MATTEUS 16:24-27
MATTEUS 16:24-27 Bybel vir almal (ABA)
Toe het Jesus vir sy dissipels gesê: “As iemand saam met My wil kom, dan moet hy nie dink aan wat hy self graag wil hê nie. Hy moet lewe soos iemand wat weet dat hy aan 'n kruis sal sterf. Dit is hoe hy My moet volg. Want as iemand homself wil red, dan sal hy sy lewe verloor. Maar as iemand sy lewe verloor omdat hy lief is vir My, dan sal hy sy lewe red. As jy alles in die wêreld kry maar jy verloor jou lewe, dan help dit jou niks. Hoeveel sal 'n mens betaal vir sy lewe? Want Ek, die Seun van die mens, sal gou saam met die engele kom om Koning te wees soos my Vader Koning is. Dan sal Ek elke mens oordeel oor wat hy gedoen het.
MATTEUS 16:24-27 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
TOE sê Jesus vir sy dissipels: As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën en sy kruis opneem en My volg. Want elkeen wat sy lewe wil red, sal dit verloor; maar elkeen wat sy lewe om My ontwil verloor, sal dit vind. Want wat baat dit 'n mens as hy die hele wêreld win, maar aan sy siel skade ly? Of wat sal 'n mens gee as losprys vir sy siel? Want die Seun van die mens staan gereed om met sy engele in die heerlikheid van sy Vader te kom, en dan sal Hy elkeen vergeld volgens sy dade.
MATTEUS 16:24-27 Afrikaans 1983 (AFR83)
Toe sê Jesus vir sy dissipels: “As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën, sy kruis opneem en My volg, want wie sy lewe wil behou, sal dit verloor; maar wie sy lewe ter wille van My verloor, sal dit terugkry. Wat sal dit 'n mens help as hy die hele wêreld as wins verkry maar sy lewe verloor, of wat sal 'n mens gee in ruil vir sy lewe? Die Seun van die mens gaan saam met sy engele kom. Hy sal beklee wees met dieselfde heerlikheid as sy Vader en sal elkeen volgens sy dade vergeld.
MATTEUS 16:24-27 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Toe het Jesus vir sy dissipels gesê: “As iemand My wil navolg, moet hy homself verloën en sy kruis opneem en My volg. Want wie sy lewe wil red, sal dit verloor, maar wie sy lewe ter wille van My verloor, sal dit vind. Wat sal dit 'n mens dan baat as hy die hele wêreld as wins bekom, maar sy lewe verloor? Of wat sal 'n mens gee as losprys vir sy lewe? Want die •Seun van die Mens gaan saam met sy engele kom, beklee met die heerlikheid van sy Vader, en dan sal Hy elkeen vergeld volgens wat hy gedoen het.
MATTEUS 16:24-27 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Toe sê Jesus vir sy dissipels: As iemand agter My aan wil kom, laat hom homself verloën, sy kruis opneem en My volg. Want elkeen wat sy lewe wil red, sal dit verloor; en elkeen wat sy lewe om My ontwil verloor, sal dit vind. Want wat baat 'n mens as hy die hele wêreld win en sy eie siel skade ly? of wat sal 'n mens gee in ruil vir sy siel? Want die Seun van die mens sal kom in die heerlikheid van sy Vader met sy engele; en dan sal hy elkeen beloon volgens sy werke.
MATTEUS 16:24-27 Die Boodskap (DB)
Daarna het Jesus vir sy dissipels gesê: “As mense my volgelinge wil wees, moet hulle hulle hele lewe vir My gee. Om My te volg is baie moeilik. Dit is net so moeilik soos om jou eie kruis na die plek van jou teregstelling toe te dra. As jy net vir jouself wil lewe, sal jy uiteindelik jou lewe verloor en in die doderyk beland. As jy egter bereid is om jou lewe aan My te wy, sal jy beslis ’n plek kry in God se nuwe wêreld. “Jy moet ’n keuse maak wat jy met jou lewe wil doen. Vra jou eers die volgende vraag af: Wat help dit as jy die hele wêreld aan jou voete het, maar jy kry nie ’n plek in God se nuwe wêreld nie? Kan enigiets op aarde ooit daarteen opweeg? “Ek wil julle ook waarsku: Ek, die Seun van die mens, sal binnekort met my engele terugkeer na die wêreld toe. Al die Goddelike heerlikheid van my Vader sal My op daardie dag omring. Dan gaan Ek elke mens se beloning vir hom uitdeel. Ek gaan kyk hoe almal geleef het en vir elkeen gee wat hy verdien.
MATTEUS 16:24-27 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Jesus het toe vir sy dissipels gesê: “As julle my volgelinge wil wees, moet julle julle eie ek prysgee, julle kruis op julle skouers neem, en agter My aan kom. As julle probeer om julle lewe vir julleself te bewaar, sal julle dit verloor. Maar as julle julle lewe ter wille van My prysgee, sal julle ware lewe vind. Wat sal dit jou tog help as jy alles in die lewe bereik, maar jy ly skade aan jou diepste menswees? Jy sal met niks ter wêreld daarvoor kan vergoed nie. Ek, die Seun van die Mens, sal inderdaad kom, vergesel van God se engele. Ek sal met die heerlikheid van my Vader beklee wees, en Ek sal almal oordeel volgens hulle dade.