MIGA 4:3-13

MIGA 4:3-13 Bybel vir almal (ABA)

“Die Here sal die regter wees tussen die volke en Hy sal die sterk volke vrede laat maak met mekaar, die volke wat naby is en die volke wat ver is. Dan sal die volke hulle swaarde en spiese smelt en hulle sal skerp ysters maak om te ploeg en messe om bome se takke af te sny. Die volke sal nie weer oorlog maak teen mekaar nie en hulle sal ook nie leer om oorlog te maak nie. Elke Israeliet sal onder sy eie wingerdstok of onder sy eie vyeboom sit. Die Israeliete sal vir niemand bang wees nie. Die Here het dit gesê, Hy regeer oor alles. Ja, elke volk lewe soos sy god wil hê, maar ons sal altyd lewe soos ons God wil hê.” Julle sê die Here sê: “Daardie dag sal Ek my skape bymekaarmaak. Hulle pote is seer, die vyande het hulle weggejaag na al die kante toe, want Ek het my volk gestraf. Ek sal my skape terugbring, my skape wat oorgebly het. Ek het my volk weggejaag, maar Ek sal hulle terugbring en Ek sal hulle weer 'n sterk volk maak. Ek sal self op Sionsberg oor hulle regeer, vir altyd. En soos voorheen sal daar weer 'n koning in Jerusalem wees, en hy sal kyk dat dit goed gaan met my volk.” Jerusalem, hoekom skree jy? Hoekom kry jy seer soos 'n vrou wat 'n kind kry? Is jou koning weg? Is die mense weg wat vir jou moet sê wat om te doen? Jy moet seerkry, jy moet skree soos 'n vrou wat 'n kind kry, want jou mense moet uit die stad gaan. Hulle moet in die veld gaan woon en dan na die stad Babel gaan. Die Here sê: “Daar in Babel sal Ek julle red, Ek sal julle vrymaak van julle vyande.” Baie volke het gekom om oorlog te maak teen julle. Hulle sê: “Ons sal die stad oorwin, ons sal sy mure afbreek!” Maar hulle weet nie wat die Here met hulle wil doen nie, hulle verstaan nie die Here se planne nie. Die Here het die volke bymekaargebring soos 'n boer koring-gerwe bymekaarbring op die dorsvloer. Nou moet die mense van Jerusalem die volke trap soos beeste die koring-gerwe trap. Die Here sê: “Ek gee vir hulle ysterhorings en brons-pote. Dan kan hulle die volke fyntrap en hulle kan die volke se goed vat en vir My present gee.” Die volke se goed sal behoort aan die Here van die hele aarde.

MIGA 4:3-13 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

En Hy sal oordeel tussen baie volke en regspreek vir magtige nasies tot in die verte; en hulle sal van hul swaarde pikke smee en van hul spiese snoeimesse; nie meer sal nasie teen nasie die swaard ophef nie, en hulle sal nie meer leer om oorlog te voer nie. Maar hulle sal sit elkeen onder sy wingerdstok en onder sy vyeboom, sonder dat iemand hulle verskrik; want die mond van die HERE van die leërskare het dit gespreek. Want al die volke mag wandel elkeen in die naam van sy god, maar óns sal wandel in die Naam van die HERE onse God vir ewig en altoos. In dié dag, spreek die HERE, wil Ek versamel die wat kreupel is, en bymekaarmaak wat verdryf was, en die wat Ek kwaad aangedoen het. Dan sal Ek die wat kreupel was, tot 'n oorblyfsel maak en wat ver verwyder was, tot 'n magtige nasie. En die HERE sal koning wees oor hulle op die berg Sion, van nou af tot in ewigheid. En jy, Skaapstoring, Heuwel van die dogter van Sion, na jou sal dit kom, ja, die vroeëre heerskappy sal kom, die koningskap vir die dogter van Jerusalem. Waarom skreeu jy nou so hard? Is daar geen koning in jou nie? Of het jou raadgewer omgekom, sodat smart jou aangegryp het soos van een wat baar? Krimp inmekaar en bring voort, o dogter van Sion, soos een wat baar! Want nou sal jy die stad verlaat en op die veld gaan woon; en jy sal in Babel aankom — dáár sal jy gered word, dáár sal die HERE jou verlos uit die hand van jou vyande. En nou is daar baie nasies teen jou versamel wat sê: Laat haar ontheilig word, en laat ons oë met welgevalle neersien op Sion. Maar hulle ken nie die gedagtes van die HERE nie en verstaan nie sy besluit nie, dat Hy hulle versamel het soos gerwe op die dorsvloer. Staan op en dors, o dogter van Sion! Want Ek sal jou horing yster maak en jou kloue koper, en jy sal baie volke fyn trap; en jy sal hulle onregverdige wins aan die HERE toewy en hulle rykdom aan die Here van die ganse aarde.

