LUKAS 8:22-56
LUKAS 8:22-56 Bybel vir almal (ABA)
Eendag het Jesus saam met sy dissipels in 'n boot geklim. Jesus sê toe vir hulle: “Kom ons gaan na die ander kant van die see.” Hulle het dit gedoen. Voordat hulle daar was, het Jesus aan die slaap geraak. Skielik het 'n sterk stormwind oor die see begin waai. Die boot het vol water geword en dit het gevaarlik geword vir hulle. Die dissipels gaan toe na Jesus toe en hulle maak Hom wakker. Hulle het vir Hom gesê: “Meneer, Meneer, ons sal verdrink.” Toe Jesus wakker word, het Hy kwaai gepraat met die wind en die groot branders. Die wind het opgehou waai, en alles het stil geword. Jesus sê toe vir die dissipels: “Hoekom glo julle nie?” Maar die dissipels het baie groot geskrik en hulle was baie verbaas. Hulle het vir mekaar gevra: “Wie is hierdie Man? Hy sê vir die wind en die water hulle moet stil wees, en dan luister hulle na Hom!” Jesus en sy dissipels het toe verder gegaan tot by die land waar die Geraseners gewoon het, oos van Galilea. Toe hulle uit die boot klim, kom daar 'n man uit die stad na Jesus toe. Die man was vol duiwels, hy was mal. Hy het 'n lang tyd niks klere gedra nie en hy het nie in 'n huis gewoon nie. Hy het in die grafte gewoon. Toe die man vir Jesus sien, het hy hard geskree en voor Jesus op die grond geval. Hy het hard geskree: “Wat wil U met my doen, Jesus, Seun van die Allerhoogste God? Ek soebat U, U moenie vir my seermaak nie, asseblief.” Die man het dit gesê omdat Jesus vir die onrein gees gesê het hy moet uit die man uitgaan. Voorheen het die onrein gees die man baie maal aangeval. Dan moes die mense die man vasbind met kettings en voetboeie en hulle moes hom toesluit. Maar die man het altyd die kettings en boeie stukkend gebreek en dan het die duiwel hom in die woestyn ingejaag. Jesus vra toe vir die man: “Wat is jou naam?” En hy het geantwoord: “My naam is Legioen.” Hy het hierdie naam gekry omdat baie duiwels in hom gewoon het. Die duiwels het Jesus gesoebat om hulle nie na die onderwêreld te stuur nie. 'n Groot trop varke het teen die kant van die berg gewei. Die duiwels het vir Jesus gesoebat om hulle in die varke te laat ingaan. Jesus het gesê hulle mag dit doen. Die duiwels het uit die man uitgegaan en hulle het in die varke ingegaan. Die varke het teen die berg afgehardloop tot binne-in die see. Daar het almal verdrink. Die wagters wat die varke opgepas het, het gesien wat gebeur het. Hulle het weggehardloop en hulle het alles gaan vertel in die stad en op die plase. Die mense het gekom om te sien wat gebeur het. Toe hulle by Jesus kom, sien hulle die man, die duiwels het uit hom uitgegaan. Hy het by die voete van Jesus gesit. Hy het klere aangehad. Daar was nie meer duiwels in hom nie, hy was nie meer mal nie. Die mense het groot geskrik. Die ander mense wat gesien het hoe Jesus die man gered het wat vol duiwels was, vertel toe alles. Al die mense in die land waar die Gerasene gewoon het, het vir Jesus gevra om weg te gaan van hulle, want hulle almal het baie bang geword. Jesus het toe in die boot geklim en weggegaan. Die man uit wie die duiwels gegaan het, het gesoebat om saam met Jesus te gaan. Maar Jesus het die man weggestuur en Hy het vir hom gesê: “Gaan terug na jou huis en vertel vir die mense alles wat God vir jou gedoen het.” Die man het weggegaan en hy het vir almal in die stad vertel wat Jesus vir hom gedoen het. Jesus het teruggegaan na die provinsie Galilea. Baie mense het na Hom toe gekom, want almal het vir Hom gewag om te kom. 'n Man het na Jesus toe gekom. Sy naam was Jaïrus. Hy was 'n belangrike man in die sinagoge. Hy het voor Jesus op die grond gekniel en hy het vir Jesus gesoebat om na sy huis te kom. Jaïrus se enigste dogtertjie was baie siek, sy was naby haar dood. Sy was twaalf jaar oud. Jesus het na haar toe gegaan. Daar was so baie mense dat hulle teen Jesus gedruk het. Daar was 'n vrou wat twaalf jaar lank siek was. Sy het aangehou bloei. Sy het al haar geld gebruik om die dokters te betaal, maar niemand kon haar gesond maak nie. Die vrou het van agter gekom en sy het aan die soom van Jesus se klere geraak. Sy het toe dadelik opgehou bloei. Jesus het gevra: “Wie het aan My geraak?” Almal het gesê hulle het nie aan Hom geraak nie. Petrus het gesê: “Here, hier is baie mense wat teen U druk.” Maar Jesus het gesê: “Iemand het aan My geraak, want Ek het gevoel daar gaan krag uit My.” Die vrou het gesien Jesus weet van haar. Sy het gebewe en sy het nader gekom en voor Jesus gekniel. Toe vertel sy daar voor al die mense hoekom sy aan Hom geraak het en dat sy dadelik gesond geword het. Jesus het vir haar gesê: “Mevrou, jy het nou gesond geword, want jy het geglo. Gaan nou huis toe, dit sal goed gaan met jou.” Een van Jaïrus se mense het daar aangekom terwyl Jesus besig was om te praat. Die man het vir Jaïrus gesê: “Jou dogtertjie is dood. Jy moenie die Meneer nog pla nie.” Maar Jesus het dit gehoor en Hy het vir Jaïrus gesê: “Jy moenie bang wees nie. Jy moet net glo, dan sal God jou dogter red.” Toe Jesus by Jaïrus se huis kom, wou Hy nie hê die ander mense moet saam met Hom in die huis ingaan nie. Hy het net vir Petrus en Johannes en Jakobus en die ouers van die kind saamgeneem. Die mense het almal gehuil en getreur oor die dogtertjie. Maar Jesus het gesê: “Julle moenie huil nie, want die dogtertjie is nie dood nie, sy slaap.” Die mense het vir Jesus gelag, want hulle het geweet die dogtertjie is dood. Toe neem Jesus haar hand en Hy sê: “Kind, staan op.” Die dogtertjie het weer begin lewe en sy het dadelik opgestaan. Jesus het toe gesê hulle moet vir haar iets gee om te eet. Haar ouers was baie bly, maar Jesus het vir hulle gesê hulle mag glad nie vir iemand vertel wat gebeur het nie.
