NEHEMIA 4:1-23
NEHEMIA 4:1-23 Die Boodskap (DB)
Toe Sanballat hoor dat ons Jerusalem se muur herbou, was hy baie kwaad. Hy het die Jode voor sy vriende en die Samaritaanse soldate beledig. “Wat probeer hierdie miserabele klomp Jode doen?” het hy spottend gevra. “Kan dit wees dat hulle die mure wil herbou? Dink hulle sowaar hulle kan hierdie muur in ’n dag herbou net omdat hulle offers bring? Wil hulle bakstene maak van daardie hoop verbrande rommel?” Tobija die Ammoniet, wat langs hom gestaan het, het haastig bygevoeg: “Los hulle, laat hulle maar hulle muur bou. Dit sal in elk geval nie hou nie. As ’n jakkals daarteen opspring, sal dit omval!” Toe het ek gebid: “God, luister hoe spot hulle ons! Draai hulle gespot teen hulle sodat met hulle gebeur wat hulle ons toewens. Laat hulle weggevoer word as ballinge in ’n vreemde land. Moenie hulle verkeerde dade vergewe of hulle sondes vergeet nie, want hulle het die bouers beledig wat besig is om u opdrag uit te voer.” Ons het verder aan die muur gebou. Kort voor lank was dit halfpad voltooi omdat almal met hart en siel help bou het. Toe Sanballat, Tobija, die Arabiere en die inwoners van Asdod hoor dat ons goed vorder en dat daar byna geen openinge meer in die muur was nie, was hulle baie kwaad. Hulle het agteraf besluit om Jerusalem aan te val en die mense in die stad uitmekaar te jaag. Maar ons het aanhoudend tot ons God gebid en dag en nag soldate op die mure laat wag- staan. Die werkers in Juda het toe ’n treurige lied gesing: “Die bouers se kragte raak op, die rommel is net te veel om weg te vat, ons gaan nooit hierdie muur klaar gebou kry nie.” Intussen het ons teëstanders gedink: “Voor hulle hulle oë uitvee, is ons tussen hulle. Dan maak ons hulle dood en maak ’n einde aan die bouery.” Die Judeërs wat naby daardie slegte spul gebly het, het ’n hele paar keer na ons toe gekom met die waarskuwing dat hulle ons gaan aanval. Daarom het ek die mense met swaarde, spiese, pyle en boë bewapen. Ek het families saamgesit en hulle agter die muur stelling laat inneem by die plekke wat nog nie heeltemal klaar was nie. Ek het gesien dat die mense benoud was; daarom het ek hulle leiers en amptenare bymekaargeroep en vir hulle gesê: “Moenie vir daardie slegte mense bang wees nie! Dink eerder hoe asemrowend groot en magtig die Here is. Veg dan met alles in julle vir julle families en julle huisgesinne.” Toe ons vyande agterkom dat ons weet van hulle planne om ons aan te val, het hulle besef dat God dit in die wiele gery het. Daarna kon ons voortgaan met ons werk aan die muur. Van daardie dag af het die helfte van die mense aan die muur gebou terwyl die ander helfte waggestaan het met spiese, skilde, pyle en boë en borsharnasse. Die leiers van die volk het almal wat aan die muur gewerk het, elke dag besoek en aangemoedig. Die helpers wat die boumateriaal moes aandra, het hulle werk met een hand gedoen, want in die ander hand het hulle ’n wapen gedra. Al die bouers het ook ’n swaard om hulle heupe gedra. Die soldaat wat met sy trompet alarm moes maak as daar gevaar kom, het die hele tyd by my gebly. Ek het vir almal daar gesê: “Ons het nog baie werk om te doen. Die muur strek oor ’n groot gebied en ons is soms ver van mekaar af. As julle die trompet hoor blaas, sorg dat julle so gou moontlik by my en die soldate uitkom. Ons weet ons God sal ons help in die geveg.” Ons het elke dag aan die muur gewerk, van die son opgekom tot die sterre uitgekom het. Terwyl die een helfte gewerk het, het die ander helfte waggestaan met hulle wapens. Ek het ook in dié tyd vir mense wat buite Jerusalem gebly het, gevra om binne-in die stad te kom slaap. So kon ons mekaar aflos met wagstaan in die nag en werk in die dag. Nie ek of my medeamptenare, ons helpers of die wagte wat by ons was, het ooit ’n kans gekry om ons klere uit te trek nie. Selfs as ons gaan bad het, het ons altyd wapens byderhand gehou.
