MIGA 7:7-10
MIGA 7:7-10 Bybel vir almal (ABA)
Maar ek sal wag totdat die Here kom, ek sal wag totdat my God my kom red. My God sal luister na my gebed. Die mense van Jerusalem sê vir hulle vyande: “Julle moenie bly wees omdat dit so sleg gaan met ons nie. Ons het geval, maar ons sal weer opstaan. Ons sit in die donker, maar die Here is ons lig. Ons het sonde gedoen teen die Here, en daarom sal ons tevrede wees wanneer Hy ons straf. Maar Hy sal ons weer help. Hy sal dit goed laat gaan met ons. Hy sal die donker wegvat en Hy sal ons na die lig bring. Hy sal ons red.” Die mense van Jerusalem sê
MIGA 7:7-10 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Maar ek sal uitsien na die HERE, ek wil wag op die God van my heil, my God sal my hoor. Wees nie bly oor my nie, o my vyandin! Al het ek geval, ek staan weer op; al sit ek in duisternis, die HERE is 'n lig vir my. Die toorn van die HERE sal ek dra, want ek het teen Hom gesondig; totdat Hy my saak verdedig en my reg verskaf. Hy sal my uitlei in die lig; ek sal met welgevalle sien hoe Hy geregtigheid oefen. Ook sal my vyandin dit sien, en skaamte sal haar bedek wat vir my sê: Waar is die HERE, jou God? My oë sal met welgevalle op haar neersien. Nou sal sy vertrap word soos modder van die strate.
MIGA 7:7-10 Afrikaans 1983 (AFR83)
Maar ek sal vertrou op die Here, ek sal wag vir die God wat my red. My God sal my gebed verhoor. Moet jou nie oor my verlekker nie, my vyand, al het ek tot 'n val gekom, ek sal weer opstaan, al sit ek in die donker, die Here is my lig. Ek sal aanvaar dat die Here my straf in sy toorn, want ek het teen Hom gesondig. Wanneer Hy my saak verhoor en oor my uitspraak lewer, sal Hy weer lig bring in my lewe, sal ek ondervind dat Hy die oorwinning gee. My vyand sal dit sien, hy sal deur skaamte oorval word, hy wat vir my vra: “Waar is die Here jou God?” Ek sal op my vyand neersien, hy sal plat getrap word soos modder op die straat.
MIGA 7:7-10 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Maar ek sal vir die HERE op die uitkyk wees, ek sal bly wag op die God wat my verlos. My God sal my hoor. Moet jou nie oor my verlustig nie, my vyand. Al het ek geval, ek staan weer op; al sit ek in die donker, die HERE is vir my 'n lig. Die striemende toorn van die HERE sal ek dra – want ek het teen Hom gesondig – totdat Hy my saak verdedig en my reg handhaaf. Hy sal my uitlei na die lig; ek sal sy geregtigheid met genoegdoening ervaar. My vyand sal dit sien en deur skaamte oorval word, sy wat vir my vra: “Waar is die HERE jou God?” My oë sal met genoegdoening na haar kyk. Sy sal dan vertrap word soos modder op straat.
MIGA 7:7-10 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Daarom sal ek na die HERE kyk; Ek sal wag op die God van my heil: my God sal na my luister. Wees nie bly teen my nie, o my vyand; as ek val, sal ek opstaan; as ek in duisternis sit, sal die HERE vir my 'n lig wees. Ek sal die grimmigheid van die HERE dra, omdat ek teen hom gesondig het, totdat Hy my saak verdedig en vir my regspraak hou; Hy sal my na die lig uitbring, en ek sal sy geregtigheid aanskou. Dan sal sy wat my vyand is, dit sien, en skaamte sal haar bedek wat vir my gesê het: Waar is die HERE jou God? my oë sal haar aanskou; nou sal sy vertrap word soos die modder van die strate.
MIGA 7:7-10 Die Boodskap (DB)
“Ek het besluit ek sal my hulp by die Here soek. Ek sal geduldig wag tot Hy besluit dis nou die tyd om my te red. Verder weet ek die Here sal my gebed beantwoord.” Miga het namens Israel gepraat en gesê: “Ons vyande kry verniet so lekker omdat ons swaarkry. Dit is so dat ons geval het, maar ons sal weer opstaan. Dit voel vir ons of ons in die donkerte sit, maar ons weet die Here sal vir ons soos ’n lig wees. Ons het verkeerde dinge gedoen en die Here het nie daarvan gehou nie. Ons moet daarom doodgewoon ons straf vat. Maar as dit eers verby is, sal die Here sorg dat dinge weer vir ons reg loop. Dit sal vir ons voel of Hy ons uit die donkerte bring na die lig toe. Ons sal weet dit is die Here wat ons laat wen teen ons vyande. Ons vyande het gespot en gesê: ‘Waar is die Here julle God heen, is Hy weg?’ As ons vyande sien hoe die Here ons laat wen, sal hulle baie skaam kry oor hulle astrante houding. Ons sal lekker kry as hulle verneder word. Hulle sal soos modder wees wat in die strate lê en waarop mense trap.
MIGA 7:7-10 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Ek, daarenteen, sien met verwagting uit na wat die HERE gaan doen. Ek wag in vertroue dat God my moet red. My God sal my verseker verhoor! My vyande, julle moenie julle oor my verlekker nie! Ek het geval, maar ek sal weer opstaan. Al sit ek nou in duisternis, die HERE is ’n lig vir my. Ek sal die straf van die HERE verduur, want ek het teen Hom gesondig. As dit eers verby is, sal Hy my saak opneem teen my vyande. Hy sal reg aan my laat geskied. Hy sal weer lig in my lewe bring en ek sal sy regverdigheid sien. Dan sal my vyande sien dat Hy aan my kant is. Hulle sal skaam kry omdat hulle my gespot het deur te sê: “Waar is die HERE jou God?” Ek sal toekyk terwyl hulle soos modder op die strate vertrap word.