LUKAS 8:22-56 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
EN op een van daardie dae het Hy en sy dissipels in 'n skuit gegaan; en Hy het vir hulle gesê: Laat ons oorvaar na die oorkant van die see. En hulle het weggevaar. En terwyl hulle seil, raak Hy aan die slaap. Toe kom daar 'n stormwind op die see af en die skuit het begin vol word, en hulle was in gevaar. En hulle het na Hom gegaan en Hom wakker gemaak en gesê: Meester, Meester, ons vergaan! Hy staan toe op en bestraf die wind en die watergolwe, en hulle het bedaar en daar het 'n stilte gekom. En Hy sê vir hulle: Waar is julle geloof? Maar hulle was bang en verwonderd en het vir mekaar gesê: Wie is Hy tog, dat Hy selfs die winde en die water gebied en hulle Hom gehoorsaam is! EN hulle het geseil na die land van die Gadaréners, wat reg anderkant Galiléa is. En toe Hy aan wal uitklim, kom 'n sekere man uit die stad Hom tegemoet, wat vir 'n geruime tyd van duiwels besete was en geen klere gedra het nie; hy het ook nie in 'n huis gewoon nie, maar in die grafte. En toe hy Jesus sien, skreeu hy uit en val voor Hom neer en sê met 'n groot stem: Wat het ons met U te doen, Jesus, Seun van die allerhoogste God? Ek bid U, moet my nie pynig nie — want Hy het aan die onreine gees bevel gegee om uit die man uit te gaan. Want baiekeer het hy hom saamgesleep; en hulle het hom gebind met kettings en voetboeie om oor hom wag te hou; maar hy het die boeie uitmekaar geruk, en die duiwel het hom in die woestyne gedrywe. Daarop vra Jesus hom en sê: Wat is jou naam? En hy antwoord: Legio — want baie duiwels het in hom ingevaar. En hulle het Hom gesmeek dat Hy hulle nie sou beveel om in die onderwêreld af te vaar nie. En daar het 'n groot trop varke op die berg gewei. Toe smeek hulle Hom dat Hy hulle sou toelaat om in dié varke in te vaar. En Hy het hulle toegelaat. Daarop gaan die duiwels uit die man uit en vaar in die varke in, en die trop het van die krans af in die see gestorm en verdrink. En toe die wagters sien wat gebeur het, het hulle gevlug en dit in die stad en in die buitewyke gaan vertel. Daarop het hulle uitgegaan om te sien wat gebeur het; en hulle het by Jesus gekom en die man gevind uit wie die duiwels uitgevaar het, terwyl hy aan die voete van Jesus sit, gekleed en by sy verstand. En hulle het gevrees. En die wat ooggetuies was, het ook aan hulle vertel hoe die besetene genees is. En die hele menigte van die omtrek van die Gadaréners het Hom gevra om van hulle weg te gaan, omdat hulle deur 'n groot vrees bevang was. Toe het Hy in die skuit geklim en teruggegaan. En die man uit wie die duiwels uitgevaar het, het Hom gebid om by Hom te kan bly. Maar Jesus het hom laat gaan en gesê: Gaan terug na jou huis en vertel watter groot dinge God aan jou gedoen het. En hy het gegaan en deur die hele stad verkondig watter groot dinge Jesus aan hom gedoen het. EN toe Jesus terugkom, het die skare Hom verwelkom; want almal was Hom te wagte. En daar kom 'n man wie se naam Jaïrus was, en hy was 'n owerste van die sinagoge; en hy val voor die voete van Jesus neer en smeek Hom om na sy huis te kom; want sy enigste dogter van omtrent twaalf jaar het op sterwe gelê. En terwyl Hy gaan, het die skare Hom verdring. En 'n vrou wat twaalf jaar lank aan bloedvloeiing gely het, en wat haar hele vermoë aan geneeshere uitgegee het en deur niemand gesond gemaak kon word nie, het van agter af gekom en die soom van sy kleed aangeraak, en haar bloedvloeiing het onmiddellik opgehou. Daarop sê Jesus: Wie is dit wat My aangeraak het? En toe almal dit ontken, sê Petrus en die wat by hom was: Meester, die skare druk en verdring U, en U sê: Wie is dit wat My aangeraak het? Maar Jesus antwoord: Iemand het My aangeraak, want Ek het gemerk dat krag van My uitgegaan het. En toe die vrou sien dat sy nie verborge gebly het nie, kom sy bewende en val voor Hom neer en vertel Hom voor die hele volk om watter rede sy Hom aangeraak het en hoe sy onmiddellik gesond geword het. En Hy sê vir haar: Hou goeie moed, dogter, jou geloof het jou gered. Gaan in vrede. Terwyl Hy nog spreek, kom daar iemand van die owerste van die sinagoge se huis en sê vir hom: U dogter is dood, moenie die Meester lastig val nie. Maar toe Jesus dit hoor, antwoord Hy hom en sê: Moenie vrees nie. Glo net, en sy sal gered word. En toe Hy in die huis kom, het Hy niemand toegelaat om in te gaan nie, behalwe Petrus en Jakobus en Johannes en die vader en die moeder van die meisie. En almal het gehuil en oor haar rou bedryf. Maar Hy sê: Moenie huil nie; sy is nie dood nie, maar slaap. En hulle het Hom uitgelag, want hulle het geweet dat sy dood was. En toe Hy almal na buite uitgejaag het, gryp Hy haar hand en roep uit en sê: Dogtertjie, staan op! En haar gees het teruggekom, en sy het onmiddellik opgestaan; en Hy het beveel dat hulle haar iets te ete moes gee. En haar ouers was verbaas, maar Hy het hulle bevel gegee om aan niemand te sê wat gebeur het nie.
