Bible App logo
Soek-ikoon

JESAJA 66:12-14 - Vergelyk alle weergawes | YouVersion

JESAJA 66:12-14 AFR83 (Afrikaans 1983)

So sê die Here: Ek laat vrede na haar toe aankom soos 'n rivier, Ek laat die rykdom van die nasies na haar toe stroom. Julle sal aan haar drink, aan haar bors gedra word en op haar skoot getroetel word. Soos 'n moeder haar kind laat veilig voel, so laat Ek julle veilig voel. Julle sal veilig voel in Jerusalem. Julle sal dit beleef en julle sal bly wees; julle sal nuwe lewe kry soos groen gras wat uitspruit. So sal die mag van die Here geopenbaar word aan sy dienaars, en sal Hy sy vyande straf.

JESAJA 66:12-14 AFR53 (Afrikaans 1933/1953)

Want so sê die HERE: Kyk, die vrede lei Ek na haar toe soos 'n rivier en die rykdom van die nasies soos 'n oorlopende stroom; en julle sal suig, julle sal op die heup gedra word en op die knieë getroetel word. Soos iemand wat deur sy moeder getroos word, so sal Ek julle troos; en julle sal in Jerusalem getroos word. En julle sal dit sien, en julle hart sal vrolik wees, en julle gebeente sal groei soos die jong gras; dan sal die hand van die HERE bekend word aan sy knegte, en Hy sal op sy vyande grimmig wees.

JESAJA 66:12-14 NLV (Nuwe Lewende Vertaling)

Want dis wat die HERE sê: “Ek sal haar vrede maak soos ’n rivier. Die skatte van die nasies sal na haar toe stroom. Haar kinders sal aan haar drink. Sy sal hulle in haar arms dra en hulle op haar skoot vertroetel. Soos ’n moeder haar kind troos, so troos Ek julle. Julle sal veilig wees in Jerusalem.” Wanneer julle hierdie dinge sien gebeur, sal julle bly wees. Julle sal uitspruit soos groen gras. Die mag van die HERE sal geopenbaar word aan dié wat Hom dien, maar sy vyande sal Hy straf.

JESAJA 66:12-14 DB (Die Boodskap)

Die Here sê: Ek sal voorspoed na haar toe laat kom soos ’n rivier wat vloei. Ek sal die rykdom van ander nasies soos water in haar laat instroom. Soos ’n babatjie sal jy aan haar drink. Sy sal jou ronddra en jou vertroetel. Soos ’n ma haar kind troos, sal Ek julle vertroos. Ek sal julle veilig laat voel in Jerusalem. Wanneer julle sien wat met julle gebeur, sal julle baie bly word. Julle sal nuwe lewe kry soos groen gras wat uitloop. Dit sal duidelik word dat die Here sorg vir hulle wat vir Hom lewe, maar dat Hy sy vyande straf.

JESAJA 66:12-14 ABA (Bybel vir almal)

Ja, die Here sê: “Ek sal kom, Ek sal dit goed laat gaan en al die duur en mooi dinge van die volke vir Jerusalem gee. Dit sal soos 'n vol rivier na die stad kom. Jerusalem sal vir julle wees soos 'n ma wat haar kinders laat drink en hulle dra en hulle op haar skoot laat sit. Soos 'n seun veilig voel by sy ma, so sal Ek julle veilig laat voel. Julle sal veilig wees in Jerusalem. Julle sal sien dit gebeur met julle en julle sal bly wees, julle sal nuwe lewe kry soos groen gras.” Almal sal sien die Here is by sy dienaars, maar Hy is kwaad vir sy vyande.

JESAJA 66:12-14 AFR20 (Die Bybel 2020-vertaling)

Want so sê die HERE: “Kyk, Ek gaan vrede na haar toe afkeer soos 'n rivier, die luister van nasies soos 'n spruit in vloed; en julle sal drink. Op die heup sal julle gedra word, en op knieë gewieg word. Soos iemand se moeder hom troos, so sal Ek self julle troos; in Jerusalem sal julle getroos word. As julle dit sien, sal julle harte bly wees; julle gebeente sal soos groen plante gedy.” Die mag van die HERE sal bekend wees by sy diensknegte, en Hy sal sy vyande vervloek.

JESAJA 66:12-14 CAB23 (Contemporary Afrikaans Bible 2023)

Want so sê die HERE: Kyk, Ek gee vrede na haar toe soos 'n rivier en die heerlikheid van die heidene soos 'n vloeiende stroom; dan sal julle suig, op haar sye gedra word en op haar knieë geslinger word. Soos iemand wat sy moeder vertroos, so sal Ek julle troos; en julle sal vertroos word in Jerusalem. En as julle dit sien, sal julle hart bly wees, en julle gebeente sal bloei soos 'n plante; en die hand van die HERE sal bekend word aan sy dienaars en sy grimmigheid oor sy vyande.