JESAJA 58:3-14

JESAJA 58:3-14 Bybel vir almal (ABA)

Maar nou wil hulle weet hoekom Ek nie sien wanneer hulle vas nie, hulle sê hulle verneder hulle voor My maar Ek sien dit nie. Sê vir hulle: Julle vas, maar julle dink net aan julleself op daardie dag, en julle laat werk die mense wat vir julle werk, nog harder. Julle vas, maar julle beskuldig julle werkers en julle baklei met hulle. Hulle doen niks verkeerd nie, maar julle slaan hulle met die vuis. Wanneer julle vas en julle doen hierdie dinge, dan sal niemand in die hemel luister wat julle bid nie. Julle dink Ek wil hê julle moet julle verneder wanneer julle vas. Julle dink Ek wil hê elkeen moet sy kop laat hang soos 'n biesie en elkeen moet rouklere dra en op die ashoop sit. Julle sê dit is hoe 'n mens moet vas, julle sê dit is waarvan die Here sal hou. Maar as julle wil vas soos Ek wil hê, dan moet julle die mense vrymaak wat gevangenes en slawe is maar wat niks verkeerd gedoen het nie. Julle moet die toue breek wat hulle vashou en julle moet die jukke afhaal van hulle nekke. Julle moet vir honger mense van julle kos gee en julle moet mense wat hulleself nie kan help nie en wat nie huise het nie, inbring in julle huise. Julle moet klere gee vir mense wat nie klere het nie. En julle moenie maak of julle nie sien dat dit julle eie mense is nie. Dan sal dit ook lig word in julle lewens, so lig soos wanneer die son opkom, en dit sal gou beter gaan met julle. Almal sal sien julle doen reg, en die Here self sal julle beskerm. Wanneer julle dit doen en dan roep, dan sal die Here antwoord. Wanneer julle vra Hy moet help, dan sal Hy sê: ‘Hier is Ek.’ As julle ophou om mense te laat swaarkry en om ander mense te beskuldig en oor hulle te lieg, en as julle jammer is vir 'n mens wat honger is en swaarkry, en julle gee vir hom genoeg kos om te eet, dan sal julle lig hê in die donker. Julle nag sal soos die helder dag wees. Die Here sal julle altyd lei en Hy sal vir julle genoeg gee, ook op plekke waar daar nie plante groei nie. Hy sal julle sterk maak. Julle sal wees soos tuine waar daar baie water is, soos fonteine wat altyd water het. Julle sal die hope klippe vat wat baie lank hier lê, en julle sal weer vir julle huise bou, en mure vir die stad. Almal sal sê julle is die mense wat stukkende mure weer bou en wat paaie regmaak sodat julle in die land kan woon.” “Julle moet niks verkeerd doen op die Sabbatdag nie, julle moenie op my gewyde dag doen wat julle wil nie. Die Sabbatdag moet vir julle 'n feesdag wees, julle moet die gewyde dag van die Here respekteer. Julle moet die dag respekteer en nie doen wat julle op ander dae doen nie, julle moenie doen en praat wat julle wil nie. Dan sal dit vir julle 'n fees wees om die Here te dien. Hy sal julle oor die hoogste plekke laat ry. Hy sal julle laat eet van die koring en die vrugte van die land van julle voorvader Jakob.” Ja, dit het die Here gesê.