LUKAS 8:22-56 Afrikaans 1983 (AFR83)
Op 'n dag het Jesus en sy dissipels in 'n skuit geklim en Hy het vir hulle gesê: “Kom ons gaan na die oorkant van die meer toe.” Hulle vaar toe weg, en terwyl hulle seil, raak Jesus aan die slaap. 'n Hewige stormwind het op die meer losgebars en die skuit het vol water begin word sodat hulle in lewensgevaar was. Hulle gaan toe na Jesus toe en maak Hom wakker met die uitroep: “Meneer, Meneer, ons vergaan!” Toe staan Hy op en bestraf die wind en die golwe. Hulle het bedaar, en daar het stilte gekom. Toe sê Jesus vir hulle: “Waar is julle geloof dan?” Maar hulle was verskrik en verbaas en het vir mekaar gesê: “Wie is Hy tog? Hy gee bevele aan wind en water, en hulle is aan Hom gehoorsaam!” Daarna het hulle verder gevaar na die land van die Geraseners, wat reg teenoor Galilea lê. Toe Jesus daar aan wal gaan, het 'n man van 'n dorp af Hom tegemoet gekom. Hy was van bose geeste besete en het 'n hele tyd al nie meer klere gedra nie en ook nie in 'n huis gebly nie, maar tussen grafte. Toe hy Jesus sien, skreeu hy en val op sy knieë voor Hom neer terwyl hy hard uitroep: “Wat het U met my te doen, Jesus, Seun van God die Allerhoogste? Ek smeek U, moet my nie pynig nie!” Dit het hy gesê omdat Jesus die onrein gees beveel het om uit die man uit te gaan. Dit was 'n bose gees wat hom al baie keer beetgepak het. Al het hulle hom met hand- en voetboeie vasgemaak om hom in bedwang te hou, het hy die boeie uitmekaar geruk en is hy deur die bose gees die woestyn in gejaag. Toe vra Jesus hom: “Wat is jou naam?” “Legio,” antwoord hy, want daar het baie bose geeste in hom ingevaar. Hulle het Jesus gesmeek om hulle nie na die onderaardse diepte toe terug te stuur nie. Daar het 'n hele trop varke teen die berg geloop. Die bose geeste het Jesus gesmeek om hulle toe te laat om in die varke in te vaar. Hy het hulle dit toegelaat, en die bose geeste het uit die man uitgegaan en in die varke ingevaar. Die trop sit toe op loop teen die hang af, die see in, en hulle versuip. Toe die wagters sien wat gebeur het, hardloop hulle weg en gaan vertel dit in die dorp en op die plase. Die mense gaan kyk toe wat gebeur het. Hulle kom by Jesus en daar kry hulle die man uit wie die bose geeste uitgevaar het. Hy sit by die voete van Jesus, met klere aan en by sy volle verstand, en hulle het bang geword. Maar dié wat dit gesien het, het vir hulle vertel hoe die besetene genees is. Toe het al die inwoners van die gebied van die Geraseners vir Jesus gevra om van hulle af weg te gaan omdat hulle baie bang was. Hy het toe in die skuit geklim en teruggegaan. Die man uit wie die bose geeste uitgevaar het, het Jesus gesmeek om by Hom te kan bly. Maar Jesus het hom weggestuur en gesê: “Gaan terug na jou huis toe en vertel alles wat God vir jou gedoen het.” Hy het toe gegaan en die hele dorp deur bekend gemaak wat Jesus vir hom gedoen het. Toe Jesus van die oorkant af terugkom, het die mense Hom verwelkom, want almal was Hom te wagte. Skielik kom daar 'n man aan. Dit was Jaïrus, 'n raadslid van die sinagoge. Hy het op sy knieë voor Jesus se voete geval en Hom gesmeek om na sy huis toe te kom, want sy enigste dogter het op sterwe gelê. Sy was omtrent twaalf jaar oud. Op pad daarheen het die mense om Jesus saamgedrom. Onder hulle was 'n vrou wat al twaalf jaar lank aan bloedvloeiing gely het. Sy het alles wat sy gehad het aan dokters uitgegee, maar niemand kon haar gesond maak nie. Sy het nader gekom en van agter af aan die soom van sy klere geraak, en haar bloedvloeiing het onmiddellik opgehou. Jesus vra toe: “Wie het My aangeraak?” Toe almal ontken dat dit hulle is, sê Petrus: “Here, die mense dring tog rondom U saam en druk teen U.” Maar Jesus sê: “Iemand het My aangeraak, want Ek het agtergekom dat daar krag van My uitgegaan het.” Toe die vrou sien Hy weet dit is sy, het sy van angs gebewe en voor Hom kom neerval. Daar voor al die mense vertel sy Hom toe waarom sy Hom aangeraak het en hoe sy onmiddellik gesond geword het. Toe sê Hy: “Dogter, jou geloof het jou gered. Gaan in vrede!” Terwyl Hy nog praat, kom daar iemand van die raadslid van die sinagoge se huis af om te sê: “U dogter is al dood. Moenie nog ons Leermeester lastig val nie.” Maar Jesus het dit gehoor en sê vir hom: “Moet jou nie ontstel nie. Glo net, en sy sal gered word.” Toe Jesus by die huis kom, het Hy niemand toegelaat om saam met Hom in te gaan nie, behalwe Petrus, Johannes en Jakobus, en die kind se pa en ma. Die mense daar het almal gehuil en oor haar rou bedryf. Maar Jesus sê: “Moenie huil nie, want sy is nie dood nie, sy slaap net.” Hulle het Hom uitgelag, want hulle was seker dat sy dood is. Maar Jesus het haar hand gevat en uitgeroep: “Dogtertjie, staan op!” Haar lewe het teruggekom, en sy het onmiddellik opgestaan. Toe gee Jesus opdrag dat hulle vir haar iets te ete moet gee. Haar ouers was stom van verbasing, en Jesus het hulle verbied om vir iemand te vertel wat gebeur het.
