PREDIKER 8:2-17

PREDIKER 8:2-17 Bybel vir almal (ABA)

Ek sê vir jou: Jy moet doen wat die koning sê, want jy het vir God belowe om gehoorsaam te wees aan die koning. Jy moenie haastig wees en sê 'n verkeerde ding is reg nie, dit is beter dat jy weggaan van die koning, want die koning doen altyd wat hy wil. Die koning is die hoof, almal moet doen wat hy sê. Niemand kan vir hom vra hoekom hy iets doen nie. As jy doen wat die koning sê, dan sal dit nie sleg gaan met jou nie. As jy wysheid het, dan sal jy weet wat is reg en jy sal weet wanneer jy iets mag doen. Ja, daar is 'n regte tyd om elke ding te doen en daar is 'n regte manier om dit te doen. Die slegte dinge wat met 'n mens gebeur, pla hom die meeste, want niemand weet wat later sal gebeur nie, daar is niemand wat vir 'n mens kan sê hoe dit later sal wees nie. Niemand kan die wind laat ophou waai nie, niemand kan besluit wanneer hy moet sterf nie en niemand kan vry wegkom uit 'n oorlog nie. As iemand verkeerd doen, dan sal dít wat hy doen, ook nie vir hom red nie. Ek het dit alles gesien en ek het alles probeer verstaan wat mense in hierdie wêreld doen, in hierdie tyd wanneer mense oor ander mense regeer en hulle laat swaarkry. Ek het ook gesien dat mense wat verkeerd doen, sterf en begrawe word, hulle is weg vir altyd, mense vergeet dat hulle daar was. Maar die mense van 'n stad dink ook nie meer aan iemand wat van die tempel kom en reg gedoen het nie. Ook dít is nie soos dit moet wees nie. Wanneer mense verkeerd gedoen het, en jy straf hulle nie dadelik nie, dan sal hulle aanhou om verkeerd te doen, want 'n sondaar kan 100 maal verkeerd doen en nog lank lewe. Maar dít weet ek ook: Dit sal goed gaan met die mense wat vir God respekteer en Hom dien, en dit sal nie goed gaan met 'n mens wat verkeerd doen en wat nie vir God respekteer en dien nie. Hy sal nie lank lewe nie. Hy sal soos 'n skaduwee gou verdwyn. Daar is iets wat op die aarde gebeur wat nie is soos dit moet wees nie: Daar is mense wat reg lewe, maar dan gebeur daar met hulle dinge wat moet gebeur met mense wat verkeerd doen. En daar is mense wat verkeerd doen, maar dan gebeur daar met hulle dinge wat moet gebeur met mense wat reg lewe. Ek sê dit is ook nie soos dit moet wees nie. Ek het gesê dit is die beste om die lewe te geniet. Die beste wat 'n mens in hierdie wêreld kan doen, is om te eet en te drink en dinge te geniet. 'n Mens kan dit doen terwyl hy hard werk in die lewe wat God vir hom in hierdie wêreld gee. Ek het hard probeer verstaan wat wysheid is en ek het probeer sien wat mense op die aarde doen, want hulle is baie besig en slaap amper nooit, nie in die dag of in die nag nie. En toe het ek gesien hoe God alles gemaak het, en ek het gesien dat mense hard probeer verstaan wat alles in hierdie wêreld gebeur, maar hulle kan dit nie verstaan nie. En ook wanneer 'n wyse mens sê dat hy dit verstaan, dan kan hy dit nie verstaan nie.

PREDIKER 8:2-17 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

Ek sê: Neem die bevel van die koning in ag, en wel ter wille van die eed by God. Haas jou nie om van hom af weg te gaan nie; laat jou nie in met 'n slegte saak nie, want alles wat hy wil, doen hy. Want die woord van die koning is magtig, en wie kan vir hom sê: Wat doen u? Hy wat die gebod onderhou, sal geen kwaad ondervind nie; en die hart van 'n wyse sal die tyd en die regterlike beslissing belewe. Want vir elke ding is daar 'n tyd en 'n beslissing; want die boosheid van die mens druk swaar op hom. Want hy weet nie wat sal wees nie; want hoe dit sal wees — wie kan hom dit te kenne gee? Daar is geen mens wat heerskappy het oor die wind om die wind teë te hou nie, en niemand het mag oor die dag van die dood nie, en daar is geen vrystelling in die oorlog nie; so sal ook die goddeloosheid hom wat dit begaan, nie red nie. Dit alles het ek gesien deurdat ek my hart gerig het op elke werk wat onder die son gedoen word, in 'n tyd waarin die een mens heers oor die ander tot sy ongeluk. So het ek dan die goddelose sien begrawe word en die rus ingaan, terwyl die wat reg gehandel het, uit die heilige plek moes weggaan en in die stad vergeet is. Ook dit is dan nietigheid. OMDAT die oordeel oor 'n verkeerde daad nie gou voltrek word nie, daarom is die hart van die mensekinders in hulle vol om kwaad te doen; aangesien 'n sondaar honderd maal kwaad doen en hy lank lewe — alhoewel ek weet dat dit goed sal gaan met die wat God vrees, omdat hulle voor sy aangesig vrees, en dit nie goed sal gaan met die goddelose, en hy die dae nie sal verleng soos 'n skaduwee nie, omdat hy voor die aangesig van God nie vrees nie. Dit is 'n nietigheid wat op die aarde gebeur, dat daar regverdiges is met wie dit gaan volgens die dade van die goddelose, en dat daar goddelose is met wie dit gaan volgens die dade van die regverdiges; so sê ek dan dat dit ook nietigheid is. Daarom het ek die vreugde geprys, dat daar niks beters is vir die mens onder die son nie as om te eet en te drink en hom te verheug, en dat dit hom mag begelei by sy moeitevolle arbeid gedurende die dae van sy lewe wat God hom gee onder die son. Toe ek my hart daarop gerig het om wysheid te leer ken en om te aanskou die dinge wat op die aarde gedoen word — ja, selfs bedags en snags niemand met sy oë die slaap sien nie — het ek gesien al die werk van God, dat die mens die werk wat gedoen word onder die son, nie kan uitvind nie, omdat die mens hom vermoei om te soek en tog niks uitvind nie; ja, al sou die wyse dink dat hy dit verstaan — hy sal dit nie kan uitvind nie!

PREDIKER 8:2-17 Afrikaans 1983 (AFR83)

Wat my betref: Gehoorsaam die bevel van die koning op grond van die eed van getrouheid voor God. Moenie voortvarend wees nie, moenie by 'n swak saak staan nie, gee liewer pad voor die koning, want hy doen wat hy goed vind. Sy woord is wet; wie kan van hom rekenskap eis? Wie 'n bevel gehoorsaam, beland nie in die moeilikheid nie. Wie wysheid het, weet wanneer en hoe hy moet handel. Elke ding het sy tyd en sy manier. Daar is baie gevare wat die mens bedreig. Hy weet nie wat sal gebeur nie. Wie kan vir hom sê hoe dit sal wees? Niemand het die mag om die wind te stuit nie; niemand het seggenskap oor sy sterfdag nie; in oorlogstyd spring niemand vry nie. Wie verkeerd doen, word nie deur sy verkeerde daad gered nie. Dit alles het ek gesien. Ek het aandag gegee aan alles wat in hierdie wêreld gebeur wanneer een mens mag oor 'n ander het om hom kwaad aan te doen. Ek het gesien slegte mense word begrawe, en verdwyn, terwyl dié wat van die tempel af kom en reg gehandel het, ook in die stad vergeet word. Ook hier kom dit dus tot niks. Omdat die verkeerde daad nie meteens gestraf word nie, hou mense eenvoudig aan om verkeerd te doen. Al doen die sondaar ook hoeveel kwaad en leef hy nogtans lank, ek weet: met die vromes wat vir God dien, sal dit goed gaan; met die goddelose wat nie vir God dien nie, sal dit nie goed gaan nie. Soos 'n vlugtige skaduwee wat gou verdwyn, sal die goddelose nie lank lewe nie. Ook hier lei wat op die aarde gebeur, tot niks: oor regverdiges kom wat goddeloses toekom, oor goddeloses kom wat regverdiges toekom. Ook hierin, sê ek, kom dit tot niks. Ek het vreugde aanbeveel: daar is niks beter vir die mens in hierdie wêreld nie as dat hy eet en drink en vrolik is onder al sy geswoeg tydens die lewe wat God hom in hierdie wêreld gee. So het ek my daarop toegelê om agter te kom wat wysheid is en om te begryp waarmee mense hulle op die aarde besig hou sonder dat hulle dag of nag tot rus kom. Toe het ek al die werk van God begryp; die mens is nie in staat om wat in hierdie wêreld gebeur, te verstaan nie. Hoe hy hom ook al inspan en soek, hy verstaan nie. Al sê die wyse hy weet, kan hy nie verstaan nie.

