanneer julle deur die Jordaan trek.”
DEUTERONOMIUM 31:9-13 DB (Die Boodskap)
Moses het toe al hierdie woorde in ’n boek geskryf. Daarna het hy die boek vir die mense gegee wat in die huis van die Here werk. Hulle het in die woestyn die ark gedra waarin die Here se ooreenkoms met sy volk was. Moses het hierdie boek ook vir die leiers van Israel gegee. Toe het Moses gesê: “Aan die einde van elke sewende jaar moet julle almal wat skuld gemaak het, se skuld afskryf. Daardie jaar, as julle die fees vier om terug te dink aan hoe julle in die woestyn gebly het nadat die Here julle uit Egipte gered het, moet julle hierdie boek weer lees. Al die mense van Israel moet dan bymekaarkom in die plek wat die Here julle God sal kies. Hy sal daar bly. Dan moet julle hierdie boek van voor tot agter lees sodat almal dit kan hoor. Roep almal bymekaar. Al die mans en die vroue en die kinders moet daar wees. Ook al die mense van ander nasies moet kom. Hulle moet almal luister na wat die Here wil hê. Dan sal hulle leer om respek vir die Here te hê en te doen wat Hy van hulle vra. Julle moet dit gereeld elke sewe jaar doen sodat julle kinders ook kan hoor wat die Here van hulle vra. Hulle het mos nog nie gehoor wat die Here van hulle verwag nie. Hulle moet leer om respek vir die Here hulle God te hê en te doen wat Hy van hulle vra. Julle moet dit altyd doen, so lank as wat julle in die land bly wat julle nou ingaan as julle oor die Jordaan trek.”
DEUTERONOMIUM 31:9-13 ABA (Bybel vir almal)
Moses het hierdie wette neergeskryf en hy het dit vir die priesters van die nageslag van Levi gegee, die priesters wat die verbondskis van die Here dra. Hy het die wette ook vir die leiers van die Israeliete gegee. Moses het vir hulle gesê: “Julle moet hierdie wette elke sewende jaar vir al die Israeliete lees. Dit is die jaar wanneer julle moet sê dat mense die geld mag hou wat hulle vir julle skuld, hulle moenie die geld terugbetaal nie. Julle moet die wette lees op die Hutte-fees, wanneer al die Israeliete voor julle God die Here moet kom staan op die plek wat Hy sal kies. Julle moet die volk laat bymekaarkom, die mans, die vroue en die kinders, en ook die vreemdelinge wat in julle stede is, sodat hulle kan hoor en kan leer en sodat hulle ook julle God die Here kan eer en alles kan doen wat hierdie wette sê. Hulle kinders wat nie die wette ken nie, moet dit hoor en hulle moet leer om julle God die Here altyd te eer, so lank soos julle sal lewe in die land oorkant die Jordaan-rivier, die land waarnatoe julle gaan om dit vir julleself te vat.”
DEUTERONOMIUM 31:9-13 AFR20 (Die Bybel 2020-vertaling)
Moses het hierdie wet neergeskryf en dit vir die Levitiese priesters wat die verbondsark van die HERE dra, gegee, en ook vir al die oudstes van Israel. Moses het hulle beveel: “Aan die einde van sewe jaar, op die vasgestelde tyd van die jaar van kwytskelding, tydens die Huttefees, wanneer die hele Israel kom om voor die HERE jou God te verskyn op die plek wat Hy sal kies, moet jy hierdie wet aan die hele Israel voorlees, sodat hulle dit kan hoor. Roep die volk byeen, manne, vroue en kinders, asook die •vreemdelinge wat in julle dorpe is, sodat hulle dit kan hoor, en sodat hulle dit kan leer en vir die HERE julle God ontsag kan hê, en al die woorde van hierdie wet nougeset kan nakom. En hulle kinders wat dit nie ken nie, moet dit hoor, en leer om vir die HERE julle God ontsag te hê so lank as julle leef op die grond waarheen julle oor die Jordaan trek om dit in besit te neem.”
DEUTERONOMIUM 31:9-13 CAB23 (Contemporary Afrikaans Bible 2023)
Moses het toe hierdie wet geskrywe en dit aan die priesters, die seuns van Levi, wat die verbondsark van die HERE gedra het, en aan al die oudstes van Israel oorgegee. En Moses het hulle bevel gegee en gesê: Aan die einde van elke sewe jaar, op die fees van die jaar van vrylating, op die huttefees, Wanneer die hele Israel kom om voor die aangesig van die HERE jou God te verskyn op die plek wat Hy sal uitkies, moet jy hierdie wet voor die hele Israel voor hulle ore lees. Versamel die volk, mans en vroue en kinders en jou vreemdeling wat in jou poorte is, dat hulle kan hoor en leer en die HERE jou God kan vrees en sorgvuldig al die woorde van hierdie wet hou. En dat hulle kinders, wat niks geweet het nie, kan hoor en leer om die HERE julle God te vrees, solank julle in die land woon waarheen julle deur die Jordaan trek om dit in besit te neem.