LUKAS 8:22-56 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Op 'n sekere dag het Jesus en sy dissipels in 'n boot geklim, en Hy het vir hulle gesê: “Kom ons gaan na die oorkant van die meer,” en hulle het uitgevaar. Tydens die vaart het Hy aan die slaap geraak. 'n Hewige stormwind het op die meer neergeswiep. Die boot het vol water begin word, en hulle was in lewensgevaar. Hulle het Jesus gaan wakker maak en uitgeroep: “Meester, Meester, ons vergaan!” Hy het opgestaan en die wind en die stormsee bestraf. Dit het bedaar, en alles het kalm geword. Toe sê Hy vir hulle: “Waar is julle geloof?” Hulle was met ontsag vervul en verwonderd, en het vir mekaar gesê: “Wie is Hy tog dat Hy die winde en die water bestraf en hulle Hom gehoorsaam?” Hierna het hulle verder gevaar na die land van die Geraseners, wat oorkant Galilea geleë is. Toe Jesus aan wal stap, het 'n man wat in die mag van demone was, Hom uit die dorp tegemoet gegaan. Hy het al vir 'n hele ruk nie meer klere gedra nie, en ook nie in 'n huis gebly nie, maar tussen die rotsgrafte. Toe hy Jesus sien, het hy uitgeroep, voor Hom neergeval en met 'n harde stem geskreeu: “Los my uit, Jesus, •Seun van God, die Allerhoogste! Ek smeek U, moet my nie pynig nie!” Want Jesus was op die punt om die •onrein gees wat hom al baie kere beetgepak het, te beveel om uit die man uit te gaan. Hulle het hom voortdurend met hand- en voetboeie geboei om hom in bedwang te hou, maar hy het die boeie uitmekaar geruk, en is deur die demoon na verlate plekke gedryf. Jesus het hom gevra: “Wat is jou naam?” “Legioen,” het hy geantwoord, want baie demone het in hom ingevaar. Hulle het Jesus gesmeek om hulle nie na die onpeilbare diepte te laat weggaan nie. Daar het 'n taamlike groot trop varke teen die berghang gewei. Hulle het Hom gesmeek om hulle toe te laat om in die varke in te vaar, en Hy het hulle toegelaat. Die demone het uit die man uitgegaan en in die varke ingevaar. Die trop het op loop gesit teen die helling af, die see in, en versuip. Toe die wagters dit sien gebeur, het hulle op die vlug geslaan en dit in die dorp en op die platteland gaan vertel. Die mense het gaan kyk na wat gebeur het, en toe hulle by Jesus aankom, vind hulle die man uit wie die demone uitgegaan het, waar hy by Jesus se voete sit, met klere aan en by sy volle verstand; en hulle het bang geword. Diegene wat dit gesien het, het vir hulle vertel hoe die besetene gered is. Toe het al die inwoners van die omgewing van Gerasa Jesus versoek om van hulle af weg te gaan, omdat hulle deur groot angs oorval is. Hy het toe in die boot geklim en teruggekeer. Die man uit wie die demone uitgegaan het, het Jesus gesmeek om by Hom te kon bly. Maar Hy het hom weggestuur en gesê: “Gaan terug na jou huis en vertel daar wat God alles vir jou gedoen het.” Hy het toe weggegaan en dwarsdeur die dorp bekend gemaak wat Jesus vir hom gedoen het. Met Jesus se terugkoms het die skare Hom verwelkom, omdat almal vir Hom gewag het. Kyk, daar kom toe 'n man aan met die naam Jaïrus. Hy was 'n leier van die •sinagoge. Hy het voor Jesus se voete neergeval en Hom gesmeek om na sy huis te kom, omdat sy enigste dogter, ongeveer twaalf jaar oud, op sterwe gelê het. Op pad daarheen het die skares Jesus verdring. Onder hulle was daar 'n vrou wat al twaalf jaar lank aan bloedvloeiing gely het en reeds alles wat sy besit, aan dokters bestee het, maar sy kon deur niemand genees word nie. Sy het van agter af nader gekom en die soom van sy bokleed aangeraak – en haar bloedvloeiing het onmiddellik opgehou. “Wie het My aangeraak?” het Jesus gevra. Toe almal dit ontken, het •Petrus gesê: “Meester, die skare dring tog rondom U saam en druk teen U aan.” Maar Jesus het gesê: “Iemand het My aangeraak, want Ek het agtergekom dat daar