MATTHÉÜS 18:1-9

MATTHÉÜS 18:1-9 AFR53

IN daardie uur het die dissipels na Jesus gekom en gesê: Wie is tog die grootste in die koninkryk van die hemele? Toe roep Jesus 'n kindjie na Hom en laat hom in hulle midde staan en Hy sê: Voorwaar Ek sê vir julle, as julle nie verander en soos die kindertjies word nie, sal julle nooit in die koninkryk van die hemele ingaan nie! Elkeen dan wat homself verneder soos hierdie kindjie, hy is die grootste in die koninkryk van die hemele. En elkeen wat een van sulke kindertjies in my Naam ontvang, ontvang My; maar elkeen wat een van hierdie kleintjies wat in My glo, laat struikel, dit is vir hom beter dat 'n meulsteen aan sy nek gehang word en hy wegsink in die diepte van die see. Wee die wêreld weens die struikelblokke! Want dit is noodsaaklik dat daar struikelblokke kom, maar wee die mens deur wie die struikelblok kom. En as jou hand of jou voet jou laat struikel, kap dit af en gooi dit weg van jou af; dit is vir jou beter om in die lewe in te gaan, kreupel of vermink, as om twee hande of voete te hê en in die ewige vuur gewerp te word. En as jou oog jou laat struikel, ruk dit uit en werp dit weg van jou af. Dit is vir jou beter om met een oog in die lewe in te gaan, as om twee oë te hê en in die helse vuur gewerp te word.