PREDIKER 8:2-17 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Kom die bevel van die koning na; maar as dit oor die eed voor God gaan, moenie verskrik wees nie; gaan van die koning af weg; moet jou nie met 'n slegte saak inlaat nie; hy doen immers alles wat hom behaag, want 'n koning se woord is magtig. Wie kan vir hom sê: “Wat doen u?” “Wie 'n gebod nakom, sal nie kwaad ervaar nie; en die hart van 'n wyse ken tyd en beslissing.” Ja, vir elke saak is daar 'n tyd en 'n beslissing; maar die teenspoed van die mens rus swaar op hom, want hy weet nie wat gaan gebeur nie. Ja, hoe dit gaan gebeur – wie kan hom daaroor inlig? Geen mens het beheer oor die lewensasem, om die lewensasem terug te hou nie. Niemand het mag oor die sterfdag nie, daar is geen vrystelling in die oorlog nie, en goddeloosheid kan sy besitters nie laat vrykom nie. Dit alles het ek gesien terwyl ek aandag gegee het aan elke werk wat onder die son gedoen word – in die tyd wanneer een mens beheer uitoefen oor 'n ander, tot sy nadeel. Daarna het ek gesien: Goddeloses wat gewoond was om in en uit die heiligdom te gaan, word begrawe. Maar in die stad raak dié vergete wat reg opgetree het. Ook dit is sinloos. Omdat 'n vonnis oor 'n bose daad nie gou voltrek word nie, daarom is mense se harte in hulle vol daarvan om kwaad te doen – omdat 'n sondaar honderd keer kwaad kan doen, en lank lewe. Ja, ek weet ook: Dit sal goed gaan met hulle wat vir God ontsag het, omdat hulle vir Hom ontsag het; en dit sal nie goed gaan met die goddelose nie, en hy sal nie die dae verleng soos 'n skaduwee nie, omdat hy geen ontsag het vir God se teenwoordigheid nie. Daar is iets sinloos wat op die aarde plaasvind: Daar is regverdiges met wie dit gaan volgens die optrede van die goddeloses; en daar is goddeloses met wie dit gaan volgens die optrede van die regverdiges. Ek sê dat ook dit sinloos is. Daarom prys ek die plesier, want daar is niks beter vir die mens onder die son nie as om te eet en te drink en vrolik te wees. Dit moet hom vergesel by sy inspanning gedurende sy lewensdae wat God hom gee onder die son. Toe ek my daaraan toegewy het om wysheid te ken, en om die taak te beskou wat op die aarde verrig word – terwyl 'n mens selfs dag en nag met sy oë geen slaap sien nie – het ek al die werk van God gesien. Die mens is nie in staat om die werk wat onder die son gedoen word te ontrafel nie. Hoe die mens hom ook al vermoei met soek, hy sal dit nie ontrafel nie. Selfs al gee die wyse voor om dit te weet, hy is nie in staat om dit te ontrafel nie.

