Nehemia 4:1-23

Nehemia 4:1-23 AFR20

Toe Sanballat hoor dat ons besig was om die muur te herbou, het dit hom ontstel en was hy baie geïrriteerd. Hy het die spot gedryf met die Judeërs. Hy het toe in die teenwoordigheid van sy stamgenote en die leër van Samaria gepraat en gesê: “Wat is die miserabele Judeërs besig om te doen? Knap hulle die plek vir hulle op? Gaan hulle offers slag? Gaan hulle dit vandag afhandel? Wil hulle die klippe uit die hope rommel weer gebruik terwyl dit verkool is?” Tobija, die Ammoniet, was langs hom. Hy sê toe: “Wat hulle ook al herbou, as 'n jakkals daarteen opspring, maak hy 'n gat in hulle klipmuur.” Hoor tog, ons God, want ons het veragtelik geword. Keer hulle gespot om op hulle eie koppe, en gee hulle as buit oor in 'n land van gevangenskap. U moet nie hulle sondeskuld bedek nie, en hulle sondes moet nie voor U weggevee word nie, want hulle het U voor die bouers uitgetart. Ons het die stadsmuur opgebou. Die dele van die hele muur is saamgevoeg tot op die helfte van sy hoogte. Die volk se hart was in hulle werk. Toe Sanballat, Tobija, die Arabiere, Ammoniete en mense van Asdod hoor dat die herstelwerk aan die mure om Jerusalem vorder, dat die bresse begin toegaan, het hulle baie kwaad geword. Hulle het almal as 'n eenheid saamgesweer om teen Jerusalem te kom veg, en by my verwarring te veroorsaak. Ons het tot ons God gebid en dag en nag 'n wag teen hulle uitgesit. Juda het gesê: “Die krag van die draers gee in, die puin is te veel. Ons alleen is nie in staat om die muur te herbou nie.” Ons teenstanders het gesê: “Hulle sal nie weet nie, dit nie eers agterkom nie, totdat ons tussen hulle inbeweeg, hulle doodmaak en 'n einde aan die werk maak.” Wanneer die Judeërs, wat langs hulle gewoon het, by ons kom, het hulle seker tien keer van oral oor vir ons gesê: “Julle moet na ons toe terugkom.” Ek het toe by dié dele wat laer was as die ooreenstemmende plekke agter die muur, by die dele wat blootgestel was, wagte uitgesit. Ek het die manskappe volgens familiegroepe opgestel, met hulle swaarde, steekspiese en boë. Ek het sake deurgekyk, toe opgestaan en vir die hoëlui, die gesagsdraers en die res van die volk gesê: “Julle moenie bang wees vir hulle nie. Dink aan die groot en ontsagwekkende Heer! Veg vir julle broers, julle seuns en julle dogters, julle vroue en julle huise.” Ons vyande het gehoor dat hulle plan aan ons bekend is. God het hulle plan verydel, en ons kon almal teruggaan na die muur, elkeen na sy werk. Van daardie dag af het die helfte van my jong manne met die werk aangegaan, en die ander helfte het die steekspiese, kleinskilde, boë en harnasse gereed gehou. Die bevelvoerders was opgestel agter die hele huis van Juda wat besig was om die muur te bou. Dié wat die vragte moes dra, het met een hand gedra, en met die ander hand die wapen vasgehou terwyl hulle besig was met die werk. Elke bouer het gebou met sy swaard aan sy heupe vasgegord. Die een wat die •ramshoring blaas, was langs my. Ek sê toe vir die hoëlui, die gesagsdraers en die res van die manskappe: “Die werk is baie en verspreid, en ons is uitgesprei op die muur, elkeen ver van sy volksgenote. Op enige plek waar julle die geluid van die ramshoring hoor, daar moet julle by ons aansluit. Ons God sal vir ons veg. ” So was ons besig met die werk, terwyl die helfte van die manne steekspiese gereedhou: vandat die rooidag gebreek het, totdat die sterre verskyn. Dit was ook in hierdie tyd dat ek vir die manskappe gesê het: “Elkeen moet met sy jong manne in Jerusalem oornag, sodat hulle vir ons snags as wagte kan optree en bedags by die werk kan wees.” Nie ek of my volksgenote of my jong manne of die manne wat by my op wag was – nie een van ons het eers sy klere uitgetrek nie, elkeen steeds met sy wapen by sy regterhand.