krag uit My vloei.” Toe die vrou besef dat haar optrede nie ongemerk verbygegaan het nie, het sy bewend voor Hom kom neerval. Sy het toe voor die hele volk vertel waarom sy Hom aangeraak het en hoe sy onmiddellik gesond geword het. Toe sê Hy vir haar: “Dogter, jou geloof het jou gered. Gaan in vrede! ” Terwyl Hy nog praat, kom daar iemand van die leier van die sinagoge se huis af en sê: “U dogter is nou net dood. Moenie die leermeester langer lastig val nie.” Maar Jesus het dit gehoor en vir hom gesê: “Moenie ontsteld wees nie. Glo net, en sy sal gered word.” Toe Jesus by die huis aankom, het Hy niemand toegelaat om saam met Hom in te gaan nie, behalwe Petrus, Johannes, Jakobus, en die kind se vader en moeder. Almal het gehuil en gerou oor haar. Maar Jesus het gesê: “Moenie huil nie, want sy het nie gesterf nie, maar slaap net.” Hulle het Hom egter uitgelag, omdat hulle geweet het dat sy gesterf het. Maar Jesus het haar aan die hand geneem en uitgeroep: “Meisie, word wakker!” Haar gees het teruggekeer, en sy het dadelik opgestaan. Jesus het beveel dat hulle vir haar iets te ete moet gee. Haar ouers was oorstelp van blydskap, maar Jesus het hulle opdrag gegee om vir niemand te vertel wat gebeur het nie.
LUKAS 8:22-56 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En op 'n sekere dag het Hy saam met sy dissipels in 'n skip geklim, en Hy sê vir hulle: Kom ons gaan oor na die oorkant van die meer. En hulle het weggespring. Maar terwyl hulle vaar, het hy aan die slaap geraak, en 'n stormwind het op die meer neergedaal; en hulle was vol water en was in gevaar. En hulle het na Hom gekom en Hom wakker gemaak en gesê: Meester, Meester, ons vergaan. Toe staan hy op en bestraf die wind en die woedende water; en hulle het opgehou, en daar het stilte gekom. En Hy sê vir hulle: Waar is julle geloof? En toe hulle bevrees was, het hulle verwonder en vir mekaar gesê: Watter man is dit? want Hy beveel selfs die winde en die water, en hulle is Hom gehoorsaam. En hulle het aangekom by die land van die Gadareners wat teenoor Galilea lê. En toe hy uitgaan na die land, kom daar 'n sekere man uit die stad hom tegemoet wat lank duiwels gehad het en geen klere gedra het nie, en ook nie in enige huis gebly nie, behalwe in die grafte. Toe hy Jesus sien, het hy uitgeroep en voor hom neergeval en met 'n groot stem gesê: Wat het ek met U te doen, Jesus, Seun van God, die Allerhoogste? Ek smeek U, pynig my nie. (Want Hy het die onrein gees beveel om uit die mens uit te gaan, want dikwels het dit hom gevang, en hy is met kettings en boeie geboei, en hy het die bande verbreek en deur die duiwel in die woestyn gedryf.) En Jesus het hom gevra en gesê: Wat is jou naam? En hy sê: Legio, want baie duiwels het in hom ingevaar. En hulle het Hom gesmeek dat Hy hulle nie sou beveel om in die diepte uit te gaan nie. En daar was 'n trop baie varke wat op die berg gewei het, en hulle het Hom gesmeek dat Hy hulle sou toelaat om in hulle in te gaan. En hy het hulle verdra. Toe het die duiwels uit die man uitgegaan en in die varke ingegaan; Toe die wat hulle gevoed het, sien wat gebeur het, het hulle gevlug en gegaan en dit in die stad en in die land vertel. Toe het hulle uitgegaan om te kyk wat gebeur het; en na Jesus gekom en die man gevind uit wie die duiwels uitgegaan het, sit aan die voete van Jesus, geklee en by sy volle verstand; en hulle was bevrees. Die wat dit gesien het, het ook vir hulle gesê hoe hy wat van die duiwels besete was, genees is. Toe het die hele menigte van die land van die Gadareners rondom Hom gesmeek om van hulle af weg te gaan; en hy het in die skuit geklim en teruggekeer. En die man uit wie die duiwels uitgegaan het, het Hom gesmeek om by hom te wees, maar Jesus het hom weggestuur en gesê: Keer terug na jou huis en vertel hoe groot dinge God aan jou gedoen het. En hy het weggegaan en in die hele stad bekend gemaak hoe groot dinge Jesus aan hom gedoen het. En toe Jesus terugkom, het die mense Hom met blydskap ontvang, want almal het Hom gewag. En kyk, daar kom 'n man met die naam van Jaïrus, en hy was 'n owerste van die sinagoge; en hy het voor Jesus se voete neergeval en Hom gesmeek om in sy huis te kom. Want hy het een enigste dogter gehad, omtrent twaalf jaar oud, en sy het op sterwende gelê. Maar terwyl hy gegaan het, het die mense hom saamgedrom. En 'n vrou wat twaalf jaar