ESTER 2:1-18
ESTER 2:1-18 Bybel vir almal (ABA)
Later was die koning nie meer kwaad nie, maar hy het gedink aan Vasti en wat sy gedoen het en wat hy oor haar besluit het. Die jongmanne wat vir die koning gewerk het, het gesê die koning moet sê hulle moet vir hom mooi jongmeisies soek. Hy moet in al die provinsies waaroor hy regeer, mense kies en aanstel om al die mooi jongmeisies te soek, en hulle moet die meisies na die stad Susan bring. Die meisies moet bymekaarkom in die kamers vir die vroue, en Hegai, die amptenaar van die koning, sal die vroue daar oppas. Dan moet hulle al die meisies mooi maak, en die meisie van wie die koning die meeste hou, moet koningin word ná Vasti. Die koning het gedink dit is 'n goeie plan, en hy het dit gedoen. In die stad Susan was daar 'n man wat uit die land Juda gekom het. Sy naam was Mordegai. Hy was van die Benjamin-stam en hy was die seun van Jaïr seun van Simi seun van Kis. Toe koning Nebukadnesar van Babel vir koning Jojagin gevang en weggevat het na Babel, het hy vir Mordegai en sy familie ook saamgevat. Mordegai het 'n niggie gehad, sy was 'n weeskind. Mordegai het vir haar gesorg en haar grootgemaak. Haar naam was Hadassa, en hulle het haar ook Ester genoem. Sy was baie mooi. Mordegai het haar aangeneem toe haar ouers dood is en sy het Mordegai se dogter geword. Toe die amptenare hoor wat die koning besluit het, het hulle baie jongmeisies bymekaargemaak. Hulle het die meisies na die stad Susan geneem. Daar het Hegai vir die meisies gesorg. Ester was een van hierdie meisies. Hegai was die opsigter wat gekyk het dat alles reg is in die kamers waar die koning se vroue gewoon het. Hegai het gesien dat Ester baie mooi is, en hy het gehou van haar. Hy het dadelik gesorg dat sy die regte kos kry en dat hulle vir haar baie mooi maak. Hy het sewe meisies uit die paleis gekies om haar te help, en hy het vir haar en die meisies die beste kamers gegee om in te woon. Ester het nie gesê van watter volk sy is en wie haar familie is nie. Mordegai het gesê sy moet stilbly daaroor. Mordegai het elke dag by die kamers van die koning se vroue verbygeloop om uit te vind hoe dit met Ester gaan en wat hulle doen met haar. Hulle het elke meisie twaalf maande lank mooi gemaak, ses maande met mirre-olie en ses maande met balsem en ander mooimaakgoed. Wanneer dit 'n meisie se beurt was om by koning Ahasveros te kom, dan kon sy enige iets kry wat sy na die paleis wou saamneem, enige iets uit die kamers van die vroue. Die meisie het in die aand ingegaan in die paleis. Wanneer sy in die oggend terugkom, moes sy na ander kamers gaan waar die byvroue van die koning gewoon het. Die amptenaar Saäsgas het vir hierdie vroue gesorg. 'n Byvrou het net weer by die koning gekom as hy gesê het sy moet kom. Ester was die dogter van Abigajil, Mordegai se oom. Mordegai het haar aangeneem, sy was soos Mordegai se eie dogter. Toe dit Ester se beurt was om na die koning toe te gaan, het sy niks gevra wat sy wou saamneem nie. Sy het net die klere saamgeneem wat die amptenaar Hegai gesê het. Hegai was die opsigter wat die vroue van die koning opgepas het. Almal wat vir Ester gesien het, het gehou van haar. Ester het by koning Ahasveros in sy paleis gekom in die tiende maand, die maand Tebet, in die sewende jaar nadat hy koning geword het. Die koning het baie lief geword vir Ester, meer lief as vir al die ander vroue. Hy het meer van haar gehou as van die ander meisies. Hy het 'n kroon op haar kop gesit en hy het haar die koningin gemaak. Voorheen was Vasti die koningin. Die koning het 'n groot fees gehou vir al sy amptenare en ministers. Dit was 'n fees vir Ester. Die koning het gesê die mense van die provinsies moet 'n tyd lank nie belasting betaal nie en hy het vir baie mense presente gegee.
