PSALMS 82:1-8 - Vergelyk alle weergawes | YouVersion

PSALMS 82:1-8 AFR83 (Afrikaans 1983)

'n Psalm van Asaf. In die hemelse vergadering, tussen die hemelwesens, staan God op om uitspraak te lewer: “Hoe lank gaan julle nog onregverdige beslissings vel, nog partydig wees vir die goddelose? Sela Julle moet reg laat geskied aan die mens in nood en aan die weeskind, 'n regverdige uitspraak vir die hulpelose en die behoeftige lewer, julle moet die mens in nood en die arme bevry, hulle uit die mag van die goddelose red; maar julle weet niks, julle verstaan niks, julle gaan eenvoudig in duisternis voort, en so word die fondamente van die wêreld geskud. Ek het wel gesê: Julle is almal gode, almal met mag beklee. Maar nou, julle sal elkeen sterwe soos 'n mens en aan julle einde kom soos enige maghebber.” Kom tog, o God! Lewer uitspraak oor die wêreld, want al die nasies behoort aan U.

PSALMS 82:1-8 AFR53 (Afrikaans 1933/1953)

'N PSALM van Asaf. God staan in die vergadering van die gode; Hy hou gerig te midde van die gode. Hoe lank sal julle onregverdig oordeel en partydig wees vir die goddelose mense? Sela. Doen reg aan die swakke en die wees; gee aan die ellendige en die arme sy reg. Red die swakke en behoeftige, bevry hulle uit die hand van die goddelose mense. Hulle weet nie en verstaan nie; hulle loop rond in duisternis: al die fondamente van die aarde wankel. Ek self het gesê: Julle is gode, en julle is almal seuns van die Allerhoogste — nogtans sal julle sterwe soos mense, en soos een van die vorste sal julle val. Staan op, o God, oordeel die aarde! Want Ú het erfbesit van al die nasies.

PSALMS 82:1-8 NLV (Nuwe Lewende Vertaling)

God staan op in die hemelse vergadering. Tussen die hemelse wesens lewer Hy uitspraak: “Hoe lank nog sal julle onregverdige beslissings vel en die goddeloses bevoordeel? Sela “Laat reg geskied aan armes en wese. Verdedig die saak van die hulpelose en behoeftige. Bevry die armes en die behoeftiges; verlos hulle uit die greep van goddelose mense. Maar hulle weet nie en verstaan nie. Hulle lewe in duister terwyl die fondamente van die aarde skud. Ek het wel gesê: ‘Julle is gode, seuns van die Allerhoogste.’ Maar nee! Julle sal sterf soos ’n mens, soos enige maghebber sal julle val.” Kom, o God, en oordeel die aarde, want al die nasies behoort aan U.

PSALMS 82:1-8 DB (Die Boodskap)

In die hemelse hof sit God as regter gereed. Hy lewer uitspraak oor alles in die hemel en op die aarde. “Hoe lank gaan julle onregverdig wees en maak of die slegte mense nie regtig so sleg is nie? Hoe lank gaan julle nog die reg verdraai? Julle moet eerder die mense help wat hulleself nie kan help nie. Kom op vir die weeskind. Sorg liewer dat dit beter gaan met mense wat swak is en niks het nie. Help die mense wat nood het en wat arm is teen die slegte mense wat geen gewete het nie. Hoe dom is julle nie, so sonder verstand. Julle verstaan nog niks. Julle het die pad skoon byster geraak. So het julle alles in die wêreld deurmekaargekrap. Ek het wel gesê: Julle kan baie spesiale dinge doen, soos gode. Julle is seuns van die Allerhoogste. God, wat die belangrikste van die belangrikstes is, het julle gemaak. Julle is vir Hom soos kinders. Maar julle pad gaan gou eindig; julle gaan sterf!” Kom, o God, heers oor die wêreld. Wys wat reg en verkeerd is. Al die mense in die wêreld behoort mos aan U.

PSALMS 82:1-8 ABA (Bybel vir almal)

'n Psalm. Van Asaf. God het op sy troon gaan sit in die vergadering van die gode, Hy, die Regter, het vir die gode gesê wat Hy besluit het. Hy het gesê: “Hoe lank wil julle nog onregverdig oordeel en sê die mense wat verkeerd doen, is nie verkeerd nie? Sela Julle moet reg doen aan arm mense en aan mense wat niemand het wat hulle kan help nie. Julle moet sê wanneer iemand reg is, ook iemand wat homself nie kan help nie, of iemand wat niks het nie. Julle moet mense vrymaak wat arm is en niks het nie, julle moet hulle red van mense wat verkeerd doen. “Maar julle weet niks, julle verstaan niks, julle doen net slegte dinge, dinge van die donker, en daarom word almal in die wêreld slegter. Ek het gesê julle is gode, julle is almal engele van die Hoogste God. Maar nou sê Ek: Julle sal sterwe soos mense, julle sal doodgaan soos die mense wat regeer.” O God, U moet self die mense van die aarde oordeel, want al die volke behoort aan U.

PSALMS 82:1-8 AFR20 (Die Bybel 2020-vertaling)

'n Psalm. Van Asaf. God gaan staan in die vergadering van die gode; in die teenwoordigheid van die gode lewer Hy uitspraak: “Hoe lank gaan julle nog onregverdig oordeel en vir goddeloses partydig wees? •Sela Handhaaf die reg van hulpeloses en vaderloses; laat reg geskied aan magteloses en armes. Bevry hulpeloses en behoeftiges, red hulle uit die mag van goddeloses. “Hulle weet niks nie en hulle verstaan nie, hulle verkeer in die duister. Al die fondamente van die aarde wankel. “Ek self het gesê julle is gode, seuns van die Allerhoogste, julle almal. Maar, soos mense sal julle sterf, soos enige leier sal julle val.” Staan op, o God, oordeel die aarde, want U het besitreg oor al die nasies.

PSALMS 82:1-8 CAB23 (Contemporary Afrikaans Bible 2023)

God staan in die vergadering van die magtiges; hy oordeel onder die gode. Hoe lank sal julle onregverdig oordeel en die mense van die goddelose behaag? Sela. Beskerm die armes en die wees, doen reg aan die ellendige en behoeftige. Red die armes en behoeftiges, verlos hulle uit die hand van die goddelose. Hulle weet nie, en hulle sal nie verstaan nie; hulle loop voort in die duisternis: al die fondamente van die aarde is verwerplik. Ek het gesê: Julle is gode; en julle is almal kinders van die Allerhoogste. Maar julle sal sterf soos mense en val soos een van die vorste. Staan op, o God, oordeel die aarde, want U sal al die nasies beërwe.