EFESIËRS 3:8-12
EFESIËRS 3:8-12 Bybel vir almal (ABA)
Ja, God was baie goed vir my. Ek is minder belangrik as al die ander mense wat aan God behoort, maar God het gesê ek moet die goeie boodskap vir die heidene bring. Die goeie boodskap is dat Christus baie goeie dinge vir mense gee, baie meer as wat hulle kan weet. God wat alles gemaak het, het eeue lank vir niemand gesê wat Hy wil doen nie, niemand het sy boodskap oor Christus geken nie. Maar nou het God gesê ek moet vir almal help om te verstaan wat Hy doen. Daarom kan die kerk nou vir almal en alles wat oor die wêreld wil regeer, vertel van die wonderlike wysheid van God. God het lank gelede besluit wat Hy wou doen. Hy het Christus Jesus, ons Here, gestuur om dit te doen. Ons behoort aan Christus en ons glo in Hom. Daarom is ons nie bang om vir God iets te vra nie. Ons glo dat God sal doen wat Hy gesê het.
EFESIËRS 3:8-12 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Aan my, die geringste van al die heiliges, is hierdie genade gegee om onder die heidene die evangelie van die onnaspeurlike rykdom van Christus te verkondig, en vir almal aan die lig te bring wat die gemeenskap is van die verborgenheid wat van alle eeue af verborge was in God wat alles geskape het deur Jesus Christus, sodat nou deur die gemeente aan die owerhede en magte in die hemele die menigvuldige wysheid van God bekend gemaak kan word, volgens die ewige voorneme wat Hy opgevat het in Christus Jesus, onse Here, in wie ons die vrymoedigheid en die toegang het met vertroue deur die geloof in Hom.
EFESIËRS 3:8-12 Afrikaans 1983 (AFR83)
Hoewel ek die geringste van al die gelowiges is, het Hy aan my hierdie voorreg gegee om aan die heidennasies die evangelie van die onpeilbare rykdom van Christus te verkondig. Ek moet aan almal bekend maak hoe God, die Skepper van alle dinge, nou sy verborge plan uitvoer nadat Hy dit deur al die eeue geheim laat bly het. Maar nou het God die ryke verskeidenheid van sy wysheid deur die kerk bekend laat word aan elke mag en gesag in die hemelruim, soos Hy Hom van ewigheid af al voorgeneem het om dit deur Christus Jesus, ons Here, tot uitvoering te bring. In ons verbondenheid met Hom en deur ons geloof in Hom kan ons met vrymoedigheid en vertroue na God gaan.
EFESIËRS 3:8-12 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Aan my, minder as die geringste van al die •heiliges, is hierdie genade geskenk, om aan die heidene die evangelie van die onpeilbare rykdom van Christus te verkondig, en om almal in te lig wat die uitvoering van die geheimenis is wat vir eeue lank verborge was in God, wat alle dinge geskep het. Gevolglik kan die ryklik geskakeerde wysheid van God nou deur die •kerk aan die owerhede en die magte in die hemel bekend gemaak word, ooreenkomstig sy ewige voorneme, wat Hy gemaak het in Christus Jesus, ons Here. In Hom het ons, deur ons geloof in Hom, 'n seker en vrymoedige toegang tot God.
EFESIËRS 3:8-12 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Aan my, wat minder is as die geringste van al die heiliges, is hierdie genade gegee dat ek onder die heidene die onnaspeurlike rykdom van Christus sou verkondig; En om alle mense te laat sien wat die gemeenskap is van die verborgenheid wat van die begin van die wêreld af verborge was in God, wat alle dinge geskep het deur Jesus Christus. Met die bedoeling dat nou aan die owerhede en magte in hemelse plekke deur die kerk die veelvuldige wysheid van God geken kan word, Volgens die ewige voorneme wat hy in Christus Jesus, onse Here, voorgeneem het: In wie ons vrymoedigheid en toegang met vertroue het deur die geloof in Hom.
EFESIËRS 3:8-12 Die Boodskap (DB)
Van al die Christene is ek die minste werd. Nogtans het God besluit om hierdie voorreg aan my te gee, en dit was onverdiend, glo my. Ek is die een wat nou aan die nie-Jode moet gaan vertel wat Christus alles vir hulle gedoen het. Dit is iets wat ’n mens nooit regtig kan begryp nie, want dit is te wonderlik en groot. Ek moet aan elkeen van hulle verduidelik dat God se redding ook vir hulle bedoel is. Dit was van altyd af wat God - wat alles gemaak het - wou doen, maar mense het dit net nie besef nie. God wil hê dat die kerk vir al die onsigbare magte en heersers in die hemel sal wys hoe wonderlik slim Hy regtig is. Hy weet alles en beplan vir alles. Van die heel begin af het God geweet dat Hy met die koms van Christus, ons Here, hierdie plan van Hom aan die werk sou sit. Omdat ons Jesus s’n is en op Hom vertrou, hoef ons nou nie meer bang te wees om na God toe te gaan nie. Ons kan dit vol vertroue doen sonder om te wonder of ons mag.
EFESIËRS 3:8-12 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Aan my, die heel onbelangrikste van al God se mense, is hierdie genade gegee om aan die nie-Joodse nasies die onmeetlike rykdom van Christus te verkondig! Ek moet vir almal duidelik maak hoe God, die Skepper van alle dinge, die geheime plan uitvoer wat nog altyd verborge was. Die doel hiermee is om nou deur die kerk vir al die bose hemelse regeerders en maghebbers te wys hoe allesomvattend die wysheid van God se ewige plan is, dié plan wat Hy deur Christus Jesus ons Here tot uitvoer bring. Deur Christus en ons geloof in Hom, kan ons met vertroue vrymoedig na God toe gaan.