EKSODUS 3:14-15
EKSODUS 3:14-15 Afrikaans 1983 (AFR83)
Toe sê God vir Moses: “Ek is wat Ek is. Jy moet vir die Israeliete sê: ‘Ek is’ het my na julle toe gestuur.” Verder sê God vir Moses: “Jy moet ook nog vir die Israeliete sê: ‘Die Here die God van julle voorvaders, die God van Abraham, die God van Isak, die God van Jakob, het my na julle toe gestuur.’ Dit is ewig my Naam, dit is die Naam waarmee Ek aangeroep moet word van geslag tot geslag.
EKSODUS 3:14-15 Bybel vir almal (ABA)
Toe sê God vir Moses: “My Naam is: ‘Ek is wat Ek is.’ Jy moet vir die Israeliete sê: ‘Ek Is’ het my na julle toe gestuur.” God het ook vir Moses gesê: “Jy moet vir die Israeliete sê: ‘Die Here het my na julle toe gestuur. Hy is die God van Abraham, die God van Isak en die God van Jakob.’ My Naam sal altyd ‘die Here’ wees. Hulle moet My altyd so noem, ook die mense wat later gebore sal word.
EKSODUS 3:14-15 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
En God sê vir Moses: EK IS WAT EK IS. Ook sê Hy: So moet jy die kinders van Israel antwoord: EK IS het my na julle gestuur. Toe sê God verder vir Moses: Dit moet jy aan die kinders van Israel meedeel: Die HERE, die God van julle vaders, die God van Abraham, die God van Isak en die God van Jakob, het my na julle gestuur. Dit is my Naam vir ewig, en dit is my gedenknaam van geslag tot geslag.
EKSODUS 3:14-15 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
God sê toe vir Moses: “Ek Is Wie Ek Is.” Hy sê toe ook: “So moet jy die Israeliete antwoord, ‘Ek Is het my na julle gestuur.’ ” God het weer vir Moses gesê: “So moet jy vir die Israeliete sê, “ ‘Die HERE, die God van julle voorvaders, die God van Abraham, die God van Isak, die God van Jakob, het my na julle gestuur.’ Dit is my Naam vir altyd; dit is my gevierde Naam van geslag tot geslag.
EKSODUS 3:14-15 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En God het vir Moses gesê: EK IS WAT EK IS; en hy het gesê: So moet jy aan die kinders van Israel sê: EK IS, het my na jou toe gestuur. Verder het God vir Moses gesê: So moet jy aan die kinders van Israel sê: Die HERE, die God van jou vaders, die God van Abraham, die God van Isak en die God van Jakob, het my na jou gestuur: dit is my Naam vir ewig, en dit is my gedenkteken van geslag tot geslag.
EKSODUS 3:14-15 Die Boodskap (DB)
“Ek is wat Ek is,” het God vir Moses gesê. “Jy moet vir die Israeliete só sê: Ek-wat-is, dis Hy wat my na julle toe gestuur het.” God het ook nog verder vir Moses gesê: “Dit is wat jy vir die Israeliete moet sê: ‘Die Here, die God van julle voorgeslagte, God van Abraham, God van Isak, God van Jakob, het my na julle toe gestuur.’ Dit is wie Ek nog altyd was en dit is hoe al die geslagte wat nog moet kom, aan My sal dink.”
EKSODUS 3:14-15 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
God het hom geantwoord: “Ek is soos wat Ek is. Sê maar net vir hulle: ‘Ek Is’ het my na julle toe gestuur.” God het verder vir Moses gesê: “Sê vir die Israeliete: ‘Die HERE, die God van julle voorouers – die God van Abraham, die God van Isak en die God van Jakob – het my na julle toe gestuur.’ Dit sal altyd my Naam wees en dit is wat elke geslag My sal noem.