NEHEMIA 4:1-23 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Toe Sanballat hoor dat hulle besig was om die muur te herstel, was hy baie kwaad. Hy het in woede uitgebars en smalend met die Jode gepraat. Hy het voor sy vriende en die leër van Samaria uitgevaar: “Wat dink hierdie armsalige Jode doen hulle? Dink hulle miskien hulle kan die muur in een dag bou as hulle net genoeg offers bring? Kyk net hoe lyk die swartgebrande klippe wat hulle onder die rommel uitkrap om weer te gebruik!” Tobija die Ammoniet wat langs hom gestaan het, het gesê: “Daardie klipmuur sal omval selfs as ’n jakkals daarop loop!” Toe het ek gebid: “O God, hoor ons tog, want ons word verag. Laat hulle beledigings teen hulle draai. Laat hulle self die buit wees, gevangenes in ’n ander land! Moenie hulle skuld oorsien nie. Moet ook nie hulle sondes sommer net voor U uitvee nie, want hulle het U uitgelok om hier voor die bouers u woede te wys.” Die mense het baie hard gewerk. Uiteindelik was die muur reg rondom die stad tot halfpad die oorspronklike hoogte herbou. Die werk het gevorder en hulle het die gapings in die muur herstel. Toe Sanballat, Tobija, die Arabiere, die Ammoniete en die mense van Asdod dit hoor, het hulle baie kwaad geword. Hulle het almal planne beraam om teen Jerusalem te veg. Hulle wou kom om verwarring te veroorsaak. Maar ons het tot ons God gebid. Ons het die stad dag en nag bewaak om onsself teen hulle te beskerm. Maar die mense van Juda het begin sê: “Die bouers is besig om moeg te word en daar is baie rommel wat ons moet verwyder. Ons sal die muur nie alleen kan bou nie. “Boonop sê ons vyande: ‘Voordat hulle besef wat gebeur, is ons tussen hulle. Dan maak ons hulle dood en bring ’n einde aan die bouery.’” Die Jode wat naby die vyand gebly het, het herhaaldelik vir ons kom sê: “Hulle sal uit alle rigtings kom om ons aan te val!” Ek het toe wagte agter die laagste dele van die muur geplaas waar daar oop gedeeltes was. Ek het ook mense by die families laat wagstaan, gewapen met swaarde, spiese en boë. Ek het sake dopgehou en toe die leiers, die amptenare en die res van die volk bymekaargeroep en gesê: “Moenie vir die vyand bang wees nie! Hou in gedagte dat die Here groot en vreesaanjaend is. Veg vir julle vriende, julle seuns en julle dogters, julle vroue en julle huise!” Toe ons vyande hoor dat ons van hulle planne weet en dat God dit in die wiele gery het, kon elkeen van ons weer na ons werk aan die muur teruggaan. Maar van toe af kon net die helfte van my mense met die werk aangaan. Die ander het met harnasse aan waggestaan, gewapen met spiese, skilde en boë. Die offisiere het agter die mense van Juda posisie ingeneem terwyl hulle aan die muur gebou het. Die werkers wat die boumateriaal aangedra het, het hulle werk met net een hand gedoen. In die ander hand was ’n wapen. Al die bouers het gewerk met ’n swaard aan hulle sye vasgemaak. Die trompetblaser het by my gebly om alarm te maak. Ek het vir die leiers, amptenare en die res van die volk verduidelik: “Kyk, ons werk oor ’n groot gebied en ons is ver van mekaar af al langs die muur versprei. As julle die trompet hoor blaas, kom vinnig by daardie punt bymekaar. Ons God sal vir ons veg!” Ons het van vroeg tot laat gewerk, van sonsopkoms tot sonsondergang. Een helfte van die mense was altyd op wag, gewapen met spiese. Ek het ook almal wat buite die mure gebly het, beveel om in Jerusalem te kom slaap. Op dié manier kon hulle en hulle slawe in die nag help wagstaan en bedags met die werk help. In dié tyd het niemand van ons ooit ons klere uitgetrek nie – nie ek of my familie of my diensknegte of die wagte wat by my was nie. Ons het ons wapens te alle tye saam met ons gedra, selfs wanneer ons water gaan drink het.
