MIGA 6:9-16
MIGA 6:9-16 Bybel vir almal (ABA)
Die Here roep die mense van Jerusalem. Elke mens wat weet wat reg is, moet bang wees vir sy God. Die Here sê: “Luister, koning en almal wat in die stad bymekaar is, julle is 'n klomp slegte mense. Ek hou nie daarvan dat julle skelm is wanneer julle iets meet en weeg nie. Ek sien wanneer julle iets weeg met 'n weegskaal wat nie reg weeg nie. Die ryk mense doen slegte dinge aan die arm mense, en almal in die stad lieg en bedrieg. “Daarom het Ek klaar begin om julle te straf omdat julle sonde gedoen het. Julle sal eet, maar julle sal nie vol word nie, julle sal honger bly. Julle sal julle goed bêre, maar Ek sal dit gee vir die mense wat teen julle oorlog maak. Julle sal koring saai, maar julle sal nie koring afsny nie. Julle sal olie druk uit die olywe, maar julle sal nie olie kry om aan julleself te smeer nie. Julle sal sap uit die druiwe druk, maar julle sal nie wyn kry om te drink nie. Julle het gelewe soos die slegte konings Omri en Agab. Daarom sal Ek vyande laat kom, en hulle sal julle stad verwoes. Hulle sal baie slegte dinge doen aan julle en hulle sal julle spot.”
MIGA 6:9-16 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Die stem van die HERE roep tot die stad — dit is heilsaam om u Naam te vrees —: Hoor die roede, en wie dit bestel het. Is daar nog altyd in die huis van die goddelose skatte van onreg en 'n skrale efa wat vervloek is? Sal Ek rein kan wees by 'n valse weegskaal en by 'n sak vol bedrieglike gewigte? Want die rykes in die stad is vol geweld, en die inwoners daarvan spreek leuentaal, en hulle tong is bedrog in hulle mond. So slaan Ek jou dan ook met 'n smartlike wond, met verwoesting weens jou sondes. Jy sal eet, maar nie versadig word nie, sodat jou honger in jou binneste bly; en jy sal wegbring sonder om iets te red; en wat jy red, sal Ek aan die swaard oorgee. Jy sal saai, maar nie maai nie; jy sal olywe uittrap, maar jou nie met olie salf nie, en mos maak, maar geen wyn drink nie. Want die insettinge van Omri word onderhou en al die werke van die huis van Agab; en julle wandel ooreenkomstig hulle planne, sodat Ek jou tot 'n woesteny sou maak en die inwoners daarvan 'n bespotting: en die smaad van my volk sal julle dra.
MIGA 6:9-16 Afrikaans 1983 (AFR83)
Om die Here te dien, dit is wysheid. Die Here roep die stad; luister, leier en julle almal wat aanhou roof: Goddelose plek, moet Ek die verkeerde maatlyn bly verdra, of die vals inhoudsmaat wat Ek so haat? Moet Ek die eienaar van 'n onbetroubare weegskaal vryspreek, een met 'n sak vol vals gewigte? Die stad se ryk mense pleeg geweld, sy inwoners lieg en hulle bedrieg. Daarom het Ek jou begin straf; Ek het jou begin verwoes oor jou sondes. Jy sal eet en nie genoeg kry nie; jy sal honger bly. Jy sal geboortepyne hê, maar nie 'n kind in die wêreld bring nie. En wanneer jy 'n kind in die wêreld bring, gee Ek hom vir die swaard. Jy sal saai, maar nie oes nie, jy sal olywe pars, maar jou nie met olie insmeer nie, jy sal druiwe pars, maar nie wyn drink nie. Jy het Omri se reëlings nagekom, gedoen wat Agab gedoen het, hulle raad gevolg. Daarom sal Ek jou verwoes, Ek sal jou inwoners 'n bespotting maak. Jy sal my volk se vernedering moet dra.