lank bloedvloeiing gehad het, wat haar hele lewe aan geneeshere deurgebring het, en van niemand genees kon word nie, Hy het agter hom aangekom en die rand van sy kleed aangeraak, en dadelik het sy bloedvloeiing verdrink. En Jesus sê: Wie het My aangeraak? Toe almal dit ontken, sê Petrus en die wat saam met hom was: Meester, die skare drom U en druk U, en U sê: Wie het My aangeraak? En Jesus sê: Iemand het My aangeraak, want ek sien dat deug uit My uitgegaan het. En toe die vrou sien dat sy nie weggesteek is nie, het sy bewend gekom en voor hom neergeval en aan hom voor die hele volk vertel waarom sy hom aangeraak het en hoe sy dadelik genees is. En hy sê vir haar: Dogter, wees gerusstellend; jou geloof het jou gered; gaan in vrede. Terwyl hy nog spreek, kom daar een van die owerste van die sinagoge se huis en sê vir hom: Jou dogter is dood; moeilikheid nie die Meester nie. Maar toe Jesus dit hoor, antwoord Hy hom en sê: Moenie vrees nie; glo net, en sy sal gesond word. En toe Hy in die huis kom, het Hy niemand toegelaat om in te gaan nie, behalwe Petrus en Jakobus en Johannes en die vader en die moeder van die meisie. En almal het geween en haar beween, maar hy het gesê: Moenie huil nie; sy is nie dood nie, maar slaap. En hulle het hom uitgelag, omdat hulle geweet het dat sy dood was. En hy het hulle almal uitgesit en haar aan die hand gegryp en geroep en gesê: Meisie, staan op! En haar gees het teruggekom, en sy het dadelik opgestaan, en hy het bevel gegee om haar spys te gee. En haar ouers was verbaas, maar hy het hulle bevel gegee om vir niemand te sê wat gebeur het nie.
LUKAS 8:22-56 Die Boodskap (DB)
Op ’n dag het Jesus vir sy dissipels gesê: “Kom ons gaan daar na die oorkant van die See van Galilea toe.” Hulle almal het toe in ’n boot geklim en na die oorkant toe begin vaar. Jesus het rustig in die boot gaan lê en aan die slaap geraak. Later het ’n groot storm op die see opgesteek. Die wind het kwaai begin waai en die see het skielik baie onstuimig geword. Kort voor lank het groot golwe oor die boot geslaan sodat dit vol water begin word het. Later het die dissipels gedink die boot gaan sink. Toe hulle rondkyk waar Jesus is, kom hulle agter Hy lê nog vas aan die slaap. Baie benoud het hulle Hom wakker geskud: “Here, Here, word wakker! Ons is besig om te vergaan en U lê en slaap! Kom help ons!” Jesus het opgestaan en vir die wind en die woeste golwe gesê: “Bedaar! Hou op met waai!” Hy het ook vir die water gesê om kalm te word. En toe, skielik, was alles oor. Die wind het bedaar en die see was weer spieëlglad. Alles was doodstil. Toe draai Jesus na sy dissipels en vra vir hulle: “Waar is julle geloof heen?” Maar hulle was te bang en te verbaas om enigiets te sê. Hulle het onderlangs vir mekaar gefluister: “Wat ’n ongelooflike wonderwerk! Wie is Jesus regtig? Hy gee net ’n bevel, dan luister selfs die wind en die water na Hom.” Daarna het hulle met die boot in die rigting van die land van die Geraseners, aan die oorkant van Galilea, geseil. Daar aangekom, het ’n man sonder ’n draad klere aan vinnig op Jesus afgestap. Hy was al ’n lang tyd in die mag van ’n klomp duiwels; daarom dat hy nie meer klere gedra het nie. Hy het sommer daar buite tussen die grafte gebly. Die duiwels het hierdie arme man omtrent verrinneweer. Baiekeer het hulle hom soos ’n mal mens laat rondhardloop en skree. Ander mense het tevergeefs probeer om hom in toom te hou. Hulle het sy hande met swaar kettings vasgebind en dik boeie om sy voete gesit, maar hy het dit gebreek en dan weggehardloop. Later het hy omtrent heeltyd in die woestyn rondgeswerf. Toe hierdie man naby Jesus kom, het hy skielik aan die skree gegaan en op die grond neergeval. Hy roep toe kliphard uit: “Vir wat kom U hier na my toe, Jesus, Seun van die allerhoogste God? Ek smeek U: moet my asseblief nie seermaak nie.” Toe vra Jesus vir die man: “Wat is jou naam?” “Legio,” het hy geantwoord. (Dit was die naam wat die mense hom gegee het omdat daar so baie duiwels in hom gebly het.) Toe begin die duiwels wat binne-in hom was Jesus smeek om hulle nie terug te stuur na die onderwêreld toe nie. Hulle vra toe of Hy hulle nie liewer in die groot trop varke wou instuur wat daar naby hulle op die berg gewei het nie. Jesus het ingestem. Daar en dan het die duiwels uit die man padgegee en in die varke ingevaar. Toe breek daar chaos