MATTEUS 18:1-9

MATTEUS 18:1-9 Bybel vir almal (ABA)

'n Kort tydjie daarna het die dissipels na Jesus toe gekom en vir Hom gevra: “Wie is die belangrikste mens oor wie God regeer, God wat in die hemel is?” Jesus het 'n kindjie geroep om nader te kom en Hy het die kindjie voor hulle laat staan. Jesus het vir die dissipels gesê: “Ek sê vir julle, en dit is seker: Julle moet julle hele lewe verander en soos kinders word. As julle dit nie doen nie, dan sal julle nie by God kan kom nie, God die Koning wat in die hemel is. Elkeen wat soos hierdie kindjie dink hy is nie belangrik nie, hy sal die belangrikste mens wees oor wie God regeer, God wat in die hemel is. En wanneer iemand vir een so 'n kindjie wat aan My behoort, sê hy is welkom, dan sê so iemand Ek is ook welkom by hom.” “En as iemand een van hierdie kleintjies wat in My glo, laat ophou glo, dan sal dit baie sleg gaan met hom. Dit sal vir hom beter wees as hulle 'n baie groot klip om sy nek vasmaak en hom op die diepste plek in die see laat verdrink. God sal dit sleg laat gaan met mense wat ander mense laat ophou glo. Daar sal altyd dinge wees wat mense laat ophou glo, maar dit sal sleg gaan met iemand wat ander mense laat ophou glo. As dit jou hand of jou voet is wat jou laat ophou glo, kap dit af en gooi dit weg. Dit is beter om net een hand of een voet te hê en die ewige lewe te kry as om twee hande en twee voete te hê en na die vuur te gaan wat altyd brand. As dit jou oog is wat jou laat ophou glo, ruk dit uit en gooi dit weg. Dit is beter om net een oog te hê en die ewige lewe te kry, as om met twee oë in die hel te brand.”

MATTEUS 18:1-9 Die Boodskap (DB)

Op ’n dag het die dissipels vir Jesus kom vra: “Sê vir ons: Wie is die heel belangrikste persoon in God se wêreld? Wie maak vir Hom die meeste van almal saak?” Toe doen Jesus ’n vreemde ding. Hy roep een van die kindertjies wat daar rondspeel nader. Hy laat dié toe tussen hulle staan en sê: “Ek gaan julle nou een van die belangrikste lesse van julle hele lewe leer. Kyk, julle moet verander en weer soos hierdie kindertjies word, anders sal julle nooit die binnekant van my Vader se nuwe wêreld sien nie. Kindertjies is nederig. Hulle dink nie te veel van hulleself nie. Hulle het respek vir ander. Julle moet ook so leef. Julle moet julle eie belange tweede stel en ander mense respekteer, dan is julle die belangrikste in God se nuwe wêreld. “Elkeen wat een van hierdie kindertjies soos ’n vriend ontvang en hom goed behandel, ontvang My ook as vriend en behandel My goed. “Maar elkeen wat veroorsaak dat een van hierdie ou kleintjies se geloof ’n knou kry, gaan in groot moeilikheid wees. Wanneer iemand daarvoor verantwoordelik is dat my kleintjies die spoor byster raak, is dit eintlik vir hulle beter in die middel van die see met ’n reuserots om hulle nek, want God gaan hulle verskriklik swaar straf. “Dis nou maar een maal so dat daar allerhande sondes en versoekings in hierdie wêreld is. Maar Ek sê vir julle: daar wag groot probleme op almal wat hierdie sondes uitdink. God se oordeel wag op hulle. “Natuurlik is dit nie maklik om te glo nie. Dit is net so swaar soos om een van jou eie ledemate af te kap. Jy moet as’t ware jou hand of jou voet afkap en dit in die asblik gooi as jy agterkom dat jy dinge daarmee doen waarvan God niks hou nie. Leef liewer sonder hande en voete. Leef soos iemand wat lam of kruppel is, al is dit verskriklik swaar. Anders beland jy binnekort in die hel. En wat gaan jy daar met twee gesonde hande en voete maak? “Pluk jou oog uit en gooi dit dadelik weg as jy agterkom dat jy op die verkeerde manier daarmee kyk. Leef eerder met een oog, al is dit baie swaar. Sondige kyke gaan jou in elk geval net in die hel laat beland. En wat help dit jou om in die hel baie goed te kan sien?”

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid