DIE OPENBARING 20:1-6 - Vergelyk alle weergawes | YouVersion

DIE OPENBARING 20:1-6 AFR83 (Afrikaans 1983)

Toe het ek 'n engel uit die hemel uit sien kom met die sleutel van die onderaardse diepte en met 'n groot ketting in sy hand. Hy het die draak, die slang van ouds, wat die duiwel en die Satan is, gegryp en hom vir duisend jaar vasgebind. Hy het hom in die onderaardse diepte gegooi, dit toegesluit en dit bokant hom verseël sodat hy nie meer die nasies kan verlei voordat die duisend jaar om is nie. Daarna moet hy 'n klein rukkie losgelaat word. Toe het ek trone gesien en die siele van die mense wat onthoof is omdat hulle aan die getuienis van Jesus en die woord van God vasgehou het. Hulle het op die trone gaan sit, en aan hulle is die bevoegdheid gegee om as regters op te tree. Dit is hulle wat nie die dier en sy beeld aanbid het nie en nie die merk op die voorkop en op die hand aanvaar het nie. Hulle het lewend geword en saam met Christus duisend jaar lank geregeer. Dit is die eerste opstanding. Die ander dooies het nie lewend geword voordat die duisend jaar om was nie. Geseënd en heilig is dié wat aan die eerste opstanding deel het. Oor hulle het die tweede dood geen mag nie, maar hulle sal priesters van God en van Christus wees en sal saam met Hom die duisend jaar lank regeer.

DIE OPENBARING 20:1-6 AFR53 (Afrikaans 1933/1953)

EN ek het 'n engel uit die hemel sien neerdaal, met die sleutel van die afgrond en 'n groot ketting in sy hand. En hy het die draak gegryp — die ou slang wat die duiwel en die Satan is — en hy het hom gebind duisend jaar lank, en hom in die afgrond gewerp en hom toegesluit en dit bo hom verseël, sodat hy die nasies nie meer sou verlei totdat die duisend jaar voleindig is nie. Daarna moet hy dan 'n kort tydjie ontbind word. En ek het trone gesien, en hulle het daarop gaan sit, en aan hulle is die oordeel gegee; en ek het die siele gesien van die wat onthoof is oor die getuienis van Jesus en oor die woord van God, en die wat die dier en sy beeld nie aanbid het nie, en die merk op hulle voorhoof en op hulle hand nie ontvang het nie; en hulle het geleef en as konings geregeer saam met Christus die duisend jaar lank. En die ander dode het nie herlewe totdat die duisend jaar voleindig was nie. Dit is die eerste opstanding. Salig en heilig is hy wat deel het aan die eerste opstanding; oor hulle het die tweede dood geen mag nie, maar hulle sal priesters van God en van Christus wees en sal saam met Hom as konings regeer duisend jaar lank.

DIE OPENBARING 20:1-6 NLV (Nuwe Lewende Vertaling)

Ek het toe ’n engel van die hemel af sien kom met die sleutel van die bodemlose put terwyl hy ’n groot ketting in sy hand hou. Hy het die draak, die slang van die oertyd, dit is die duiwel en Satan, vasgegryp en hom vir 1 000 jaar gebind. Die engel het hom in die bodemlose put gegooi, dit toegesluit en dit bokant hom verseël sodat hy nie langer die nasies sou verlei totdat die 1 000 jaar verstryk het nie. Daarna moet hy vir ’n klein rukkie losgemaak word. Toe het ek trone gesien, en dié wat daarop sit, is die bevoegdheid gegee om te oordeel. Ek het ook die siele gesien van hulle wat onthoof is as gevolg van hulle getuienis aangaande Jesus en die boodskap van God. Dit is hulle wat nie voor die monster en sy standbeeld neergeval het in aanbidding nie, en nie die merkteken op hulle voorkop en op hulle hand ontvang het nie. Hulle het toe weer lewend geword en saam met Christus vir 1 000 jaar lank regeer. Die oorblywende dooies het nie weer lewend geword voordat die 1 000 jaar om was nie. Dit is die eerste opstanding. Geseënd en heilig is hy wat deel het aan die eerste opstanding. Oor hierdie mense het die tweede dood geen mag nie, maar hulle sal priesters van God en van Christus wees, en sal saam met Hom die 1 000 jaar lank as konings regeer.

DIE OPENBARING 20:1-6 DB (Die Boodskap)

Ek sien toe ’n engel wat uit die rigting van die hemel afkom. In sy hand het hy die sleutel van die bodemlose onderaardse diepte asook ’n ketting gehad. Hy gryp toe die draak - dit is die slang wat ons van die ou tyd af ken, die duiwel en Satan - en maak hom met die ketting vas. Toe boender die engel hom in die onderaardse diepte in en maak die ingang deeglik toe sodat niemand dit oop of toe kan maak nie. So sal dit 1 000 jaar lank bly. Die volle 1 000 jaar sal die draak nie meer die mense op die verkeerde pad kan lei nie. As die 1 000 jaar verby is, moet die draak ’n klein rukkie weer losgelaat word. Toe ek kyk, sien ek ’n klomp trone. Op die trone was mense vir wie God gesê het dat hulle maar namens Hom oor sondaars kan oordeel. Ek het ook die siele gesien van elke mens wie se kop afgekap is omdat hy met oortuiging oor Jesus en die boodskap van God gepraat het. Hulle het geweier om die dier of sy beeld soos God te aanbid. Hulle het ook nie die dier se teken op hulle voorkoppe of hande laat maak nie. Hulle almal het lewendig geword. Die volle 1 000 jaar het hulle saam met Jesus geheers. Dit is die eerste opstanding. Die res van die mense wat dood is, het eers na die 1 000 jaar lewendig geword. Hierdie mense wat so opstaan, is baie gelukkig. Hulle is God s’n. Die tweede dood sal hulle nie kan beetkry nie. Hulle sal vir ewig leef en God en Christus dien met alles wat hulle het. Saam met Jesus sal hulle 1 000 jaar lank oor alles heers.