los. Die hele trop varke het skielik oor die kant van die berg gestorm en in die see geval. Daar het hulle almal verdrink. Die mans wat die varke opgepas het, het hulle morsdood geskrik toe hulle sien wat gebeur. Hulle het dadelik teruggehardloop na hulle dorp toe. So ver as wat hulle gehardloop het, het hulle vir almal langs die pad vertel wat gebeur het. Kort voor lank was almal in rep en roer. ’n Klomp mense het vinnig na die plek toe gekom waar Jesus die duiwels uit die man verjaag het. Hulle wou sien wat aan die gang was. Toe hulle daar aankom, sien hulle die man wat vol duiwels was aan Jesus se voete sit. Hy het klere aangehad en rustig geluister na wat Jesus sê. Toe het die mense bang geword. Terwyl hulle so staan en kyk, het diegene wat gesien het wat gebeur opgewonde vir hulle vertel hoe Jesus die duiwels uit die man verdryf het. Die mense van Gerasa het toe vir Jesus gevra om liewer pad te gee. Hulle was baie bang en het nie kans gesien dat nog sulke dinge daar by hulle gebeur nie. Jesus het toe in die boot geklim en teruggegaan na die oorkant toe. Net voordat Jesus vertrek het, het die man uit wie Hy die duiwels verdryf het Hom gevra of hy nie by Hom kon bly nie. Jesus het gesê: “Gaan terug na jou eie mense toe en vertel hulle watter wonderlike dinge God vir jou gedoen het.” Daarna het die man vir almal in sy dorp gaan vertel watter wonderlike dinge Jesus vir hom gedoen het. Toe Jesus weer in Galilea aankom, het ’n skare mense Hom ingewag. Hulle was baie bly om Hom te sien. ’n Man met die naam Jaïrus, een van die hoofde van die sinagoge waar die Jode God aanbid het, het haastig tussen die mense deurgevleg en voor Jesus op die grond kom neerval. Hy het Jesus gesmeek om dadelik na sy huis toe te kom omdat sy twaalfjarige dogter op sterwe gelê het. Dit was sy enigste dogter. Jesus het ingestem, maar daar was so baie mense om Hom dat Hy skaars kon beweeg. Intussen was daar ook ’n vrou in die skare wat al twaalf jaar lank aan ’n menstruele kwaal gely het. Dit het gemaak dat sy nie kon deelneem aan die normale godsdienstige aktiwiteite nie omdat sy as onrein beskou is. Geen dokter kon die arme vrou gesond kry nie. Hierdie vrou het tussen die skare deurgeskuur totdat sy reg agter Jesus was. Toe steek sy haar hand vinnig uit en vat aan die soom van sy klere. Daar en dan was sy gesond. Jesus het dit dadelik agtergekom en gevra: “Wie het nou net aan My geraak?” Maar almal het net die kop geskud en gesê: “Nie ek nie.” Petrus was so ’n bietjie uit die veld geslaan deur Jesus se vraag. “Here, daar is baie mense om U. Hulle almal skuur tog teen U verby en stamp teen U.” “Kyk, iemand het met ’n baie spesifieke rede aan My gevat,” het Jesus geantwoord. “Ek kon voel hoe krag uit My vloei.” Nou was die vrou in ’n hoek. Sy kon nie langer stilbly nie. Doodbang het sy voor Jesus kom neerval. Daar voor almal vertel sy toe hoekom sy aan Jesus kom raak het. “En,” het sy gesê, “ek was op die plek gesond.” Toe sê Jesus vir die vrou: “Jy het gewys hoe groot jou geloof is toe jy aan My kom raak het. Daarom is jy nou gesond. Gaan in vrede.” Terwyl Jesus nog besig was om te praat, kom daar iemand van die huis van die hoof van die sinagoge af en sê vir hom: “Ek het baie slegte nuus: jou dogter is nou net dood. Los maar die Leermeester uit. Hy kan nou niks meer vir haar doen nie.” Maar Jesus het dit gehoor. Hy sê toe vir die hoof van die sinagoge: “Moenie jou ontstel nie. Hou maar net aan glo. Jou dogter sal regkom.” Toe Jesus daar by sy huis aankom, het Hy vir die mense wat saam met Hom gestap het, gesê om buite te wag. Hy het net vir Petrus, Johannes en Jakobus toegelaat om saam met Hom na die dogter toe gaan; ook haar pa en ma. Toe Jesus in die huis kom, was almal aan die huil. Hy sê toe vir hulle: “Toemaar, dis nie nodig om te huil nie. Die dogtertjie is glad nie dood nie. Sy slaap maar net.” Die mense het Jesus uitgelag: “Jy weet nie waarvan jy praat nie. Ons het met ons eie oë gesien sy is dood.” Maar Jesus het hulle geïgnoreer en na die dogtertjie toe gestap. Hy het haar hand gevat en uitgeroep: “Dogtertjie, staan op! Word lewendig!” Dadelik het die lewe in haar teruggekom. Sy het opgestaan. Toe sê Jesus vir die omstanders: “Gee vir haar iets om te eet.” Haar ouers was stom van verbasing oor wat gebeur het. Maar Jesus wou nie hê dat hulle vir ander mense daarvan moes vertel nie.
