Lukas 8:22-56

Lukas 8:22-56 ABA

Eendag het Jesus saam met sy dissipels in 'n boot geklim. Jesus sê toe vir hulle: “Kom ons gaan na die ander kant van die see.” Hulle het dit gedoen. Voordat hulle daar was, het Jesus aan die slaap geraak. Skielik het 'n sterk stormwind oor die see begin waai. Die boot het vol water geword en dit het gevaarlik geword vir hulle. Die dissipels gaan toe na Jesus toe en hulle maak Hom wakker. Hulle het vir Hom gesê: “Meneer, Meneer, ons sal verdrink.” Toe Jesus wakker word, het Hy kwaai gepraat met die wind en die groot branders. Die wind het opgehou waai, en alles het stil geword. Jesus sê toe vir die dissipels: “Hoekom glo julle nie?” Maar die dissipels het baie groot geskrik en hulle was baie verbaas. Hulle het vir mekaar gevra: “Wie is hierdie Man? Hy sê vir die wind en die water hulle moet stil wees, en dan luister hulle na Hom!” Jesus en sy dissipels het toe verder gegaan tot by die land waar die Geraseners gewoon het, oos van Galilea. Toe hulle uit die boot klim, kom daar 'n man uit die stad na Jesus toe. Die man was vol duiwels, hy was mal. Hy het 'n lang tyd niks klere gedra nie en hy het nie in 'n huis gewoon nie. Hy het in die grafte gewoon. Toe die man vir Jesus sien, het hy hard geskree en voor Jesus op die grond geval. Hy het hard geskree: “Wat wil U met my doen, Jesus, Seun van die Allerhoogste God? Ek soebat U, U moenie vir my seermaak nie, asseblief.” Die man het dit gesê omdat Jesus vir die onrein gees gesê het hy moet uit die man uitgaan. Voorheen het die onrein gees die man baie maal aangeval. Dan moes die mense die man vasbind met kettings en voetboeie en hulle moes hom toesluit. Maar die man het altyd die kettings en boeie stukkend gebreek en dan het die duiwel hom in die woestyn ingejaag. Jesus vra toe vir die man: “Wat is jou naam?” En hy het geantwoord: “My naam is Legioen.” Hy het hierdie naam gekry omdat baie duiwels in hom gewoon het. Die duiwels het Jesus gesoebat om hulle nie na die onderwêreld te stuur nie. 'n Groot trop varke het teen die kant van die berg gewei. Die duiwels het vir Jesus gesoebat om hulle in die varke te laat ingaan. Jesus het gesê hulle mag dit doen. Die duiwels het uit die man uitgegaan en hulle het in die varke ingegaan. Die varke het teen die berg afgehardloop tot binne-in die see. Daar het almal verdrink. Die wagters wat die varke opgepas het, het gesien wat gebeur het. Hulle het weggehardloop en hulle het alles gaan vertel in die stad en op die plase. Die mense het gekom om te sien wat gebeur het. Toe hulle by Jesus kom, sien hulle die man, die duiwels het uit hom uitgegaan. Hy het by die voete van Jesus gesit. Hy het klere aangehad. Daar was nie meer duiwels in hom nie, hy was nie meer mal nie. Die mense het groot geskrik. Die ander mense wat gesien het hoe Jesus die man gered het wat vol duiwels was, vertel toe alles. Al die mense in die land waar die Gerasene gewoon het, het vir Jesus gevra om weg te gaan van hulle, want hulle almal het baie bang geword. Jesus het toe in die boot geklim en weggegaan. Die man uit wie die duiwels gegaan het, het gesoebat om saam met Jesus te gaan. Maar Jesus het die man weggestuur en Hy het vir hom gesê: “Gaan terug na jou huis en vertel vir die mense alles wat God vir jou gedoen het.” Die man het weggegaan en hy het vir almal in die stad vertel wat Jesus vir hom gedoen het. Jesus het teruggegaan na die provinsie Galilea. Baie mense het na Hom toe gekom, want almal het vir Hom gewag om te kom. 'n Man het na Jesus toe gekom. Sy naam was Jaïrus. Hy was 'n belangrike man in die sinagoge. Hy het voor Jesus op die grond gekniel en hy het vir Jesus gesoebat om na sy huis te kom. Jaïrus se enigste dogtertjie was baie siek, sy was naby haar dood. Sy was twaalf jaar oud. Jesus het na haar toe gegaan. Daar was so baie mense dat hulle teen Jesus gedruk het. Daar was 'n vrou wat twaalf jaar lank siek was. Sy het aangehou bloei. Sy het al haar geld gebruik om die dokters te betaal, maar niemand kon haar gesond maak nie. Die vrou het van agter gekom en sy het aan die soom van Jesus se klere geraak. Sy het toe dadelik opgehou bloei. Jesus het gevra: “Wie het aan My geraak?” Almal het gesê hulle het nie aan Hom geraak nie. Petrus het gesê: “Here, hier is baie mense wat teen U druk.” Maar Jesus het gesê: “Iemand het aan My geraak, want Ek het gevoel daar gaan krag uit My.” Die vrou het gesien Jesus weet van haar. Sy het gebewe en sy het nader gekom en voor Jesus gekniel. Toe vertel sy daar voor al die mense hoekom sy aan Hom geraak het en dat sy dadelik gesond geword het. Jesus het vir haar gesê: “Mevrou, jy het nou gesond geword, want jy het geglo. Gaan nou huis toe, dit sal goed gaan met jou.” Een van Jaïrus se mense het daar aangekom terwyl Jesus besig was om te praat. Die man het vir Jaïrus gesê: “Jou dogtertjie is dood. Jy moenie die Meneer nog pla nie.” Maar Jesus het dit gehoor en Hy het vir Jaïrus gesê: “Jy moenie bang wees nie. Jy moet net glo, dan sal God jou dogter red.” Toe Jesus by Jaïrus se huis kom, wou Hy nie hê die ander mense moet saam met Hom in die huis ingaan nie. Hy het net vir Petrus en Johannes en Jakobus en die ouers van die kind saamgeneem. Die mense het almal gehuil en getreur oor die dogtertjie. Maar Jesus het gesê: “Julle moenie huil nie, want die dogtertjie is nie dood nie, sy slaap.” Die mense het vir Jesus gelag, want hulle het geweet die dogtertjie is dood. Toe neem Jesus haar hand en Hy sê: “Kind, staan op.” Die dogtertjie het weer begin lewe en sy het dadelik opgestaan. Jesus het toe gesê hulle moet vir haar iets gee om te eet. Haar ouers was baie bly, maar Jesus het vir hulle gesê hulle mag glad nie vir iemand vertel wat gebeur het nie.