NEHEMIA 4:1-23 Bybel vir almal (ABA)
Toe Sanballat hoor dat ons die muur bou, het hy baie kwaad geword. Hy was ontsteld en hy het die Judeërs gespot. Die ander amptenare en die leër van Samaria het gehoor wat hy sê. Hy het gesê: “Wat doen die Judeërs? Hulle is swak en beteken niks. Wil hulle alles self regmaak? Wil hulle offer? Wil hulle alles op een dag klaarmaak? Wil hulle die klippe wat swart gebrand is, onder die hope grond uithaal? Hulle kan nie dit doen nie.” Die Ammoniet Tobija was langs Sanballat, en hy het gesê: “As hulle dit regkry om die muur te bou, dan sal 'n jakkals dit kan omstamp as hy teen die muur spring.” Ek het gebid en gevra: “Ons God, U moet luister hoe spot hulle ons, U moet hulle vyande vir húlle laat spot. U moet hulle gevangenes laat word in 'n ander land. U moet hulle straf, U moenie hulle sonde vergewe nie, nooit nie, want hulle het ons gespot omdat ons die muur bou.” Ons het aangehou om die muur te bou. Die muur was die helfte so hoog soos hy moes wees, en die mense het fluks gewerk. Sanballat en Tobija en die Arabiere en die Ammoniete en die mense van Asdod het baie kwaad geword toe hulle hoor dat die Judeërs die muur regmaak en dat dit goed gaan met die werk. Hulle het gehoor dat amper al die stukkende plekke in die muur weer reg is. Hulle het saam planne gemaak om oorlog te maak teen Jerusalem en om alles in die stad deurmekaar te maak. Ons het gebid tot ons God en ons het elke dag en nag mense laat wagstaan om te kyk of ons vyande kom. Die Judeërs het gesê: “Die mense wat die klippe moet dra, word moeg, en daar is groot hope grond wat hulle moet wegdra. Ons sal nie die muur klaar kan bou nie.” Ons vyande het vir mekaar gesê: “Ons sal tussen die Judeërs wees en ons sal hulle doodmaak voordat hulle iets sal weet of sal sien. Dan sal die werk kan ophou.” Party Judeërs wat naby ons vyande gewoon het, het vir ons tien maal kom sê dat ons vyande van al die kante kom om ons aan te val. Ek het toe vir die mense gesê hulle moet gereedstaan agter die muur op die gelyk plekke, elke familie moet swaarde, spiese en pyl en boë hê. Ek het vir die belangrike mense, die leiers en die ander mense, gesê: “Julle moenie bang wees vir die vyande nie, julle moet onthou dat die Here by ons is. Hy is groot, en almal moet bang wees vir Hom. Julle moet veg vir julle broers, vir julle seuns, vir julle dogters, vir julle vroue en julle huise.” Ons vyande het gehoor dat ons weet van hulle planne en dat ons weet dat God hulle planne laat misluk het. Ons het toe almal teruggegaan na die muur, elkeen het sy werk daar gaan doen. Van daardie dag af het die helfte van my manne gewerk en die ander helfte het gereedgestaan met spiese, skilde, pyl en boë, en harnasse. Die offisiere het gestaan agter al die mense van Juda wat die muur gebou het. En die mense wat die klippe moes dra, het klippe gedra met die een hand, en in hulle ander hand het hulle 'n wapen gedra. Die manne wat gebou het, het hulle swaarde teen hulle heupe vasgebind, en die man wat die ramshoring moes blaas, was langs my. Ek het vir die belangrike mense, vir die leiers en die ander mense, gesê: “Ons werk ver van mekaar op die muur. Wanneer julle hoor dat die ramshoring blaas, dan moet julle almal bymekaarkom by ons. Ons God sal vir ons veg.” So het ons gewerk terwyl die helfte van ons die spiese gereedgehou het. Ons het gewerk vandat dit lig geword het in die oggend totdat die sterre in die aand uitgekom het. Ek het daardie tyd ook vir die mense gesê: “Julle moet hier in Jerusalem slaap, elke man en die man wat vir hom werk moet hier slaap, sodat julle in die nag kan wagstaan en in die dag kan werk.” Niemand het sy klere uitgetrek nie, nie ek of my broers of die man wat vir my gewerk het of die manne wat waggestaan het nie. Elkeen het sy spies gereedgehou, ook wanneer hy gewas het.
