PSALMS 103:1-22

PSALMS 103:1-22 Bybel vir almal (ABA)

Van Dawid. Ek wil die Here prys, ek wil sy heilige Naam prys met my hele hart. Ek wil die Here prys, ek wil nie een ding vergeet wat Hy gedoen het nie. Dit is Hý wat al my sondes vergewe en wat my gesond maak van al my siektes. Dit is Hý wat my lewe red van die graf en wat altyd vir my doen wat Hy belowe. Dit is Hý wat goed is vir my wanneer ek swaarkry. Dit is Hý wat baie goeie dinge vir my gee, sodat ek elke dag so jonk voel soos 'n arend. Die Here doen reg aan mense, Hy oordeel reg oor die mense wat swaarkry. Hy het vir Moses gesê wat Hy wil hê, Hy het vir die Israeliete gesê wat Hy gedoen het. Die Here is goed vir mense wat swaarkry, Hy is genadig en geduldig, Hy doen altyd wat Hy belowe het. Hy sal ons nie altyd beskuldig nie en nie altyd kwaad bly nie. Hy straf ons oor ons sonde, maar Hy straf ons nie so swaar soos Hy móét nie. Ja, soos die hemel baie hoog is bo die aarde, so doen die Here baie vir die mense wat Hom dien, Hy doen altyd wat Hy belowe het. So ver soos die ooste van die weste is, so ver neem Hy ons sonde weg van ons. Soos 'n pa jammer is vir sy kinders, so is die Here ook jammer vir die mense wat Hom dien, want Hy ken ons, Hy weet dat ons stof is. Die mens se lewe is soos die lewe van 'n plant, hy groei soos 'n veldblom, en wanneer die wind daaroor gewaai het, dan is die blom weg, niemand weet waar hy gegroei het nie. Maar die Here hou aan om te doen wat Hy belowe het, Hy hou aan om reg te doen aan die mense wat Hom dien, en aan hulle kinders en kleinkinders. Hy doen reg aan almal wat gehoorsaam is aan sy verbond en wat doen wat Hy sê. Die Here het sy troon in die hemel gesit, Hy is Koning van alles en almal. Engele van die Here, julle moet die Here prys, julle wat sterk is en wat doen wat die Here sê. Al die sterre van die Here moet Hom prys, almal wat vir Hom werk en wat doen wat Hy wil hê. Alles en almal wat die Here gemaak het, moet die Here prys op al die plekke waar Hy Koning is. En ek wil ook die Here prys.

PSALMS 103:1-22 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

'N PSALM van Dawid. Loof die HERE, o my siel, en alles wat binne-in my is, sy heilige Naam! Loof die HERE, o my siel, en vergeet geeneen van sy weldade nie! Wat al jou ongeregtigheid vergewe, wat al jou krankhede genees, wat jou lewe verlos van die verderf, wat jou kroon met goedertierenheid en barmhartighede, wat jou siel versadig met die goeie, sodat jou jeug weer nuut word soos dié van 'n arend. Die HERE doen geregtigheid en reg aan almal wat verdruk word. Hy het aan Moses sy weë bekend gemaak, aan die kinders van Israel sy dade. Barmhartig en genadig is die HERE, lankmoedig en groot van goedertierenheid. Hy sal nie vir altyd twis en nie vir ewig die toorn behou nie. Hy handel met ons nie na ons sondes en vergeld ons nie na ons ongeregtighede nie. Want so hoog as die hemel is bo die aarde, so geweldig is sy goedertierenheid oor die wat Hom vrees. So ver as die ooste verwyderd is van die weste, so ver verwyder Hy ons oortredinge van ons. Soos 'n vader hom ontferm oor die kinders, so ontferm die HERE Hom oor die wat Hom vrees. Want Hy, Hy weet watter maaksel ons is, gedagtig dat ons stof is. Die mens — soos die gras is sy dae; soos 'n blom van die veld, so bloei hy. As die wind daaroor gaan, is dit nie meer nie en sy plek ken hom nie meer nie. Maar die goedertierenheid van die HERE is van ewigheid tot ewigheid oor die wat Hom vrees, en sy geregtigheid vir kindskinders, vir die wat sy verbond hou en aan sy bevele dink om dié te doen. Die HERE het sy troon in die hemel gevestig, en sy koninkryk heers oor alles. Loof die HERE, sy engele, kragtige helde wat sy woord volbring, in gehoorsaamheid aan die stem van sy woord! Loof die HERE, al sy leërskare, sy dienaars wat sy welbehae doen! Loof die HERE, al sy werke, op al die plekke van sy heerskappy! Loof die HERE, o my siel!