MIGA 4:3-13 Afrikaans 1983 (AFR83)

Hy sal oordeel tussen baie volke, regspreek oor sterk nasies wat ver weg woon. Hulle sal van hulle swaarde ploegskare smee en van hulle spiese snoeiskêre. Die een nasie sal nie meer die swaard teen die ander opneem nie, en hulle sal nie meer leer om oorlog te maak nie. Elke man sal onder sy eie wingerd sit, ongesteurd onder sy vyeboom. Die Here die Almagtige het dit gesê. Elke nasie kan maar lewe in die naam van sy god, ons sal vir altyd in die Naam van die Here ons God lewe. Daardie dag, sê die Here, sal Ek dié wat kreupel is, bymekaarmaak, sal Ek dié wat verstrooi is, vergader, en ook dié wat Ek met rampe getref het. Ek sal die kreupeles die oorblyfsel maak, die siekes 'n sterk nasie. Ek, die Here, sal op Sionsberg oor hulle heers, nou en vir altyd. Verlate vesting, Sionsheuwel, die beloftes aan jou sal vervul word: jy sal weer heers soos voorheen, Jerusalem sal weer die hoofstad wees. Waarom skreeu jy so hard? Het jy nie 'n koning nie? Het jou raadgewer omgekom dat kraampyne jou oorval het? Krul van die pyn, Sion, kry geboortepyne soos 'n vrou in kraam! Jy moet nou die stad verlaat, jy moet in die oop veld gaan woon en na Babel toe gaan. Daar sal jy gered word, daar sal die Here jou verlos uit die mag van jou vyande. Nou moet baie nasies nog eers teen jou saamstaan, hulle sê: “Ons sal toekyk hoe Sion verontreinig word.” Maar hulle ken nie die plan van die Here nie; hulle verstaan nie wat Hy besluit het nie: Hy het hulle soos gerwe op 'n dorsvloer bymekaargebring. Maak klaar en dors die gerwe, Sion! Ek maak jou sterk: Ek gee vir jou bronskloue sodat jy baie nasies kan vermorsel. Jy sal aan die Here wy wat hulle buitgemaak het, al hulle besittings aan die Koning van die hele wêreld.

MIGA 4:3-13 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Hy sal regspreek tussen baie volke en die reg handhaaf vir talryke nasies tot in die verste uithoeke. Hulle sal van hulle swaarde ploegskare smee, en van hulle spiese snoeimesse. Nasies sal nie meer die swaard teen mekaar opneem nie, hulle sal nie meer leer om oorlog te maak nie; maar elke man sal onder sy wingerd en onder sy vyeboom sit, sonder dat iemand hom opjaag. Die HERE, Heerser oor alle magte, het dit immers self gesê. Selfs as al die volke elkeen in die naam van sy god voortgaan, sal óns in die naam van die HERE ons God voortleef vir altyd en altyd. “ ‘Op daardie dag,’ ” is die uitspraak van die HERE, “ ‘sal Ek die gebreklikes bymekaar maak, die verstrooides versamel, ook hulle wat Ek sleg behandel het. Ek sal die gebreklikes 'n oorblyfsel maak, en dié wat ver weg was, 'n sterk nasie.’ Die HERE sal op die berg Sion oor hulle koning wees, van nou af tot in ewigheid. En jy, wagtoring van die kudde, vesting van die dogter van Sion, na jou sal dit kom, ja, die vroeëre heerskappy is op pad – die koningskap vir die dogter van Jerusalem.” Waarom skree jy dan nou so hard? Het jy nie meer 'n koning nie? Of het jou raadgewer verdwyn, sodat pyn jou oorval het soos 'n vrou wat geboorte skenk? Krimp ineen en skreeu dit uit, dogter van Sion, soos iemand met geboortepyne! Want nou sal jy die stad moet verlaat en in die veld gaan woon. Jy sal na Babilonië gaan: Daar sal jy gered word; daar sal die HERE jou uit die hand van jou vyande verlos. “Maar nou span baie nasies teen jou saam, hulle wat sê, ‘Laat Sion maar ontheilig word; ons sal dit met genoegdoening aanskou.’ Húlle weet egter nie wat die HERE beplan nie en hulle verstaan nie sy besluite nie, dat Hy hulle soos gerwe op 'n dorsvloer bymekaargemaak het. ‘Staan op en dors die gerwe, dogter van Sion, want Ek maak jou horing van yster en jou hoewe maak Ek van brons. Jy sal baie nasies vertrap! Jy sal hulle buit aan die HERE toewy, al hulle rykdom aan die Heer van die hele aarde. ’ ”