PREDIKER 8:2-17 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

Ek raai jou aan om die gebod van die koning te onderhou, en dit in verband met die eed van God. Moenie haastig weggaan van sy oë nie; want hy doen alles wat hom behaag. Waar die woord van 'n koning is, daar is krag; en wie kan vir hom sê: Wat doen jy? Wie die gebod bewaar, sal geen kwaad voel nie; en die hart van 'n wyse man onderskei tyd sowel as oordeel. Want vir elke doel is daar tyd en oordeel, daarom is die ellende van die mens groot oor hom. Want hy weet nie wat sal wees nie; want wie kan hom sê wanneer dit sal wees? Daar is niemand wat mag oor die gees het om die gees te behou nie; en hy het geen mag in die dag van die dood nie, en daar is geen vloeiing in daardie oorlog nie; en goddeloosheid sal die wat daaraan gegee is, nie red nie. Dit alles het ek gesien en my hart toegepas op elke werk wat onder die son gedoen word: daar is 'n tyd waarin die een oor die ander heers tot sy eie skade. En so het ek die goddelose begrawe gesien, wat gekom en gegaan het uit die plek van die heilige, en hulle is vergeet in die stad waar hulle dit gedoen het; dit is ook nietigheid. Omdat die vonnis oor 'n slegte werk nie vinnig voltrek word nie, daarom is die hart van die mensekinders ten volle daarop gerig om kwaad te doen. Al doen 'n sondaar honderd maal kwaad en sy dae word verleng, tog weet ek tog dat dit goed sal gaan met die wat God vrees, wat voor Hom vrees; Maar met die goddelose sal dit nie goed gaan nie, en hy sal sy dae nie verleng wat soos 'n skaduwee is nie; want hy vrees nie voor God nie. Daar is 'n nietigheid wat op die aarde geskied; dat daar regverdige mense is met wie dit gebeur volgens die werk van die goddelose; weer, daar is goddelose mense met wie dit gebeur volgens die werk van die regverdiges; Ek het gesê dat dit ook nietigheid is. Toe het ek vrolikheid geprys, want 'n mens het niks beters onder die son as om te eet en te drink en vrolik te wees nie; want dit sal by hom bly van sy arbeid die dae van sy lewe wat God hom gee onder die son. Toe ek my hart aangewend het om wysheid te ken en die werk te sien wat op die aarde gedoen word; (want daar is ook dat dag en nag geen slaap met sy oë sien nie). Toe het ek al die werk van God aanskou, dat 'n mens nie die werk wat onder die son gedoen word, kan uitvind nie; ja verder; al dink 'n wyse man om dit te weet, tog sal hy dit nie kan vind nie.

PREDIKER 8:2-17 Die Boodskap (DB)