JESAJA 58:3-14 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

Waarom vas ons, en U sien dit nie? Waarom kwel ons ons siel, en U weet dit nie? — Kyk, op die dag as julle vas, soek julle geleentheid om sake te doen, en julle jaag al jul arbeiders aan. Kyk, om te twis en te kyf, vas julle, en om te slaan met misdadige vuis; julle vas nie nou om julle stem in die hoogte te laat hoor nie. Is dít die vas wat Ek verkies, die dag as die mens sy siel gaan kwel: dat hy sy hoof buig soos 'n biesie en sak en as uitsprei om sy bed te wees? Noem jy dit vas en 'n dag wat die HERE welgevallig is? Is dít nie die vas wat Ek verkies nie: dat julle losmaak die bande van goddeloosheid, dat julle afhaal die stroppe van die juk en vry laat weggaan die verdruktes en elke juk stukkend breek? Is dit nie dat jy jou brood breek vir hom wat honger het, en ellendiges, swerwelinge in die huis inbring nie? As jy iemand sien wat naak is, dat jy hom klee, en jou vir jou eie vlees nie verberg nie? Dan sal jou lig deurbreek soos die dageraad en jou genesing skielik uitspruit; en jou geregtigheid sal voor jou uit gaan, die heerlikheid van die HERE jou agterhoede wees. Dan sal jy roep, en die HERE sal antwoord; jy sal skreeu om hulp, en Hy sal sê: Hier is Ek! As jy van jou verwyder die verdrukking, die uitsteek van die vinger en die leuenagtige woord, en jou siel laat uitgaan na die hongerige, en die neergeboë siel versadig; dan sal jou lig opgaan in die duisternis en jou donkerheid wees soos die middag. En die HERE sal jou gedurigdeur lei en jou siel versadig in dor plekke en jou gebeente sterk maak; en jy sal wees soos 'n tuin wat goed besproei is en soos 'n fontein van waters waarvan die water nooit teleurstel nie. En die wat uit jou voortkom, sal die ou puinhope bou; die fondamente van vorige geslagte sal jy oprig, en jy sal genoem word: Herbouer van gebreekte mure, hersteller van paaie, om bewoonbaar te maak. As jy jou voet terughou van die sabbat — om nie jou sake op my heilige dag te doen nie, en as jy die sabbat 'n verlustiging noem en die heilige dag van die HERE hooghou; en as jy dit eer deur nie jou gewone gang te gaan nie, nie geleentheid vir jou sake soek of ydele taal spreek nie; dan sal jy jou verlustig in die HERE, en Ek sal jou laat ry oor die hoogtes van die aarde en jou laat geniet die erfdeel van jou vader Jakob; want die mond van die HERE het dit gespreek.

JESAJA 58:3-14 Afrikaans 1983 (AFR83)

Hulle vra: “Waarom vas ons, maar U sien dit nie, verootmoedig ons ons, maar U gee nie aandag daaraan nie?” Dit is omdat julle op die vasdae doen wat julle wil en die mense wat vir julle werk, nog harder laat werk. Julle vasdae loop uit op twis en rusie, julle dam mekaar met die vuis by. Julle kan nie op hierdie manier vas en dan verwag dat julle gebed verhoor sal word in die hemel nie. Is dit ál wat Ek op 'n vasdag wil hê: net dat 'n mens homself verneder, dat hy sy nek buig soos 'n biesie en in sak en as sit? Noem jy dít 'n vasdag, 'n dag waarvan die Here hou? Is die vas wat Ek wil hê, nie dít nie: om dié wat onregverdig gevange gehou word, te bevry, om die juk wat op mense druk, af te haal, om verdruktes vry te maak, om elke juk te breek? Is dit nie dat jy vir dié wat honger is, van jou brood gee nie, dat jy aan die armes en die dakloses 'n blyplek gee nie, dat wanneer jy iemand sonder klere sien, jy vir hom klere gee nie, dat jy jou medemens nie aan sy lot oorlaat nie? Dan sal die lig vir jou deurbreek soos die rooidag, jy sal gou herstel. Hy wat jou red, sal voor jou uit gaan, die mag van die Here sal agter jou aankom. Dan sal jy roep, en die Here sal antwoord, jy sal om hulp roep, en Hy sal sê: Hier is Ek! As jy sorg dat mense nie meer by jou verdruk word nie, nie meer gedreig en vals beskuldig word nie, as jy jou wy aan dié wat honger het, as jy voorsien in die behoeftes van dié wat in nood is, sal die lig vir jou skyn wanneer dit donker is, sal wat vir jou nag is, word soos die helder middag. Die Here sal jou altyddeur lei; selfs in dor streke sal Hy in jou behoeftes voorsien. Hy sal jou sterk maak. Jy sal wees soos 'n tuin met volop water, soos 'n fontein waarvan die water nie opdroog nie. Jou mense sal die ou puinhope herbou, die fondamente herstel wat al geslagte lank bestaan. Jy sal bekend staan as 'n volk wat sy afgebreekte mure herbou, wat sy strate herstel sodat daar weer mense kan woon. As jy nie op die sabbat oortree nie, op my heilige dag doen net wat jy wil nie, as jy die sabbat 'n vreugde noem, as jy die heilige dag van die Here in ere hou, as jy dit eer deur nie jou gewone gang te gaan nie, nie te doen net wat jy wil nie, en nie handel dryf nie, sal jy vreugde vind in die Here. Ek sal jou die land weer in besit laat neem, Ek sal jou laat eet van die opbrengs van die land van jou vader Jakob. Ek, die Here, het dit gesê.

