Ek wil die Here loof. Met alles in my wil ek die Here se grootheid prys. Ek wil nooit vergeet hoe goed die Here vir my is nie. Ek loof Hom! Dit is Hy wat my vergewe as ek verkeerde dinge doen. Hy maak my gesond. Hy red my uit die kloue van die dood. Hy maak dat ek vir ander mense omgee en goeie dinge vir hulle doen. Die Here oorlaai my met al die goeie dinge in die lewe. Hy gee my arms vol krag. Hy maak my so sterk soos ’n jongmens. Die Here help almal wat onderdruk word. Hy is goed. Hy sorg dat reg aan hulle gedoen word. Dink net hoe Hy vir Moses gesê het wat Hy van hom verwag en hoe Hy sy kinders gaan help. Die Here se hart is baie sag. Hy gee graag goeie dinge aan ons. Hy is geduldig. Hy het sy kinders baie lief. Die Here sal jou nie aanhou straf vir die verkeerde dinge wat jy gedoen het nie. Ook bly Hy nie vir altyd kwaad oor iets nie. Hy straf ons nie volgens dit wat ons regtig verdien nie. Hy vergeld ons nie op dieselfde manier vir al ons slegte dade nie. So ver as wat die verste punt in die heelal van ons af is, so groot, en nog groter, is die Here se liefde vir elkeen wat Hom dien. So ver as wat die verste punte van die heelal van mekaar af is, so ver, en nog verder, vat Hy ons sondes se straf van ons af weg. Net soos ouers hulle kinders met groot liefde versorg, so versorg die Here elkeen wat Hom dien met arms vol liefde. Die Here weet hoe swak en vol foute ons is. Hy weet dat ons maar net klein en swak mensies is. ’n Mens leef net vir ’n kort rukkie. Jy is maar soos gras wat daarbuite groei. Wanneer die wind begin waai en die son begin skroei, dan hou dit nie lank nie. Die gras gaan net daar dood. So gaan dit ook met mense. Daar is geen grense aan die Here se liefde nie. Dit sal vir altyd aanhou vir mense wat hom dien, vir geslagte lank. Elkeen wat Hom dien en die ooreenkoms nakom wat Hy gesluit het, kan op sy liefde reken. Oor die jare heen help Hy mense. Die Here help almal wat na Hom luister. Die Here regeer uit die hemel. Hy is die sterkste van almal. Hy heers oor alles. Kom prys die Here, sterk engele wat vir die Here werk! Julle maak Hom baie gelukkig omdat julle doen wat die Here wil hê. Kom prys die Here, al julle ontelbare skares in die hemel wat Hom gelukkig maak! Kom prys die Here, almal en alles wat deur Hom gemaak is! Prys Hom op elke plek waar Hy regeer. Ek wil ook die Here prys met my hele lewe!
Lees Psalms 103
Deel
Vergelyk Alle Weergawes: Psalms 103:1-22
Stoor verse, lees vanlyn, kyk na onderrigsnitte, en meer!
Tuisblad
Bybel
Leesplanne
Video's