NAHUM 1:2-11 - Vergelyk alle weergawes | YouVersion
NAHUM 1:2-11 AFR83 (Afrikaans 1983)
Die Here is 'n God wat baie begaan is oor sy volk, 'n God wat Hom wreek. Die Here wreek Hom in sy gloeiende toorn, die Here wreek Hom op sy teëstanders, sy toorn ontvlam teen sy vyande. Die Here is lankmoedig, maar sy krag is groot: Hy laat geen skuldige ongestraf nie. Hy kom in rukwind en storm, wolke is die stof onder sy voete. Hy spreek die see aan en laat dit droog word, Hy laat al die riviere opdroog. Basan en Karmel verdor, die groenigheid op die Libanon verwelk. Berge bewe voor Hom, heuwels wankel; die aarde, die wêreld en almal wat daarin woon, deins terug wanneer Hy verskyn. Wie kan bly staan voor sy woede? Wie kan sy gloeiende toorn weerstaan? Sy gramskap breek deur soos 'n veldbrand. Rotse word voor Hom uit uitmekaar gebreek. Die Here is goed, Hy is 'n toevlug in tyd van nood, Hy sorg vir dié wat by Hom skuil. Maar met 'n vloed wat alles meesleur, vee Hy die plek weg waar Nineve lê, jaag Hy sy vyande die duisternis in. Wat julle ook al teen die Here bedink, Hy maak dit tot niet. Daar sal nie weer verdrukking wees nie. Al is julle inmekaargevleg soos dorings, en al is julle deurweek van drank, julle sal soos kurkdroë stoppels verbrand word. Daar het een uit jou gekom, Nineve, wat kwaad bedink teen die Here, planne wat nie sal slaag nie.
NAHUM 1:2-11 AFR53 (Afrikaans 1933/1953)
'n Jaloerse God en 'n wreker is die HERE, 'n wreker is die HERE, en vol grimmigheid; 'n wreker is die HERE vir sy teëstanders, en Hy behou die toorn teen sy vyande. Die HERE is lankmoedig, maar groot van krag; en nooit laat die HERE ongestraf bly nie. Sy weg is in warrelwind en in storm, en wolke is die stof van sy voete. Hy dreig die see en maak dit droog en laat al die riviere opdroog; Basan en Karmel kwyn weg, en die groenigheid van die Líbanon verwelk. Die berge bewe voor Hom, en die heuwels smelt weg; en die aarde rys op voor sy aangesig, ja, die wêreld en almal wat daarin woon. Wie sal standhou voor sy grimmigheid? En wie sal bestand wees teen die gloed van sy toorn? Sy gramskap word uitgegiet soos vuur, en die rotse word stukkend geruk voor Hom. Die HERE is goed, 'n toevlug in die dag van benoudheid, en Hy ken die wat by Hom skuil. Maar met 'n oorstromende vloed maak Hy 'n einde aan die plek van die stad, en sy vyande vervolg Hy die duisternis in. Wat wil julle beraam teen die HERE? Hy maak daar 'n einde aan; die benoudheid sal nie twee maal opkom nie. Want al is hulle saamgevleg soos dorings, en soos hulle drank so deur en deur nat — hulle sal soos droë stoppels volkome verteer word. Van jou, o stad, het een uitgegaan wat kwaad teen die HERE beraam het, wat verderflike planne gemaak het.
