Ek wil die HERE prys. Met alles wat binne-in my is, wil ek sy heilige Naam prys. Ek wil die HERE prys en nie al sy goeie dade vergeet nie. Hy vergewe al jou sondes, en genees al jou siektes. Hy verlos jou lewe van die dood, bekroon jou met liefde en medelye. Hy vul jou lewe met goeie dinge, vernuwe jou jeug soos ’n arend s’n. Die HERE laat regverdigheid geskied, en reg aan almal wat verdruk word. Hy het sy optrede aan Moses openbaar en sy dade aan die volk Israel. Die HERE is barmhartig en genadig, geduldig en vol onfeilbare liefde. Hy sal nie voortdurend aankla, of vir altyd kwaad wees nie. Hy straf ons nie soos ons sondes verdien nie, en vergeld ons nie volgens ons oortredings nie. Want so ver soos die hemele van die aarde af is, so groot is sy onfeilbare liefde teenoor hulle wat Hom dien. So ver as die ooste is van die weste, so ver verwyder Hy ons oortredings van ons. Soos ’n vader hom ontferm oor sy kinders, so ontferm die HERE Hom oor hulle wat Hom dien. Hy weet tog waarvan ons gemaak is; Hy weet dat ons net stof is. Die mens se lewensduur is soos gras, soos veldblomme wat welig blom. As die wind daaroor waai, is dit weg, ’n mens sien die plek waar dit was nie meer nie. Maar die liefde van die HERE is altyd daar vir hulle wat Hom dien. Sy trou geld vir geslag na geslag, vir dié wat getrou is aan sy verbond en sy gebooie gehoorsaam. Die HERE het sy troon in die hemel gevestig; Hy heers oor almal. Prys die HERE, julle magtige engele, julle wesens wat sy woord uitvoer, wat luister na sy woord! Ja, prys die HERE, sy hemelse leërmagte wat Hom dien en sy wil uitvoer! Prys die HERE, al sy skeppingswerke, oral in sy koninkryk. Ek wil die HERE prys.
Lees PSALMS 103
Luister na PSALMS 103
Deel
Vergelyk Alle Weergawes: PSALMS 103:1-22
Stoor verse, lees vanlyn, kyk na onderrigsnitte, en meer!
Tuisblad
Bybel
Leesplanne
Video's