ESTER 2:5-7
ESTER 2:5-7 Bybel vir almal (ABA)
In die stad Susan was daar 'n man wat uit die land Juda gekom het. Sy naam was Mordegai. Hy was van die Benjamin-stam en hy was die seun van Jaïr seun van Simi seun van Kis. Toe koning Nebukadnesar van Babel vir koning Jojagin gevang en weggevat het na Babel, het hy vir Mordegai en sy familie ook saamgevat. Mordegai het 'n niggie gehad, sy was 'n weeskind. Mordegai het vir haar gesorg en haar grootgemaak. Haar naam was Hadassa, en hulle het haar ook Ester genoem. Sy was baie mooi. Mordegai het haar aangeneem toe haar ouers dood is en sy het Mordegai se dogter geword.
ESTER 2:5-7 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Daar was 'n Joodse man in die vesting Susan met die naam van Mórdegai, die seun van Jaïr, die seun van Símeï, die seun van Kis, 'n Benjaminiet, wat uit Jerusalem weggevoer was onder die ballinge wat in ballingskap moes gaan saam met Jegónja, die koning van Juda, wat Nebukadnésar, die koning van Babel, weggevoer het. En hy was die opvoeder van Hadássa, dit is Ester, die dogter van sy oom, want sy het geen vader of moeder gehad nie; en die jongmeisie was skoon van gestalte en mooi van aansien, en by die dood van haar vader en haar moeder het Mórdegai haar as sy dogter aangeneem.
ESTER 2:5-7 Afrikaans 1983 (AFR83)
In die stad Susan was daar 'n Jood met die naam Mordegai. Hy was uit die stam Benjamin en was 'n seun van Jaïr seun van Simi, seun van Kis. Hy was onder die ballinge wat saam met koning Jojagin van Juda uit Jerusalem weggevoer is deur koning Nebukadnesar van Babel. Mordegai het as voog opgetree vir Hadassa, dit is Ester, die dogter van sy oom, want sy was 'n weeskind. Dié meisie was mooi, sy was baie mooi. Ná die dood van haar pa en ma het Mordegai haar as dogter aangeneem.
ESTER 2:5-7 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Daar was 'n Judeër in die vestingstad Susan. Sy naam was Mordegai, seun van Jaïr, seun van Simi, seun van Kis, en 'n Benjaminiet. Hy was een van die ballinge wat saam met Jojagin, koning van Juda, deur Nebukadnesar, die koning van Babilonië, uit Jerusalem weggevoer is. Mordegai was die voog van Hadassa, dit is Ester, die dogter van sy vader se broer; want sy het nie meer 'n vader en moeder gehad nie. Die jong meisie het 'n mooi figuur gehad en was beeldskoon. Ná die dood van haar vader en moeder, het Mordegai haar as sy dogter aangeneem.
ESTER 2:5-7 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En in die paleis Susan was daar 'n sekere Jood met die naam van Mórdegai, die seun van Jaïr, die seun van Símeï, die seun van Kis, 'n Benjaminiet; wat uit Jerusalem weggevoer is met die ballingskap wat saam met Jekonja, die koning van Juda, weggevoer is, wat Nebukadnésar, die koning van Babel, weggevoer het. En hy het Hadassa, dit is Ester, sy oom se dogter, grootgemaak; want sy het geen vader of moeder gehad nie, en die diensmeisie was mooi en mooi; wat Mordegai, toe haar vader en moeder dood was, vir sy eie dogter geneem het.
ESTER 2:5-7 Die Boodskap (DB)
Daar het ’n Jood met die naam Mordegai in die stad Susan gebly; hy was die seun van Jaïr. Hy was uit die stam van Benjamin en sy voorouers was Simi en Kis. Hy was een van die ballinge wat saam met koning Jojagin van Juda deur Nebukadnesar, die koning van Babel, uit Jerusalem weggevoer is. Mordegai het ’n pragtige jong niggie met die naam Hadassa, dit is Ester, gehad. Sy was sy oom se kind, maar na haar pa en ma se dood, het hy haar aangeneem en soos sy eie dogter grootgemaak.
ESTER 2:5-7 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
In die vestingstad Susan was daar ’n Jood met die naam Mordegai. Hy was uit die stam Benjamin en was ’n seun van Jaïr, die seun van Simi, die seun van Kis. Sy familie was tussen die ballinge wat koning Nebukadnesar van Babel saam met koning Jojagin van Juda uit Jerusalem weggevoer het. Mordegai het sy niggie Hadassa grootgemaak. Haar ander naam was Ester. Sy was ’n weeskind. Nadat haar pa en ma dood is, het Mordegai haar as sy dogter aangeneem. Sy was buitengewoon mooi.