ESTER 2:1-18 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
TOE ná die dinge die woede van koning Ahasvéros bedaar het, het hy aan Vasti gedink en aan wat sy gedoen het en wat oor haar besluit is. Toe sê die jongmanne van die koning wat hom dien: Laat hulle vir die koning jongmeisies soek wat mooi van aansien is; en laat die koning beamptes aanstel in al die provinsies van sy koninkryk, dat hulle al die jongmeisies wat mooi van aansien is, bymekaar laat kom in die vesting Susan, in die vrouehuis, onder toesig van Hegai, die hofdienaar van die koning, die bewaker van die vroue; en laat hulle skoonheidsmiddele aan hulle gee. En die jongmeisie wat die koning geval, moet in die plek van Vasti koningin word. Hierdie woord dan was goed in die oë van die koning, en hy het so gedoen. Daar was 'n Joodse man in die vesting Susan met die naam van Mórdegai, die seun van Jaïr, die seun van Símeï, die seun van Kis, 'n Benjaminiet, wat uit Jerusalem weggevoer was onder die ballinge wat in ballingskap moes gaan saam met Jegónja, die koning van Juda, wat Nebukadnésar, die koning van Babel, weggevoer het. En hy was die opvoeder van Hadássa, dit is Ester, die dogter van sy oom, want sy het geen vader of moeder gehad nie; en die jongmeisie was skoon van gestalte en mooi van aansien, en by die dood van haar vader en haar moeder het Mórdegai haar as sy dogter aangeneem. En toe die bevel van die koning en sy wet bekend gemaak is, en baie meisies in die vesting Susan onder toesig van Hegai byeengebring is, het hulle Ester ook saamgeneem na die paleis van die koning, onder toesig van Hegai, die bewaker van die vroue. En die meisie het hom geval en guns by hom gevind; daarom het hy gou gemaak om haar die nodige skoonheidsmiddele en die regte ete te gee en haar die sewe uitgesoekte meisies uit die paleis van die koning te verskaf; en hy het haar met haar meisies verplaas na die beste gedeelte van die vrouehuis. Ester het haar volk en haar afkoms nie te kenne gegee nie, omdat Mórdegai haar beveel het om dit nie te vertel nie. En Mórdegai het dag vir dag voor die voorhof van die vrouehuis gewandel om te verneem na die welstand van Ester en wat met haar sou gebeur. En as die beurt van elke meisie aankom om na koning Ahasvéros in te gaan, nadat twaalf maande lank met haar volgens die wet vir die vroue gehandel is — want so lank het die dae van hulle voorbereiding geduur: ses maande lank met mirre-olie en ses maande met balsem en ander skoonheidsmiddele van die vroue — as die meisie dan so na die koning ingaan, word alles wat sy sê, aan haar gegee, dat dit saam met haar uit die vrouehuis na die koninklike paleis kan gaan. As sy in die aand ingaan en in die môre terugkom na die tweede vrouehuis onder toesig van Saäsgas, die hofdienaar van die koning wat die byvroue bewaak, dan mag sy nie weer by die koning ingaan nie, behalwe as die koning behae in haar vind en sy by die naam geroep word. Toe die beurt van Ester, die dogter van Abígail, die oom van Mórdegai, wat haar as sy dogter aangeneem het, kom om in te gaan na die koning, het sy niks verlang nie, behalwe wat Hegai, die hofdienaar van die koning wat die vroue bewaak, gesê het; en Ester het guns gevind in die oë van almal wat haar gesien het. Ester is toe by koning Ahasvéros in sy koninklike paleis opgeneem in die tiende maand, dit is die maand Tebet, in die sewende jaar van sy regering. En die koning het Ester liefgekry meer as al die vroue, en sy het guns en welwillendheid voor hom gevind meer as al die jongmeisies; en hy het die koninklike kroon op haar hoof gesit en haar koningin gemaak in die plek van Vasti. En die koning het 'n groot maaltyd aangerig vir al sy vorste en sy dienaars, die maaltyd van Ester; en hy het 'n vrye dag bepaal vir die provinsies en geskenke gegee, eg koninklik!