NAHUM 1:2-11 NLV (Nuwe Lewende Vertaling)
Die HERE is ’n God wat absolute lojaliteit vra. Hy is vol wraak en woede. Hy wreek Hom op al sy teenstanders en vernietig sy vyande. Die HERE word stadig kwaad, maar sy krag is groot. Hy laat skuldiges nie ongestraf nie. Hy kom in warrelwinde en storms, wolke is die stof onder sy voete. Hy beveel, en oseane en riviere droog op, die groen weivelde van Basan en Karmel verdroog, die botsels van Libanon verdor. Berge skud in sy teenwoordigheid en die heuwels smelt weg. Hy laat die aarde bewe, so ook die wêreld en die mense wat dit bewoon. Wie is bestand teen sy woede? Wie sal die gloed van sy toorn oorleef? Sy woede brand soos ’n vuur. Rotse verkrummel voor Hom tot stof. Die HERE is goed. In tye van nood is Hy ’n veilige vesting. Hy beskerm elke mens wat op Hom vertrou. Maar Hy tref dié wat teen Hom in opstand kom soos ’n vloedgolf. Hy agtervolg sy vyande die donkerte in. Hoekom beraam julle planne teen die HERE? Hy sal dit op niks laat uitloop nie. Daar sal nie weer so ’n bedreiging kom nie. Sy vyande is soos vervlegte dorings, soos slingerende dronkaards. Maar Hy sal hulle soos droë strooi verbrand. Wie is hierdie koning van julle wat durf waag om bose planne teen die HERE te beraam?
NAHUM 1:2-11 DB (Die Boodskap)
Die Here hou niks daarvan dat mense ander gode aanbid nie. Dit maak Hom baie kwaad. Daarom straf Hy mense wat teen Hom in opstand kom. Hy wreek Hom ook op sy teëstanders deur hulle te straf. Die Here word nie gou kwaad nie, maar dit beteken nie dat sy mag nie groot is nie. Hy laat nie mense wat verkeerde dinge doen, wegkom nie. Nee, Hy straf hulle. Hy gebruik winde wat warrel en storms wat kwaai woed om te wys dat Hy baie mag het. Dit wys die Here is daar. Die wolke wat saamdrom, lyk dan soos stof wat sy voete opskop. Hy wys ook sy mag deur net ’n opdrag te gee en die see en die riviere droog op. Hy laat ook die groen weiding op groot berge droog word en op ander berge weer laat Hy die bloeisels verwelk. As die berge begin bewe en die heuwels wegsmelt, weet ’n mens duidelik die Here bestaan. Dit is soos ’n aardbewing wat die aarde en sy mense skud. ’n Mens kan vra of enigiemand sal kan oorleef as Hy kwaad is. Dit is nie speletjies as Hy kwaad is nie. Sy woede is so erg, dit is soos ’n vuur wat rotse laat bars en in stukke breek. Die Here is goed. As swaar tye kom, is ’n mens veilig by Hom. Hy sorg vir mense wat wys dat hulle Hom vertrou. Maar as mense teen die Here in opstand kom, sal Hy hulle vir altyd laat verdwyn. Dit sal wees asof ’n vloed water hulle weggespoel het en hulle in die donkerte verdwyn. Watse planne is julle besig om teen die Here te maak? Daar sal niks van kom nie, want Hy sal dit dadelik dooddruk. Daar is nie eers ’n moontlikheid vir die vyand om ’n tweede keer in opstand te kom nie. Die vyand is soos ’n groen bos met baie digte dorings. Dit laat ’n mens dink dat jy nie aan hom kan raak of deur hom kan kom nie. Maar al is dit so, sal die Here hulle soos droë strooi verbrand. Dit is die slegte koning van Nineve wat bose planne teen die Here uitdink.
NAHUM 1:2-11 ABA (Bybel vir almal)
Die Here is 'n God wat baie kwaad word en wat sy vyande straf. Hy straf die mense wat teen Hom is, Hy bly kwaad vir sy vyande. Die Here is geduldig en baie sterk, maar as iemand skuldig is, dan sal die Here hom straf. Wanneer die Here kom, dan is daar 'n sterk wind en 'n storm. Die wolke is soos stof onder sy voete. Wanneer Hy met die see raas, dan word die see droog. Hy laat al die riviere droog word. Die plante in Basan en op Karmel-berg word droog. Al die blomme op die Libanon-berg verlep en gaan dood. Die berge skud voor die Here, die heuwels smelt, die wêreld en almal wat op die wêreld woon, skrik wanneer die Here kom. Wie kan voor God staan wanneer Hy kwaad is? Niemand nie. Wanneer God kwaad is, dan is dit soos 'n vuur wat brand. Die rotse breek stukkend voor Hom. Die Here is goed. Hy help mense wanneer dit sleg gaan met hulle en Hy is bekommerd oor almal wat vra dat Hy hulle moet beskerm. Maar die Here sal die mense van Nineve straf. Dit sal lyk soos wanneer 'n sterk stroom water hulle wegspoel. Hy sal sy vyande jaag tot in donker plekke. Die Here sal die planne stop wat julle teen Hom maak. Sy vyande sal nie weer kom nie. Hulle is soos dorings wat inmekaar steek, hulle is dronk van die wyn wat hulle drink, maar hulle sal brand soos kaf. Daar het iemand uit Nineve gekom wat slegte planne teen die Here gemaak het. Hy wou hê dit moet sleg gaan met die Israeliete.
