PREDIKER 8:2-17

PREDIKER 8:2-17 NLV

Doen wat die koning jou beveel. Jy het God immers belowe dat jy dit sal doen. Moenie haastig weggaan van die koning af nie. Moenie by ’n slegte saak staan nie, want hy doen wat hy goedvind. Die koning se woord is wet. Wie kan vir hom vra: “Wat doen u?” Wie doen wat hy sê, kom niks oor nie. Wyse mense weet wanneer en hoe om op te tree. Want elke ding het sy tyd en plek, ook as die mens se ellende swaar op hom lê. Niemand weet wat die toekoms regtig inhou nie. Wie sal dan vir ’n mens kan vertel wat gaan gebeur? Niemand het die mag om die wind te beheer nie. Net so kan mense nie bepaal wanneer hulle doodgaan nie. In die oorlog word niemand verskoon nie. Net so sal boosheid nie die een red wat dit beoefen nie. Ek het dit alles gesien. Ek het aandag gegee aan alles wat onder die son gedoen word. Daar is ’n tyd wanneer een mens tot die nadeel van ’n ander mag uitoefen oor die ander. Ek het gesien slegte mense kom nader en gaan in, terwyl dié wat reg gehandel het, moet uitgaan uit die heilige plek en in die stad vergeet word. Ook dit is sinloos. As ’n misdaad nie dadelik gestraf word nie, is mense se harte vol planne om verkeerd te doen, want ’n sondaar kan honderd keer kwaad doen en nogtans lank leef, alhoewel ek weet: Met die vromes wat vir God ontsag het, sal dit goed gaan. Maar die goddelose wat nie ontsag het vir God nie, sal nie voorspoedig wees nie. Hy sal nie sy dae verleng soos ’n skaduwee nie. Daar is nog iets sinloos wat op aarde gebeur: Goeie mense beleef wat slegte mense verdien. En slegte mense kry wat goeie mense verdien. Ook dit is sinloos, sê ek! Daarom raai ek mense aan om die lewe te geniet. Vir die mens is daar niks goeds onder die son nie, behalwe om te eet en te drink en vrolik te wees, en dat vreugde hom begelei onder al sy geswoeg tydens die lengte van sy lewe wat God hom onder die son gee. Toe ek my daarop toegelê het om vas te stel wat wysheid is en te begryp wat op die aarde gedoen word sonder dat mense dag of nag tot rus kom, het ek al die werk van God gesien, en verstaan dat die mens nie in staat is om wat onder die son gebeur te verstaan nie. Hoe hy hom ook al inspan en soek, hy kan dit nie verstaan nie, al sê die wyse hy weet.