ESTER 2:1-18 Afrikaans 1983 (AFR83)
Later, toe die woede van koning Ahasveros bedaar het, het hy nog altyd aan Vasti gedink en aan wat sy gedoen het en wat oor haar besluit is. Toe sê die amptenare wat in die koning se persoonlike diens was: “Die koning moet vir hom mooi meisies laat soek. Hy moet amptenare aanstel in al die provinsies van sy koninkryk sodat hulle al die mooi meisies bymekaar kan laat kom in die vestingstad Susan in die vrouekwartiere onder die sorg van Hegai, die paleisbeampte wat oor die koning se vrouens toesig hou. Hulle moet skoonheidsbehandeling ontvang, en die meisie van wie die koning die meeste hou, moet in die plek van Vasti koningin word.” Die koning het dit 'n goeie voorstel gevind en so gemaak. In die stad Susan was daar 'n Jood met die naam Mordegai. Hy was uit die stam Benjamin en was 'n seun van Jaïr seun van Simi, seun van Kis. Hy was onder die ballinge wat saam met koning Jojagin van Juda uit Jerusalem weggevoer is deur koning Nebukadnesar van Babel. Mordegai het as voog opgetree vir Hadassa, dit is Ester, die dogter van sy oom, want sy was 'n weeskind. Dié meisie was mooi, sy was baie mooi. Ná die dood van haar pa en ma het Mordegai haar as dogter aangeneem. Toe die besluit en bevel van die koning bekend gemaak is, is 'n groot aantal meisies in die stad Susan bymekaargebring onder die sorg van Hegai. Ester is ook na die paleis van die koning toe geneem onder die sorg van Hegai wat oor die koning se vrouens toesig gehou het. Die meisie was vir hom mooi en hy het van haar gehou. Hy het haar dadelik die nodige skoonheidsbehandeling gegee en haar die regte dieet laat volg. Ook het hy die sewe bestes van die paleis se kamerpersoneel tot haar beskikking gestel en haar en haar kamerpersoneel na die beste deel van die vrouekwartiere verskuif. Ester het nie haar volksverband en afkoms bekend gemaak nie, want Mordegai het haar belet om dit te doen. Mordegai het elke dag voor die voorhof van die vrouekwartiere heen en weer geloop om agter te kom hoe dit met Ester gaan en wat met haar gaan gebeur. Die skoonheidsbehandeling waaraan die meisies hulle volgens die gebruik moes onderwerp, het twaalf maande lank geduur: behandeling met mirre-olie ses maande, en met lekkerruik-kruie en ander skoonheidsmiddels ses maande. Daarna het elke meisie 'n beurt gekry om na koning Ahasveros toe te gaan. Wanneer sy uit die vrouekwartiere na die koning se paleis toe gaan, kon elke meisie alles saamvat wat sy wou. Sy het in die aand in die paleis ingegaan en in die oggend is sy na die tweede stel vrouekwartiere toe onder die sorg van Saäsgas, die paleisbeampte wat oor die koning se byvrouens toesig gehou het. Sy kon nie weer na die koning toe gaan nie, behalwe as hy baie van haar gehou het en sy geroep word. Ester was die dogter van Abigajil, 'n oom van Mordegai wat haar as sy dogter aangeneem het. Toe haar beurt kom om na die koning toe te gaan, het sy niks meer gevra as wat Hegai, die paleisbeampte wat oor die koning se vrouens toesig gehou het, vir haar aanbeveel het nie. Sy het 'n goeie indruk gemaak op almal wat haar gesien het. Ester is na koning Ahasveros toe in die paleis geneem in die tiende maand, die maand Tebet, in die sewende regeringsjaar van die koning. Die koning het meer van Ester gehou as van enigeen van die ander vrouens en hy was meer in sy skik met haar as met enige ander jongmeisie. Hy het toe die kroon op haar kop gesit en haar koningin gemaak in die plek van Vasti. Die koning het toe 'n groot onthaal gegee vir al sy hoë amptenare en almal wat in sy diens was, 'n onthaal ter ere van Ester. Hy het die verpligtinge van sy onderdane in al die provinsies verminder en geskenke uitgedeel met koninklike vrygewigheid.