JESAJA 58:3-14 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

‘Waarom vas ons, maar U sien dit nie raak nie, verootmoedig ons ons, maar U merk dit nie op nie?’ Kyk, op julle vasdag kry julle kans vir besigheid, en jaag julle al julle werknemers aan. Kyk, net om te twis en rusie te maak, vas julle, en om genadeloos met die vuis te slaan. Julle vas nie vandag om julle stem in die hoogte te laat hoor nie. Is die vas wat Ek verkies dan so, 'n dag van verootmoediging vir 'n mens? Is dit om die hoof te buig soos 'n biesie, en in sak en as te lê? Is dit wat julle vas noem? is dit 'n dag wat die HERE se goedkeuring wegdra? Is dit nie hierdie vas wat Ek verkies nie, dat julle die boeie van goddeloosheid losmaak, die stroppe van die juk stukkend ruk, verdruktes vry wegstuur en elke juk breek? Is dit nie bedoel om vir hongeriges jou brood te breek, om aan magteloses en haweloses onderdak te bied nie? Wanneer jy iemand sien wat kaal is, moet jy hom bedek, en jou nie afsydig hou van jou eie vlees en bloed nie.” Dan sal jou lig deurbreek soos die oggendskemering; en jou herstel sal spoedig aanbreek. Jou geregtigheid sal jou vooruitloop; die heerlikheid van die HERE sal jou agterhoede dek. Dan sal jy roep en die HERE sal antwoord. Jy sal om hulp roep, en Hy sal sê: “Hier is Ek!” As jy die juk uit jou midde verwyder, die vingerwysery en verderflike gepraat, as jy hulle wat honger is, jou empatie laat ervaar, die mens wat verdruk word, versadig laat word, sal jou lig in die duisternis skyn; jou donkerte sal soos helder dag wees. Die HERE sal jou voortdurend lei; in dor plekke sal Hy jou keel verkwik, jou gebeente sal Hy sterk maak. Jy sal soos 'n natgeleide tuin wees, soos 'n waterbron waarvan die water nie teleurstel nie. Sommige uit jou sal die oeroue puinhope herbou, die fondamente van geslagte gelede sal jy weer oprig. Jy sal genoem word: die een wat bresse toebou, die een wat paaie herstel, sodat mense daar kan woon. As jy jou voet terughou van die Sabbat, jou daarvan weerhou om te doen wat jy wil op my heilige dag, en die Sabbat 'n vreugde noem, eerbied toon vir dit wat heilig is vir die HERE, die dag eer deur nie te doen wat jy gewoonlik doen nie, deur nie geleentheid te vind om jou besigheid te doen en 'n saketransaksie te bespreek nie, dan sal jy jou vreugde vind by die HERE.