NEHEMIA 4:1-23 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
MAAR toe Sanbállat hoor dat ons die muur bou, het hy kwaad geword en hom baie geërg, en hy het met die Jode gespot en voor sy broers en die leër van Samaría gespreek en gesê: Wat maak die magtelose Jode? Sal 'n mens hulle laat begaan? Sal hulle offer? Sal hulle dit vandag nog voltooi? Sal hulle die klippe uit die grondhope lewendig maak, al is dit deur brand verniel? En Tobía, die Ammoniet, het langs hom gestaan en gesê: Wat hulle ook al bou — as 'n jakkals daarteen opspring, sal hy hulle klipmuur omgooi! Hoor, onse God, dat ons 'n veragting geword het; en bring hulle smaad op hulle hoof terug en gee hulle oor aan plundering in 'n land van gevangenskap. En dek hulle ongeregtigheid nie toe nie, en laat hulle sonde nie uitgedelg word voor u aangesig nie; want hulle het U geterg teenoor die bouers. Maar ons het die muur opgebou, en die hele muur is tot op sy helfte herstel; en die volk was met hulle hart in die werk. Maar toe Sanbállat en Tobía en die Arabiere en die Ammoniete en die Asdodiete hoor dat die verbetering aan die mure van Jerusalem vorder, dat die skeure begin toeraak, het hulle baie kwaad geword. En hulle het almal met mekaar 'n sameswering gesmee om teen Jerusalem te gaan veg en daar verwarring te stig. Maar ons het tot onse God gebid en om hulle ontwil 'n wag teen hulle uitgesit, dag en nag. Maar Juda het gesê: Die krag van die lasdraers beswyk, en die puinhoop is groot, sodat ons nie aan die muur kan bou nie. En ons teëstanders het gesê: Hulle mag niks weet en sien nie totdat ons tussen hulle inkom en hulle doodslaan en 'n einde maak aan die werk. En toe die Jode wat by hulle gewoon het, inkom en wel tien maal, uit al die plekke, aan ons sê: Julle moet na ons toe terugkom — het ek op die laagste plekke agter die muur, op die kaal plekke, manskappe opgestel — ek het die volk opgestel volgens hulle geslagte met hul swaarde, hul spiese en hul boë. En ek het dit gesien en my opgerig en aan die edeles en die leiers en die ander mense gesê: Julle moet nie bang wees vir hulle nie; dink aan die grote en gedugte HERE, en veg vir julle broers, julle seuns en julle dogters, julle vroue en julle huise. En toe ons vyande hoor dat dit aan ons bekend geword het, en God hulle plan verydel het, het ons almal teruggegaan na die muur, elkeen na sy werk. En van dié dag af was die helfte van my mense besig met die werk, en die ander helfte het die spiese en die skilde en die boë en die pantsers gehou, terwyl die owerstes agter die hele huis van Juda gestaan het. Van die bouers aan die muur het die lasdraers hulle werk so gedoen dat hulle met die een hand die werk verrig het, terwyl die ander hand die werpspies vashou, en die bouers het elkeen sy swaard aan sy heupe gegord en gebou, terwyl die basuinblaser by my gestaan het. En ek het aan die edeles en die leiers en die ander mense gesê: Die werk is groot en uitgestrek, en ons is uitmekaar op die muur, die een ver van die ander af. Op die plek waar julle die geluid van die basuin hoor, daar moet julle by ons bymekaarkom; onse God sal vir ons stry. En ons het die werk gedoen, terwyl die helfte van hulle die spiese vashou vandat die rooidag uitkom totdat die sterre verskyn. Ook het ek in dié tyd aan die volk gesê: Elkeen moet met sy kneg binnekant Jerusalem vernag, sodat hulle vir ons in die nag 'n wag kan wees en oordag 'n werkkrag. Maar ek self en my broers en my mense en die manne van die wag wat my gevolg het, het nooit ons klere uitgetrek nie — elkeen met sy wapen en water.