ESTER 2:1-18 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Ná hierdie gebeure, toe koning Ahasveros se woede bedaar het, het hy aan Vasti gedink, aan wat sy gedoen het en hoe oor haar besluit is. Die jong manne wat die koning bedien, het gesê: “Laat hulle vir die koning mooi jong meisies soek wat maagde is, en beeldskoon. Laat die koning daarom beamptes aanstel in al die provinsies van sy koninkryk, om al die jong meisies wat maagde is en beeldskoon, byeen te bring in die harem, in die vestingstad Susan, onder toesig van Hegai, die koning se eunug, wat die vroue oppas, en gee vir hulle 'n skoonheidskuur. Laat die jongmeisie wat die koning geval, koningin word in Vasti se plek.” Die koning het die voorstel goedgevind en hy het so gemaak. Daar was 'n Judeër in die vestingstad Susan. Sy naam was Mordegai, seun van Jaïr, seun van Simi, seun van Kis, en 'n Benjaminiet. Hy was een van die ballinge wat saam met Jojagin, koning van Juda, deur Nebukadnesar, die koning van Babilonië, uit Jerusalem weggevoer is. Mordegai was die voog van Hadassa, dit is Ester, die dogter van sy vader se broer; want sy het nie meer 'n vader en moeder gehad nie. Die jong meisie het 'n mooi figuur gehad en was beeldskoon. Ná die dood van haar vader en moeder, het Mordegai haar as sy dogter aangeneem. Toe die koning se bevel en wetgewing bekend gemaak is en baie jong meisies in die vestingstad Susan bymekaargebring is onder toesig van Hegai, is Ester ook na die koninklike paleis gebring onder toesig van Hegai, wat na die vroue omgesien het. Die jong meisie het 'n goeie indruk gemaak op Hegai en sy guns gewen. Hy het vir haar sonder versuim haar skoonheidsmiddels en voorgeskrewe kos gegee. Ook het hy sewe van die beste diensmeisies uit die koninklike paleis aan haar gegee en haar en haar diensmeisies na die beste deel van die harem verskuif. Ester het nie haar volksverband of haar afkoms bekend gemaak nie, want Mordegai het haar beveel om dit nie te doen nie. Elke dag het Mordegai buite die voorhof van die harem rondgestap om uit te vind hoe dit met Ester gaan en wat met haar gebeur. Voordat 'n jong meisie se beurt aangebreek het om na koning Ahasveros te gaan, moes sy volgens die gebruik van die harem vir twaalf maande 'n skoonheidskuur ondergaan: ses maande lank word hulle met mirre-olie gesalf, en daarna vir ses maande met balsemolie en skoonheidsmiddels vir vroue gesalf, en dan gaan sy in na die koning. Wat sy ook al vra, sal vir haar uit die harem gegee word om saam te neem na die koninklike paleis. Sy het in die aand gegaan en in die oggend teruggekeer na die tweede harem wat onder toesig was van Saäsgas, die eunug van die koning en die oppasser van die vroue. Sy kon nie weer na die koning gaan nie, behalwe as hy van haar gehou het en as sy op die naam geroep is. Toe die voorbereidingstyd voltooi is van Ester, die dogter van Abigajil, Mordegai se vader se broer, wat haar as sy dogter aangeneem het, om na die koning in te gaan, het sy niks van die hand gewys van die dinge wat die eunug, Hegai, die oppasser van die vroue, vir haar aanbeveel het nie. Ester het die bewondering geniet van almal wat haar gesien het. Ester is geneem na Artaxerxes, die koning, in die tiende maand, die maand Tebet, in die sewende jaar van sy regering. Die koning het Ester liefgehad, meer as al die vroue. Sy het voor hom guns en welwillendheid geniet, meer as al die maagde. Hy het toe die hooftooisel op haar kop gesit, en haar koningin gemaak in Vasti se plek. Die koning het 'n groot feesmaal gehou vir al sy •hoë amptenare en dienaars – 'n feesmaal ter ere van Ester. Hy het geskenke uitgedeel soos daar van 'n koning verwag word.
