Jesaja 58:3-14

Jesaja 58:3-14 AFR20

‘Waarom vas ons, maar U sien dit nie raak nie, verootmoedig ons ons, maar U merk dit nie op nie?’ Kyk, op julle vasdag kry julle kans vir besigheid, en jaag julle al julle werknemers aan. Kyk, net om te twis en rusie te maak, vas julle, en om genadeloos met die vuis te slaan. Julle vas nie vandag om julle stem in die hoogte te laat hoor nie. Is die vas wat Ek verkies dan so, 'n dag van verootmoediging vir 'n mens? Is dit om die hoof te buig soos 'n biesie, en in sak en as te lê? Is dit wat julle vas noem? is dit 'n dag wat die HERE se goedkeuring wegdra? Is dit nie hierdie vas wat Ek verkies nie, dat julle die boeie van goddeloosheid losmaak, die stroppe van die juk stukkend ruk, verdruktes vry wegstuur en elke juk breek? Is dit nie bedoel om vir hongeriges jou brood te breek, om aan magteloses en haweloses onderdak te bied nie? Wanneer jy iemand sien wat kaal is, moet jy hom bedek, en jou nie afsydig hou van jou eie vlees en bloed nie.” Dan sal jou lig deurbreek soos die oggendskemering; en jou herstel sal spoedig aanbreek. Jou geregtigheid sal jou vooruitloop; die heerlikheid van die HERE sal jou agterhoede dek. Dan sal jy roep en die HERE sal antwoord. Jy sal om hulp roep, en Hy sal sê: “Hier is Ek!” As jy die juk uit jou midde verwyder, die vingerwysery en verderflike gepraat, as jy hulle wat honger is, jou empatie laat ervaar, die mens wat verdruk word, versadig laat word, sal jou lig in die duisternis skyn; jou donkerte sal soos helder dag wees. Die HERE sal jou voortdurend lei; in dor plekke sal Hy jou keel verkwik, jou gebeente sal Hy sterk maak. Jy sal soos 'n natgeleide tuin wees, soos 'n waterbron waarvan die water nie teleurstel nie. Sommige uit jou sal die oeroue puinhope herbou, die fondamente van geslagte gelede sal jy weer oprig. Jy sal genoem word: die een wat bresse toebou, die een wat paaie herstel, sodat mense daar kan woon. As jy jou voet terughou van die Sabbat, jou daarvan weerhou om te doen wat jy wil op my heilige dag, en die Sabbat 'n vreugde noem, eerbied toon vir dit wat heilig is vir die HERE, die dag eer deur nie te doen wat jy gewoonlik doen nie, deur nie geleentheid te vind om jou besigheid te doen en 'n saketransaksie te bespreek nie, dan sal jy jou vreugde vind by die HERE.