NAHUM 1:2-11 AFR20 (Die Bybel 2020-vertaling)
Die HERE is 'n besitlike God, en Hy wreek Hom. Die HERE neem wraak met woede. Die HERE wreek Hom op sy teenstanders, Hy is toornig teenoor sy vyande. Die HERE is geduldig, maar geweldig sterk. Die HERE laat beslis niks ongestraf nie. Deur donderstorm en orkaan loop sy pad, wolke is die stof van sy voete. Hy berispe die see en laat dit opdroog; al die riviere laat Hy wegdroog. Basan en Karmel verdor, die bloeisels van Libanon verwelk. Die berge bewe voor Hom, die heuwels stort ineen. Die aarde lê verwoes voor Hom, ja, die wêreld met al sy bewoners. Wie kan staande bly voor sy verontwaardiging, wie kan sy brandende toorn weerstaan? Wanneer sy woede uitbars soos vuur, spat rotse voor Hom uiteen. Die HERE is goed, 'n toevlugsoord in tye van bedreiging. Hy sorg vir wie by Hom skuil, maar met 'n vloedgolf vernietig Hy die stad geheel en al, sy vyande agtervolg Hy tot in die duisternis. Wat kan julle teen die HERE beplan? Hy rig 'n totale vernietiging aan! Bedreiging sal nie 'n tweede keer toeslaan nie. Selfs al word hulle saamgevleg tot 'n doringskerm, en omring deur rankplante, hulle sal verteer word soos stoppels wat heeltemal droog is. Uit jou het hy weggetrek, hy wat onheil beraam teen die HERE, wat boosheid beplan.
NAHUM 1:2-11 CAB23 (Contemporary Afrikaans Bible 2023)
God is jaloers, en die HERE neem wraak; die HERE neem wraak en is grimmig; die HERE sal wraak neem op sy teëstanders, en die grimmigheid bewaar vir sy vyande. Die HERE is lankmoedig en groot van krag, en Hy sal die goddelose glad nie vryspreek nie; die HERE het sy weg in storm en storm, en die wolke is die stof van sy voete. Hy bestraf die see en maak dit droog en laat al die riviere verdroog: Basan kwyn en Karmel, en die blom van die Líbanon kwyn. Die berge bewe vir hom, en die heuwels smelt, en die aarde word verbrand voor sy aangesig, ja, die wêreld en almal wat daarin woon. Wie kan standhou voor sy grimmigheid? en wie kan in die gloed van sy toorn bly? sy grimmigheid word uitgestort soos vuur, en die rotse word deur hom neergegooi. God is die HERE, 'n veilige vesting in die dag van benoudheid; en Hy ken die wat op Hom vertrou. Maar met 'n oorstromende vloed sal Hy die plek daarvan 'n einde maak, en duisternis sal sy vyande agtervolg. Wat dink julle teen die HERE? hy sal 'n einde maak; verdrukking sal nie vir die tweede keer opkom nie. Want terwyl hulle saamgevou is soos dorings, en terwyl hulle dronk is soos dronkaards, sal hulle verteer word soos stoppels wat heeltemal droog is. Daar het een uit jou uitgekom wat kwaad bedink teen die HERE, 'n goddelose raadgewer.