JOB 28:12-28
JOB 28:12-28 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
“Maar weet mense waar om wysheid te vind? Waar sal hulle soek vir begrip? Niemand weet waar om dit te vind nie. Nêrens tussen die lewendes is dit te vind nie. ‘Dis nie hier nie,’ sê die oseaan. ‘Dis ook nie by my nie!’ sê die see. Jy kan dit nie met goud koop nie, jy kan nie silwer daarvoor afweeg nie. Die waarde daarvan is meer as al die goud van Ofir, en groter as die kosbare stene van oniks of saffiere. Wysheid is meer kosbaar as goud en kristal. Jy kan dit nie koop met goud-gemonteerde juwele nie. Koraal en kosbare kristal kan dit nie betaal nie. Wysheid het meer waarde as pêrels. Topaas uit Etiopië kan nie daarvoor ingeruil word nie, want die waarde daarvan is meer as die suiwerste goud. Maar weet mense waar om wysheid te vind? Waar kan hulle insig kry? Dit is weggesteek. Geen lewende wese kan dit sien nie. Selfs die voëls in die lug kan dit nie bespeur nie. Maar Verwoesting en Dood sê: ‘Ons het ’n gerug gehoor waar jy wysheid kan kry.’ God ken die weg daarheen, Hy alleen weet waar dit te vind is, want Hy kyk oor die hele aarde en sien alles onder die ganse hemel. Hy laat die winde waai en Hy bepaal hoeveel reën moet val. Hy maak die wette van die reën, en berei ’n pad vir die weerlig. Nadat Hy dit alles gedoen het, het Hy wysheid gesien en dit afgemeet. Hy het dit gevestig en deeglik getoets. Dit is wat Hy vir die mensdom sê: ‘Om die Here te dien is ware wysheid. Om die kwaad te vermy is ware insig.’”
JOB 28:12-28 Bybel vir almal (ABA)
Maar die wysheid, waar kry 'n mens dit? Waar kan jy leer om verstandig te wees? Mense weet nie hoe kosbaar die wysheid is nie, en jy sal dit nie in hierdie wêreld kry nie. Die diep water sê: ‘Die wysheid is nie in my nie,’ die see sê: ‘Die wysheid is nie by my nie.’ Jy kan nie wysheid koop nie, ook nie met goud nie, jy sal nie kan weeg hoeveel silwer dit sal kos nie. Jy kan nie daarvoor betaal met goud uit Ofir, of met kosbare oniks en saffier nie. Goud en glas sal nooit genoeg kan wees nie, jy kan nie wysheid ruil vir goue juwele nie. En koraal of kristal sal ook nie genoeg wees nie, en ook nie pêrels nie, wysheid is baie meer kosbaar as dit alles. Topaas uit die land Kus of die skoonste goud sal nie genoeg wees nie, jy kan nie daarmee betaal vir wysheid nie. Maar die wysheid, van waar kom dit? Waar kan jy leer om verstandig te wees? Niks wat lewe, kan die wysheid sien nie, ook nie die voëls in die lug nie. Die onderwêreld en die dood sê: ‘Ons het net gehoor dat mense praat van die wysheid, maar ons het dit nie gekry nie.’ Net God weet waar 'n mens wysheid kan kry, net Hy weet waar dit is, want Hy sien tot waar die aarde ophou, Hy sien alles onder die hemeldak. Toe God besluit het hoe sterk die wind moet wees en hoeveel water daar in die wolke moet wees, toe Hy besluit het waar die reën moet val en waarnatoe die donderstorm moet gaan, toe het Hy die wysheid gesien en Hy het daaroor gepraat, Hy het gesê hoe dit moet wees, en Hy het nog meer gedoen, Hy het die wysheid ook getoets. En toe het Hy vir die mense gesê: Wysheid is om die Here te respekteer en te dien. As jy verstandig wil wees, dan moet jy nie verkeerd doen nie.”