ESTER 2:1-18 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Ná hierdie dinge, toe die toorn van koning Ahasveros bedaar het, het hy aan Vasti gedink en wat sy gedoen het en wat teen haar verorden is. Toe sê die dienaars van die koning wat hom dien: Laat daar mooi jong maagde vir die koning gesoek word. En laat die koning beamptes aanstel in al die provinsies van sy koninkryk, dat hulle al die mooi jongmeisies kan versamel in die paleis Susan, in die huis van die vroue, onder toesig van Hege, die koning se kamerling, die bewaker van die vroue; en laat hulle reinigende dinge aan hulle gegee word. En laat die meisie wat die koning behaag, koningin word in die plek van Vasti. En die saak het die koning behaag; en hy het dit gedoen. En in die paleis Susan was daar 'n sekere Jood met die naam van Mórdegai, die seun van Jaïr, die seun van Símeï, die seun van Kis, 'n Benjaminiet; wat uit Jerusalem weggevoer is met die ballingskap wat saam met Jekonja, die koning van Juda, weggevoer is, wat Nebukadnésar, die koning van Babel, weggevoer het. En hy het Hadassa, dit is Ester, sy oom se dogter, grootgemaak; want sy het geen vader of moeder gehad nie, en die diensmeisie was mooi en mooi; wat Mordegai, toe haar vader en moeder dood was, vir sy eie dogter geneem het. En toe die bevel en sy bevel van die koning gehoor is, en toe baie meisies byeengekom het in die paleis Susan, onder bewaring van Hegai, is Ester ook na die koning se huis gebring, onder bewaring van Hegai, bewaarder van die vroue. En die meisie het hom behaag, en sy het goedheid oor hom verkry; en hy het haar spoedig haar goed vir reiniging gegee, met alles wat aan haar behoort het, en sewe meisies wat aan haar gegee moes word, uit die huis van die koning; en hy het haar en haar diensmeisies verkies bo die beste plek van die huis van die vroue. Ester het haar volk en haar familie nie te kenne gegee nie, want Mórdegai het haar bevel gegee om dit nie te vertel nie. En Mórdegai het elke dag voor die voorhof van die vrouehuis geloop om te weet hoe dit met Ester gaan en wat van haar sou word. En toe elke diensmeisie aan die beurt gekom het om na koning Ahasveros in te gaan, nadat sy twaalf maande was, volgens die gebruik van die vroue, want so was die dae van hulle reiniging voltooi, naamlik ses maande met mirre-olie, en ses maande met soet reuke, en met ander dinge vir die reiniging van die vroue; Toe het al die meisies so na die koning gekom; alles wat sy wou hê, is aan haar gegee om saam met haar uit die huis van die vroue na die huis van die koning te gaan. Die aand het sy gegaan, en die volgende dag het sy teruggekeer na die tweede huis van die vroue, onder die bewaring van Saasgas, die koning se kamerling, wat die byvroue bewaar het, en dat sy by die naam genoem is. En toe die beurt van Ester, die dogter van Abíhail, die oom van Mórdegai, wat haar vir sy dogter geneem het, gekom het om na die koning in te gaan, het sy niks geëis nie, behalwe wat Hegai, die koning se kamerling, die bewaker van die vroue, aangestel het. En Ester het guns verkry in die oë van almal wat haar aanskou. Daarom is Ester na koning Ahasveros in sy koninklike huis geneem in die tiende maand, dit is die maand Tebet, in die sewende jaar van sy regering. En die koning het Ester bo al die vroue liefgehad, en sy het genade en guns in sy oë verkry meer as al die maagde; sodat hy die koninklike kroon op haar hoof gesit en haar koningin gemaak het in die plek van Vasti. Toe het die koning 'n groot feesmaal vir al sy vorste en sy dienaars berei, naamlik Ester se fees; en hy het die provinsies vrygelaat en geskenke gegee volgens die toestand van die koning.
