Die embleem van die Bybeltoep
Soek-ikoon

JESAJA 58:3-9 - Vergelyk alle weergawes | YouVersion

JESAJA 58:3-9 AFR83 (Afrikaans 1983)

Hulle vra: “Waarom vas ons, maar U sien dit nie, verootmoedig ons ons, maar U gee nie aandag daaraan nie?” Dit is omdat julle op die vasdae doen wat julle wil en die mense wat vir julle werk, nog harder laat werk. Julle vasdae loop uit op twis en rusie, julle dam mekaar met die vuis by. Julle kan nie op hierdie manier vas en dan verwag dat julle gebed verhoor sal word in die hemel nie. Is dit ál wat Ek op 'n vasdag wil hê: net dat 'n mens homself verneder, dat hy sy nek buig soos 'n biesie en in sak en as sit? Noem jy dít 'n vasdag, 'n dag waarvan die Here hou? Is die vas wat Ek wil hê, nie dít nie: om dié wat onregverdig gevange gehou word, te bevry, om die juk wat op mense druk, af te haal, om verdruktes vry te maak, om elke juk te breek? Is dit nie dat jy vir dié wat honger is, van jou brood gee nie, dat jy aan die armes en die dakloses 'n blyplek gee nie, dat wanneer jy iemand sonder klere sien, jy vir hom klere gee nie, dat jy jou medemens nie aan sy lot oorlaat nie? Dan sal die lig vir jou deurbreek soos die rooidag, jy sal gou herstel. Hy wat jou red, sal voor jou uit gaan, die mag van die Here sal agter jou aankom. Dan sal jy roep, en die Here sal antwoord, jy sal om hulp roep, en Hy sal sê: Hier is Ek! As jy sorg dat mense nie meer by jou verdruk word nie, nie meer gedreig en vals beskuldig word nie

JESAJA 58:3-9 AFR53 (Afrikaans 1933/1953)

Waarom vas ons, en U sien dit nie? Waarom kwel ons ons siel, en U weet dit nie? — Kyk, op die dag as julle vas, soek julle geleentheid om sake te doen, en julle jaag al jul arbeiders aan. Kyk, om te twis en te kyf, vas julle, en om te slaan met misdadige vuis; julle vas nie nou om julle stem in die hoogte te laat hoor nie. Is dít die vas wat Ek verkies, die dag as die mens sy siel gaan kwel: dat hy sy hoof buig soos 'n biesie en sak en as uitsprei om sy bed te wees? Noem jy dit vas en 'n dag wat die HERE welgevallig is? Is dít nie die vas wat Ek verkies nie: dat julle losmaak die bande van goddeloosheid, dat julle afhaal die stroppe van die juk en vry laat weggaan die verdruktes en elke juk stukkend breek? Is dit nie dat jy jou brood breek vir hom wat honger het, en ellendiges, swerwelinge in die huis inbring nie? As jy iemand sien wat naak is, dat jy hom klee, en jou vir jou eie vlees nie verberg nie? Dan sal jou lig deurbreek soos die dageraad en jou genesing skielik uitspruit; en jou geregtigheid sal voor jou uit gaan, die heerlikheid van die HERE jou agterhoede wees. Dan sal jy roep, en die HERE sal antwoord; jy sal skreeu om hulp, en Hy sal sê: Hier is Ek! As jy van jou verwyder die verdrukking, die uitsteek van die vinger en die leuenagtige woord

JESAJA 58:3-9 NLV (Nuwe Lewende Vertaling)

