Hulle vra:
‘Waarom het ons gevas,
maar U sien dit nie?
Ons het ons verootmoedig,
maar U het dit nie
opgelet nie!’
“Dis omdat julle op vasdae
net julle eie plesier najaag,
en die mense in julle diens
nog harder laat werk.
Julle vas eindig in twis,
rusie en vuisgevegte.
Op hierdie manier
kan julle nie vas
en dan verwag
dat dit in die hemel
gehoor sal word nie.
Is dit die vas wat Ek verkies,
net ’n dag waarop ’n mens
homself verneder?
Is dit om net jou kop te buig
soos ’n biesie
en te sit in sak en as?
Is dit wat jy ’n vas noem,
’n dag wat vir die HERE
aanvaarbaar sal wees?
“Nee, is die vas wat Ek wil hê,
dan nie:
om mense wat onregverdig
in die tronk is, vry te laat,
om die juk van mense af te haal
en elke juk te breek nie?
Is dit nie om jou kos te deel
met dié wat honger is,
om aan die arm swerwer
blyplek te gee,
om klere te gee vir mense
wat dit nodig het,
om nie weg te draai
van jou familie
wat jou hulp nodig het nie?
As jy dit doen,
sal die lig vir jou deurbreek
soos die nuwe dag.
Jou wonde sal spoedig genees.
Hy wat jou red,
sal voor jou uitgaan,
die heerlikheid van die HERE
sal jou van agter beskerm.
Wanneer jy dan roep om hulp,
sal die HERE antwoord.
Jy sal roep om hulp
en Hy sal sê: Hier is Ek!
“As jy ontslae raak van die juk
van verdrukking,
van die beskuldigende vinger
en kwaadpratery,
as jy kos gee vir dié wat honger is
en hulle help wat verdruk word,
sal jou lig skyn
in die donkerte
en jou nag sal word
soos helder dag.
Die HERE sal jou altyd lei.
Selfs in tye van droogte
sal Hy voorsien in jou behoeftes.
Hy sal jou gesond en sterk hou.
Jy sal wees soos ’n tuin
wat genoeg water kry,
soos ’n fontein
wat altyd aanhou vloei.
Jou kinders sal die puinhope
van jou stede
herbou.
Dan sal hulle jou noem:
die een wat stukkende mure en
stede opbou.
“As jy jou daarvan weerhou
om op die Sabbatdag te oortree
en op my heilige dag
te doen net wat jy wil;
as die Sabbat vir jou
’n vreugde is,
en jy die heilige dag
van die HERE in ere hou;
as jy dit respekteer
deur nie jou gewone gang
te gaan nie,
nie te doen wat jy wil,
of nuttelose woorde te praat nie,
dan sal jy jou vreugde vind
in die HERE.
Ek sal jou die land
weer in besit laat neem,
Ek sal jou laat eet
van die opbrengs van die land
van jou vader Jakob.
Ek, die HERE, het dit gesê.”