NEHEMIA 4:1-23 Afrikaans 1983 (AFR83)
Toe Sanballat hoor ons bou die muur, was hy woedend. Hy het met groot ergernis smalend teen die Judeërs uitgevaar en vir sy medeamptenare en vir die soldate in Samaria gesê: “Waarmee is die arme Judeërs besig? Wil hulle vir hulle 'n stadsmuur bou? Wil hulle offerandes bring en in een dag klaarmaak? Wil hulle die klippe laat herleef uit daardie hope stof en as?” Tobija die Ammoniet het langs Sanballat gestaan en hy het gesê: “Laat hulle bou! Daardie klipmuur van hulle sal omval as 'n jakkals daarteen spring!” Hoor dit, ons God! Ons word bespotlik gemaak! Laat dié smaad op hulle eie kop afkom, laat hulle gevangenes word in 'n land van ballingskap! Moenie hulle oortreding vergewe nie, moenie dat hulle sonde ooit voor U uitgewis word nie! Hulle het die bouers beledig! Ons het bly bou aan die muur. Die hele muur was al halfpad opgebou. Die mense se hart was in die werk. Sanballat, Tobija, die Arabiere, die Ammoniete en die mense van Asdod was hewig ontsteld toe hulle hoor die herstel aan Jerusalem se mure vorder en die afgebreekte gedeeltes is byna klaar opgebou. Hulle het saamgesweer om Jerusalem te kom aanval en verwarring te stig. Ons het tot ons God gebid en dag en nag wagte teen hulle uitgesit. Die Judeërs het begin kla: “Die draers se kragte gee in, die puin is te veel. Ons gaan dit nie regkry om die muur klaar te bou nie.” Ons teenstanders het gedink: hulle sal niks weet of sien voor ons tussen hulle is en hulle doodmaak en die werk tot stilstand bring nie. Ons is egter keer op keer gewaarsku deur Judeërs wat naby ons vyande gewoon het en van oral af na ons toe gekom het. Ek het die volk, gewapen met swaarde, spiese en pyle en boë, familiegewys ingedeel en hulle stelling laat inneem agter die muur onderkant elke plek waar die muur nog nie hoog genoeg was nie. Daarna, toe ek agterkom dit is nodig, het ek die vooraanstaande burgers, die ampsdraers en die res van die volk toegespreek: “Moenie vir hulle bang wees nie. Dink aan die Here, groot en ontsagwekkend, en veg vir julle broers, julle seuns en julle dogters, julle vrouens en julle huise.” Ons vyande het gehoor dat ons van hulle planne weet en dat God dit verydel het, en ons kon almal teruggaan muur toe, elkeen na sy werk toe. Van daardie dag af was een helfte van my manne aan die werk en het die ander helfte die spiese, skilde, pyle en boë en harnasse gereed gehou. Die gesagvoerders het plek ingeneem agter elke familiegroep Judeërs wat aan die muur gebou het. Dié wat boumateriaal moes aandra, het met een hand die werk gedoen en met die ander hand 'n wapen vasgehou. Die bouers het elkeen sy swaard om die heupe vasgegord gehad. Die ramshoringblaser het naby my gebly. Ek het vir die vooraanstaande burgers, die ampsdraers en die res van die volk gesê: “Die werk is groot en uitgestrek, en ons is oor die hele muur uitgesprei, elkeen ver van die naaste man af. Waar julle ook al die ramshoring hoor blaas, daar moet julle by ons saamtrek. Ons God sal vir ons die stryd voer.” Ons het met die werk aangegaan, die helfte van die manne met spiese in die hand, van dagbreek af tot die sterre uitgekom het. Ek het dié tyd ook vir die volk gesê: “Elke man met sy handlanger moet in Jerusalem oornag, sodat hulle snags vir wagdiens en bedags vir die werk beskikbaar is.” Nie ek of my medeamptenare of my dienaars of die wagte by my het kans gekry om ons klere uit te trek nie en selfs by die water het ons ons wapens gereed gehou.