PSALMS 103:1-22 Afrikaans 1983 (AFR83)

Van Dawid. Ek wil die Here loof, met alles wat in my is, wil ek sy heilige Naam loof. Ek wil die Here loof en nie een van sy weldade vergeet nie. Dit is Hy wat al my sonde vergewe, wat al my siekte genees, wat my red van die graf en my met liefde en ontferming kroon, wat my die goeie in oorvloed laat geniet, my die jeugdige krag van die arend skenk. Die Here laat geregtigheid en reg geskied aan almal wat verdruk word. Aan Moses het Hy sy wil bekend gemaak, aan Israel wat Hy van plan was om te doen. Barmhartig en genadig is die Here, lankmoedig en vol liefde. Hy sal ons ons sonde nie bly toereken en nie vir ewig toornig bly nie. Hy handel met ons nie volgens ons sondes nie, vergeld ons nie vir ons ongeregtighede nie, want so groot as die afstand tussen hemel en aarde is, so groot is sy liefde vir dié wat Hom dien. So ver as die ooste van die weste af is, so ver verwyder Hy ons oortredinge van ons af. Soos 'n vader hom ontferm oor sy kinders, so ontferm die Here Hom oor dié wat Hom dien. Hy weet waarvan ons gemaak is, Hy hou dit in gedagte dat ons stof is. Die mens, sy lewensduur is soos dié van gras, soos dié van 'n veldblom wat oopgaan: as die woestynwind daaroor waai, is dit weg en sy plek vir altyd leeg. Maar onverganklik is die liefde van die Here vir dié wat Hom dien, sy trou vir opeenvolgende geslagte, vir dié wat getrou bly aan sy verbond en sy voorskrifte nakom. Die Here het sy troon in die hemel gevestig, sy heerskappy strek oor alles en almal. Loof die Here, magtige engele wat sy opdragte uitvoer, sy bevele gehoorsaam. Loof die Here, alle hemelwesens wat Hom dien en sy wil doen! Almal wat deur Hom geskep is, loof die Here op al die plekke waar Hy heers!

PSALMS 103:1-22 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Van Dawid. Loof die HERE, o my siel, ja, alles wat in my is, sy heilige Naam! Loof die HERE, o my siel, en moenie enige van sy weldade vergeet nie – Hy wat al jou sondeskuld vergewe, wat al jou siektes genees, wat jou lewe vrykoop van die graf, jou kroon met troue liefde en ontferming, wat jou begeerte met die goeie versadig. Soos 'n arend word jou jeug dan weer nuut. Die HERE handhaaf geregtigheid, die regte van almal wat verdruk word. Hy het sy weë aan Moses geopenbaar, aan die Israeliete sy dade. Barmhartig en genadig is die HERE, geduldig en oorvloedig in troue liefde; Hy beskuldig nie vir ewig nie, en bly nie vir altyd toornig nie. Hy behandel ons nie ooreenkomstig ons sonde nie en vergeld ons nie ooreenkomstig ons sondeskuld nie; want so hoog as wat die hemel bo die aarde is, so troon sy troue liefde uit bo dié wat vir Hom ontsag het. So ver as wat die ooste verwyder is van die weste, so ver verwyder Hy ons oortredings van ons. Soos 'n vader hom ontferm oor kinders, so ontferm die HERE Hom oor dié wat vir Hom ontsag het; want Hy, Hy weet waarvan ons gemaak is, Hy hou in gedagte dat ons maar stof is. 'n Mens, soos gras is sy lewensdae, soos 'n veldblom, so bloei hy. As die wind oor hom waai, is hy nie meer daar nie en sy plek ken hom nie meer nie. Maar die troue liefde van die HERE is van altyd af en vir ewig oor hulle wat vir Hom ontsag het, en sy geregtigheid geld vir die kinders se kinders, vir hulle wat sy verbond hou, en vir hulle wat sy opdragte in gedagte hou, om dit uit te voer. Die HERE het in die hemel sy troon gevestig, en sy heerskappy strek oor alles. Prys die HERE, julle wat sy boodskappers is, sterk helde wat sy woord uitvoer deur sy bevel te gehoorsaam. Loof die HERE, al sy hemelse magte, sy dienaars wat sy wil volbring. Loof die HERE, alles wat Hy gemaak het, op al die plekke waar Hy heers! Loof die HERE, o my siel!