JOB 28:12-28 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
MAAR die wysheid — waar word dit gevind? En waar is die plek van verstand? Die mens ken nie die waarde daarvan nie, en dit word in die land van die lewende nie gevind nie. Die wêreldvloed sê: In my is dit nie; en die see sê: By my is dit nie. Fyn goud kan daarvoor nie gegee word nie, en geen silwer as koopprys daarvan afgeweeg word nie. Die goud van Ofir weeg daar nie teen op nie, ook nie die kosbare onikssteen en saffier nie. Goud en glas kan daarmee nie vergelyk word nie, en vir goue voorwerpe ruil 'n mens dit nie. Korale en kristal kan nie genoem word nie, en die besit van wysheid is meer werd as korale. Die topaas van Kus kan daarmee nie vergelyk word nie, suiwer goud word daarteen nie opgeweeg nie. HERE DIE wysheid dan — waar kom dit vandaan? En waar is die plek van die verstand? Ja, dit is verborge vir die oë van alles wat leef, en weggesteek vir die voëls van die hemel. Die plek van vertering en die dood sê: Met ons ore het ons die gerug daarvan gehoor. God weet die weg daarheen, en Hy ken die woonplek daarvan. Want Hý sien tot by die eindes van die aarde; alles wat onder die hemel is, aanskou Hy. Toe Hy vir die wind die gewig bepaal en die waters met die maat afgemeet het, toe Hy vir die reën 'n wet gestel het en 'n weg vir die onweerstraal, toe het Hy die wysheid gesien en dit verkondig; Hy het dit opgestel en dit ook deurvors. Maar aan die mens het Hy gesê: Kyk, die vrees van die HERE is wysheid; en om van die kwaad af te wyk, is verstand.
JOB 28:12-28 Afrikaans 1983 (AFR83)
Maar die wysheid, waar word dié gevind, waar is die woonplek van die insig? Die mens ken nie die waarde daarvan nie, en dit word nie in die land van die lewendes gevind nie. Die diep waters sê: ‘Dit is nie in my nie,’ die see sê: ‘By mý is dit nie!’ Goud kan dit nie koop nie, sy waarde kan nie in silwer afgeweeg word nie. Daarvoor kan nie betaal word met die goud van Ofir of met kosbare oniks en saffier nie; goud en glas kom nie daarby in waarde nie, vir voorwerpe van fyn goud kan 'n mens dit nie ruil nie. Koraal en kristal word nie eers gereken nie, wysheid is baie meer werd as pêrels. Topaas uit Kus kom nie daarby in waarde nie, selfs met suiwer goud kan jy nie daarvoor betaal nie. Die wysheid, waar kom dit vandaan? Waar is die woonplek van die insig? Dit is verborge vir al wat lewe, weggesteek selfs vir die voëls in die lug. Die onderwêreld en die dood sê: ‘Ons het maar net 'n gerug daaroor gehoor.’ Net God weet hoe die pad daarheen loop, net Hy ken die woonplek van die wysheid, want Hy sien die verste eindes van die aarde, Hy aanskou alles onder die hemel. Toe Hy die krag van die wind bepaal het en die waters uitgemeet het, toe Hy vir die reën reëls gemaak het en 'n pad vir die weerlig aangewys het, toe het Hy die wysheid gesien en daarvan vertel, toe het Hy dit vasgestel en deurvors. En Hy het vir die mens gesê: Om die Here te dien, dit is wysheid, om die kwaad te vermy, dit is insig.”
JOB 28:12-28 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Maar wysheid – waar word dit gevind, en waar is die plek van insig? 'n Sterflike mens ken nie die waarde daarvan nie, en in die land van die lewendes word dit nie gevind nie. Die diep waters sê: “In my is dit nie!” en die see sê: “Nie by my nie!” Suiwer goud kan nie daarvoor aangebied word nie, en silwer kan nie as koopprys daarvoor afgeweeg word nie. Met goud uit Ofir kan nie daarvoor betaal word nie, nie met kosbare •oniks of •lasuursteen nie. Goud en glas kan nie daarmee vergelyk word nie, en artikels uit fyngoud het nie ruilwaarde daarvoor nie. Pêrels en rotskristal word nie eers oorweeg nie; 'n sakkie wysheid is meer werd as korale. •Topaas uit Kus kan nie daarmee vergelyk word nie, met suiwer goud kan nie daarvoor betaal word nie. Maar wysheid – waar kom dit vandaan, en waar is die plek van insig? Dit is verborge vir die oë van alles wat leef, vir die voëls van die hemel is dit weggesteek. Die onderwêreld en die dood sê: “Net met ons ore het ons die gerug daarvan gehoor.” God het insig in die pad daarheen, Hy ken die plek daarvan. Want net Hy kyk tot by die eindes van die aarde; Hy sien alles onder die hemel, sodat Hy die gewig van die wind kan bepaal, en die hoeveelheid water kan vasstel. Toe Hy vir die reën vaste reëls neergelê het, 'n pad vir die harde donderslae, toe het Hy ook die wysheid gesien, en daarvan vertel; Hy het daaraan 'n vaste plek gegee, en dit ook deurgrond. Maar vir die mens het Hy gesê: “Kyk, ontsag vir die Heer, dit is wysheid, en om van kwaad weg te bly, is insig.”