MIGA 4:3-13 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

En hy sal oordeel onder baie volke en sterk nasies van ver bestraf; en hulle sal van hul swaarde pikke smee en van hul spiese snoeimesse; geen nasie sal teen nasie die swaard ophef nie, en hulle sal nie meer leer om oorlog te voer nie. Maar hulle sal sit elkeen onder sy wingerdstok en onder sy vyeboom; en niemand sal hulle verskrik nie, want die mond van die HERE van die leërskare het dit gespreek. Want al die volke sal elkeen wandel in die naam van sy god, en ons sal wandel in die Naam van die HERE onse God vir ewig en altyd. In dié dag, spreek die HERE, sal Ek die wat stil is, bymekaarmaak en die wat verdryf is, en die wat Ek verdruk het, bymekaarmaak; En Ek sal die wat gebroke is, 'n oorblyfsel maak en haar wat ver weg is, 'n sterk nasie; en die HERE sal oor hulle heers op die berg Sion van nou af tot in ewigheid. En jy, o toring van die kudde, die vesting van die dogter van Sion, na jou sal dit kom, die eerste heerskappy; die koninkryk sal kom na die dogter van Jerusalem. Nou waarom roep jy hardop? is daar geen koning in jou nie? is u raadsman omgekom? want smarte het jou geneem soos 'n baarende vrou. Wees in pyn en arbei om te baar, o dogter van Sion, soos 'n baarende vrou; want nou moet jy uit die stad uittrek en in die veld woon, en jy sal na Babel gaan; daar sal jy gered word; daar sal die HERE jou verlos uit die hand van jou vyande. Nou het ook baie nasies teen jou vergader wat sê: Laat haar verontreinig word, en laat ons oog op Sion kyk. Maar hulle ken die gedagtes van die HERE nie en verstaan nie sy raad nie, want Hy sal hulle bymekaarmaak soos die gerwe op die vloer. Staan op en dors, o dogter van Sion, want Ek sal jou horing yster maak en jou kloue koper maak; en jy sal baie volke stukkend slaan; en Ek sal hulle wins aan die HERE wy en hulle besittings aan die HERE van die hele aarde.

MIGA 4:3-13 Die Boodskap (DB)

