Die embleem van die Bybeltoep
Soek-ikoon

EKSODUS 34:27-28 - Vergelyk alle weergawes | YouVersion

EKSODUS 34:27-28 AFR83 (Afrikaans 1983)

Die Here het vir Moses gesê: “Teken al hierdie gebooie op, want hierop berus my verbond met jou en Israel.” Moses was veertig dae en nagte by die Here. In dié tyd het Moses geen kos geëet of water gedrink nie. Hy het die verbondsbepalings, die tien gebooie, op die plat klippe geskryf.

EKSODUS 34:27-28 AFR53 (Afrikaans 1933/1953)

Verder het die HERE vir Moses gesê: Skrywe vir jou hierdie woorde op, want volgens hierdie woorde het Ek 'n verbond gesluit met jou en met Israel. En hy was daar by die HERE veertig dae en veertig nagte; hy het geen brood geëet en geen water gedrink nie. En Hy het op die tafels die woorde van die verbond, die tien woorde, geskrywe.

EKSODUS 34:27-28 NLV (Nuwe Lewende Vertaling)

Die HERE het ook vir Moses gesê: “Skryf alles neer wat Ek vir jou sê. Dit is die bepalings van my verbond met Israel.” Moses was daar bo-op die berg by die HERE vir 40 dae en 40 nagte. Hy het gedurende daardie tyd niks geëet of gedrink nie. Hy het die Tien Gebooie van God se ooreenkoms op die plat klippe geskryf.

EKSODUS 34:27-28 DB (Die Boodskap)

Die Here het vir Moses gesê: “Skryf hierdie woorde neer. Hulle is die reëls vir my ooreenkoms met jou en Israel.” Moses was 40 dae lank daar by die Here op die berg. Hy het niks geëet of gedrink in daardie tyd nie. Die Here het die tien reëls vir sy ooreenkoms met Israel op die plat klippe geskryf wat Moses gekap en saamgebring het.

EKSODUS 34:27-28 ABA (Bybel vir almal)

Die Here het vir Moses gesê: “Jy moet hierdie woorde neerskryf, want Ek het dit vir jou gesê toe Ek 'n verbond gemaak het met jou en met die Israeliete.” Moses was 40 dae en 40 nagte by die Here op die berg. Hy het nie geëet of gedrink nie. Die Here het op die plat klippe die woorde van die verbond geskryf. Dit was die tien gebooie.

EKSODUS 34:27-28 AFR20 (Die Bybel 2020-vertaling)

Die HERE het toe vir Moses gesê: “Skryf jy hierdie woorde neer, want in ooreenstemming met hierdie woorde het Ek met jou en met Israel 'n verbond gesluit.” Hy was daar by die HERE veertig dae en veertig nagte lank. Brood het hy nie geëet nie en water het hy nie gedrink nie. Hy het op die kliptafels die woorde van die verbond, die Tien Gebooie, geskryf.

EKSODUS 34:27-28 CAB23 (Contemporary Afrikaans Bible 2023)

En die HERE het vir Moses gesê: Skryf vir jou hierdie woorde, want volgens die inhoud van hierdie woorde het Ek 'n verbond met jou en met Israel gesluit. En hy was daar by die HERE veertig dae en veertig nagte; hy het nie brood geëet en geen water gedrink nie. En hy het op die tafels die woorde van die verbond geskrywe, die tien gebooie.