JOËL 1:1-10
JOËL 1:1-10 Bybel vir almal (ABA)
Die Here het met Joël gepraat. Joël was die seun van Petuel. Julle wat leiers is, moet luister, julle almal wat in die land woon, moet hoor wat die Here sê. Die dinge wat nou gebeur, het nog nooit voorheen gebeur nie. Julle moet dit vir julle kinders vertel, en julle kinders moet dit vir hulle kinders vertel, en hulle kinders moet dit ook vir hulle kinders vertel. Daar het baie sprinkane gekom, hulle het vier maal gekom, en elke maal het hulle al die plante opgevreet. Die mense wat altyd dronk is, moet nou wakker word en huil. Almal wat lief is vir wyn, moet huil, want daar is niks wyn om te drink nie. Die sprinkane was soos soldate wat sterk en baie is. Hulle het die land aangeval, hulle het tande en kakebene soos leeus. Hulle het die vyebome kaal gevreet en hulle het ook die wingerde verwoes. Hulle het die bome se bas afgevreet en uitgespoeg, die takke is kaal. Julle moet treur. Julle moet huil soos 'n jong meisie wat treur omdat haar verloofde dood is. Daar is nie koring-offers en drank-offers by die tempel van die Here nie. Daarom treur die priesters wat vir die Here werk. Daar groei niks op die koringland nie, die grond is droog. Daar is niks koring nie, die druiwe is droog en dood, en ook die olywe.
JOËL 1:1-10 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
DIE woord van die HERE wat tot Joël, die seun van Pétuel, gekom het. Hoor dit, o oudstes, en luister, alle inwoners van die land! Het so iets ooit in julle dae of in die dae van julle vaders plaasgevind? Vertel daarvan aan julle kinders, en julle kinders aan hulle kinders, en húlle kinders aan die volgende geslag: Wat die afknyper laat oorbly het, het die treksprinkaan verslind; en wat die treksprinkaan laat oorbly het, het die voetganger verslind; en wat die voetganger laat oorbly het, het die kaalvreter verslind. Word wakker, julle dronkaards, en ween! En huil, al julle wyndrinkers! Oor die mos, omdat dit van julle mond weggeruk is. Want 'n sterk en ontelbare nasie het opgetrek oor my land; sy tande is leeutande, en dit kan byt soos 'n leeuin. Dit het my wingerdstok verwoes en my vyeboom versplinter; dit het ál sy bas afgeskil en weggegooi; die lote daarvan het wit geword. Weeklaag soos 'n jonkvrou wat oor die bruidegom van haar jeug met 'n roukleed omgord is. Spysoffer en drankoffer is ontruk aan die huis van die HERE; die priesters, die dienaars van die HERE, treur. Die veld is verwoes, die akkerland treur; want die koring is verwoes, die mos het weggedroog, die olie het verdwyn.
JOËL 1:1-10 Afrikaans 1983 (AFR83)
Dit is die woord van die Here wat gekom het tot Joël seun van Petuel: Luister hierna, leiers van die volk, gee aandag, al die inwoners van die land! Het so iets al in julle tyd gebeur of in dié van julle voorvaders? Vertel dit aan julle kinders, en laat hulle dit weer aan húlle kinders vertel, en dié weer aan húlle nageslag! Wat nie deur die eerste sprinkaanswerm opgevreet word nie, word deur 'n volgende opgevreet; wat nie deur dié opgevreet word nie, deur 'n derde, en wat nie deur dié opgevreet word nie, deur 'n vierde. Word nugter, dronkaards, en huil; kla oor die wyn wat julle nie meer sal kry nie, al julle wynsuipers! 'n Volk trek op teen my land; die volk is sterk en sonder getal; sy tande is soos dié van 'n leeu, sy kakebene soos dié van 'n leeumannetjie. Hy het my wingerd verwoes, my vyeboom afgebreek, dit kaalgestroop en laat lê; die lote se bas is afgevreet. Julle moet rou soos 'n bruid rou oor haar bruidegom. Die graanoffer en die drankoffer is weggeneem uit die huis van die Here. Die priesters wat in die diens van die Here staan, treur. Die weiding is weggevreet, die veld treur. Die koringoes is weggevreet, van die wyn het daar niks gekom nie; die olyfolie het verdwyn.
