GENESIS 41:50-52
GENESIS 41:50-52 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Gedurende hierdie tyd, voor die aanbreek van die eerste jare van hongersnood, het Josef se vrou, Asenat, die dogter van Poti-Fera, priester van On, twee seuns vir hom in die wêreld gebring. Josef het die oudste een Manasse genoem, want hy het gesê: “God het my al my swaarkry laat vergeet, en alles wat my familie teen my gedoen het.” Die tweede een het hy Efraim genoem, want hy het gesê: “God het my voorspoedig gemaak in die land van my swaarkry.”
GENESIS 41:50-52 Bybel vir almal (ABA)
Josef en sy vrou Asenat het twee seuns gehad. Hulle is gebore vóór die tyd toe daar hongersnood was. Asenat was die dogter van Poti-Fera, die priester van On. Josef het sy oudste seun Manasse genoem. Hy het gesê: “God het my gehelp om te vergeet dat ek swaargekry het, en ook om te vergeet van my familie.” Josef het sy tweede seun Efraim genoem. Hy het gesê: “God het my vrugbaar gemaak in die land waar ek baie swaar gekry het.”
GENESIS 41:50-52 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
En vir Josef is twee seuns gebore — voordat die jaar van hongersnood gekom het — wat Ásenat, die dogter van Potiféra, die priester van On, vir hom gebaar het. En Josef het die eersgeborene Manasse genoem; want, het hy gesê, God het my al my moeite laat vergeet en ook die hele huis van my vader. En die tweede het hy Efraim genoem; want, het hy gesê, God het my vrugbaar gemaak in die land van my ellende.
GENESIS 41:50-52 Afrikaans 1983 (AFR83)
Reeds voor die jare van hongersnood begin het, is daar vir Josef twee seuns gebore. Sy vrou Asenat, dogter van Poti-Fera priester van On, het hulle vir Josef in die wêreld gebring. Hy het die oudste Manasse genoem, “want,” het hy gesê, “God het my alles laat vergeet: al my swaarkry en alles wat my familie my aangedoen het.” Josef het sy ander seun Efraim genoem, “want,” het hy gesê, “God het my vrugbaar gemaak in die land waar ek verneder is.”
GENESIS 41:50-52 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Vir Josef is twee seuns gebore voordat die jare van hongersnood aangebreek het – seuns wat Asenat, die dogter van Poti-Fera, die priester van On, vir hom in die wêreld gebring het. Josef het die eersgeborene Manasse genoem, “want,” het hy gesê, “God het my al my swaarkry laat vergeet, en ook my hele familie”. Sy tweede seun het hy Efraim genoem, “want,” het hy gesê, “God het my vrugbaar gemaak in die land van my ellende”.
GENESIS 41:50-52 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En vir Josef is twee seuns gebore voordat die jare van hongersnood gekom het, wat Asenat, die dogter van Potifera, die priester van On, vir hom gebaar het. En Josef het die eersgeborene Manasse genoem: want God, het hy gesê, het my al my moeite en die hele huis van my vader laat vergeet. En die naam van die tweede het hy Efraim genoem: want God het my vrugbaar gemaak in die land van my ellende.
GENESIS 41:50-52 Die Boodskap (DB)
Voor die swaar jare gekom het, het Josef twee seuns gekry. Dit was die seuns wat Asenat, die dogter van Potifera, die priester van On, vir hom in die wêreld gebring het. Josef het die oudste Manasse genoem, want, het hy gesê, “God het my al die swaarkry in Egipte asook my ouerhuis laat vergeet”. Die tweede seun het hy Efraim genoem, want, het hy gesê, “God het my vrugbaar gemaak in die land van my ellende”.