Matteus 18:1-9

Matteus 18:1-9 AFR20

In daardie tyd het die dissipels na Jesus gekom en gesê: “Wie is nou eintlik die belangrikste in die •koninkryk van die hemele?” Hy het toe 'n kindjie nader geroep, hom tussen hulle laat staan en gesê: “•Amen, Ek sê vir julle, as julle nie verander en soos kindertjies word nie, sal julle beslis nie in die koninkryk van die hemele ingaan nie. Wie homself dus gering ag soos hierdie kindjie, hy is die belangrikste in die koninkryk van die hemele. En wie een so 'n kindjie in my Naam ontvang, ontvang My.” “Wie een van hierdie kleintjies wat in My glo, laat struikel, dit is vir hom beter dat 'n maalklip van 'n donkie om sy nek gehang word en hy wegsink in die dieptes van die see. Wee die wêreld as gevolg van die struikelblokke. Struikelblokke sal onvermydelik kom; nogtans, wee die mens deur wie die struikelblok kom. As jou hand of jou voet jou laat struikel, kap dit af en gooi dit van jou weg! Dit is vir jou beter om vermink of kreupel die lewe in te gaan as om twee hande of voete te hê en in die ewige vuur gegooi te word. En as jou oog jou laat struikel, ruk dit uit en gooi dit van jou weg! Dit is vir jou beter om met een oog die lewe in te gaan as om twee oë te hê en in Gehenna met sy vuur gegooi te word.”