JESAJA 58:3-14 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

Waarom het ons gevas, sê hulle, en jy sien nie? waarom het ons ons siel verdruk, en jy het geen kennis nie? Kyk, op die dag van julle vas vind julle behae en eis al julle arbeid af. Kyk, julle vas vir twis en twis, en om met die vuis van boosheid te slaan; julle mag nie vas soos julle vandag doen om julle stem in die hoogte te laat hoor nie. Is dit so 'n vas wat ek gekies het? 'n dag vir 'n man om sy siel te verdruk? is dit om sy hoof soos 'n bies te buig en rouklere en as onder hom uit te sprei? wil jy dit 'n vas en 'n welbehae dag vir die HERE noem? Is dit nie die vas wat Ek verkies het nie? om die bande van goddeloosheid los te maak, die swaar laste los te maak en die verdruktes vry te laat, en elke juk te verbreek? Is dit nie om jou brood aan die hongeriges te gee en die armes wat verdryf is na jou huis toe te bring nie? as jy die naakte sien, bedek jy hom; en dat jy jou nie vir jou eie vlees verberg nie? Dan sal jou lig uitbreek soos die môre, en jou gesondheid sal gou uitspruit; en jou geregtigheid sal voor jou uit gaan; die heerlikheid van die HERE sal jou loon wees. Dan sal jy roep, en die HERE sal antwoord; jy moet roep, en hy sal sê: Hier is ek! As jy die juk, die uitsteek van die vinger en die spreek van nietigheid, uit jou midde wegneem; En as jy jou siel uittrek na die hongerige en die bedrukte siel versadig; dan sal jou lig in die duisternis opgaan en jou duisternis wees soos die middag. En die HERE sal jou gedurigdeur lei en jou siel versadig in droogte en jou gebeente vet maak; en jy sal wees soos 'n besproeide tuin en soos 'n fontein waarvan die water nie ophou nie. En die wat van jou sal wees, sal die ou puinhope bou; en jy sal genoem word: Die hersteller van die breuk, die hersteller van paaie om in te woon. As jy jou voet van die sabbat afkeer, om jou behae te doen op my heilige dag; en noem die sabbat 'n vreugde, heilig van die HERE, eerbaar; en eer Hom deur nie jou eie weë te doen en nie jou eie behae te vind en nie jou eie woorde te spreek nie. Dan sal jy jou verlustig in die HERE; en Ek sal jou laat ry op die hoogtes van die aarde en jou onderhou met die erfdeel van jou vader Jakob, want die mond van die HERE het dit gespreek.

JESAJA 58:3-14 Die Boodskap (DB)

Hulle vra vir die Here: “Sien U dit dan nie raak dat ons vir U kom vas en sonder kos bly nie? Steur U U dan nie daaraan dat ons voor U kom stil raak nie?” Die Here sê: “Ja, maar Ek sien ook raak dat wanneer julle vas, julle dit maar net gebruik om geld te maak. Julle gebruik dit as ’n verskoning om die mense wat vir julle werk net nog harder te laat werk. As julle vas, loop dit uit op rusies en bakleiery onder mekaar. Julle kan mos nie op so ’n manier vir My vas en dan verwag dat Ek na julle gebede moet luister nie! Op die dag dat julle vas, hou julle julleself kamtig nederig. Julle laat julle koppe vooroor hang soos ’n biesie wat geknak is. Julle trek begrafnisklere aan en julle gooi stof op julle koppe. En julle noem dit dan ’n vasdag. Dink julle nou dat dit die manier is om sonder kos klaar te kom? Is dit nou die dinge wat die Here gelukkig moet maak? Nee, die vas wat Ek van julle verwag, is dat julle die mense sal vrylaat wat julle onregverdig gevange hou. Hou op om die mense wat vir julle werk, soos gevangenes te behandel. Gee kos vir hulle wat niks het om te eet nie. Gee blyplek aan hulle wat nêrens het om heen te gaan nie. Gee klere vir die mense wat jy kan sien niks het om aan te trek nie. Help jou familie as hulle hulp nodig het. Wanneer jy so maak, sal jy bevry word. Dit sal vinnig kom soos die lig wat met dagbreek die donker laat verdwyn. Jy sal oornag herstel. Die Here wat jou vrymaak, sal jou met sy krag van alle kante beskerm. Wanneer jy dan na die Here roep, sal Hy jou antwoord. As jy God vra om jou te help, sal Hy sê: Ek kom. Hou op om mense onregverdig te behandel. Hou op om vir mekaar vinger te wys en mekaar vals te beskuldig. Gee kos vir hulle wat niks het om te eet nie. Versorg hulle wat behoeftig is. Dan sal dit vir jou word soos lig wat die donker laat verdwyn, soos die son wat in die middel van die dag skyn. Die Here sal dan die hele tyd saam met jou wees. Wanneer dit moeilik gaan, sal Hy vir jou gee wat jy nodig het. Hy sal jou krag gee. Jy sal wees soos ’n tuin wat goed natgemaak word. Daar sal nooit ’n tekort wees aan water in jou tuin nie. Jou nageslag sal die ou bouvalle weer opbou. Hulle sal op die fondamente bou wat al geslagte lank bestaan. Hulle sal julle die mense noem wat mure weer opbou, wat huise en strate weer regmaak om in te bly. Rus ’n bietjie op die sewende dag. Jy mag nie op die Here se dag sommer net doen wat jy wil nie. Dit moet ’n dag wees waarop jy bly is. Jy moet daardie dag aan die Here afstaan. Jy moenie met jou gewone werk aangaan nie. Jy moet nie op daardie dag besigheid doen of transaksies sluit nie. As jy die sabbat so deurbring, sal jy bly wees dat jy aan die Here behoort. Ek sal sorg dat almal oor die hele wêreld jou ken. Jy sal alles geniet wat jou oorgrootoupa Jakob aan jou nagelaat het. Ek, die Here, belowe dit vir julle.

JESAJA 58:3-14 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Hulle vra: ‘Waarom het ons gevas, maar U sien dit nie? Ons het ons verootmoedig, maar U het dit nie opgelet nie!’ “Dis omdat julle op vasdae net julle eie plesier najaag, en die mense in julle diens nog harder laat werk. Julle vas eindig in twis, rusie en vuisgevegte. Op hierdie manier kan julle nie vas en dan verwag dat dit in die hemel gehoor sal word nie. Is dit die vas wat Ek verkies, net ’n dag waarop ’n mens homself verneder? Is dit om net jou kop te buig soos ’n biesie en te sit in sak en as? Is dit wat jy ’n vas noem, ’n dag wat vir die HERE aanvaarbaar sal wees? “Nee, is die vas wat Ek wil hê, dan nie: om mense wat onregverdig in die tronk is, vry te laat, om die juk van mense af te haal en elke juk te breek nie? Is dit nie om jou kos te deel met dié wat honger is, om aan die arm swerwer blyplek te gee, om klere te gee vir mense wat dit nodig het, om nie weg te draai van jou familie wat jou hulp nodig het nie? As jy dit doen, sal die lig vir jou deurbreek soos die nuwe dag. Jou wonde sal spoedig genees. Hy wat jou red, sal voor jou uitgaan, die heerlikheid van die HERE sal jou van agter beskerm. Wanneer jy dan roep om hulp, sal die HERE antwoord. Jy sal roep om hulp en Hy sal sê: Hier is Ek! “As jy ontslae raak van die juk van verdrukking, van die beskuldigende vinger en kwaadpratery, as jy kos gee vir dié wat honger is en hulle help wat verdruk word, sal jou lig skyn in die donkerte en jou nag sal word soos helder dag. Die HERE sal jou altyd lei. Selfs in tye van droogte sal Hy voorsien in jou behoeftes. Hy sal jou gesond en sterk hou. Jy sal wees soos ’n tuin wat genoeg water kry, soos ’n fontein wat altyd aanhou vloei. Jou kinders sal die puinhope van jou stede herbou. Dan sal hulle jou noem: die een wat stukkende mure en stede opbou. “As jy jou daarvan weerhou om op die Sabbatdag te oortree en op my heilige dag te doen net wat jy wil; as die Sabbat vir jou ’n vreugde is, en jy die heilige dag van die HERE in ere hou; as jy dit respekteer deur nie jou gewone gang te gaan nie, nie te doen wat jy wil, of nuttelose woorde te praat nie, dan sal jy jou vreugde vind in die HERE. Ek sal jou die land weer in besit laat neem, Ek sal jou laat eet van die opbrengs van die land van jou vader Jakob. Ek, die HERE, het dit gesê.”