NEHEMIA 4:1-23 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Toe Sanballat hoor dat ons besig was om die muur te herbou, het dit hom ontstel en was hy baie geïrriteerd. Hy het die spot gedryf met die Judeërs. Hy het toe in die teenwoordigheid van sy stamgenote en die leër van Samaria gepraat en gesê: “Wat is die miserabele Judeërs besig om te doen? Knap hulle die plek vir hulle op? Gaan hulle offers slag? Gaan hulle dit vandag afhandel? Wil hulle die klippe uit die hope rommel weer gebruik terwyl dit verkool is?” Tobija, die Ammoniet, was langs hom. Hy sê toe: “Wat hulle ook al herbou, as 'n jakkals daarteen opspring, maak hy 'n gat in hulle klipmuur.” Hoor tog, ons God, want ons het veragtelik geword. Keer hulle gespot om op hulle eie koppe, en gee hulle as buit oor in 'n land van gevangenskap. U moet nie hulle sondeskuld bedek nie, en hulle sondes moet nie voor U weggevee word nie, want hulle het U voor die bouers uitgetart. Ons het die stadsmuur opgebou. Die dele van die hele muur is saamgevoeg tot op die helfte van sy hoogte. Die volk se hart was in hulle werk. Toe Sanballat, Tobija, die Arabiere, Ammoniete en mense van Asdod hoor dat die herstelwerk aan die mure om Jerusalem vorder, dat die bresse begin toegaan, het hulle baie kwaad geword. Hulle het almal as 'n eenheid saamgesweer om teen Jerusalem te kom veg, en by my verwarring te veroorsaak. Ons het tot ons God gebid en dag en nag 'n wag teen hulle uitgesit. Juda het gesê: “Die krag van die draers gee in, die puin is te veel. Ons alleen is nie in staat om die muur te herbou nie.” Ons teenstanders het gesê: “Hulle sal nie weet nie, dit nie eers agterkom nie, totdat ons tussen hulle inbeweeg, hulle doodmaak en 'n einde aan die werk maak.” Wanneer die Judeërs, wat langs hulle gewoon het, by ons kom, het hulle seker tien keer van oral oor vir ons gesê: “Julle moet na ons toe terugkom.” Ek het toe by dié dele wat laer was as die ooreenstemmende plekke agter die muur, by die dele wat blootgestel was, wagte uitgesit. Ek het die manskappe volgens familiegroepe opgestel, met hulle swaarde, steekspiese en boë. Ek het sake deurgekyk, toe opgestaan en vir die hoëlui, die gesagsdraers en die res van die volk gesê: “Julle moenie bang wees vir hulle nie. Dink aan die groot en ontsagwekkende Heer! Veg vir julle broers, julle seuns en julle dogters, julle vroue en julle huise.” Ons vyande het gehoor dat hulle plan aan ons bekend is. God het hulle plan verydel, en ons kon almal teruggaan na die muur, elkeen na sy werk. Van daardie dag af het die helfte van my jong manne met die werk aangegaan, en die ander helfte het die steekspiese, kleinskilde, boë en harnasse gereed gehou. Die bevelvoerders was opgestel agter die hele huis van Juda wat besig was om die muur te bou. Dié wat die vragte moes dra, het met een hand gedra, en met die ander hand die wapen vasgehou terwyl hulle besig was met die werk. Elke bouer het gebou met sy swaard aan sy heupe vasgegord. Die een wat die •ramshoring blaas, was langs my. Ek sê toe vir die hoëlui, die gesagsdraers en die res van die manskappe: “Die werk is baie en verspreid, en ons is uitgesprei op die muur, elkeen ver van sy volksgenote. Op enige plek waar julle die geluid van die ramshoring hoor, daar moet julle by ons aansluit. Ons God sal vir ons veg. ” So was ons besig met die werk, terwyl die helfte van die manne steekspiese gereedhou: vandat die rooidag gebreek het, totdat die sterre verskyn. Dit was ook in hierdie tyd dat ek vir die manskappe gesê het: “Elkeen moet met sy jong manne in Jerusalem oornag, sodat hulle vir ons snags as wagte kan optree en bedags by die werk kan wees.” Nie ek of my volksgenote of my jong manne of die manne wat by my op wag was – nie een van ons het eers sy klere uitgetrek nie, elkeen steeds met sy wapen by sy regterhand.
