Die embleem van die Bybeltoep
Soek-ikoon

NAHUM 1:2-11

NAHUM 1:2-11 NLV

Die Here is ’n God wat absolute lojaliteit vra. Hy is vol wraak en woede. Hy wreek Hom op al sy teenstanders en vernietig sy vyande. Die Here word stadig kwaad, maar sy krag is groot. Hy laat skuldiges nie ongestraf nie. Hy kom in warrelwinde en storms, wolke is die stof onder sy voete. Hy beveel, en oseane en riviere droog op, die groen weivelde van Basan en Karmel verdroog, die botsels van Libanon verdor. Berge skud in sy teenwoordigheid en die heuwels smelt weg. Hy laat die aarde bewe, so ook die wêreld en die mense wat dit bewoon. Wie is bestand teen sy woede? Wie sal die gloed van sy toorn oorleef? Sy woede brand soos ’n vuur. Rotse verkrummel voor Hom tot stof. Die Here is goed. In tye van nood is Hy ’n veilige vesting. Hy beskerm elke mens wat op Hom vertrou. Maar Hy tref dié wat teen Hom in opstand kom soos ’n vloedgolf. Hy agtervolg sy vyande die donkerte in. Hoekom beraam julle planne teen die Here? Hy sal dit op niks laat uitloop nie. Daar sal nie weer so ’n bedreiging kom nie. Sy vyande is soos vervlegte dorings, soos slingerende dronkaards. Maar Hy sal hulle soos droë strooi verbrand. Wie is hierdie koning van julle wat durf waag om bose planne teen die Here te beraam?