Lukas 8:22-56

Lukas 8:22-56 AFR20

Op 'n sekere dag het Jesus en sy dissipels in 'n boot geklim, en Hy het vir hulle gesê: “Kom ons gaan na die oorkant van die meer,” en hulle het uitgevaar. Tydens die vaart het Hy aan die slaap geraak. 'n Hewige stormwind het op die meer neergeswiep. Die boot het vol water begin word, en hulle was in lewensgevaar. Hulle het Jesus gaan wakker maak en uitgeroep: “Meester, Meester, ons vergaan!” Hy het opgestaan en die wind en die stormsee bestraf. Dit het bedaar, en alles het kalm geword. Toe sê Hy vir hulle: “Waar is julle geloof?” Hulle was met ontsag vervul en verwonderd, en het vir mekaar gesê: “Wie is Hy tog dat Hy die winde en die water bestraf en hulle Hom gehoorsaam?” Hierna het hulle verder gevaar na die land van die Geraseners, wat oorkant Galilea geleë is. Toe Jesus aan wal stap, het 'n man wat in die mag van demone was, Hom uit die dorp tegemoet gegaan. Hy het al vir 'n hele ruk nie meer klere gedra nie, en ook nie in 'n huis gebly nie, maar tussen die rotsgrafte. Toe hy Jesus sien, het hy uitgeroep, voor Hom neergeval en met 'n harde stem geskreeu: “Los my uit, Jesus, •Seun van God, die Allerhoogste! Ek smeek U, moet my nie pynig nie!” Want Jesus was op die punt om die •onrein gees wat hom al baie kere beetgepak het, te beveel om uit die man uit te gaan. Hulle het hom voortdurend met hand- en voetboeie geboei om hom in bedwang te hou, maar hy het die boeie uitmekaar geruk, en is deur die demoon na verlate plekke gedryf. Jesus het hom gevra: “Wat is jou naam?” “Legioen,” het hy geantwoord, want baie demone het in hom ingevaar. Hulle het Jesus gesmeek om hulle nie na die onpeilbare diepte te laat weggaan nie. Daar het 'n taamlike groot trop varke teen die berghang gewei. Hulle het Hom gesmeek om hulle toe te laat om in die varke in te vaar, en Hy het hulle toegelaat. Die demone het uit die man uitgegaan en in die varke ingevaar. Die trop het op loop gesit teen die helling af, die see in, en versuip. Toe die wagters dit sien gebeur, het hulle op die vlug geslaan en dit in die dorp en op die platteland gaan vertel. Die mense het gaan kyk na wat gebeur het, en toe hulle by Jesus aankom, vind hulle die man uit wie die demone uitgegaan het, waar hy by Jesus se voete sit, met klere aan en by sy volle verstand; en hulle het bang geword. Diegene wat dit gesien het, het vir hulle vertel hoe die besetene gered is. Toe het al die inwoners van die omgewing van Gerasa Jesus versoek om van hulle af weg te gaan, omdat hulle deur groot angs oorval is. Hy het toe in die boot geklim en teruggekeer. Die man uit wie die demone uitgegaan het, het Jesus gesmeek om by Hom te kon bly. Maar Hy het hom weggestuur en gesê: “Gaan terug na jou huis en vertel daar wat God alles vir jou gedoen het.” Hy het toe weggegaan en dwarsdeur die dorp bekend gemaak wat Jesus vir hom gedoen het. Met Jesus se terugkoms het die skare Hom verwelkom, omdat almal vir Hom gewag het. Kyk, daar kom toe 'n man aan met die naam Jaïrus. Hy was 'n leier van die •sinagoge. Hy het voor Jesus se voete neergeval en Hom gesmeek om na sy huis te kom, omdat sy enigste dogter, ongeveer twaalf jaar oud, op sterwe gelê het. Op pad daarheen het die skares Jesus verdring. Onder hulle was daar 'n vrou wat al twaalf jaar lank aan bloedvloeiing gely het en reeds alles wat sy besit, aan dokters bestee het, maar sy kon deur niemand genees word nie. Sy het van agter af nader gekom en die soom van sy bokleed aangeraak – en haar bloedvloeiing het onmiddellik opgehou. “Wie het My aangeraak?” het Jesus gevra. Toe almal dit ontken, het •Petrus gesê: “Meester, die skare dring tog rondom U saam en druk teen U aan.” Maar Jesus het gesê: “Iemand het My aangeraak, want Ek het agtergekom dat daar krag uit My vloei.” Toe die vrou besef dat haar optrede nie ongemerk verbygegaan het nie, het sy bewend voor Hom kom neerval. Sy het toe voor die hele volk vertel waarom sy Hom aangeraak het en hoe sy onmiddellik gesond geword het. Toe sê Hy vir haar: “Dogter, jou geloof het jou gered. Gaan in vrede! ” Terwyl Hy nog praat, kom daar iemand van die leier van die sinagoge se huis af en sê: “U dogter is nou net dood. Moenie die leermeester langer lastig val nie.” Maar Jesus het dit gehoor en vir hom gesê: “Moenie ontsteld wees nie. Glo net, en sy sal gered word.” Toe Jesus by die huis aankom, het Hy niemand toegelaat om saam met Hom in te gaan nie, behalwe Petrus, Johannes, Jakobus, en die kind se vader en moeder. Almal het gehuil en gerou oor haar. Maar Jesus het gesê: “Moenie huil nie, want sy het nie gesterf nie, maar slaap net.” Hulle het Hom egter uitgelag, omdat hulle geweet het dat sy gesterf het. Maar Jesus het haar aan die hand geneem en uitgeroep: “Meisie, word wakker!” Haar gees het teruggekeer, en sy het dadelik opgestaan. Jesus het beveel dat hulle vir haar iets te ete moet gee. Haar ouers was oorstelp van blydskap, maar Jesus het hulle opdrag gegee om vir niemand te vertel wat gebeur het nie.