NEHEMIA 4:1-23 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Maar toe Sanballat hoor dat ons die muur gebou het, het hy kwaad geword en groot verontwaardiging gehad en die Jode gespot. En hy het voor sy broers en die leër van Samaría gespreek en gesê: Wat doen hierdie swak Jode? sal hulle hulself versterk? sal hulle offer? sal hulle 'n einde maak in 'n dag? sal hulle die klippe laat herleef uit die hope vullis wat verbrand word? En Tobía, die Ammoniet, was by hom, en hy het gesê: Selfs wat hulle bou, as 'n jakkals optrek, sal hy selfs hulle klipmuur afbreek. Hoor, o onse God! want ons is verag; en draai hulle smaad op hulle eie hoof en gee hulle as buit in die land van ballingskap. En bedek hulle ongeregtigheid nie en laat hulle sonde nie voor jou uitgedelg word nie, want hulle het jou geterg voor die bouers. So het ons die muur gebou; en die hele muur was aan die helfte daarvan saamgevoeg, want die manskappe was lus om te werk. Maar dit het gebeur dat toe Sanballat en Tobía en die Arabiere en die Ammoniete en die Asdodiete hoor dat die mure van Jerusalem opgebou is en dat die skeure begin stop is, het hulle baie kwaad geword. En hulle het almal saamgesweer om te kom en teen Jerusalem te veg en dit te verhinder. Nogtans het ons tot ons God gebid en dag en nag 'n wag teen hulle uitgestel ter wille van hulle. Toe sê Juda: Die krag van die lasdraers is vergaan, en daar is baie rommel; sodat ons nie die muur kan bou nie. En ons teëstanders het gesê: Hulle sal dit nie weet nie en nie sien nie, totdat ons in hul midde kom en hulle doodmaak en die werk laat ophou. En toe die Jode kom wat by hulle gewoon het, het hulle tien maal vir ons gesê: Van al die plekke waar julle na ons terugkom, sal hulle op julle wees. Daarom het Ek op die laer plekke agter die muur en op die hoër plekke gestel, selfs die volk aangestel volgens hulle geslagte met hulle swaarde, hulle spiese en hulle boë. En ek het gekyk en opgestaan en aan die edeles en die owerstes en die res van die volk gesê: Moenie vir hulle bang wees nie; dink aan die HERE, wat groot en verskriklik is, en veg vir julle broers, julle seuns en julle dogters, julle vroue en julle huise. En dit het gebeur, toe ons vyande hoor dat dit aan ons bekend was, en God hulle raad tot niet gemaak het, het ons almal teruggekeer na die muur, elkeen na sy werk. En van daardie tyd af het die helfte van my dienaars die werk gedoen, en die ander helfte van hulle het die spiese, die skilde en die boë en die huisbewoners vasgehou; en die owerstes was agter die hele huis van Juda. Die wat op die muur gebou het, en die wat laste dra, met die wat laai, elkeen het met sy een hand aan die werk begin en met die ander hand 'n wapen vasgehou. Vir die bouers het elkeen sy swaard aan sy sy gegord en so gebou. En hy wat die basuin geblaas het, was by my. En ek het aan die edeles en aan die owerstes en aan die res van die volk gesê: Die werk is groot en groot, en ons is geskei op die muur, die een ver van die ander. In watter plek julle dan die geluid van die basuin hoor, kom julle daarheen: ons God sal vir ons veg. Ons het toe aan die werk gewerk, en die helfte van hulle het die spiese vasgehou van die opkoms van die môre totdat die sterre verskyn het. Net so het ek in dieselfde tyd vir die volk gesê: Laat elkeen met sy dienaar in Jerusalem vernag, sodat hulle in die nag vir ons 'n wag kan wees en bedags kan werk. So het nie ek of my broers of my dienaars of die manne van die lyfwag wat my gevolg het nie, nie een van ons het ons klere uitgetrek nie, behalwe dat elkeen dit uitgetrek het om te was.