NEHEMIA 4:1-23

NEHEMIA 4:1-23 NLV

Toe Sanballat hoor dat hulle besig was om die muur te herstel, was hy baie kwaad. Hy het in woede uitgebars en smalend met die Jode gepraat. Hy het voor sy vriende en die leër van Samaria uitgevaar: “Wat dink hierdie armsalige Jode doen hulle? Dink hulle miskien hulle kan die muur in een dag bou as hulle net genoeg offers bring? Kyk net hoe lyk die swartgebrande klippe wat hulle onder die rommel uitkrap om weer te gebruik!” Tobija die Ammoniet wat langs hom gestaan het, het gesê: “Daardie klipmuur sal omval selfs as ’n jakkals daarop loop!” Toe het ek gebid: “O God, hoor ons tog, want ons word verag. Laat hulle beledigings teen hulle draai. Laat hulle self die buit wees, gevangenes in ’n ander land! Moenie hulle skuld oorsien nie. Moet ook nie hulle sondes sommer net voor U uitvee nie, want hulle het U uitgelok om hier voor die bouers u woede te wys.” Die mense het baie hard gewerk. Uiteindelik was die muur reg rondom die stad tot halfpad die oorspronklike hoogte herbou. Die werk het gevorder en hulle het die gapings in die muur herstel. Toe Sanballat, Tobija, die Arabiere, die Ammoniete en die mense van Asdod dit hoor, het hulle baie kwaad geword. Hulle het almal planne beraam om teen Jerusalem te veg. Hulle wou kom om verwarring te veroorsaak. Maar ons het tot ons God gebid. Ons het die stad dag en nag bewaak om onsself teen hulle te beskerm. Maar die mense van Juda het begin sê: “Die bouers is besig om moeg te word en daar is baie rommel wat ons moet verwyder. Ons sal die muur nie alleen kan bou nie. “Boonop sê ons vyande: ‘Voordat hulle besef wat gebeur, is ons tussen hulle. Dan maak ons hulle dood en bring ’n einde aan die bouery.’” Die Jode wat naby die vyand gebly het, het herhaaldelik vir ons kom sê: “Hulle sal uit alle rigtings kom om ons aan te val!” Ek het toe wagte agter die laagste dele van die muur geplaas waar daar oop gedeeltes was. Ek het ook mense by die families laat wagstaan, gewapen met swaarde, spiese en boë. Ek het sake dopgehou en toe die leiers, die amptenare en die res van die volk bymekaargeroep en gesê: “Moenie vir die vyand bang wees nie! Hou in gedagte dat die Here groot en vreesaanjaend is. Veg vir julle vriende, julle seuns en julle dogters, julle vroue en julle huise!” Toe ons vyande hoor dat ons van hulle planne weet en dat God dit in die wiele gery het, kon elkeen van ons weer na ons werk aan die muur teruggaan. Maar van toe af kon net die helfte van my mense met die werk aangaan. Die ander het met harnasse aan waggestaan, gewapen met spiese, skilde en boë. Die offisiere het agter die mense van Juda posisie ingeneem terwyl hulle aan die muur gebou het. Die werkers wat die boumateriaal aangedra het, het hulle werk met net een hand gedoen. In die ander hand was ’n wapen. Al die bouers het gewerk met ’n swaard aan hulle sye vasgemaak. Die trompetblaser het by my gebly om alarm te maak. Ek het vir die leiers, amptenare en die res van die volk verduidelik: “Kyk, ons werk oor ’n groot gebied en ons is ver van mekaar af al langs die muur versprei. As julle die trompet hoor blaas, kom vinnig by daardie punt bymekaar. Ons God sal vir ons veg!” Ons het van vroeg tot laat gewerk, van sonsopkoms tot sonsondergang. Een helfte van die mense was altyd op wag, gewapen met spiese. Ek het ook almal wat buite die mure gebly het, beveel om in Jerusalem te kom slaap. Op dié manier kon hulle en hulle slawe in die nag help wagstaan en bedags met die werk help. In dié tyd het niemand van ons ooit ons klere uitgetrek nie – nie ek of my familie of my diensknegte of die wagte wat by my was nie. Ons het ons wapens te alle tye saam met ons gedra, selfs wanneer ons water gaan drink het.