ESTER 2:1-18 Die Boodskap (DB)
Later, toe Ahasveros se woede bedaar het, het hy weer aan Vasti gedink en aan wat sy gedoen het, asook oor wat hy oor haar besluit het. ’n Paar van die koning se persoonlike amptenare maak toe ’n voorstel: “Hoekom laat soek die koning nie vir hom ’n klomp mooi jongmeisies in sy koninkryk nie? Stel in elke provinsie amptenare aan en laat hulle al die mooi jongmeisies na die vrouekwartiere in Susan bring. Laat Hegai, die paleisbeampte wat in beheer is van die vroue in die paleis, vir hulle sorg. Hier moet hulle skoonheidsbehandeling ondergaan, en dan moet die meisie van wie u die meeste hou, koningin word in Vasti se plek.” Die koning het van die voorstel gehou en hulle raad gevolg. Daar het ’n Jood met die naam Mordegai in die stad Susan gebly; hy was die seun van Jaïr. Hy was uit die stam van Benjamin en sy voorouers was Simi en Kis. Hy was een van die ballinge wat saam met koning Jojagin van Juda deur Nebukadnesar, die koning van Babel, uit Jerusalem weggevoer is. Mordegai het ’n pragtige jong niggie met die naam Hadassa, dit is Ester, gehad. Sy was sy oom se kind, maar na haar pa en ma se dood, het hy haar aangeneem en soos sy eie dogter grootgemaak. Die koning se opdrag is uitgevoer. Hulle het ’n groot klomp meisies na Susan toe gebring en hulle onder die paleisbeampte Hegai se sorg geplaas. Ester was ook onder hierdie groep meisies wat na die paleis toe gebring is. Hegai het van Ester gehou en het haar spesiaal behandel. Hy het dadelik met haar skoonheidsbehandeling begin en haar ook ’n spesiale dieet laat volg. Hy het haar na die beste deel van die vrouekwartiere toe geskuif en sewe van die paleis se beste kamerpersoneel uitgesoek om haar te versorg. Op Mordegai se advies het Ester vir niemand iets van haar agtergrond of herkoms vertel nie. Mordegai het elke dag by die binnehof van die vrouekwartiere ’n draai gemaak om te hoor hoe dit met Ester gaan en wat van haar gaan word. Die skoonheidsbehandeling wat die meisies moes ondergaan, het twaalf maande geduur. Hulle is vir ses maande met mirreolie behandel en daarna vir nog ses maande met spesiale kruie en ander skoonheidsmiddels. Daarna het elke meisie ’n beurt gekry om ’n nag by koning Ahasveros deur te bring. Wanneer dit ’n meisie se beurt was om na die koning toe te gaan, kon sy enige klere en juwele kies, net wat sy wou, om haar skoonheid nog verder te beklemtoon om die koning te beïndruk. Sy is in die aand na die koning toe gevat. Die volgende môre is sy dan na ’n ander deel van die vrouekwartiere toe teruggeneem waar die koning se byvroue onder die toesig van Saägas gebly het. Hier sou sy nou vir die res van haar lewe bly en nooit weer na die koning se slaapkamer toe gaan nie, tensy hy so baie van haar gehou het dat hy spesifiek vir haar op haar naam laat vra het. Toe Ester, die dogter van Abigajil en die niggie van Mordegai, wat haar as sy eie dogter aangeneem het, se beurt kom om na die koning toe te gaan, het sy niks anders aangetrek as wat Hegai, die paleisbeampte wat in beheer van die vrouekwartiere was, aanbeveel het nie. Almal wat haar gesien het, het haar bewonder. In die tiende maand, genoem die maand Tebet, en in die sewende regeringsjaar van koning Ahasveros, is Ester na hom toe geneem in sy paleis. Die koning het meer van haar gehou as van enige van die ander meisies. Hy was so beïndruk met haar dat hy haar dadelik as koningin in Vasti se plek gekroon het. Om hierdie geleentheid te vier het die koning ’n groot onthaal ter ere van Ester gegee waarheen hy al sy hoë amptenare en ander mense wat in sy diens was, uitgenooi het. Hy het dit ook ’n openbare vakansiedag gemaak en geskenke aan die mense uitgedeel.