MIGA 6:9-16 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Die stem van die HERE roep tot die stad (dit is verstandig om vir u Naam ontsag te hê): “Luister na die straf en wie dit bepaal het. Is daar steeds in die huis van die goddelose skatte wat deur onreg verkry is en 'n verkleinde efa, wat vervloek is? Sal Ek 'n vals weegskaal en 'n sak met vals gewigte oorsien? Die stad se rykes is vol geweld en die inwoners praat leuens; hulle tonge is die ene bedrog in hulle monde. Ek sal dan nou ook begin om jou te straf, om jou te verwoes oor jou sondes. Jy sal eet, maar nie versadig word nie. Hy sal jou binne-in die stad verneder. Jy sal mense verskuif, maar nie na veiligheid bring nie, en wie jy wel beveilig, sal Ek aan die swaard oorgee. Jy sal saai, maar nie oes nie; jy sal olywe pars, maar jouself nie met olie invryf nie; jy sal druiwe trap, maar nie •nuwe wyn drink nie. “Jy het die wette van Omri onderhou en alles gedoen wat die huis van Agab gedoen het; julle het hulle raad gevolg. Daarom sal Ek jou 'n skrikbeeld maak en die inwoners van die stad die rede vir 'n gefluit. Julle sal my volk se vernedering moet dra. ”
MIGA 6:9-16 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Die stem van die HERE roep na die stad, en die man van wysheid sal u Naam sien: luister na die staf en wie dit bestem het. Is daar nog die skatte van goddeloosheid in die huis van die goddelose, en die geringe mate wat afskuwelik is? Sal ek hulle rein ag met die slegte weegskaal en met die sak met bedrieglike gewigte? Want sy rykes is vol geweld, en die inwoners daarvan het leuens gespreek, en hulle tong is bedrieglik in hulle mond. Daarom sal Ek jou ook siek maak deur jou te slaan, deur jou woes te maak weens jou sondes. Jy sal eet, maar nie versadig word nie; en jou verwerping sal in jou midde wees; en jy sal gryp, maar nie red nie; en wat jy oorgee, sal Ek aan die swaard oorgee. Jy sal saai, maar jy sal nie maai nie; jy moet die olywe trap, maar jy mag jou nie met olie salf nie; en soet wyn, maar jy mag geen wyn drink nie. Want die insettinge van Omri word onderhou en al die werke van die huis van Agab, en julle wandel in hulle raad; dat Ek jou 'n wildernis sou maak en die inwoners daarvan 'n bespotting; daarom moet julle die smaad van my volk dra.
MIGA 6:9-16 Die Boodskap (DB)
“Die Here se raad aan die mense van Jerusalem is: ’n mens wat verstandig is, respekteer die Here. Almal wat in die stad bymekaar is, kan gerus maar hoor wat die Here te sê het: ‘Dink julle een oomblik dat Ek my oë kan sluit vir die verkeerde dinge waarmee julle besig is? Julle word op skelm maniere ryk. Ek kan dit nie verdra dat die maatbakke en bekers wat julle gebruik om iets soos koring of wyn af te meet, vals is nie. Dink julle Ek sal dink dit is reg as iemand ander mense bedrieg met ’n skaal wat verkeerd weeg? Die ryk mense in die stad kry wat hulle wil hê deur hardhandig met mense te werk. Jerusalem is vol mense wat lieg en bedrieg. Al hierdie verkeerde dinge wat julle doen, is die rede waarom Ek julle begin straf het. Daar gaan nie veel van julle oorbly nie omdat julle verkeerd leef. Niks wat julle doen, gaan goed vir julle werk nie. Julle kan maar eet, maar julle honger sal nie oorgaan nie. Wat julle gaan ervaar, is net soos wanneer ’n vrou geboortepyne kry, maar die kind word nie gebore nie. As ’n kind miskien tog gebore word, sal hy in ’n oorlog doodgaan. Julle kan maar saad probeer saai, julle sal niks oes nie. Probeer maar olywe pars, julle sal nie eens genoeg olie kry om aan julle te smeer nie. Julle sal druiwe pars, maar dit sal nie sap gee om wyn van te maak nie. Al julle harde werk is verniet. Ek het ’n groot probleem met julle omdat julle dieselfde verkeerde goed doen as wat koning Omri en sy seun Agab gedoen het. Dit is die rede hoekom Ek julle stad gaan verwoes. Ja, Ek gaan julle wat in die stad agterbly, verneder. Mense van ander volke sal na julle kyk en vir julle lag, want hulle dink minder as niks van julle.’”
MIGA 6:9-16 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Jerusalem, luister na die HERE! Verstandige mense respekteer die HERE se Naam. “Neem kennis: van die straf en wie dit veroorsaak. Gaan julle ooit ophou om deur kullery ryk te word? In die huise van die oneerlike mense is vals maatbakke en -bekers. Sal Ek ’n man vryspreek wat vals mate en vals gewigte gebruik? Mense in die stad word ryk deur geweld te gebruik. Die inwoners is gewoond om te lieg en te bedrieg. “Om dié rede gaan Ek julle dodelik tref! Ek gaan julle vernietig oor al julle sondes. Julle sal eet, maar nie versadig word nie. Julle hongerpyne sal nie weggaan nie. Julle sal spaar, maar niks bymekaarmaak nie. Die bietjie wat julle wel oorhou, sal in gevegte tot niet gaan. Julle sal saai, maar nie oes nie. Julle sal olywe pars, maar nie genoeg kry om julle te salf nie. Julle sal druiwe pars, maar julle sal nie die wyn drink nie. Julle gehoorsaam net die wette van Omri en volg al die gebruike van Agab se familie na! Ek sal van julle ’n voorbeeld maak en julle verwoes. Hulle sal julle inwoners spot, ander volke sal julle minag.”