Miga 4:3-13

Miga 4:3-13 ABA

“Die Here sal die regter wees tussen die volke en Hy sal die sterk volke vrede laat maak met mekaar, die volke wat naby is en die volke wat ver is. Dan sal die volke hulle swaarde en spiese smelt en hulle sal skerp ysters maak om te ploeg en messe om bome se takke af te sny. Die volke sal nie weer oorlog maak teen mekaar nie en hulle sal ook nie leer om oorlog te maak nie. Elke Israeliet sal onder sy eie wingerdstok of onder sy eie vyeboom sit. Die Israeliete sal vir niemand bang wees nie. Die Here het dit gesê, Hy regeer oor alles. Ja, elke volk lewe soos sy god wil hê, maar ons sal altyd lewe soos ons God wil hê.” Julle sê die Here sê: “Daardie dag sal Ek my skape bymekaarmaak. Hulle pote is seer, die vyande het hulle weggejaag na al die kante toe, want Ek het my volk gestraf. Ek sal my skape terugbring, my skape wat oorgebly het. Ek het my volk weggejaag, maar Ek sal hulle terugbring en Ek sal hulle weer 'n sterk volk maak. Ek sal self op Sionsberg oor hulle regeer, vir altyd. En soos voorheen sal daar weer 'n koning in Jerusalem wees, en hy sal kyk dat dit goed gaan met my volk.” Jerusalem, hoekom skree jy? Hoekom kry jy seer soos 'n vrou wat 'n kind kry? Is jou koning weg? Is die mense weg wat vir jou moet sê wat om te doen? Jy moet seerkry, jy moet skree soos 'n vrou wat 'n kind kry, want jou mense moet uit die stad gaan. Hulle moet in die veld gaan woon en dan na die stad Babel gaan. Die Here sê: “Daar in Babel sal Ek julle red, Ek sal julle vrymaak van julle vyande.” Baie volke het gekom om oorlog te maak teen julle. Hulle sê: “Ons sal die stad oorwin, ons sal sy mure afbreek!” Maar hulle weet nie wat die Here met hulle wil doen nie, hulle verstaan nie die Here se planne nie. Die Here het die volke bymekaargebring soos 'n boer koring-gerwe bymekaarbring op die dorsvloer. Nou moet die mense van Jerusalem die volke trap soos beeste die koring-gerwe trap. Die Here sê: “Ek gee vir hulle ysterhorings en brons-pote. Dan kan hulle die volke fyntrap en hulle kan die volke se goed vat en vir My present gee.” Die volke se goed sal behoort aan die Here van die hele aarde.