DIE OPENBARING 20:1-6 ABA (Bybel vir almal)

Toe sien ek 'n engel kom af uit die hemel. Hy het 'n sleutel en 'n groot ketting in sy hand gehad. Hy kon die onderwêreld oopsluit met daardie sleutel. Die engel het die draak gegryp. Die draak is die ou slang, die duiwel, die Satan. Die engel het die draak 1 000 jaar lank vasgebind en hy het hom in die onderwêreld gegooi en hom daar toegesluit, heeltemal toe. Toe kon die draak 1 000 jaar lank nie meer vir die mense van die volke dinge laat glo wat nie waar is nie. Maar ná die 1 000 jaar moet die draak 'n kort tydjie uitkom. Toe het ek trone gesien, en daar het mense op die trone gesit. God het gesê daardie mense mag oordeel. Ek het ook die gelowiges gesien wat dood is, mense het daardie gelowiges se koppe afgekap omdat hulle vir ander mense vertel het van Jesus en van wat God gesê het. Hulle het nie die dier en sy beeld aanbid nie en hulle het ook nie die merk van die dier op hulle voorkoppe of op hulle hande laat maak nie. God het hulle weer laat lewe en hulle het 1 000 jaar lank saam met Christus regeer. Dit is die eerste opstanding. God het nie die ander mense wat dood is, weer laat lewe nie, Hy sal hulle laat lewe nadat die 1 000 jaar verby is. Ja, God sal sy mense weer laat lewe wanneer dit die eerste opstanding is. Daardie mense is gelukkig! Hulle behoort aan God! Die tweede dood kan niks aan hulle doen nie! Hulle sal vir God en vir Christus dien en hulle sal 1 000 jaar lank saam met Christus regeer.

DIE OPENBARING 20:1-6 AFR20 (Die Bybel 2020-vertaling)

Toe het ek 'n engel gesien, wat uit die hemel neerdaal, met die sleutel van die onpeilbare diepte en 'n swaar ketting in sy hand. En hy het die draak, die slang van weleer, wat Duiwel en Satan is, gegryp en hom vasgeketting vir 'n duisend jaar lank. Hy het hom toe in die onpeilbare diepte gegooi, dit toegesluit, en dit bokant hom verseël, sodat hy nie meer die nasies op 'n dwaalspoor sou lei nie, totdat die duisend jaar verstryk het. Daarna moet hy vir 'n kort tydjie losgelaat word. Ek het ook trone gesien, en aan dié wat daarop sit, is mag verleen om te oordeel. Ek het die siele gesien van hulle wat onthoof is vanweë die getuienis oor Jesus en die woord van God. Dit is hulle wat nie neergeval het om die dier en sy beeld te aanbid nie, en nie die merk op die voorkop of op die hand ontvang het nie. Hulle het lewend geword, en saam met •Christus regeer, 'n duisend jaar lank. Die oorblywende dooies het nie lewend geword voordat die duisend jaar verstryk het nie. Dit is die eerste opstanding. Gelukkig en heilig is die een wat deel het aan die eerste opstanding. Oor hulle het die tweede dood nie mag nie. Hulle sal priesters van God en van Christus wees, en saam met Hom 'n duisend jaar lank regeer.

DIE OPENBARING 20:1-6 CAB23 (Contemporary Afrikaans Bible 2023)

En ek het 'n engel uit die hemel sien neerdaal met die sleutel van die afgrond en 'n groot ketting in sy hand. En hy het die draak, die ou slang, wat die duiwel en die Satan is, gegryp en hom duisend jaar lank gebind, En gooi hom in die afgrond en sluit hom toe en sit 'n seël op hom, dat hy die nasies nie meer sou verlei totdat die duisend jaar vervul sou wees nie; en daarna moet hy 'n kort tydjie ontbind word. En ek het trone gesien, en hulle het daarop gaan sit, en oordeel is aan hulle gegee; en ek het die siele gesien van die wat onthoof is ter wille van die getuienis van Jesus en vir die woord van God, en wat die dier nie aanbid het nie, en ook nie sy beeld, en het sy merk nie op hulle voorhoofde of in hulle hande ontvang nie; en hulle het geleef en saam met Christus geregeer duisend jaar lank. Maar die res van die dooies het nie weer lewend gemaak voordat die duisend jaar voleindig was nie. Dit is die eerste opstanding. Geseënd en heilig is hy wat deel het aan die eerste opstanding; oor hulle het die tweede dood geen mag nie, maar hulle sal priesters van God en van Christus wees en sal saam met Hom as konings regeer duisend jaar lank.