PSALMS 103:1-22 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

Loof die HERE, o my siel, en alles wat in my is, loof sy heilige Naam. Loof die HERE, o my siel, en vergeet nie al sy weldade nie. Wat al U ongeregtighede vergewe; wat al jou siektes genees; Wie verlos jou lewe van ondergang; wat jou kroon met goedertierenheid en barmhartighede; Wie versadig jou mond met goeie dinge; sodat jou jeug vernuwe word soos dié van die arend. Die HERE doen geregtigheid en reg aan almal wat verdruk is. Hy het sy weë aan Moses bekend gemaak, sy dade aan die kinders van Israel. Barmhartig en genadig is die HERE, lankmoedig en groot van goedertierenheid. Hy sal nie altyd twis nie, en Hy sal sy toorn nie vir ewig bewaar nie. Hy het nie met ons gehandel na ons sondes nie; en het ons nie vergeld volgens ons ongeregtighede nie. Want soos die hemel hoog bo die aarde is, so groot is sy barmhartigheid teenoor die wat Hom vrees. So ver as die ooste van die weste af is, so ver verwyder Hy ons oortredinge van ons. Soos 'n vader hom ontferm oor sy kinders, so ontferm die HERE Hom oor die wat Hom vrees. Want Hy ken ons gedaante; hy onthou dat ons stof is. Wat die mens betref, sy dae is soos gras; soos 'n blom van die veld, so bloei hy. Want die wind trek daaroor, en dit is weg; en sy plek sal dit nie meer ken nie. Maar die goedertierenheid van die HERE is van ewigheid tot ewigheid oor die wat Hom vrees, en sy geregtigheid vir kinderkinders; Aan die wat sy verbond hou en aan die wat sy gebooie onthou om dit te doen. Die HERE het sy troon in die hemel gereed gemaak; en sy koninkryk heers oor alles. Loof die HERE, sy engele, wat oorheers in krag, wat sy gebooie doen, en luister na die stem van sy woord. Loof die HERE, al sy leërskare; julle dienaars van Hom, wat sy welbehae doen. Loof die HERE, al sy werke in al die plekke van sy heerskappy; loof die HERE, o my siel!

PSALMS 103:1-22 Die Boodskap (DB)