LUKAS 8:22-56 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Eendag het Jesus vir sy dissipels gesê: “Kom ons vaar oor na die ander kant van die meer.” Hulle het in ’n skuit geklim en begin oorvaar. Op pad oorkant toe het Jesus gaan lê om te slaap, en terwyl Hy slaap, het die wind begin opsteek. ’n Hewige storm het losgebars wat hulle wou laat ondergaan. Hulle was in lewensgevaar. Die dissipels het Hom wakker geskud en geskree: “Leermeester, ons is besig om onder te gaan!” Jesus het die siedende wind en golwe bestraf. Die storm het bedaar en alles was weer kalm. Toe vra Hy vir hulle: “Waar is julle geloof?” En hulle was vervul met ontsag en verbasing. Hulle het vir mekaar gesê: “Wie is hierdie Man tog dat Hy selfs die wind en die golwe opdrag gee en hulle Hom gehoorsaam?” Hulle het toe in die land van die Geraseners aangekom, aan die oorkant van die See van Galilea. Terwyl Jesus uit die skuit klim, het ’n man wat van bose geeste besete was en vroeër in die plaaslike dorp gewoon het, na Hom toe gekom. Hy was kaal en het nie ’n huis gehad nie; hy het vir ’n lang tyd in ’n begraafplaas gebly. Net toe hy Jesus sien, het hy gegil en op die grond voor Hom geval en geskreeu: “Waarom steur U my, Jesus, Seun van die allerhoogste God? Asseblief, ek smeek U, moet my nie martel nie!” Want Jesus het alreeds die bose gees beveel om hom te verlaat. Die gees het hom dikwels beetgepak. Selfs al was hy met kettings geboei, het hy dit eenvoudig gebreek en in die woestyn ingehardloop, heeltemal in die mag van die bose gees. “Wat is jou naam?” het Jesus gevra. “Legio,” het hy geantwoord, want hy was van baie bose geeste besete. Die bose geeste het Jesus aanhou smeek om hulle nie na die onderaardse diepte te stuur nie. ’n Groot trop varke het teen die berghang daar naby gewei, en die bose geeste het gesmeek om in die varke in te vaar. Jesus het hulle toegelaat. Die bose geeste het toe uit die man uitgekom en in die varke gevaar, en die hele trop het teen die hang afgestorm die see in en versuip. Toe die wagters dit sien, het hulle na die dorp daar naby en sy omliggende gebiede gehardloop en die nuus versprei so ver hulle gehardloop het. Daar het gou ’n skare rondom Jesus vergader, want hulle wou self sien wat gebeur het. Hulle het die man wat voorheen van bose geeste besete was, by Jesus se voete sien sit, geklee en by sy volle verstand; en die hele skare het bang geword. Toe het die mense wat gesien het wat gebeur het, die ander vertel hoe die man, deur bose geeste besete, genees is. En al die mense in daardie omgewing het Jesus gesmeek om weg te gaan en hulle uit te los, want groot vrees het hulle beetgepak. Jesus het toe in die skuit geklim en na die oorkant van die meer teruggekeer. Die man wat van bose geeste besete was, het gesoebat om ook saam te gaan, maar Jesus het gesê: “Nee, gaan terug na jou familie toe en vertel vir hulle al die wonderlike dinge wat God vir jou gedoen het.” Hy het toe deur die hele dorp loop en vertel watter groot ding Jesus vir hom gedoen het. By sy terugkeer het die skares Jesus met ope arms ontvang omdat hulle vir Hom gewag het. ’n Man met die naam Jaïrus, ’n leier van die plaaslike sinagoge, het gekom en voor Jesus se voete neergeval en Hom gesoebat om saam met hom na sy huis te gaan. Sy enigste kind, ’n dogter van twaalf, was sterwend. Terwyl Jesus saam met hom gegaan het, is Hy deur skares omring. Daar was ’n vrou in die skare wat twaalf jaar lank aan chroniese bloeding gely het. Sy het alles wat sy gehad het, aan dokters bestee, maar kon nie genees word nie. Sy het van agter na Jesus gekom en die soom van sy kleed aangeraak. Onmiddellik het die bloeding gestop. “Wie het My aangeraak?” het Jesus gevra. Almal het dit ontken, en Petrus het gesê: “Meneer, die hele skare stoot en druk voortdurend teen U.” Maar Jesus het vir hom gesê: “Nee, iemand het My opsetlik aangeraak, want Ek het genesende krag uit My voel vloei.” Toe die vrou besef dat Jesus weet, het sy begin bewe en op haar knieë voor Hom neergeval. Die hele skare het haar hoor vertel waarom sy Hom aangeraak het en hoe sy onmiddellik gesond geword het. “Dogter,” het Hy vir haar gesê, “jou geloof het jou genees. Gaan in vrede.” Terwyl Hy nog met haar praat, het ’n boodskapper van Jaïrus se huis af gekom met die nuus: “Jou dogter is dood. Dis nie meer nodig om die Leermeester te pla nie.” Maar toe Jesus hoor wat gebeur het, sê Hy vir Jaïrus: “Moenie jou ontstel nie. Vertrou My net en dit sal goed gaan met haar.” Toe hulle by die huis aankom, wou Jesus niemand saam met Hom laat ingaan nie, behalwe Petrus, Jakobus en Johannes, en die dogtertjie se pa en ma. Die huis was vol mense wat gehuil en getreur het, maar Jesus sê: “Hou op huil! Sy is nie dood nie; sy slaap net.” Die skare het Hom uitgelag, want almal het geweet sy is dood. Jesus vat haar toe aan die hand en sê hardop: “Staan op, my kind!” En op daardie oomblik het die lewe in haar teruggekom, en sy het onmiddellik opgestaan! Jesus vra hulle toe om haar iets te ete te gee. Haar ouers was oorstelp, maar Jesus het daarop aangedring dat hulle niemand vertel wat gebeur het nie.