Hulle vra: ‘Waarom het ons gevas, maar U sien dit nie? Ons het ons verootmoedig, maar U het dit nie opgelet nie!’ “Dis omdat julle op vasdae net julle eie plesier najaag, en die mense in julle diens nog harder laat werk. Julle vas eindig in twis, rusie en vuisgevegte. Op hierdie manier kan julle nie vas en dan verwag dat dit in die hemel gehoor sal word nie. Is dit die vas wat Ek verkies, net ’n dag waarop ’n mens homself verneder? Is dit om net jou kop te buig soos ’n biesie en te sit in sak en as? Is dit wat jy ’n vas noem, ’n dag wat vir die HERE aanvaarbaar sal wees? “Nee, is die vas wat Ek wil hê, dan nie: om mense wat onregverdig in die tronk is, vry te laat, om die juk van mense af te haal en elke juk te breek nie? Is dit nie om jou kos te deel met dié wat honger is, om aan die arm swerwer blyplek te gee, om klere te gee vir mense wat dit nodig het, om nie weg te draai van jou familie wat jou hulp nodig het nie? As jy dit doen, sal die lig vir jou deurbreek soos die nuwe dag. Jou wonde sal spoedig genees. Hy wat jou red, sal voor jou uitgaan, die heerlikheid van die HERE sal jou van agter beskerm. Wanneer jy dan roep om hulp, sal die HERE antwoord. Jy sal roep om hulp en Hy sal sê: Hier is Ek! “As jy ontslae raak van die juk van verdrukking, van die beskuldigende vinger en kwaadpratery

JESAJA 58:3-9 DB (Die Boodskap)

Hulle vra vir die Here: “Sien U dit dan nie raak dat ons vir U kom vas en sonder kos bly nie? Steur U U dan nie daaraan dat ons voor U kom stil raak nie?” Die Here sê: “Ja, maar Ek sien ook raak dat wanneer julle vas, julle dit maar net gebruik om geld te maak. Julle gebruik dit as ’n verskoning om die mense wat vir julle werk net nog harder te laat werk. As julle vas, loop dit uit op rusies en bakleiery onder mekaar. Julle kan mos nie op so ’n manier vir My vas en dan verwag dat Ek na julle gebede moet luister nie! Op die dag dat julle vas, hou julle julleself kamtig nederig. Julle laat julle koppe vooroor hang soos ’n biesie wat geknak is. Julle trek begrafnisklere aan en julle gooi stof op julle koppe. En julle noem dit dan ’n vasdag. Dink julle nou dat dit die manier is om sonder kos klaar te kom? Is dit nou die dinge wat die Here gelukkig moet maak? Nee, die vas wat Ek van julle verwag, is dat julle die mense sal vrylaat wat julle onregverdig gevange hou. Hou op om die mense wat vir julle werk, soos gevangenes te behandel. Gee kos vir hulle wat niks het om te eet nie. Gee blyplek aan hulle wat nêrens het om heen te gaan nie. Gee klere vir die mense wat jy kan sien niks het om aan te trek nie. Help jou familie as hulle hulp nodig het. Wanneer jy so maak, sal jy bevry word. Dit sal vinnig kom soos die lig wat met dagbreek die donker laat verdwyn. Jy sal oornag herstel. Die Here wat jou vrymaak, sal jou met sy krag van alle kante beskerm. Wanneer jy dan na die Here roep, sal Hy jou antwoord. As jy God vra om jou te help, sal Hy sê: Ek kom. Hou op om mense onregverdig te behandel. Hou op om vir mekaar vinger te wys en mekaar vals te beskuldig.

JESAJA 58:3-9 ABA (Bybel vir almal)

Maar nou wil hulle weet hoekom Ek nie sien wanneer hulle vas nie, hulle sê hulle verneder hulle voor My maar Ek sien dit nie. Sê vir hulle: Julle vas, maar julle dink net aan julleself op daardie dag, en julle laat werk die mense wat vir julle werk, nog harder. Julle vas, maar julle beskuldig julle werkers en julle baklei met hulle. Hulle doen niks verkeerd nie, maar julle slaan hulle met die vuis. Wanneer julle vas en julle doen hierdie dinge, dan sal niemand in die hemel luister wat julle bid nie. Julle dink Ek wil hê julle moet julle verneder wanneer julle vas. Julle dink Ek wil hê elkeen moet sy kop laat hang soos 'n biesie en elkeen moet rouklere dra en op die ashoop sit. Julle sê dit is hoe 'n mens moet vas, julle sê dit is waarvan die Here sal hou. Maar as julle wil vas soos Ek wil hê, dan moet julle die mense vrymaak wat gevangenes en slawe is maar wat niks verkeerd gedoen het nie. Julle moet die toue breek wat hulle vashou en julle moet die jukke afhaal van hulle nekke. Julle moet vir honger mense van julle kos gee en julle moet mense wat hulleself nie kan help nie en wat nie huise het nie, inbring in julle huise. Julle moet klere gee vir mense wat nie klere het nie. En julle moenie maak of julle nie sien dat dit julle eie mense is nie. Dan sal dit ook lig word in julle lewens, so lig soos wanneer die son opkom, en dit sal gou beter gaan met julle. Almal sal sien julle doen reg, en die Here self sal julle beskerm. Wanneer julle dit doen en dan roep, dan sal die Here antwoord. Wanneer julle vra Hy moet help, dan sal Hy sê: ‘Hier is Ek.’ As julle ophou om mense te laat swaarkry en om ander mense te beskuldig en oor hulle te lieg

