Die embleem van die Bybeltoep
Soek-ikoon

EFESIËRS 5:7-11 - Vergelyk alle weergawes | YouVersion

EFESIËRS 5:7-11 AFR83 (Afrikaans 1983)

Met sulke mense moet julle niks te doen hê nie. Vroeër was julle die ene duisternis, maar nou in die Here is julle lig. Leef dan as mense van die lig. Uit die lig kom alles voort wat goed en reg en waar is. Vra julle voortdurend af of iets vir die Here aanneemlik is, en moenie meedoen aan die vrugtelose praktyke van die duisternis nie, maar stel dit eerder aan die kaak.

EFESIËRS 5:7-11 AFR53 (Afrikaans 1933/1953)

Wees dan nie hulle deelgenote nie. Want vroeër was julle duisternis, maar nou is julle lig in die Here — wandel soos kinders van die lig. Want die vrug van die Gees bestaan in alle goedheid en geregtigheid en waarheid. En beproef wat die Here welbehaaglik is; en hou nie gemeenskap met die onvrugbare werke van die duisternis nie, maar bestraf dit liewer.

EFESIËRS 5:7-11 NLV (Nuwe Lewende Vertaling)

Dus: moenie saam met hulle aan hierdie dinge deel-neem nie. Jul-le lewe was vroeër nag! Nou egter, deur julle ver-bon-denheid met die Here, is julle in-der-daad die ene lig. Leef dan soos mense van die lig. Uit dié lig kom mos alles wat goed en reg en waar is. Vind uit watter dinge die Here tevrede stel en moenie aanhou deelneem aan die nuttelose werke van die duisternis nie. Nee, ont-masker eerder hierdie werke

EFESIËRS 5:7-11 DB (Die Boodskap)

Bly weg van sulke mense af, hoe verder, hoe beter. Julle was ook eens op ’n tyd soos mense wat in die donker geleef het. Nou dien julle die Here en leef dus soos mense wat in die lig kan sien wat hulle doel is. Leef dus soos mense wat niks wil wegsteek nie, maar wat alles oop en bloot in die lig doen. (Iemand wat so leef, is goed vir ander, tree op soos God van hom verwag en staan by die waarheid.) As julle iets doen, vra of die Here daarmee tevrede sal wees. Bly weg van mense wat in die donker konkel. Niks goeds of blywends kan uit die gekonkel gebore word nie. Waarsku liewer ander mense daarteen deur vir hulle te wys hoe verkeerd hierdie gekonkel is.

EFESIËRS 5:7-11 ABA (Bybel vir almal)

Daarom moet julle nie saam met hulle slegte dinge doen nie. Voorheen was julle soos mense wat in die donker lewe, maar nou behoort julle aan die Here en nou is julle in die lig. Daarom moet julle lewe soos mense wat in die lig lewe. Julle moet die dinge doen wat mense doen wat in die lig lewe, julle moet goeie dinge doen, dinge wat reg is, julle moet eerlik wees. Julle moet uitvind waarvan die Here hou en julle moet dit doen. Julle moenie die dinge doen wat die mense doen wat in die donker lewe nie. Hulle doen dinge wat nie goed is nie. Julle moet vir hulle almal sê dat hulle dinge doen wat verkeerd is.

EFESIËRS 5:7-11 AFR20 (Die Bybel 2020-vertaling)

Moet dus nie deel van hulle wees nie. Want vroeër was julle wel duisternis, maar nou, in die Here, is julle lig. Leef as kinders van die lig! Die vrug van die lig bestaan immers uit alle goedheid en •geregtigheid en waarheid. Beproef wat vir die Here aanneemlik is. Ja, moenie deel hê aan die onvrugbare werke van die duisternis nie; stel dit eerder aan die kaak.

EFESIËRS 5:7-11 CAB23 (Contemporary Afrikaans Bible 2023)

Moenie dan deelgenote met hulle wees nie. Want soms was julle duisternis, maar nou is julle lig in die Here; wandel soos kinders van die lig. (Want die vrug van die Gees is in alle goedheid en geregtigheid en waarheid;) Beproef wat vir die Here welgevallig is. En moenie gemeenskap hê met die onvrugbare werke van die duisternis nie, maar bestraf dit liewer.