Kom die bevel van die koning na; maar as dit oor die eed voor God gaan, moenie verskrik wees nie; gaan van die koning af weg; moet jou nie met 'n slegte saak inlaat nie; hy doen immers alles wat hom behaag, want 'n koning se woord is magtig. Wie kan vir hom sê: “Wat doen u?” “Wie 'n gebod nakom, sal nie kwaad ervaar nie; en die hart van 'n wyse ken tyd en beslissing.” Ja, vir elke saak is daar 'n tyd en 'n beslissing; maar die teenspoed van die mens rus swaar op hom, want hy weet nie wat gaan gebeur nie. Ja, hoe dit gaan gebeur – wie kan hom daaroor inlig? Geen mens het beheer oor die lewensasem, om die lewensasem terug te hou nie. Niemand het mag oor die sterfdag nie, daar is geen vrystelling in die oorlog nie, en goddeloosheid kan sy besitters nie laat vrykom nie. Dit alles het ek gesien terwyl ek aandag gegee het aan elke werk wat onder die son gedoen word – in die tyd wanneer een mens beheer uitoefen oor 'n ander, tot sy nadeel. Daarna het ek gesien: Goddeloses wat gewoond was om in en uit die heiligdom te gaan, word begrawe. Maar in die stad raak dié vergete wat reg opgetree het. Ook dit is sinloos. Omdat 'n vonnis oor 'n bose daad nie gou voltrek word nie, daarom is mense se harte in hulle vol daarvan om kwaad te doen – omdat 'n sondaar honderd keer kwaad kan doen, en lank lewe. Ja, ek weet ook: Dit sal goed gaan met hulle wat vir God ontsag het, omdat hulle vir Hom ontsag het; en dit sal nie goed gaan met die goddelose nie, en hy sal nie die dae verleng soos 'n skaduwee nie, omdat hy geen ontsag het vir God se teenwoordigheid nie. Daar is iets sinloos wat op die aarde plaasvind: Daar is regverdiges met wie dit gaan volgens die optrede van die goddeloses; en daar is goddeloses met wie dit gaan volgens die optrede van die regverdiges. Ek sê dat ook dit sinloos is. Daarom prys ek die plesier, want daar is niks beter vir die mens onder die son nie as om te eet en te drink en vrolik te wees. Dit moet hom vergesel by sy inspanning gedurende sy lewensdae wat God hom gee onder die son. Toe ek my daaraan toegewy het om wysheid te ken, en om die taak te beskou wat op die aarde verrig word – terwyl 'n mens selfs dag en nag met sy oë geen slaap sien nie – het ek al die werk van God gesien. Die mens is nie in staat om die werk wat onder die son gedoen word te ontrafel nie. Hoe die mens hom ook al vermoei met soek, hy sal dit nie ontrafel nie. Selfs al gee die wyse voor om dit te weet, hy is nie in staat om dit te ontrafel nie.
Lees Prediker 8
Deel
Vergelyk Alle Weergawes: Prediker 8:2-17
Stoor verse, lees vanlyn, kyk na onderrigsnitte, en meer!
Tuisblad
Bybel
Leesplanne
Video's