MATTEUS 10:39-42
MATTEUS 10:39-42 Bybel vir almal (ABA)
As iemand my dissipel wil wees, maar hy wil aanhou lewe en hy wil nie sterf omdat hy My dien nie, dan sal hy sy lewe verloor. Maar iemand wat sterf omdat hy My dien, sal aanhou lewe. “As die mense sê julle is welkom by hulle, dan is Ek welkom by hulle. En as Ek by mense welkom is, dan is my Vader wat My gestuur het, ook welkom by hulle. God het vir die profete alles gegee wat hulle nodig gehad het. Hy sal ook goed wees vir elkeen wat vir 'n profeet sê hy is welkom omdat hy 'n profeet is. God gee goeie dinge vir iemand wat goed doen. God sal ook goeie dinge gee vir elkeen wat vir 'n goeie man sê hy is welkom omdat hy goed doen. “Daar is mense wat dink party van my dissipels is nie belangrike mense nie. Maar iemand wat vir een van hulle 'n beker koue water gee net omdat hy my dissipel is, vir hom sal God baie goeie dinge gee. Ek sê dit vir julle, dit is baie seker.”
MATTEUS 10:39-42 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Wie sy lewe vind, sal dit verloor; en wie sy lewe verloor om My ontwil, sal dit vind. Wie julle ontvang, ontvang My; en wie My ontvang, ontvang Hom wat My gestuur het. Wie 'n profeet ontvang omdat hy 'n profeet is, sal die loon van 'n profeet ontvang; en wie 'n regverdige ontvang omdat hy 'n regverdige is, sal die loon van 'n regverdige ontvang. En elkeen wat een van hierdie kleintjies net 'n beker kou water laat drink, omdat hy 'n dissipel is, voorwaar Ek sê vir julle, hy sal sy loon sekerlik nie verloor nie.
MATTEUS 10:39-42 Afrikaans 1983 (AFR83)
“Hy wat sy lewe wil behou, sal dit verloor; en hy wat sy lewe ter wille van My verloor, sal dit vind.” “Wie julle ontvang, ontvang My; en wie My ontvang, ontvang Hom wat My gestuur het. Wie 'n profeet ontvang omdat hy 'n profeet is, sal 'n profeet se beloning ontvang; en wie 'n goeie mens ontvang omdat hy goed is, sal 'n goeie mens se beloning ontvang. Wie aan een van hierdie geringstes net 'n beker koue water gee omdat hy my dissipel is, sál sy beloning kry. Dit verseker Ek julle.”
MATTEUS 10:39-42 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
“Wie sy lewe behou, sal dit verloor, en wie sy lewe ter wille van My verloor, sal dit behou.” “Wie julle ontvang, ontvang My, en wie My ontvang, ontvang Hom wat My gestuur het. Wie 'n profeet ontvang omdat hy 'n profeet is, sal die beloning van 'n profeet kry, en wie 'n •regverdige ontvang omdat hy 'n regverdige is, sal die beloning van 'n regverdige kry. En wie aan een van hierdie geringes 'n beker koue water gee om te drink, bloot omdat hy 'n dissipel is – •Amen, Ek sê vir julle: Hy sal beslis sy beloning nie kwyt wees nie.”
MATTEUS 10:39-42 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Hy wat sy lewe vind, sal dit verloor; en hy wat sy lewe om My ontwil verloor, sal dit vind. Wie julle ontvang, ontvang My, en wie My ontvang, ontvang Hom wat My gestuur het. Hy wat 'n profeet in die naam van 'n profeet ontvang, sal 'n profeet se beloning ontvang; en hy wat 'n regverdige ontvang in die naam van 'n regverdige, sal 'n regverdige se beloning ontvang. En elkeen wat aan een van hierdie kleintjies 'n beker koue water net in die naam van 'n dissipel te drinke gee, voorwaar Ek sê vir julle, hy sal geensins sy beloning verloor nie.
MATTEUS 10:39-42 Die Boodskap (DB)
Wie egter bereid is om aardse opofferings te maak omdat hy My bo alles liefhet, sal ontdek wat dit beteken om werklik te leef. “Ons almal werk mos in een span saam. As een lid van die span punte aanteken, is dit tog die hele span se punte. So is dit ook met ons. As iemand julle met oop arms aanvaar en julle vriend wil wees, is hy eintlik my vriend ook. En as hy my vriend is, is hy eintlik ook die vriend van my Vader wat My na julle toe gestuur het. As iemand bereid is om na die boodskapper van God te luister, sal hy mos God ook met hom hoor praat. Maak dus vriende met mense wat reg lewe, net soos julle. Julle wil tog graag doen wat God wil hê. God sal vir julle goed wees. “Luister mooi. Weet julle wie kan seker wees van sy plek by God in die hemel? Kom Ek sê vir julle: sê nou ’n vriend van My is dors. Ek praat nou van ’n vriend van My aan wie niemand hulle eintlik steur nie omdat hy arm is en geen aansien het nie. Iemand sien hy is dors en stap nader met ’n beker koue water in sy hand. Hy gee dit vir my vriend. Saam met die beker water gee hy ook sy vriendskap vir hierdie onbelangrike man. As die dors man vra: ‘Waarom doen jy dit?’ antwoord die ander man: ‘Omdat jy Jesus se vriend is.’ Wel, vir so iemand sal God ook sorg.” So het Jesus sy dissipels voorberei vir wat op hulle wag. Daarna is Jesus na die omliggende dorpies toe om die mense verder van God te vertel.
MATTEUS 10:39-42 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
As jy selfsugtig aan jou eie lewe vasklou, sal jy dit verloor. Maar as jy dit ter wille van My opoffer, sal jy werklik voluit lewe.” “Elkeen wat julle verwelkom, verwelkom My. En wie My verwelkom, verwelkom die Vader wat My gestuur het. As jy ’n profeet verwelkom omdat hy God se boodskap bring, sal jy dieselfde beloning kry as ’n profeet. En as jy iemand wat reg lewe, verwelkom omdat hy reg lewe, sal jy dieselfde beloning as hy ontvang. Selfs as jy ’n beker koue water aan een van my geringste dissipels sou gee bloot omdat hy ’n dissipel is, verseker Ek jou dat jy jou beloning nie sal misloop nie.”