ESTER 2:1-18 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Toe koning Ahasveros se woede hierna tot bedaring kom, het hy Vasti begin mis. Hy het onthou wat sy alles gedoen het. Hy het nagedink oor wat hy oor haar besluit het. Die amptenare wat in sy persoonlike diens was, sê toe vir hom: “Laat ons na mooi meisies vir die koning soek. Hy moet agente aanstel om in al die provinsies van sy koninkryk mooi meisies te werf vir die koning se harem in die vestingstad Susan. Hegai, die hoof-haremopsigter, moet dan toesien dat hulle skoonheidsbehandeling ontvang. Die meisie wat vir die koning die mooiste is, moet in Vasti se plek koningin gemaak word.” Die koning het van hierdie idee gehou. Hy het toe so gemaak. In die vestingstad Susan was daar ’n Jood met die naam Mordegai. Hy was uit die stam Benjamin en was ’n seun van Jaïr, die seun van Simi, die seun van Kis. Sy familie was tussen die ballinge wat koning Nebukadnesar van Babel saam met koning Jojagin van Juda uit Jerusalem weggevoer het. Mordegai het sy niggie Hadassa grootgemaak. Haar ander naam was Ester. Sy was ’n weeskind. Nadat haar pa en ma dood is, het Mordegai haar as sy dogter aangeneem. Sy was buitengewoon mooi. Nadat die koning se besluit bekendgemaak is, is Ester ook saam met baie ander meisies onder Hegai se sorg in die stad Susan in die koning se paleis geplaas. Hegai was baie in sy skik met Ester en hy het haar baie goed behandel. Hy het gesorg dat sy goeie skoonheidsbehandeling kry en die regte dieet volg. Hy het sewe van die beste kamerpersoneel tot haar beskikking gestel en hulle na die beste deel van die koning se harem verskuif. Ester het vir niemand gesê van watter volk sy kom, of wie haar familie is nie. Mordegai het haar verbied om dit te doen. Mordegai het elke dag in die voorhof van die harem gaan rondstaan om agter te kom hoe dit met Ester gaan en wat met haar gebeur. Voordat dit ’n meisie se beurt was om na die koning te kom, moes sy volgens voorskrif eers twaalf maande lank skoonheidsbehandeling kry. Sy is ses maande lank met mirre-olie behandel en ses maande lank met lekkerruikkruie en ander skoonheidsmiddels. Daarna kon sy voor koning Ahasveros gaan verskyn. Elke meisie kon, wanneer dit haar beurt was om voor die koning in sy paleis te verskyn, uit die harem kies wat sy wou aantrek. Elke meisie is in die aand na die koning se paleis toe geneem en die volgende oggend teruggeneem na ’n ander deel van die koning se harem. Dit was onder die sorg van Saäsgas, die haremopsigter oor die byvroue. Sy kon nooit weer na die koning toe teruggaan nie, behalwe as hy baie van haar gehou het en spesifiek vir haar gevra het. Toe kom Ester se beurt, die dogter van Abigajil, die oom van Mordegai wat haar as sy eie dogter aangeneem het. Sy het vir niks meer gevra as wat Hegai, die hoof van die koning se harem, vir haar aanbeveel het nie. Almal wat haar gesien het, was opgewonde oor haar. Ester is na koning Ahasveros se koninklike paleis gevat in die tiende maand, die maand Tebet, in die sewende regeringsjaar van die koning. Die koning het Ester meer liefgehad as enige van die ander jong meisies. Sy was meer na sy sin as enigeen van die ander. Hy het toe die koningin se kroon op haar kop gesit en haar koningin gemaak in die plek van Vasti. Ter ere van Ester het die koning ’n groot onthaal gereël vir al sy hoë amptenare en almal wat in sy diens was. Hy het daarvan ’n vakansiedag in al die provinsies gemaak. Hy het rojaal geskenke vir almal uitgedeel.