JOB 28:12-28 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Maar waar sal wysheid gevind word? en waar is die plek van begrip? Die mens weet nie wat die prys daarvan is nie; en dit word nie in die land van die lewendes gevind nie. Die diepte sê: Dit is nie in My nie, en die see sê: Dit is nie by My nie. Dit kan nie vir goud verkry word nie, en silwer mag nie vir die prys daarvan geweeg word nie. Dit kan nie gewaardeer word met die goud van Ofir, met die kosbare oniks of die saffier nie. Die goud en die kristal kan dit nie gelyk wees nie, en die ruil daarvan mag nie wees vir juwele van fyn goud nie. Van koraal of pêrels mag geen melding gemaak word nie, want die prys van wysheid is bo robyne. Die topaas van Kus sal nie daaraan gelyk wees nie, en dit mag nie met suiwer goud gewaardeer word nie. Waar kom dan wysheid vandaan? en waar is die plek van begrip? aangesien dit verborge is vir die oë van al die lewendes en verborge gehou word van die voëls van die hemel. Verwoesting en dood sê: Ons het die gerug daarvan met ons ore gehoor. God verstaan die weg daarvan, en Hy ken die plek daarvan. Want Hy kyk na die eindes van die aarde en sien onder die hele hemel; Om die gewig vir die winde te maak; en hy weeg die waters volgens maat. Toe Hy 'n bevel gemaak het vir die reën en 'n weg vir die weerlig van die donder: Toe het hy dit gesien en dit verkondig; hy het dit berei, ja, en dit deursoek. En aan die mens het Hy gesê: Kyk, die vrees van die HERE, dit is wysheid; en om van die kwaad af te wyk, is insig.
JOB 28:12-28 Die Boodskap (DB)
“Maar waar kan ’n mens wysheid kry? Waar kom iets soos ‘om te kan verstaan’ vandaan? Niemand weet wat wysheid eintlik werd is nie. ’n Mens kry dit net nie onder die mense op hierdie aarde nie. Selfs die diep waters en die see sê: ‘Die wysheid is nie hier by ons nie.’ “’n Mens kan nie met goud vir wysheid betaal nie en met geld kan jy dit nie koop nie. Die waarde van wysheid kan nie eers vergelyk word met die fynste goud of kosbaarste diamante of saffiere nie. Goud en glans kan nie met die wysheid vergelyk word nie. Dit kan nie eers vir goue juwele verruil word nie. Koraal of kristal kan nie eers in dieselfde asem as wysheid genoem word nie. Dit is baie meer werd as pêrels. Selfs nie topaas wat uit Etiopië kom, kan daarmee vergelyk word nie. Dit is onmoontlik om die waarde van wysheid met suiwer goud te probeer bepaal. “Nou waar kom wysheid vandaan? Wat is die oorsprong van ‘verstaan’? Dit is weggesteek vir die mense van die aarde. Hulle kan dit net nie sien nie. Dit is selfs vir die voëls in die lug weggesteek. Ook die onderwêreld en die dood sê: ‘Ons het maar net ’n gerug daarvan gehoor.’ “Net God weet hoe ’n mens daarby kan uitkom en dit in die hande kan kry. Want Hy kyk so ver as die einde van die aarde. Hy kan ook alles sien wat onder die hemel is. Hy bepaal hoe sterk die wind sal waai. Hy sê ook presies hoe groot die see en riviere sal wees. Hy maak reëls vir die reën en wys die pad vir die weerlig aan. Toe Hy dit alles klaar gedoen het, het Hy wysheid raakgesien en gekyk wat sy werd is. Hy het wysheid deeglik ondersoek en haar toe goedgekeur. Die Here het toe vir die mensdom gesê: ‘Om vir die Here ontsag te hê en Hom te respekteer is om regtig wys te wees. Om slegte goed uit te los is om regtig insig te hê.’”