Doen wat die regeerder sê. Moenie haastige beloftes aan God maak nie. Omdat ’n regeerder kan doen wat hy wil, moet jy nie te lank by hom bly of ’n slegte saak ondersteun nie. Die regeerder se woord is wet. Wie kan hom aanspreek oor wat hy doen? Solank jy maar doen wat die regeerder sê, is jy veilig. Die wyse weet wat om op die regte tyd te sê en te doen. Vir alles is daar ’n tyd en ’n uur, maar die mens ken dit nie. Niemand weet wat gaan gebeur nie en niemand kan jou ook vertel wat voorlê nie. ’n Mens is magteloos. Hy kan nie die wind keer nie, hy kan nie sy sterfdag uitstel nie, hy kan nie militêre diens vermy nie en hy kan nie alles met sy rykdom regkry nie. Toe ek oor alles in die lewe nagedink het, het ek besef sommige het baie mag en sommige nie. Dié wat nie mag het nie, moet altyd ly onder dié wat mag het. Ek het gesien hoe slegte mense begrawe word en hoe mense hulle prys, terwyl goeie mense uit hulle stad moet vlug en vergeet word. Dit wys net hoe sinloos en deurmekaar die lewe is. Mense doen maklik verkeerde dinge omdat dit lank vat voordat die skuldiges gestraf word. ’n Slegte mens kan selfs 100 misdade pleeg en nog steeds lank leef. Die mense sê mos altyd: “As jy vir God bang is, sal dit met jou goed gaan. Slegte mense wat God nie dien nie, sal net teëspoed ervaar. Hulle lewe is soos ’n skaduwee en hulle lewensjare min.” Dit is egter verkeerd. Net die teenoorgestelde gebeur. Met goeie mense sal dit sleg gaan en met slegte mense goed. Dit wys net weer hoe absurd die lewe eintlik is. Ek het daarom besluit dat wat die mens eintlik nodig het, vreugde is. Niks is beter as om te eet en te drink en die lewe te geniet nie. Dít kan die mens help om die sinloosheid te verwerk van hierdie lewe wat God ons gegee het. Ek het dag en nag gewerk om die lewe en die dinge wat in die wêreld gebeur, te probeer begryp. Uiteindelik moes ek opgee, want die mens kan nooit God se werk deurgrond nie. Al probeer hy hoe hard, sal hy die sin van die lewe nooit kan ontsluit nie.

PREDIKER 8:2-17 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Doen wat die koning jou beveel. Jy het God immers belowe dat jy dit sal doen. Moenie haastig weggaan van die koning af nie. Moenie by ’n slegte saak staan nie, want hy doen wat hy goedvind. Die koning se woord is wet. Wie kan vir hom vra: “Wat doen u?” Wie doen wat hy sê, kom niks oor nie. Wyse mense weet wanneer en hoe om op te tree. Want elke ding het sy tyd en plek, ook as die mens se ellende swaar op hom lê. Niemand weet wat die toekoms regtig inhou nie. Wie sal dan vir ’n mens kan vertel wat gaan gebeur? Niemand het die mag om die wind te beheer nie. Net so kan mense nie bepaal wanneer hulle doodgaan nie. In die oorlog word niemand verskoon nie. Net so sal boosheid nie die een red wat dit beoefen nie. Ek het dit alles gesien. Ek het aandag gegee aan alles wat onder die son gedoen word. Daar is ’n tyd wanneer een mens tot die nadeel van ’n ander mag uitoefen oor die ander. Ek het gesien slegte mense kom nader en gaan in, terwyl dié wat reg gehandel het, moet uitgaan uit die heilige plek en in die stad vergeet word. Ook dit is sinloos. As ’n misdaad nie dadelik gestraf word nie, is mense se harte vol planne om verkeerd te doen, want ’n sondaar kan honderd keer kwaad doen en nogtans lank leef, alhoewel ek weet: Met die vromes wat vir God ontsag het, sal dit goed gaan. Maar die goddelose wat nie ontsag het vir God nie, sal nie voorspoedig wees nie. Hy sal nie sy dae verleng soos ’n skaduwee nie. Daar is nog iets sinloos wat op aarde gebeur: Goeie mense beleef wat slegte mense verdien. En slegte mense kry wat goeie mense verdien. Ook dit is sinloos, sê ek! Daarom raai ek mense aan om die lewe te geniet. Vir die mens is daar niks goeds onder die son nie, behalwe om te eet en te drink en vrolik te wees, en dat vreugde hom begelei onder al sy geswoeg tydens die lengte van sy lewe wat God hom onder die son gee. Toe ek my daarop toegelê het om vas te stel wat wysheid is en te begryp wat op die aarde gedoen word sonder dat mense dag of nag tot rus kom, het ek al die werk van God gesien, en verstaan dat die mens nie in staat is om wat onder die son gebeur te verstaan nie. Hoe hy hom ook al inspan en soek, hy kan dit nie verstaan nie, al sê die wyse hy weet.