Al is daar nasies wat ver van Jerusalem af bly, dit maak nie saak nie. Die Here sal die probleme tussen hulle oplos. Hy sal hulle so ver kry om liewer van hulle wapens landbougereedskap te maak. Die verskillende nasies sal nie meer teen mekaar baklei nie en nie eens meer leer om oorlog te maak nie. Daar sal vrede onder die mense wees. Hulle sal hulle eie grond hê vir hulle vrugtebome en hulle sal rustig in die koelte van die bome kan sit sonder dat hulle bang is. Hierdie woorde kan julle maar glo, want dit kom van die Here af. Daar is niemand wat met Hom vergelyk kan word nie.” Die opponente het geantwoord: “Hierdie nasies moet lewe soos hulle gode van hulle verwag. Ons sal aan die Here, wat ons God is, gehoorsaam wees.” Miga antwoord hulle toe: “Die Here sê: ‘Wanneer hierdie tyd kom wat Ek gesê het, sal Ek die mense wat seergekry het toe Ek my volk gestraf het, bymekaarmaak. Ek sal hulle in die ander lande gaan haal waar Ek hulle as vreemdelinge laat swaarkry het. Hierdie mense wat die swaar straf oorleef het, sal Ek weer ’n trotse nasie maak. Ek sal tot in die verre toekoms hulle Koning in Jerusalem wees.’” “Jerusalem is ’n sterk en veilige stad. Dit is op ’n hoogte gebou sodat die mense van Juda daar veilig kan wees. Jerusalem sal weer soos vroeër die hoofstad wees van waar die koning sal regeer. Hoekom skreeu die mense van Jerusalem dan so benoud? Dit is tog onnodig, want die koning regeer mos nog in die stad. Hulle gekreun en gekla is ook onnodig, hulle planmakers is mos nie dood nie!” antwoord die opponente toe. “Nee,” sê Miga toe, “die mense van Jerusalem behoort benoud te wees. Hulle kan maar gerus skreeu, want moeilike tye lê vir hulle voor. Jerusalem is nie so veilig as wat hulle dink nie. Dit is beter om uit die stad uit te vlug na die oop ruimtes om die stad of selfs om na Babel toe te gaan. Dit is nou wel die hoofstad van die vyand, maar die Here sal hulle daar kom verlos uit die mag van hulle vyande.” Die opponente het gesê: “Dit is nou wel so dat van die nasies hulle kragte saamspan teen Juda en sê: ‘Ons sal met ons eie oë sien hoe hierdie stad ondergaan. En ons sal bly wees!’ Maar hulle verstaan nie hoe die Here dink of wat sy planne is nie. Hy is van plan om vir hulle die lewe baie moeilik te maak en hulle swaar te straf. Die mense van Juda glo dat die Here hulle baie sterk sal maak om teen die nasies te kan veg en hulle te vernietig. Dan sal hulle die kosbare besittings van die vyand vat en dit na Jerusalem bring as die Here se buit. Hy is mos die Koning van die hele wêreld.”

MIGA 4:3-13 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Geskille tussen baie volke sal Hy oplos. Van hulle swaarde sal nasies ploegskare maak en van hulle spiese, snoeiskêre. Oorloë sal ophou en ook militêre opleiding. Almal sal rustig woon terwyl hulle vrede en voorspoed geniet. Hulle sal nie enige rede hê om bang te wees nie. Dit is ’n belofte van die HERE, die Almagtige! Elke nasie kan sy vertroue stel in hulle gode, maar ons sal vir altyd ons vertroue stel op die HERE ons God. Die HERE sê: “In die tye wat kom, gaan Ek my mense bymekaarmaak. Dit sluit in die kreupeles wat in ballingskap is en dié wat Ek met rampe getref het. Hulle is verswak en ver van hulle huise af, maar Ek sal hulle weer ’n sterk en magtige nasie maak. Ek, die HERE, sal hulle Koning wees. Ek sal vir ewig in Jerusalem oor hulle regeer. Jerusalem, veilige vesting vir God se mense, Ek sal jou mag herstel. Jerusalem sal weer soos vroeër die stad wees waar die koning regeer.” Maar waarom skreeu jy nou so benoud? Het jy dan nie ’n koning nie? Het jou raadgewers verdwyn? Angs het jou vasgegryp, soos ’n vrou wat in kraam is. Mense van Jerusalem, ervaar pyn en benoudheid soos ’n vrou in kraam! Julle sal die stad moet verlaat om op die oop velde te bly. Julle gaan binnekort in ballingskap na Babel toe geneem word. Maar die HERE sal julle daar red. Hy sal julle verlos uit die mag van julle vyande. Baie volke het hulle kragte teen jou saamgespan. Hulle soek jou bloed en is gretig om die ondergang van Jerusalem te aanskou. Maar hulle weet nie hoe die HERE dink nie en verstaan nie sy planne nie. Hy gaan hulle bymekaarmaak soos gerwe op die dorsvloer. Die HERE sê vir Jerusalem: “Maak jou gereed en vernietig die nasies! Ek sal vir jou ysterhorings en koperhoewe gee sodat jy baie nasies kan vertrap. Gee al die rykdom wat jy so bekom as offers aan My. Ek is die HERE van die hele wêreld.”