Nehemia 4:1-23

Nehemia 4:1-23 DB

Toe Sanballat hoor dat ons Jerusalem se muur herbou, was hy baie kwaad. Hy het die Jode voor sy vriende en die Samaritaanse soldate beledig. “Wat probeer hierdie miserabele klomp Jode doen?” het hy spottend gevra. “Kan dit wees dat hulle die mure wil herbou? Dink hulle sowaar hulle kan hierdie muur in ’n dag herbou net omdat hulle offers bring? Wil hulle bakstene maak van daardie hoop verbrande rommel?” Tobija die Ammoniet, wat langs hom gestaan het, het haastig bygevoeg: “Los hulle, laat hulle maar hulle muur bou. Dit sal in elk geval nie hou nie. As ’n jakkals daarteen opspring, sal dit omval!” Toe het ek gebid: “God, luister hoe spot hulle ons! Draai hulle gespot teen hulle sodat met hulle gebeur wat hulle ons toewens. Laat hulle weggevoer word as ballinge in ’n vreemde land. Moenie hulle verkeerde dade vergewe of hulle sondes vergeet nie, want hulle het die bouers beledig wat besig is om u opdrag uit te voer.” Ons het verder aan die muur gebou. Kort voor lank was dit halfpad voltooi omdat almal met hart en siel help bou het. Toe Sanballat, Tobija, die Arabiere en die inwoners van Asdod hoor dat ons goed vorder en dat daar byna geen openinge meer in die muur was nie, was hulle baie kwaad. Hulle het agteraf besluit om Jerusalem aan te val en die mense in die stad uitmekaar te jaag. Maar ons het aanhoudend tot ons God gebid en dag en nag soldate op die mure laat wag- staan. Die werkers in Juda het toe ’n treurige lied gesing: “Die bouers se kragte raak op, die rommel is net te veel om weg te vat, ons gaan nooit hierdie muur klaar gebou kry nie.” Intussen het ons teëstanders gedink: “Voor hulle hulle oë uitvee, is ons tussen hulle. Dan maak ons hulle dood en maak ’n einde aan die bouery.” Die Judeërs wat naby daardie slegte spul gebly het, het ’n hele paar keer na ons toe gekom met die waarskuwing dat hulle ons gaan aanval. Daarom het ek die mense met swaarde, spiese, pyle en boë bewapen. Ek het families saamgesit en hulle agter die muur stelling laat inneem by die plekke wat nog nie heeltemal klaar was nie. Ek het gesien dat die mense benoud was; daarom het ek hulle leiers en amptenare bymekaargeroep en vir hulle gesê: “Moenie vir daardie slegte mense bang wees nie! Dink eerder hoe asemrowend groot en magtig die Here is. Veg dan met alles in julle vir julle families en julle huisgesinne.” Toe ons vyande agterkom dat ons weet van hulle planne om ons aan te val, het hulle besef dat God dit in die wiele gery het. Daarna kon ons voortgaan met ons werk aan die muur. Van daardie dag af het die helfte van die mense aan die muur gebou terwyl die ander helfte waggestaan het met spiese, skilde, pyle en boë en borsharnasse. Die leiers van die volk het almal wat aan die muur gewerk het, elke dag besoek en aangemoedig. Die helpers wat die boumateriaal moes aandra, het hulle werk met een hand gedoen, want in die ander hand het hulle ’n wapen gedra. Al die bouers het ook ’n swaard om hulle heupe gedra. Die soldaat wat met sy trompet alarm moes maak as daar gevaar kom, het die hele tyd by my gebly. Ek het vir almal daar gesê: “Ons het nog baie werk om te doen. Die muur strek oor ’n groot gebied en ons is soms ver van mekaar af. As julle die trompet hoor blaas, sorg dat julle so gou moontlik by my en die soldate uitkom. Ons weet ons God sal ons help in die geveg.” Ons het elke dag aan die muur gewerk, van die son opgekom tot die sterre uitgekom het. Terwyl die een helfte gewerk het, het die ander helfte waggestaan met hulle wapens. Ek het ook in dié tyd vir mense wat buite Jerusalem gebly het, gevra om binne-in die stad te kom slaap. So kon ons mekaar aflos met wagstaan in die nag en werk in die dag. Nie ek of my medeamptenare, ons helpers of die wagte wat by ons was, het ooit ’n kans gekry om ons klere uit te trek nie. Selfs as ons gaan bad het, het ons altyd wapens byderhand gehou.