JOËL 1:1-10 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Dit is die woord van die HERE aan Joël, seun van Petuel. Luister hierna, oudstes, gee aandag, al die inwoners van die land! Het so iets al in julle leeftyd gebeur, of in die leeftyd van julle voorouers? Hiervan moet julle vir julle kinders vertel, en julle kinders vir hulle kinders, en hulle kinders vir die volgende geslag. Wat die ruspes laat oorbly het, het die treksprinkane opgevreet; wat die treksprinkane laat oorbly het, het die voetgangersprinkane opgevreet, wat die voetgangers laat oorbly het, het die kaalvretersprinkane opgevreet. Skrik wakker, dronkaards, en huil, huil verdrietig, alle drinkebroers, oor die sap van druiwe, want dit is voor julle monde weggeruk! Want, 'n nasie het opgetrek teen my land, magtig en ontelbaar. Hulle tande is die tande van 'n leeu, hulle het die kake van 'n leeuwyfie. Hulle het verwoesting aangerig in my wingerd, en van my vyebome fynhout gemaak. Hulle het dit heeltemal kaal gestroop, dit laat val; die druiweranke staan wit gebleik. Huil soos 'n jongmeisie wat rouklere aantrek oor die verloofde van haar jeug. Die voorsiening van •graan- en •drankoffers aan die •tempel van die HERE is afgesny. Die priesters treur, hulle wat in diens van die HERE staan. Die landerye is vernietig, die grond is uitgedor. Ja, die koring is vernietig, die •nuwe wyn het opgedroog, die olyfoes het weggekwyn.
JOËL 1:1-10 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Die woord van die HERE wat tot Joël, die seun van Petuel, gekom het. Hoor dit, ou manne, en luister, alle inwoners van die land. Was dit in julle dae of selfs in die dae van julle vaders? Vertel julle kinders daarvan, en laat julle kinders dit aan hulle kinders vertel, en hulle kinders 'n ander geslag. Wat die palmwurm oorgebly het, het die sprinkaan geëet; en wat die sprinkaan oorgebly het, het die kankerwurm geëet; en wat die kankerwurm oorgebly het, het die ruspe geëet. Ontwaak, julle dronkaards, en ween; en huil, alle wyndrinkers, oor die nuwe wyn; want dit is van jou mond afgesny. Want 'n nasie het opgetrek oor my land, sterk en ontelbaar, wie se tande die tande van 'n leeu is, en hy het die wangtande van 'n groot leeu. Hy het my wingerdstok verwoes en my vyeboom geblaf; Hy het dit kaal gemaak en weggegooi; sy takke word wit gemaak. Klaag soos 'n maagd wat met rouklere omgord is oor die man van haar jeug. Die spysoffer en die drankoffer word uit die huis van die HERE uitgeroei; die priesters, die dienaars van die HERE, treur. Die veld is verwoes, die land treur; want die koring is vermors, die mos het opgedroog, die olie kwyn.
JOËL 1:1-10 Die Boodskap (DB)
Hier volg die Here se boodskap aan sy volk deur Joël, die seun van Petuel. Luister hierna, leiers van die volk! Maak oop julle ore, inwoners van die land! Het julle al ooit so iets in julle geskiedenis beleef? In die jare wat kom, moet julle dit vir julle kinders vertel. Hierdie aaklige verhaal moet van geslag tot geslag oorvertel word. Die een swerm sprinkane na die ander het in julle oeste ingevaar. Wat die een swerm gelos het, het die volgende een verwoes. Hulle het aangehou om in julle oeste in te vlieg totdat hulle alles opgevreet het. Word wakker en huil, julle klomp dronklappe! Al die druiwe waarmee julle nuwe wyn wou maak, is verwoes. Huil oor die wyn wat julle nie meer sal drink nie, julle spul wynsuipers! ’n Groot sprinkaanplaag het ons land getref; hulle is verskriklik sterk, te veel om te tel. Hulle tande is vlymskerp soos dié van ’n leeu. Hulle het ons wingerde verwoes en al ons vyebome opgevreet. Hulle het selfs die bas van die jong lote afgevreet. Net die kaal, wit stamme het oorgebly. Huil van hartseer soos ’n jongmeisie wat rou oor haar verloofde wat dood is voordat hulle kon trou. Luister hoe huil die priesters omdat daar nie koring of wyn is om by die tempel aan die Here te offer nie. Die weiding is weggevreet en die lande verwoes. Van die koringoes, die druiweoes en die olyfoes het daar net mooi niks gekom nie.
JOËL 1:1-10 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Joël was die seun van Petuel. Hy het die volgende boodskap van die HERE ontvang. Luister, leiers van die volk! Ook al julle inwoners van die land, luister hierna! Het so iets al vantevore in julle geskiedenis gebeur? Vertel dit vir julle kinders en julle kleinkinders en hulle weer vir geslagte wat nog kom. Snysprinkane het die oes kom opvreet. Wat oorgebly het, het die swermsprinkane verder verorber. Ná hulle het die jong sprinkane gekom, en wat hulle nog oor gelos het, het nog ’n swerm kom opvreet! Word wakker, al julle dronklappe! Huil! Al julle druiwe is tot niet, julle nuwe wyn is vir julle verlore! ’n Verskriklike groot en magtige nasie het my land ingeval. Die nasie se tande is so skerp soos dié van leeus! Hulle het my wingerde en vyebome vernietig. Hulle het die bas afgetrek en die wit, kaalgestroopte takke weggegooi. Treur soos ’n jong meisie wat huil oor die dood van haar bruidegom. Daar is nie graan of wyn om by die tempel van die HERE te offer nie. Die priesters wat diens doen vir die HERE treur daaroor. Die weiding is verwoes, die aarde in ’n jammerlike toestand. Die koring, die wyn en die olywe is alles tot niet.