JESAJA 58:3-9 AFR20 (Die Bybel 2020-vertaling)

‘Waarom vas ons, maar U sien dit nie raak nie, verootmoedig ons ons, maar U merk dit nie op nie?’ Kyk, op julle vasdag kry julle kans vir besigheid, en jaag julle al julle werknemers aan. Kyk, net om te twis en rusie te maak, vas julle, en om genadeloos met die vuis te slaan. Julle vas nie vandag om julle stem in die hoogte te laat hoor nie. Is die vas wat Ek verkies dan so, 'n dag van verootmoediging vir 'n mens? Is dit om die hoof te buig soos 'n biesie, en in sak en as te lê? Is dit wat julle vas noem? is dit 'n dag wat die HERE se goedkeuring wegdra? Is dit nie hierdie vas wat Ek verkies nie, dat julle die boeie van goddeloosheid losmaak, die stroppe van die juk stukkend ruk, verdruktes vry wegstuur en elke juk breek? Is dit nie bedoel om vir hongeriges jou brood te breek, om aan magteloses en haweloses onderdak te bied nie? Wanneer jy iemand sien wat kaal is, moet jy hom bedek, en jou nie afsydig hou van jou eie vlees en bloed nie.” Dan sal jou lig deurbreek soos die oggendskemering; en jou herstel sal spoedig aanbreek. Jou geregtigheid sal jou vooruitloop; die heerlikheid van die HERE sal jou agterhoede dek. Dan sal jy roep en die HERE sal antwoord. Jy sal om hulp roep, en Hy sal sê: “Hier is Ek!” As jy die juk uit jou midde verwyder, die vingerwysery en verderflike gepraat

JESAJA 58:3-9 CAB23 (Contemporary Afrikaans Bible 2023)

Waarom het ons gevas, sê hulle, en jy sien nie? waarom het ons ons siel verdruk, en jy het geen kennis nie? Kyk, op die dag van julle vas vind julle behae en eis al julle arbeid af. Kyk, julle vas vir twis en twis, en om met die vuis van boosheid te slaan; julle mag nie vas soos julle vandag doen om julle stem in die hoogte te laat hoor nie. Is dit so 'n vas wat ek gekies het? 'n dag vir 'n man om sy siel te verdruk? is dit om sy hoof soos 'n bies te buig en rouklere en as onder hom uit te sprei? wil jy dit 'n vas en 'n welbehae dag vir die HERE noem? Is dit nie die vas wat Ek verkies het nie? om die bande van goddeloosheid los te maak, die swaar laste los te maak en die verdruktes vry te laat, en elke juk te verbreek? Is dit nie om jou brood aan die hongeriges te gee en die armes wat verdryf is na jou huis toe te bring nie? as jy die naakte sien, bedek jy hom; en dat jy jou nie vir jou eie vlees verberg nie? Dan sal jou lig uitbreek soos die môre, en jou gesondheid sal gou uitspruit; en jou geregtigheid sal voor jou uit gaan; die heerlikheid van die HERE sal jou loon wees. Dan sal jy roep, en die HERE sal antwoord; jy moet roep, en hy sal sê: Hier is ek! As jy die juk, die uitsteek van die vinger en die spreek van nietigheid, uit jou midde wegneem