Ek wil die Here loof. Met alles in my wil ek die Here se grootheid prys. Ek wil nooit vergeet hoe goed die Here vir my is nie. Ek loof Hom! Dit is Hy wat my vergewe as ek verkeerde dinge doen. Hy maak my gesond. Hy red my uit die kloue van die dood. Hy maak dat ek vir ander mense omgee en goeie dinge vir hulle doen. Die Here oorlaai my met al die goeie dinge in die lewe. Hy gee my arms vol krag. Hy maak my so sterk soos ’n jongmens. Die Here help almal wat onderdruk word. Hy is goed. Hy sorg dat reg aan hulle gedoen word. Dink net hoe Hy vir Moses gesê het wat Hy van hom verwag en hoe Hy sy kinders gaan help. Die Here se hart is baie sag. Hy gee graag goeie dinge aan ons. Hy is geduldig. Hy het sy kinders baie lief. Die Here sal jou nie aanhou straf vir die verkeerde dinge wat jy gedoen het nie. Ook bly Hy nie vir altyd kwaad oor iets nie. Hy straf ons nie volgens dit wat ons regtig verdien nie. Hy vergeld ons nie op dieselfde manier vir al ons slegte dade nie. So ver as wat die verste punt in die heelal van ons af is, so groot, en nog groter, is die Here se liefde vir elkeen wat Hom dien. So ver as wat die verste punte van die heelal van mekaar af is, so ver, en nog verder, vat Hy ons sondes se straf van ons af weg. Net soos ouers hulle kinders met groot liefde versorg, so versorg die Here elkeen wat Hom dien met arms vol liefde. Die Here weet hoe swak en vol foute ons is. Hy weet dat ons maar net klein en swak mensies is. ’n Mens leef net vir ’n kort rukkie. Jy is maar soos gras wat daarbuite groei. Wanneer die wind begin waai en die son begin skroei, dan hou dit nie lank nie. Die gras gaan net daar dood. So gaan dit ook met mense. Daar is geen grense aan die Here se liefde nie. Dit sal vir altyd aanhou vir mense wat hom dien, vir geslagte lank. Elkeen wat Hom dien en die ooreenkoms nakom wat Hy gesluit het, kan op sy liefde reken. Oor die jare heen help Hy mense. Die Here help almal wat na Hom luister. Die Here regeer uit die hemel. Hy is die sterkste van almal. Hy heers oor alles. Kom prys die Here, sterk engele wat vir die Here werk! Julle maak Hom baie gelukkig omdat julle doen wat die Here wil hê. Kom prys die Here, al julle ontelbare skares in die hemel wat Hom gelukkig maak! Kom prys die Here, almal en alles wat deur Hom gemaak is! Prys Hom op elke plek waar Hy regeer. Ek wil ook die Here prys met my hele lewe!

PSALMS 103:1-22 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Ek wil die HERE prys. Met alles wat binne-in my is, wil ek sy heilige Naam prys. Ek wil die HERE prys en nie al sy goeie dade vergeet nie. Hy vergewe al jou sondes, en genees al jou siektes. Hy verlos jou lewe van die dood, bekroon jou met liefde en medelye. Hy vul jou lewe met goeie dinge, vernuwe jou jeug soos ’n arend s’n. Die HERE laat regverdigheid geskied, en reg aan almal wat verdruk word. Hy het sy optrede aan Moses openbaar en sy dade aan die volk Israel. Die HERE is barmhartig en genadig, geduldig en vol onfeilbare liefde. Hy sal nie voortdurend aankla, of vir altyd kwaad wees nie. Hy straf ons nie soos ons sondes verdien nie, en vergeld ons nie volgens ons oortredings nie. Want so ver soos die hemele van die aarde af is, so groot is sy onfeilbare liefde teenoor hulle wat Hom dien. So ver as die ooste is van die weste, so ver verwyder Hy ons oortredings van ons. Soos ’n vader hom ontferm oor sy kinders, so ontferm die HERE Hom oor hulle wat Hom dien. Hy weet tog waarvan ons gemaak is; Hy weet dat ons net stof is. Die mens se lewensduur is soos gras, soos veldblomme wat welig blom. As die wind daaroor waai, is dit weg, ’n mens sien die plek waar dit was nie meer nie. Maar die liefde van die HERE is altyd daar vir hulle wat Hom dien. Sy trou geld vir geslag na geslag, vir dié wat getrou is aan sy verbond en sy gebooie gehoorsaam. Die HERE het sy troon in die hemel gevestig; Hy heers oor almal. Prys die HERE, julle magtige engele, julle wesens wat sy woord uitvoer, wat luister na sy woord! Ja, prys die HERE, sy hemelse leërmagte wat Hom dien en sy wil uitvoer! Prys die HERE, al sy skeppingswerke, oral in sy koninkryk. Ek wil die HERE prys.