ESEGIËL 1:4-9
ESEGIËL 1:4-9 Bybel vir almal (ABA)
Ek het gekyk en ek het gesien daar kom 'n stormwind uit die noorde. Daar was 'n groot wolk, en rondom die wolk het vuur gebrand en die vuur het helder geskyn. Daar was iets in die vuur wat geblink het en wat soos metaal geskyn het. Vier diere het uit die blink metaal gekom, en dit is hoe hulle gelyk het: Hulle was soos mense, maar elkeen het vier gesigte en vier vlerke gehad. Hulle bene was reguit en hulle voete was soos brons wat iemand blink gevryf het. Hulle voete het gelyk soos 'n bees se pote. Onder elkeen se vier vlerke, langs die vier kante, was hande, dit het gelyk soos 'n mens se hande. Die vier diere het almal gesigte en vlerke gehad. Elke dier se vlerke het geraak aan die vlerke van die dier langs hom. Hulle het nie weggedraai wanneer hulle beweeg het nie. Elke dier het reguit vorentoe beweeg.
ESEGIËL 1:4-9 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Toe het ek gekyk — en daar het 'n stormwind uit die noorde gekom, 'n groot wolk met onophoudelike vuur; en 'n glans was rondom die wolk, en daaruit, uit die vuur, het iets soos blinkende metaal geskitter. En daaruit het die gestalte van vier wesens gekom, en dít was hulle voorkoms: hulle het die gestalte van 'n mens gehad; en elkeen het vier aangesigte gehad en elkeen van hulle vier vlerke; en hulle bene was reguit bene en hulle voetsole soos die sole van 'n kalfspoot; en hulle het geglinster soos blink geskuurde koper; en mensehande was onder hulle vlerke aan hulle vier kante. Maar aangaande die aangesigte en die vlerke van al vier, hulle vlerke was aanmekaar verbind. Hulle het nie weggedraai as hulle gaan nie; hulle het elkeen maar reguit vorentoe gegaan.
ESEGIËL 1:4-9 Afrikaans 1983 (AFR83)
Ek het 'n gesig gesien. Daar het 'n storm uit die noorde gekom, 'n groot wolk. Vlamme het heen en weer geflits en daar was 'n helder skynsel om die wolk. Van binne uit, uit die vuur uit, het dit geblink soos gloeiende wit metaal. Daaruit het vier wesens te voorskyn gekom. Hulle het 'n mensvormige voorkoms gehad, maar elkeen het vier gesigte en vier vlerke gehad. Hulle bene was reguit en hulle voete was soos beeskloue en het geblink soos koper wat opgevryf is. Onder hulle vlerke aan elk van die vier kante van elkeen was daar menshande. Al vier wesens het gesigte en vlerke gehad. Die een se vlerke het aan die een langs hom s'n geraak. Die wesens het nie van koers verander wanneer hulle beweeg nie. Elkeen het reg vooruit beweeg.
ESEGIËL 1:4-9 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Ek het gesien, kyk, 'n stormwind kom uit die noorde, 'n groot wolkmassa met 'n vuur van weerligstrale wat aanhoudend blits, en 'n helder gloed rondom die wolkmassa. Daarin, in die vuur, was daar iets wat soos witgoud skitter. Binne-in die vuur was daar die gestalte van vier wesens. Dit is hoe hulle gelyk het: Hulle het die gestalte van mense gehad, maar elkeen het vier gesigte en vier vlerke gehad. Hulle bene was reguit; hulle hoewe was soos kalfshoewe en het soos gepoleerde brons geskitter. Daar was mensehande onder hulle vlerke aan vier kante. Wat die gesigte en vlerke van al vier betref: Hulle vlerke het aan mekaar geraak. Hulle het nie afgedraai wanneer hulle beweeg het nie; elkeen het reguit vorentoe beweeg.
ESEGIËL 1:4-9 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En ek het gesien, en kyk, daar het 'n stormwind uit die noorde gekom, 'n groot wolk en 'n vuur wat hom invou, en 'n glans was rondom dit, en daaruit soos die kleur van amber, uit die middel van die vuur. Ook daaruit het die gelykenis van vier lewende wesens gekom. En dit was hulle voorkoms; hulle het die gelykenis van 'n man gehad. En elkeen het vier gesigte gehad, en elkeen het vier vlerke gehad. En hulle voete was reguit voete; en hulle voetsool was soos die voetsool van 'n kalf, en hulle het geskitter soos die kleur van blink koper. En hulle het die hande van 'n man onder hulle vlerke aan hulle vier kante gehad; en hulle vier het hulle aangesigte en hulle vlerke gehad. Hulle vlerke was aan mekaar verbind; hulle het nie omgedraai as hulle gegaan het nie; hulle het elkeen reguit vorentoe gegaan.
ESEGIËL 1:4-9 Die Boodskap (DB)
Voor my oë het ’n toneel afgespeel. Ek het ’n storm uit ’n noordelike rigting sien aankom. Groot storms hier in Babilonië kom altyd uit die noorde. Die stormwind het saam met donker wolke gekom, met weerlig wat heen en weer flits en die wolke helder verlig. Dit het gemaak dat die wolke soos flikkerende vuur gegloei het, asof daar gloeiende geelkoper daarin was. Soos die wolke nader kom, het ek gesien dat daar binne-in een van die wolke iets was. Dit was die platform waarop die stoel gestaan het waarop God self gesit het. Die platform het uit vier vreemde wesens bestaan. Hulle het soos mense gelyk. Elkeen van die wesens het vier gesigte gehad. En elkeen het ook vier vlerke gehad. Hulle bene was so reguit soos ’n mens se bene, maar hulle het nie voete soos ’n mens nie. Hulle voete was kloue soos dié van beeste. Die voete dui op hulle krag: hulle is so sterk soos beeste. Hulle bene het geblink soos geelkoper wat blink gevryf is. Die glans herinner aan dié van weerlig. Behalwe vier gesigte en vier vlerke het elke wese ook vier hande gehad. Onder elke vlerk was daar ’n hand. Vier is die getal wat na die vier windrigtings verwys, en die volgende sê: die Here kan enigiets doen en Hy kan in enige rigting beweeg. Die vlerke van elke wese het aan die vlerke van die twee wesens weerskante van hom geraak, sodat die vlerke ’n vierkant gevorm het. Wanneer hulle beweeg het, was dit as ’n groep sonder dat enigeen sy liggaam gedraai het. Die vier lewende wesens was ’n eenheid.
ESEGIËL 1:4-9 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Terwyl ek gekyk het, sien ek ’n groot storm na my toe aankom uit die noorde. Voor die storm was daar ’n reuse wolk waarin die weerlig slaan en ’n helder lig brand. Die vuur binne-in die wolk het soos gloeiende metaal geblink. Uit die middel van die wolk het vier lewende wesens gekom wat soos mense gelyk het, behalwe dat elkeen van hulle vier gesigte en twee paar vlerke gehad het. Hulle bene was reguit soos ’n mens s’n, maar hulle voete het gelyk soos ’n kalf s’n, en dit het geblink soos brons wat opgevryf is. Onder elkeen van die vier vlerke kon ek hande sien soos dié van mense. Die vlerke van elke lewende wese het geraak aan die vlerke van die twee wat langs hom staan. Die wesens kon in enige rigting vlieg sonder om om te draai.